Park van Herdenking
’n Vrou met ’n bondel kerse gerwe
kom uit die rigting van die kapel
by die busstop vir reisigers langafstand
wat kruise slaan voor die ikone vra vir
geen ongeluk pap wiele en sommer
vir die spoedige herstel van Wadim ook
om lig te saai as lig kon groei en
koringstrale kos om tog Pater Maria
al die heiliges in hulle naam
net donkerte nie te laat erwe
’n Ou man stoot ’n ou fiets oor die sneeu
’n XBZ hoeveel jare terug aanmekaargesit
in die Kharkiv Fietsfabriek leersakkie
gegespe oor die pyp met rubberlappe
buisie gom om lug nie te laat wyk
“Mam, ek is bang,” sê die soldaat toe hulle
Kharkiv inry, “vir ons is vertel hulle sou
op ons wag, maar hulle gooi voor ons tenks
alles wat hulle het, hulle fietse, hulself,”
voor die lug uit hom is sonder stop, voor
die voedsame lig hom betyds kon bereik
In die Park Van Die Veertigjarige Herdenking
Van die Groot Patriotiese Oorlog langs die rye
blink stene van marmer verby Sowjetsoldate dood
blomme rooi spikkels bloed neergesit elke 9de Mei
draai weg van glorie op ’n eenvoudiger pad
waar ’n stuk grafsteen uitsteek die sirene
begin loei onder voete die aarde bewe en dril
grond gaan oop kaalwit bene begin na bo loop
’n diep stem dreunsing ek was eens ’n Jood
maar nou is ek bene net, waar is Khazarië?
die beendere klapper almal sing in ’n koor,
Waar is Khazarië, wanneer Yom Kippur?
Oorkant die pad staan vrouens op hulle knieë
die ortodokse dag van vergifnis en huil by
Kolomoiskiy die oligarg-jood se glinsterige
monument vir die benehoop die lug gaan oop
diep sing die stem weer te lank was ek beendere
nou’s ek weer Jood, my stem die van Moses,
Bonner, van Einstein en Simone Weil, en jy
wat Christen is, Moslem, Boeddhis, in die lug
spoeg rooi vuur oral rond, as die vuur grondvat
en begin groei verskroei dit pen, papier en die
woord word wit bene in Tofet diep onder die grond
jy wat van die vrug van lig nog kan eet word Jood
jou dooie bene staan op, begin loop en gaan haal al
die gom wat jy kan kry om lug se uitvaart te stuit
’n Park in Dnipro in Oekraïne wat eens ’n ou Joodse begraafplaas was. In die Sowjet-era is dit platgestoot en daar is ’n gedenkteken opgerig vir Sowjetsoldate wat gesneuwel het in die Tweede Wêreldoorlog.