
Parlementpraatjies
Pieter Mulder
Naledi
ISBN 978-1-997476-07-8
........
Parlementpraatjies ’n heerlike boek hierdie vir enigiemand wat wil weet hoe parlemente, en spesifiek die Suid-Afrikaanse parlement, werk en wat daar aangaan.
........
Parlementpraatjies ’n heerlike boek hierdie vir enigiemand wat wil weet hoe parlemente, en spesifiek die Suid-Afrikaanse parlement, werk en wat daar aangaan.
Mulder was van 1988 tot 2017 parlementslid, eers vir die Konserwatiewe Party (KP) en vanaf 1994 vir die Vryheidsfront, wat die Vryheidsfront Plus geword het toe hulle omstreeks 2003 met die einste KP saamgesmelt het.
Boonop het sy pa, wyle Connie Mulder, van 1958 tot 1979, en weer van 1987 tot 1988, in die parlement gedien. Sy broer, Cornè Mulder, is in 1988 tot die parlement verkies en lei tans die Vryheidsfront Plus vanuit die parlementsbanke.
Mens sou dus kon sê die parlement is in sy bloed. Benewens sy politieke deugde en ondeugde was Pieter Mulder boonop nog altyd ’n pittige raconteur – ’n storieverteller in murg en been – en ’n leermeester van formaat, soos menige oudstudent van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys kan getuig uit sy dae as professor daar voordat hy die politiek betree het.
Die boek is in ’n onderhoudende vertelstyl geskryf, en handel op grootliks onpartydige wyse oor die parlement van die jare vroeg af tot nou. Feite word aangevul met staaltjies, en aangebied in ’n styl van sjarmante wellewendheid wat lekker lees en mens soms hardop laat grinnik vir die gevatheid van die vertellings.
........
Die boek is in ’n onderhoudende vertelstyl geskryf, en handel op grootliks onpartydige wyse oor die parlement van die jare vroeg af tot nou. Feite word aangevul met staaltjies, en aangebied in ’n styl van sjarmante wellewendheid wat lekker lees en mens soms hardop laat grinnik vir die gevatheid van die vertellings.
.........
Dis ’n boek wat ten beste in paaiemente geniet kan word. Ek sou aanraai dat mens net een of twee hoofstukke ’n dag lees en so ’n bietjie herkou daaraan voordat jy môre die volgende een of twee deurwerk. Dan kom die styl tot sy reg.
Die laaste hoofstuk, oor humor, was vir my die lekkerste, terwyl mens ook groot waardering het vir Mulder se belesenheid en beresenheid. Hy vervleg verhale uit onder meer die Britse, Chinese, Amerikaanse en Zambiese praathuise naatloos met dié van die Boererepublieke, die eertydse Kaapkolonie, die Suid-Afrikaanse parlement voor 1994 en ons huidige demokratiese parlement.
My gunstelingvertellings uit ’n gawe oes is dié oor Koos van der Merwe en die Zoeloetradisie, die halfdooie man wat die Britte se lot beseël het, Hans Abraham se aanslag op die speakerskap, generaal Hertzog en die vrouestem, die gyselaar in Buckingham-paleis, hoekom niemand aan die parlement se goue relings mag gevat het in die vorige bedeling nie, en watter diere aanvaarbaar is in die parlement, teenoor diere wat onaanvaarbaar is daar.
Hierdie boek, wat ontstaan het uit gewilde radiopraatjies op RSG, is ’n liefdestaak wat met ’n ligte hand geskryf is en mens met ’n ligter gemoed laat. Dit strek die skrywer tot eer en is beslis die aankoop werd vir enigeen wat in die parlement belangstel.
- Jan-Jan Joubert is besig met ’n doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Leiden.
Lees ook:


Kommentaar
Baie dankie vir hierdie raak en insiggewende resensie, Jan-Jan!
Pieter Mulder is ’n inspirasie en voorbeeld vir enige politikus, akademikus en mens. Ek het die voorreg gehad om hom persoonlik te ontmoet en was diep beïndruk deur sy besondere intellek, asook sy vermoë om komplekse sake kristalhelder, nederig en verstaanbaar te verwoord.
Hy is ’n uitsonderlike mens wat selfs deur sy felste kritici gerespekteer word. Hierdie boek is ’n waardevolle toevoeging tot die Suid-Afrikaanse literatuur én ’n besondere aanwins vir my persoonlike boekversameling.
Ek het die boek van doktor Mulder ook gelees. Die boek dien ook sommer as 'n goeie verslag van die Vryheidsfront se eerste 30 jaar in die parlement. Die Vryheidsfront was parlement toe onder die voorwendsel (dekmantel?) dat hulle daar tussen al die belangrike dames en here van Suid-Afrika, vir die vryheid van die Afrikaner sal veg. Maar in plaas van laasgenoemde, is die Vryheidsfront se leiers oorweldig deur al die prag en praal, die kunswerke en tradisies van die hogere vergadering. En dok is selfs later opgeroep tot hogere diens as adjunkminister in die kabinet van oudpresident Jacob Zuma. Intussen het die jonger Mulder nou oorgeneem en hy maak nou opnuut volkstaat en desentralisasie praatjies en kuier oor en weer by die Cape Exit-manne, alles om die DA se stemme af te rokkel. Waarvan daar ook dadels gaan kom, maar ten minste gaan klomp Boere weer vir hom stem. En so sal hy sy rekord behou as die langsdienende lid van die parlement, al sedert die apartheidsjare sit hy die banke warm daar.
Vir die gewone mens op straat, wat amper niks met die parlement te doen kry nie, bied hierdie publikasie darem 'n oulike en nuttige blik op die lekker lewe van die politici, wie se bestaan nie so saai is soos die res van ons bleeksiele nie. Maar moenie iets veel meer as dit verwag nie.
@Cochenille, jou skuilnaam laat my met ’n tikkie heimwee terugdink aan die bleeksiel parasitiese dopluisies op my oupa se turksvyplante.
Ek kan die verband inderdaad raaksien. Uit jou skrywe blyk dit egter dat jy ongelukkig nie oor dieselfde mate van aanpasbaarheid of verfyndheid as jou naamgenoot beskik nie. En nog minder intellektuele kapasiteit.
Sterkte daar aan jou kant!
As ek tog maar net slim en verfynd was, dan het my gevoelens dalk nou seergekry. Helaas, helaas. Ongelukkig verander my gebrek intelligensie niks aan die sluheid van die politici nie. Die Vryheidsfront se bittereinders, as voorbeeld, kan mens in twee groepe verdeel. Die een is die goedgelowige boer. Hy glo die politikus wat vir hom vertel dat hulle sy saak namens hom stel. Hierdie soort ondersteuner is die VF plus se kanonvoer. Dan is daar die B.com LLB kantoormanne, wat so bietjie neerkyk op die laaggeskooldes. Die res is verdwaaldes, soos beswaarde DA stemmers wat eventueel sal terugkeer na hulle geliefde DA, en net tydelik VF plus stem, omdat hulle kwaad is. Dit is vir die goedgelowiges dat die VF die meeste mislei. Mense wat onder die wanindruk verkeer dat die VF plus nog die 'vryheid' in hulle naam nastreef.
Die ander partye het weer hulle eie slu streke. Die DA sal jou vertel 'n stem vir 'n klein party verdeel opposisie. Die ANC sal se dat die DA en die VF plus net apartheid wil terugbring. Dieselfde is die geva vir BEE, waaroor daar vertel word dat dit arm swartmense sal help, terwyl dit eintlik net ryk kaders ryker maak, en die armes met nog minder dienste en hulpbronne.
Die een party is maar soos die volgende. Maak nie saak vir wie mens stem nie.