Parlementpraatjies deur Pieter Mulder: ’n resensie

  • 0

Parlementpraatjies
Pieter Mulder
Naledi
ISBN 978-1-997476-07-8

........
Parlementpraatjies ’n heerlike boek hierdie vir enigiemand wat wil weet hoe parlemente, en spesifiek die Suid-Afrikaanse parlement, werk en wat daar aangaan.
........

Parlementpraatjies ’n heerlike boek hierdie vir enigiemand wat wil weet hoe parlemente, en spesifiek die Suid-Afrikaanse parlement, werk en wat daar aangaan.

Mulder was van 1988 tot 2017 parlementslid, eers vir die Konserwatiewe Party (KP) en vanaf 1994 vir die Vryheidsfront, wat die Vryheidsfront Plus geword het toe hulle omstreeks 2003 met die einste KP saamgesmelt het.

Boonop het sy pa, wyle Connie Mulder, van 1958 tot 1979, en weer van 1987 tot 1988, in die parlement gedien. Sy broer, Cornè Mulder, is in 1988 tot die parlement verkies en lei tans die Vryheidsfront Plus vanuit die parlementsbanke.

Mens sou dus kon sê die parlement is in sy bloed. Benewens sy politieke deugde en ondeugde was Pieter Mulder boonop nog altyd ’n pittige raconteur – ’n storieverteller in murg en been – en ’n leermeester van formaat, soos menige oudstudent van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys kan getuig uit sy dae as professor daar voordat hy die politiek betree het.

Die boek is in ’n onderhoudende vertelstyl geskryf, en handel op grootliks onpartydige wyse oor die parlement van die jare vroeg af tot nou. Feite word aangevul met staaltjies, en aangebied in ’n styl van sjarmante wellewendheid wat lekker lees en mens soms hardop laat grinnik vir die gevatheid van die vertellings.

........
Die boek is in ’n onderhoudende vertelstyl geskryf, en handel op grootliks onpartydige wyse oor die parlement van die jare vroeg af tot nou. Feite word aangevul met staaltjies, en aangebied in ’n styl van sjarmante wellewendheid wat lekker lees en mens soms hardop laat grinnik vir die gevatheid van die vertellings.
.........

Dis ’n boek wat ten beste in paaiemente geniet kan word. Ek sou aanraai dat mens net een of twee hoofstukke ’n dag lees en so ’n bietjie herkou daaraan voordat jy môre die volgende een of twee deurwerk. Dan kom die styl tot sy reg.

Die laaste hoofstuk, oor humor, was vir my die lekkerste, terwyl mens ook groot waardering het vir Mulder se belesenheid en beresenheid. Hy vervleg verhale uit onder meer die Britse, Chinese, Amerikaanse en Zambiese praathuise naatloos met dié van die Boererepublieke, die eertydse Kaapkolonie, die Suid-Afrikaanse parlement voor 1994 en ons huidige demokratiese parlement.

My gunstelingvertellings uit ’n gawe oes is dié oor Koos van der Merwe en die Zoeloetradisie, die halfdooie man wat die Britte se lot beseël het, Hans Abraham se aanslag op die speakerskap, generaal Hertzog en die vrouestem, die gyselaar in Buckingham-paleis, hoekom niemand aan die parlement se goue relings mag gevat het in die vorige bedeling nie, en watter diere aanvaarbaar is in die parlement, teenoor diere wat onaanvaarbaar is daar.

Hierdie boek, wat ontstaan het uit gewilde radiopraatjies op RSG, is ’n liefdestaak wat met ’n ligte hand geskryf is en mens met ’n ligter gemoed laat. Dit strek die skrywer tot eer en is beslis die aankoop werd vir enigeen wat in die parlement belangstel.

  • Jan-Jan Joubert is besig met ’n doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Leiden.

Lees ook:

Parlementpraatjies: ’n onderhoud met Pieter Mulder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top