Coenraad Johannes Vermaak is op 1 Januarie 1923 in die omgewing van De Lagersdrift gebore as die oudste seun van Jan Hendrik Vermaak en Getruida Johanna Vermaak. Hy is op 24 Mei 1997 oorlede. Met die huisopruiming na sy dood het die familie afgekom op gedigte wat hy geskryf het deur die loop van sy lewe. Die gedigte is gevind in skoolboeke, agterop ou boeke, op dele van ou kartonne en medisyneboksies en op enige iets skryfbaar. Al die gedigte was in sy eie handskrif geskryf.
Sy seun, Paul Vermaak, vertel die volgende storie: "Pappie, soos ons almal hom ken, en sommige as oom Coen, het sy laaste jare op sy hoewe te Spaarwater in die ou Transvaal naby Heidelberg deurgebring. Hier het hy gebly tussen sy diere: sy vark, Porkie, sy hond, Blikkies en nog vele meer. Elke dag was vir hom nuut en op sy manier was sy lewe vol. Hy het baie oor die lewe gedink en wat dit aan die gang hou, die geswoeg en gesweet, die lief en leed en die pyn en blydskap. Ek het al die gedigte daar in sy huis deurgelees."
In 2007, 'n dekade na sy dood, het oom Coen se kleinseun, Paul jr, besef dat die ritme en rym van sy oupa se gedigte gepas is vir toonsetting. Hy het die gedigte opgeneem op die CD Oupa Rock.
Die TPA
deur oom Coen Vermaak
Die TPA kom van vooraf na vore,
steek sy regterhand uit en sê, goeie môre.
Maar toe ek die bultjie anderkant afsak,
is dieselfde TPA kort op my hak.
Met bande wat gil, hou ek toe stil.
Hy wys my die lig op die dak.
Die nommer onder die rak.
En vra of ek weet, waarna dit heet?
O ja! Die TPA
O ja! Die TPA.
Die verkeersman staan daar lewensgroot.
Susan! toe skrik ek my halfdood
en ry my bakkie deur 'n sloot.
Die mielieland in, die brandpad op,
ek sien die verkeersman krap sy kop,
want hierdie keer is hy gefop!
Volg hierdie skakel om die album te bestel van Vermaak Entertainment.

