My pad met die doodsengel deur Belinda Bras-Nel: ’n onderhoud

  • 1

My pad met die doodsengel
Belinda Bras-Nel

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316650

Belinda Bras-Nel vertel vir LitNet se lesers van haar boek My pad met die doodsengel.

Belinda, wie is jy?

Ek is ’n vrou wat ’n lang pad met depressie gestap het, van jong ingenieurstudent tot dertigjarige aan wie die engele verskyn het. Mense noem my die engelfluisteraar, aangesien die engele en geliefdes aan die ander kant boodskappe deur my vir mense kom aflewer.

Waarom het jy My pad met die doodsengel geskryf?

Aangesien ek reeds 15 jaar lank kontak het met geliefdes wat reeds oor is na die hemelse dimensie, het ek op daaglikse basis mense se pyn en worsteling met die dood ervaar. Al my kliënte het dieselfde vrae gehad en ek het soveel geleer deur die boodskappe van die geliefdes dat dit amper noodsaaklik geraak het om dit alles neer te skryf. Tog het die besluit om werklik met ’n boek te begin, eers gekom na my pa se afsterwe en ek my ma wou help met haar pyn en die verwerking daarvan.

Dis ’n baie persoonlike titel – was hierdie boek waarlik vir jou ook ’n pad met die doodsengel? En indien wel, waarom?

Die titel is baie letterlik. Ek beskryf in die boek wel hoe ek die doodsengel vir die eerste keer ontmoet het en hoe hy ’n pad saam met my gestap het tydens ’n intense doodsproses in my lewe. Die doodsengel het my ook begelei in die skrywe van hierdie boek en elke dag vir my insae in die proses gegee. Hy vertolk eintlik die belangrikste rol in ons lewe: om ons by te staan deur die herhaaldelike proses  van dood en hergeboorte in ons lewens. Verder is dit baie persoonlik, aangesien dit ook my eie pad van rou is wat ek met my pa se moes deurmaak.

Die dood is nie ’n maklike onderwerp om oor te gesels nie, en tog is dit die normale verloop van die lewe – die dood volg hierop. Sou mens nie eerder vir diegene wat mense naby aan hulle verloor het, laat berus in die wete dat ons nie alles weet nie? Of wat probeer jy met jou boek uitrig of bewerkstellig?

Ek noem dit in al my boeke dat ons nou net in ’n raaiselagtige spieël kyk en ek glo nie dat ons ooit met ons aardse beperktheid die hiernamaals volledig kan verstaan nie. My doel is nie om met hierdie boek enigiemand te oortuig van my sieninge nie, dit is net ’n hulpmiddel gebaseer op my eie ervaringe. Met hierdie boek wil ek regtig dat mense hul vrese rondom die dood konfronteer en die opsie oorweeg dat die siel ewig is en hul geliefdes nog steeds toeganklik is vir insigte en begeleiding.

Alhoewel al my boeke wel my Christelike agtergrond weerspieël, gaan die boeke self glad nie oor geloof of my oortuigings nie. Ek deel my belewenis van siele tydens hul oorgangsproses en hoe ek hul na die tyd ervaar. Dat daar lewe na die dood is, is sentraal aan die konsep, anders sou ons nie ons geliefdes steeds kon ervaar nie.

Foto van Belinda Bras-Nel: http://www.belindabrasnel.co.za/

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top