Papierblomme deur Helena Hugo: ’n lesersindruk

  • 0

Papierblomme
Helena Hugo
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321428

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Ek dink nie ek het al ooit ’n boek gelees wat aan die Weskus van Suid-Afrika afspeel nie. Wat my betref, ’n idilliese omgewing, ten spyte van die yskoue see wat ’n Vrystater soos ek nooit in my lewe gewoond sal kan raak nie. Die naam Helena Hugo lui ook iewers ’n klokkie. Vermoedelik is van haar boeke voorgelees op Radio Sonder Grense, waarop ek die afgelope drie dekades van my bestaan gedurig ingeskakel was. Dit sou gehelp het as die boeke wat sy voorheen geskryf het voorin gelys kon word, want so kan die ou geheue ook darem verfris word, en die drade in die grysstof gespan word. Dit neem gelukkig darem nie lank om jou te herinner dat jy hier met ’n meesterskrywer se werk te doen het nie, want daar word te lekker met die taal gewoeker, soos ’n goeie skrywer mos kan.

Wat die storie betref, met dié moes ek maar op my tande byt. Nie omdat ek dink dat daar mee fout is nie. Maar ek reken ek is nie die waarskynlike teikenmark vir dié soort verhaal nie. Daar is wel raakpunte tussen my en die hoofkarakter, Janine, waarin ek my bietjie kon inleef. Soos Janine, ken ook ek die lewe op klein dorpies goed. Die frustrasies en die vreugdes daarvan. Maar Janine se verhaal begin met die dood van haar ouers. En die oorhoofse en deurlopende storielyn word hiermee gebou deurdat Janine se ouers se dood haar geloof in God vervlak. Janine ken die Christelike godsdiens, maar dit leef nie in haar nie, want hoe kon ’n liefdevolle God so iets aan haar gedoen het? Haar ouers van haar weggeneem het? Janine word vervolgens deur haar oupa en ouma grootgemaak.

Die boek draf deur die tipiese tiener-obsessies van vriendskappe en kalwerliefde, seksuele ontwaking en die uiteindelike groot vraag: Wat gaan jy met jou lewe doen? Vir Janine wag daar ná skool die opsie van universiteitstudie in Stellenbosch. En anderkant Stellenbosch, wel, daar is die landskap nog onbekend. Maar toe stap Greg Walker in haar lewe in en alles verander sommer oornag. Vir Stellenbosch sou sy toe nou nooit sien nie. Nee, sy beland uiteindelik in die reusagtige Londen in Engeland.

Soos dit maar gaan, is die lewe oor die water ook maar tjok en blok vol uitdagings. Maar dit is hier waar die storie toe nou vir my ’n heel interessante wending neem. Hier in Londen bevriend Janine toe nou ’n paartjie van Afrika. En daar raak sy toe nou deurmekaar met die Londense Baptistekerk. Spoiler alert: Janine herontdek hier in Londen haar geloof in God. Hoewel die boek nêrens pertinent noem dat Janine in die Gereformeerde tradisie grootgemaak is nie (tensy ek die inligting misgelees of vergeet het), word daar wel so terloops na die konflik van verbondsdoop teenoor kredobaptisme verwys.

’n Mens sou ’n hele boek oor hierdie twispunt kon skryf, want mense jaag mekaar vandag nog van die kansels af oor dié saak. Dit gaan natuurlik oor veel meer as net water op ’n kind se kop. Dit is ’n filosofiese vraagstuk wat implikasies het vir die aard van die evangelie en die karakter van God self. ’n Mens sou selfs die argument kon voer dat Baptisme en die Gereformeerde geloof twee verskillende gelowe is. Dit is sonder twyfel twee verskillende spiritualiteite, hoewel heelwat van die geloofstaal oorvleuel. Die boek omsingel egter die hele vraagstuk gerieflik deur Janine se grootdoop tot ’n vrywillige daad te verklaar aan die bekommerde oupa en ouma ver oor die waters in Suid-Afrika.

Janine ontdek God te midde van die storms wat in haar lewe woed. Sy gaan deur diep waters in Londen, en haar geloof hou haar geanker. Die storie eindig glad nie sprokiesagtig nie, en ek het die boek juis nogals daarom geniet. Dit is ’n boek vol swaarkry en ontnugtering, wat die storie ’n sekere oortuigingskrag gee. Ek verneem daar is ook ’n vervolg op hierdie boek, wat ek beslis wil aanpak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top