
Oxford University Press het onlangs die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek gepubliseer. Dis ’n geskiedkundige gebeurtenis. Naomi Meyer het vir Phillip Louw, die hoofredakteur van dié boek, oor die samestelling van die boek gevra en ook waarom dit so ’n nuuswaardige gebeurtenis is.
Hallo Phillip en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Jy is hoofredakteur van die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek en dié boek het baie aandag getrek. Eerstens het die media baie klem daarop gelê dat dit slegs die derde taal is waarin Oxford ’n eentalige woordeboek gepubliseer het. Waarom is dit so, dink jy, dat Afrikaans as taal hiervoor gekies is?
Hallo Naomi en dankie ook aan jou vir die geleentheid. Oxford University Press Southern Africa is deel van die groter OUP, maar ook ’n volwaardige Suider-Afrikaanse maatskappy. Die bevordering van meertaligheid in Suider-Afrikaanse onderrig is deel van ons groter strewe om gehalte-onderrig in die streek te bevorder. Op grond hiervan het ons ’n paar jaar terug begin om tweetalige skoolwoordeboeke met Engels en ’n ander amptelike taal uit te gee. Die eerste drie woordeboeke (Engels + Afrikaans, Noord-Sotho en Zoeloe) het elkeen ’n prys gewen (ATKV-Woordwystoekenning en twee SAVI-toekennings) en was baie suksesvol. Dit is veral die wegholsukses van die woordeboek met Engels en Afrikaans wat ons genoop het om ook na ’n eentalige woordeboek te kyk en gelukkig kon ons ’n gaping in die mark vind (graad 4-9). Hierdie woordeboek se ontstaan is dus ’n pluimpie vir hoe sterk die koopkrag agter Afrikaans is en hoe goed Afrikaans nog tans as skoolonderrigtaal funksioneer. Terloops, die ander eentalige woordeboek (buiten Engels) is Swahili en daardie woordeboek is uit en uit die markleier in Kenia en Tanzanië.
Ek het die woordeboek bekyk en was verstom om te sien dis geskik vir leerders vanaf graad vier en dat frases soos die volgende hierin voorkom: “Die woord geneig word slegs predikatief gebruik”. Dink jy graad viers sal so iets kan verstaan (of is dit die strewe dat hulle hierdie soort frases moet leer verstaan)?
Graad 4-9 is ’n breë teikengroep en daar sal soms sekere dele van ’n inskrywing wees wat op die hoër deel van die spektrum gerig is. In so ’n geval sal ons egter seker maak dat die deel van die inskrywing wat dit voorafgaan (in hierdie geval die voorbeeldsinne) genoeg toepaslike inligting vir die jonger leerder bied. Ek dink ook nie baie mense besef hoe gevorderd en inhoudsgedrewe die nuwe CAPS is wat in skole ingefaseer word nie. ’n Kollega het byvoorbeeld nou die dag by my aangeklop vir ’n verduideliking van die verskil tussen homonimie en polisemie, aangesien die CAPS dit vereis vir die taalhandboeke vir graad 4-6 waaraan sy werk. Dis gevorderde konsepte wat ek eintlik eers op universiteit behoorlik verstaan het!
Hoe dra hierdie skoolwoordeboek by tot die bewaring van Afrikaans? Of as wat sien jy die doel van die boek?
Ons sien hoofsaaklik hierdie woordeboek as ’n daaglikse naslaanbron wat in klaskamers ’n verskil moet maak deur ’n hulpmiddel vir onderwysers en leerders te wees. Daar kan egter nie ’n belangriker bydrae tot die bewaring van ’n taal wees as om skoolonderrig in daardie taal te ondersteun nie. Ek dink byvoorbeeld dat die fokus op Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch tans baie mense se aandag aftrek van ’n veel belangriker saak – die voortbestaan van Afrikaans en die uitbou van die ander amptelike tale as onderrigtale op skoolvlak. Ek sou graag wil sien dat meer akademici en belangegroepe hulle intellektuele energie hieraan bestee.

Watter skoolwoordeboeke bestaan op die oomblik en sal hierdie skoolwoordeboek die ander vervang?
Daar bestaan wel ander skoolwoordeboeke van ander uitgewers. Ons voel egter dat sommige van die bestaande woordeboeke geskik is vir leerders in graad 10-12 en ander vir baie jong leerders in die grondslagfase. Ons wou hierdie woordeboek maak vir die groot groep leerders tussen hierdie twee pole, maw in graad 4-9. Dit vul dus eintlik die mark aan, eerder as om bestaande woordeboeke te vervang en sal help dat leerders se ouers of onderwysers nie ’n woordeboek aankoop wat te gevorderd of te eenvoudig vir hulle kinders is nie.
Hoe kies ’n mens watter woorde val weg? Is die doel van ’n woordeboek nie juis om uit te brei eerder as om weg te doen met woorde nie? Of hoe lyk die groei van ’n taal en sy woorde?
Jou punte is geldig as dit kom by omvattende woordeboeke soos die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wat soveel as moontlik van die woorde in die taal moet opneem. In skoolwoordeboeke, wat uiteraard kleiner en meer bekostigbaar moet wees, rus die moeilike taak egter op die leksikograaf om ’n beperkte aantal woorde (in ons geval 12 000) op te neem. Dit is dus noodsaaklik om seker te maak dat die woorde wat jy insluit dié sal wees wat leerders moet of wil opsoek. Om ons hiermee te help, het ons ’n korpus of versameling tekste (insluitende Oxford se Afrikaanse skoolhandboeke vir alle skoolvakke) geselekteer. Ons het toe gesofistikeerde sagteware gebruik om die mees gebruiklike woorde in hierdie korpus te identifiseer en vir opname te oorweeg. So ’n korpus moet natuurlik in die volgende paar jaar bygehou word met nuwe tekste en wanneer die tyd reg is vir ons om die woordeboek te hersien (gewoonlik ná 3-5 jaar), doen ons opnuut ’n rekenaarmatige analise. Dit sal dan aandui watter woorde se gebruiklikheid toegeneem het, maar ook watter woorde teruggesak het en maar weggelaat kan word. Natuurlik sal die toekomstige opgang van elektroniese woordeboeke (waar spasie nie meer so ’n probleem is nie) dalk ’n ingrypende verandering in hierdie werkswyse meebring, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag.
Wat sê die skoolkinders? Het julle al enige terugvoer oor die boek ontvang?
Ja, ons het sover baie positiewe terugvoer ontvang, maar veral ook positiewe terugvoer van ouers, onderwysers en onderwysbeamptes. Hulle is eintlik die hekwagters – as ons hulle nie van die waarde van die woordeboek kan oortuig nie, sal dit nooit by die skoolkinders wat die eintlike gebruikers is, uitkom nie. Dit was daarom regtig ’n riem onder ons hart om kommentaar te kry soos: “’n Rigtinggewende nuwe woordeboek by die onderrig van Afrikaans – vir die leerder en die onderwyser” en “Ek sou graag die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek in elke skool en klaskamer waar Afrikaans aangebied word en in besit van elke leerder wou sien” (beide aanhalings van onderwysbeamptes). Om seker te maak dat ons hierdie tipe terugvoer sou kry, het ons reeds in die navorsingsfase ’n klomp onderwysers betrek en het ons ook seker gemaak dat ons samestellers (met ’n hele paar oud-onderwysers in die groep) deeglik bewus was van die praktiese vereistes van ’n hedendaagse taalklaskamer.
Hoe het julle gekies waar die (mooi) illustrasies hoort? Is dit moeilik om sekere woorde net in abstrakte terme (deur middel van ’n woord!) uit te beeld, en dan help ’n prent? Of wat was julle maatstawwe?
Een van die maatstawwe was definitief om abstrakte terme of moeilike konsepte uit te beeld (bv by fotosintese en kweekhuiseffek), omdat jonger leerders veral sou sukkel om die definisies te snap. Daar was egter ook gevalle waar ons illustrasies by eenvoudige woorde soos blom, insek en hart geplaas het en dan die byskrifte van die komponente van elkeen gebruik het om leerders se woordeskat uit te brei.
Wat onthou jy van skoolwoordeboeke?
O jitte, jy neem nou aan dat ek nog so ver terug kan onthou? As ek nou regtig my grysstof in rat sit, kom die onderwysers se gunstelingfrase “gaan soek dit op in die woordeboek” by my op. Ek onthou egter ook dat baie van hierdie soektogte frustrerend was, enersyds omdat die definisies in eentalige woordeboeke in te hoogdrawende taal was vir my om hulle eensklaps te verstaan en andersyds omdat die tweetalige woordeboeke net lyste vertalings vir die trefwoord gegee het en nie die konteks waarin elkeen geldig was, verduidelik het nie. Daardie woordeboeke was eintlik maar net verkorte weergawes van woordeboeke wat op volwassenes gemik was. Kinders het deesdae die groot voordeel dat die moderne skoolwoordeboeke van nuuts af en met hulle behoeftes in die oog gemaak is.
Die WAT se borg-’n-woord-projek is baie bekend. Hou julle jul besig met iets analogies?
Nee, maar ek dink dit is ’n baie goeie idee en ’n goeie saak waarvoor die fondse ingesamel word. Die WAT is myns insiens nie net ’n waardevolle naslaanbron nie, maar ook Afrikaans se belangrikste kulturele “artefak”. Die voltooiing en hersiening daarvan behoort van kardinale belang te wees vir enigeen wat vir Afrikaans omgee.
Ek sien die SBA het van julle woordeboeke vir skole in ontvangs geneem. Hoe kan woorde – in Afrikaans – skoolkinders bemagtig, dink jy?
Taal kan die grootste bemagtiger, maar ook die grootste “ontmagtiger” in opvoeding wees. Adam Ouane, direkteur van Unesco se Institute for Lifelong Learning, het daarop gewys dat “Africa is the only continent where the majority of children start school using a foreign language”. Ek dink nie dit vereis ’n groot denksprong om te besef dat dit een van die faktore is wat bydra tot ons kontinent se ontwikkelingsprobleme nie. Dit is absoluut noodsaaklik dat moedertaalonderrig en, indien later nodig, die oorgang na onderrig in ’n ander taal reg bestuur word. Maar hiervoor het ons effektiewe taalonderrig van Huistaal en Eerste Addisionele Taal nodig vanaf die beginjare van skool. Dit is juis daarom dat ons by Oxford glo dat ’n goeie eentalige woordeboek en ’n goeie tweetalige woordeboek vir elke leerder in Suider-Afrika in elke onderrigfase beskikbaar moet wees.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Opsoek - eerder naslaan. Konsep - eerder begrip. Analogies - eerder soortgelyk.
Johannes Comestor
University of Namibia