Pallo Jordan se nalatenskap

  • 1

Afgesien van die skandes wat Pallo Jordan oor homself gebring het deur vir ’n klompie jare nie die wanpersepsie reg te stel nie dat hy oor ’n doktorsgraad beskik, het hy nogal geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse politikus sedert 1994 te word wat sy sondes erken het en bedank het.

Nogal ’n nuutjie so uit die bloute wat die oorwegend skandelike Suid-Afrikaanse politieke standaard so effens ’n vlak hoër opgeskoot het.

’n Onverwagse politieke aardbewing wat die oorwegend goddelose politieke bedryf geskud het, sou ek byvoeg.

Jordan het die politieke toneel vir ‘n menigte politieke akteurs lelik op sy kop gekeer. Dié toneel is nou erger deurmekaar as Thandi Modise se varkplaas. Net so ‘n kortkop agter is die skandes op Nelson Mandela se Qunu-plaas.

Terloops, ek wonder wanneer gaan die oorwegend skynheilige Suid-Afrikaanse media vrae begin vra oor wie nou regtig verantwoordelik is vir die agteruitgang van Madiba se plaas, sy skape en beeste. Kom ek waag ’n voorspelling: Winnie Madikizela-Mandela gaan binnekort blameer word. Graça Machel, wat eintlik verantwoordbaar gehou moet word, is te heilig in die media se oë.

Ek dwaal egter van die punt af.

Politici – veral diegene met ’n sogenaamde struggle-geskiedenis en onseker politieke toekoms – krap nou kop en weet nie hoe om hulle te gedra nie.

Jordan het dan nou die internasionale politieke standaard – wat veral in Amerika, Brittanje en ander Europese lande heers – slaafs nagevolg. In die gange van 10 Downing Street, die House of Commons, Capitol Hill ensovoorts lê politieke lyke opgehoop as ’n klinkklare bewys dat die beginsel van ’n grondwetlike demokrasie al lankal daar wortel geskiet het.

Hier ter lande – en regoor die verhongerde en vermaarde Afrika – sukkel ons sleepvoet voort met korrupte en weifelende leiers in die voorste linies.

Politieke beloning werk presies andersom hier. Korrupte, oneerlike en politieke boelies word beloon. Eerlike en hardwerkende politici word uitgeskuif tot op die rand van die politiek.

Onheilige politici het ’n helse dilemma. Jordan het ’n politieke presedent geskep. Hy kies toe die hasepad.

Hoe gaan politici wat in die Jordan-skaduwee agterbly, hulle vorentoe gedra? Gaan hulle énigiets uit sy skandes leer?

Ter verdediging van die post-1994-politici wat so gewillig uit die varktrog hulle spekvet vreet ten koste van die armes, kan ek net sê: sommige apartheidspolitici was ook in wese boelies en immoreel.

Om parallelle te trek tussen PW Botha en Mandela: dit is nogal skokkend om in Zelda la Grange se boek Goeiemôre, mnr Mandela te lees dat Madiba ook die SAUK aangevat het as hulle nie stories oor hom (gunstig) gedek het nie. Ook daaroor is die skynheilige media stil. Ek wonder hoekom is daar niks resensies oor die La Grange-boek nie?

Jordan sal altyd onthou word vir die onskatbare waarde wat hy as gerekende intellektueel tot die openbare diskoers en bevrydingstryd bygedra het. Met of sonder kwalifikasies – hy bly ’n uiters slim man. Sy gedrag is egter onverskoonbaar.

Die eertydse Britse politikus Enoch Powell was reg toe hy opgemerk het dat alle politieke lewens in mislukking eindig.

  • 1

Kommentaar

  • Jason ek sal nie hier kwytraak wat ons op die kring-epos gesê het nie. Ek wil tog 'n klip in die bos gooi! Dit is vir my baie interesant dat toe Pallo Jordan die ANC kritiseer toe land daar skielik 'n storie op die lesenaar van een van die Sunday Times joernaliste!  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top