Titel: Bethulie
Skrywer: Rensche van der Walt
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624096009
Die 23-jarige Rensche van der Walt se aangrypende dagboek vertel van die lewe in die Bethulie-konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy skryf in skokkende detail oor die siektes, wanvoeding en oorbevolking wat Boeregesinne daar moes verduur. Dit word nou vir die eerste keer in 60 jaar uitgegee.
Rensche was maar 23 jaar oud toe Britse soldate haar en haar gesin in April 1901 van hul plaas na die Bethulie-konsentrasiekamp weggevoer het. Die Britse verskroeideaardebeleid het toe reeds groot verwoesting in die Vrystaatse platteland gesaai.
Rensche het van die begin af dagboek gehou van hul ervarings en haar ongekunstelde beskrywings verplaas die leser direk na die kamp se tentedorp. Jy kry saam met haar honger en dors en beleef die ongemak van blootgestel wees aan die elemente.
Haar eerlike beskrywings van die skokkende wanvoeding, siektes en oorbevolking gee nuwe betekenis aan koue statistieke. Jy beleef ook saam met haar die kommer oor broers, pa’s en eggenote wat nog iewers op kommando of in die krygsgevangenekampe is.
Die publikasie word verryk deur bydraes van historici, onder andere Johan van Zÿl.

