
“Ouma Gesie kom weer” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
*
Ouma Gesie kom weer
Ek hoor hoe lag hulle vir my. Oor ek gesê het my ma het gebel. Ek moet haar op die stasie gaan haal. Net na sononder sal die trein saam met die aandster ons dorpie binnestoom.
“Jy sal onthou, Hennerik?” het sy gevra. “Jy is mos onder daardie ster gebore.”
“I was born under a wandering star,” sing Lee Marvin in my kop.
“Jou oupa leef in sy eie wêreld,” sê Annie in die gang vir Denise, ons oudste kleindogter. “Hy vergeet alweer Ouma Gesie is al jarre bokveld toe.”
Miskien vir hulle, ja.
Ek trek my skootrekenaar op my maag vir aanlyn snuffel.
Annie loer om die kosyn. “Mens sal nooit sê die professor ly aan Parkinson’s én Alzheimers soos hy nog kan websurf nie. Glad nie bang vir knoppies druk nie.”
“Ons moet hom nie vlak kyk nie,” sê Denise.
Ja, op die toetsbord is my vingers hakkelaars wat sonder stotter sing.
Afrikaanse mense is digitaal geletterd en honger vir Afrikaanse inhoud, skryf Waldimar Pelser oor die digitale revolusie. Sosiale media is waar hulle die nuus deesdae ontdek. Koerante sterf een na die ander, maar nuus sal nie sterf nie.
“Is dit nog nie tyd vir Oupa se skoon doek nie?” vra Denise in die gang. “Ons moet nog sy suiker ook toets.”
“Jong, ek is nie lus om nou beskree te word nie. Kom ons los hom eers in sy fantasieë.”
Lee-Roy glo my darem. Wat ’n voorreg om so ’n oopkop agterkleinkind te hê. Hopelik sal Ouma Gesie oor die maan spring wanneer sy vanaand haar eerste agteragterkleinkind ontmoet.
Waldimar wys daarop dat meer mense nou Afrikaans praat as op enige stadium in die verlede. Meer as die helfte van hulle is bruin.
Hopelik sal Ouma Gesie die breër prentjie kan sien.
My hande ruk en pluk toe ek my dors uit Lee-Roy se ou tuitplastiekbekertjie les.
Ek is ’n semelpop wat lê en wag op ’n droë doek, maar vanaand gaan ek my ma op die stasie haal. Sy het lanklaas kom kuier.
Teen die westelike naghemel wink die aandster vir my toe ek my Volvo parkeer. Annie sê altyd vir my al wat van ons stasie oorgebly het, is ’n murasie, maar nou wonder ek wie is dit wat in hulle eie wêreld leef.
Die perron is ’n oopgebarste miernes, spokerig gehul in wolke van rook en stoom, met die groteske stoomlokomotief wat uitgeput kug en blaas en klingel.
Soos in ’n klasieke fliek kom Ouma Gesie en die kruier met sy gepakte trollie uit die deinserigheid na my aangestap. Haar swart rok met die wit gehekelde kraag hang op haar enkels. Die kierie lyk oorbodig.
“Ek dog jy het vergeet van my, Hennerik.”
“Nooit, Ma.” Ek het nie die moed om vir haar te sê ek moes eers wag vir ’n droë doek en Annie wat gespook het om my met hoendersop te voer nie, ná hulle my gepynig het met die naaldjie van die suikertoetser.
“Ek sien jy het alleen gekom.” Haar hare is haelwit vergrys en in ’n stywe bolla saamgevat. “Dis goed so.” Vurige oë. Spykerklou neus. Strepie mond. Sy draai na die kruier. “Hennerik, dis Willem Wiele. Willem, dis Hennerik, my baba.”
Ek sal vir altyd haar baba bly, haar skrikkelbaba.
“My skrikkelbaba.”
Willem Wiele knik afsydig. Sy oë lê buitengewoon diep in hulle kasse. Sonder ’n woord laai hy haar tasse in die Volvo se kattebak.
“Sal die grand kar se diekie kan toegaan met al my koffers?” vra sy.
“Geen probleem nie, Ma. Ons sit die groot tas op die agtersitplek.”
“En sal die kar se taaiers hou op die grondpad?”
Waar is haar geheue tog? Ons het mos lankal nie meer die plaas nie. “Ons ry op teer, Ma.”
“Jy moes nogtans met die lorrietjie gekom het.”
Sy het seker vergeet. Sy het Pa se rooi Ford met die houtbak ná sy begrafnis verkoop.
“Die trein was vol, nè?” sê ek op pad.
“Tjok-en-blok.”
“Almal het nie afgeklim nie. Ek wonder waarheen reis hulle.”
Sy staar voor haar uit.
Ons ry in stilte verder onderdeur die Melkweg.
“Los eers my bagasie in die kar,” sê sy by die huis. “Jy lyk vir my taamlik oud en tam.”
Die huis is donker. Almal slaap.
“Moenie lampe aansteek nie, Hennerik. Ma se vel is ietwat iesegrimmig vir helder lig.”
Lampe aansteek? Lyk my sy leef stuk-stuk in die verre verlede.
“Maar het jy vir my ’n flits? Ma moet by julle kleinhuisie kom en ek is nie lus om op ’n nagadder te trap nie.”
Ja nee, verre plaasverlede. “Ons het mos ’n toilet net hier af in die gang, Ma.”
“’n Kleinhuisie in die huis? Dan knyp ek liewer tot dagbreek.”
Sy stap saam met my tot in die sitkamer. In die gloed van die vistenk se lig is sy bloubleek.
“Ek sien julle het darem nog nie van my saaidbord ontslae geraak nie.” Sy gaan staan by die buffet in die hoek van die vertrek. “En wraggies ook nie van die Statebybel nie. Maar julle gebruik die erfstuk seker net as ’n ornament, kyk net die lagie stof.”
“Ons het elkeen ons eie Nuwe Afrikaanse Bybel, Ma.”
“Die een waar Dawid in Psalm 23 nie meer oor die dal van doodskaduwee dig nie?”
Genugtig, en dan kan sy byderwets ook wees.
Sy draai om na my. “Daar is ’n groot verskil tussen die donker dieptes van die lewe en die dal van doodskaduwee. Vra maar vir my.”
“Die vertalers wou die essensie van die gedig vir moderne Afrikaanse lesers raakvat, Ma.”
“Dis ’n swak vertaling en jy weet dit.”
Ma se ou-ou Bybelgestry met my broei alweer.
“My kind, jammer om dit vir jou wat self ’n vertaler is te sê, maar alles het in die land begin ondergaan toe daar afgestap is van Hooghollands vir ons Bybel. Die profete en apostels draai seker in hulle grafte om.”
“Die Bybel is mos nie oorspronklik in Hooghollands geskryf nie, Ma.”
Sy lig haar ken. “En die Toring van Babel dan? Jy glo seker lankal ook nie meer daardie storie nie.”
Dat al die bouers Hooghollands gepraat het, maar toe kom slaat die Here God hulle op die tong sodat jy skielik ook Duits, Frans, Engels, Xhosa en Chinees hoor? Les bes nog Afrikaans ook?
“Die storie van Babel kan waar wees, Ma. Maar nie die deel oor Hooghollands en Afrikaans nie.”
Ouma Gesie sug. Haar verknotte hand beduie oor die boekrak. “Ja, Boeta. ’n Professor in Afrikaans-Nederlands wat self ’n string boeke geskryf het, sal seker beter as sy eerste leermeesters weet.”
“Ma lyk vir my dun,” probeer ek die onderwerp weg rangeer. “Ek weet Ma is nie lief vir hoender nie, maar kan ek vir Ma ’n leksel hoendersop warm maak?”
“As jy nou moet gaan vuur aansteek, kan ons dit eers los.”
“Kom saam kombuis toe, dan wys ek vir Ma.”
Die volmaan skyn helder deur die venster. Dus hoef ek nie die LED-lig aan te sit nie. Ek trek vir haar ’n stoel uit.
Sy sit en vergaap haar aan my doenigheid by die mikrogolfoond. Natuurlik, sy ken dit nie. Haar kierie tik-tik op die vloer asof sy in haar kop soek na die maat van ’n vergete liedjie. Môre sal sy seker verstom staan as Annie die lugbraaier gebruik.
Sy slurp-eet.
“Die sop kort spek,” sê sy.
“Annie se resep vra seker nie vir spek nie.”
Ouma Gesie ghghgh in haar keel. “Agter die stoof was Annie mos maar altyd ’n mamparra. Pleks sy haar Kook en Geniet, wat sy by my geërf het, meer inspan.”
“Sy en Denise gebruik graagter die Huisgenoot se Resepteboek.”
“Maar sy weet ek hou van spek in my sop. Het jy haar gesê ek kom?”
Skielik knal die lig teen die plafon aan. Ouma Gesie spring penorent.
In die deur staan Lee-Roy met sy dino-kombers in sy arms. Sy krulkop is verlê en sy oë kyk deur die slaap.
“Awê, Ouma!”
Ouma Gesie verbleek nog bleker as wat sy reeds in die helder lig lyk. “Wie’s die klong?” vra sy verskrik. “Wat soek hy in julle huis?”
“Dis Lee-Roy Langenhoven, Ma.” Ek gaan skakel die lig af sodat ons weer net in die maanskyn gebaai is. “Ma se eerste agteragterkleinkind.”
Haar gesig verstar tot ’n droë houtpop. “Hoor hoe ratel CJ Langenhoven se beendere waar hy in sy kis om en om draai.”
Lee-Roy skater van die lag. “Ek het nie geweet Ouma Gesie gaan ’n sakkie funny bones wees nie. Ouma moet asseblief baie slapies kuier.”
Ouma Gesie plant haar voete wyd uit mekaar. Sy leun op haar kierie.
Ken ek nie daardie houding nie?
“Van slapies gepraat,” sê sy. “Jy beter weer kateltjie toe gaan; ek hoor Klaas Vakie roep. Of het jy kom tande tel?”
Lee-Roy kraai soos ek hom nog nie gehoor lag het nie. “Ek hoef nie tande te tel nie, Ouma. Ek weet klaar grootmense het twee en dertig.”
“Gmpf, jou professor-oupa het dit seker vir jou in die Skatkisreeks gelees.”
“Nee. Ek het dit self op my ensiklopedie-toep gelees.”
“Wáár?”
“Op my iPad, Ouma.”
Ek verduidelik vir Ouma Gesie.
Haar seile bol al minder. “Moenie maak of ek dom is nie, Hennerik. Onthou wie het jou geleer om die slingertelefoon te gebruik.”
“Twee en dertig tande,” roei Lee-Roy voort. “Behalwe as hulle begin uitval. Maar mens koop hier bo by die tjarras ’n hele stel valstande vir een blou Madiba. Ouma moet net praat, dan kan ons gaan aanpas.”
Ouma Gesie se wange gloei. Sy mik met haar kierie-geweer. “Raak jy ongeskik met ’n grootmens?”
“Eish! Nooit, Ouma.”
“Ek wou net sê. As ek vir jou gryp, sal jy gou ’n ander vals deuntjie sing.”
“So vals soos ’n blomhoender, Ouma?”
“Dis sy eie woord vir ’n pou,” snel ek die broeiende situasie te hulp. “Hy klits graag sy eie woorde op.”
Lee-Roy vryf sy oë en gaap ’n lang gaap.
Ouma Gesie kyk op na die muurhorlosie. “Hoe skrik ek nou my melk weg vir Vader Tyd se arms. Ons sal moet ry as ons nie die trein wil verpas nie.”
“Maar Ma het dan sopas hier aangekom.”
“Dit was net ’n oëwys. Ons moet terug stasie toe wikkel, Hennerik.”
Lee-Roy trippel op die punte van sy tone. “Kan ek saam met julle gaan?”
“Dit sal nie ’n goeie ding afgee nie,” antwoord Ouma Gesie.
Lee-Roy se smekende oë vermurwe my hart. “Natuurlik kan hy saamry. Hy het seker nog nooit die stasie óf ’n stoomtrein gesien nie.”
“Goed.” Haar mond trek dunner, strenger. “Maar hy klim nie op die trein nie.”
Lee-Roy slaan bolmakiesie. “Dankie, Ouma!” Hy kom gryp haar om die lyf. Sy hou hom ook vas.
Hy kyk op. “Ouma se koue hande gee vir my die creeps.”
Sy laat los.
Ons maak vir hom met sy kombers lêplek op die agtersitplek. Toe ons wegtrek, leun hy tussen die voorste sitplekke in.
“Ouma het nie dalk ’n paar sweeties in Ouma se handsak nie?” vra hy.
“Jou tande gaan uitval,” antwoord sy stywe-lip.
“My melktande val klaar uit, Ouma.”
“Nogtans moet jy eerder groente en vrugte eet.”
“Jig, horing!”
“Horing?”
“Sy manier om te sê hy gril vir die smaak, Ma.”
“Soos ek vir hoendersop sonder spek,” grinnik sy.
Hulle twee raak land en sand aan die gesels. So het sy nooit in haar lewe met my gesels nie. Daarom beny ek hom. Maar ek gun hom dit ook.
Eindelik hang sy kop skeef. Slaperig sak hy terug op die sitplek.
“Hy hou hom grootmeneertjie,” sê Ouma Gesie toe ons by die stasie stilhou. “Kinders moet gesien word, nie gehoor nie.”
“Ons is lankal ver verby daardie tyd, Ma. Kinders se sê-goed het nog altyd vir my gewys hoe wonderlik eenvoudig en reguit die lewe kan wees.”
“Maar hy lyk soos geeneen in die familie nie.”
“Dis seker oor sy koffierige vel. Ma is gewoond aan die ligte Langenhovens.”
Ek moet sê, ek was ook. Maar ses jaar later kan ek nie meer so na Lee-Roy kyk nie. “Van almal aan my tak van ons stamboom, is hy die een wat my liefde vir woorde geërf het.”
“En tog praat hy ook soos geeneen in die familie nie. Dis ’n mengelmoes wat by sy mond uitstroom.”
“Dis mos hoe ons taal begin het. En kyk net watter lang en mooi pad het ons gekom. Dis wat ek al die hele aand vir Ma probeer sê.”
“Ja, professor. Jou hart is vanaand te slim vir jou kop.”
“Dit was dalk hoogtyd. Wat ek die meeste van hom admireer, so klein as wat hy is, is sy dapperheid om net sy bekkige self te wees. Dit kon ek in al my dekades nooit heeltemal regkry nie, al het ek daarna gestrewe.”
’n Lig flikker aan in Ouma Gesie se oë. “Ons het jou dit klein-klein ook nie toegelaat nie.”
Sy plak ’n soen teen Lee-Roy se slapende voorkop. Hy sidder.
“My koue lippe gee hom seker ook die creeps.” ’n Terggees tango in haar oë. “Ek moet erken, hy het die ougatste dom gesiggie. Nes jy as baba, en kyk net tot waar het jy gekom. Jy wat nie eens Sus en Daan wou lees nie, en toe word jy ’n taalprofessor. Bid jou dit aan.”
“Alles het verander toe die woord-liefde my gepak het.”
Die trots straal uit haar gelaat. “Dan kan mens net fantaseer oor wat hy nog gaan verrig.”
Die afsydige holoog Willem Wiele kom laai die tasse op sy trollie. Die lokomotief ronk egalig.
Ek roep ’n spoorwegpolisieman nader dat hy vir ons ’n wakende oog oor Lee-Roy in die Volvo kan hou.
“Ek hoop daardie stasieblompot doen sy werk,” brom Ouma Gesie terwyl ek haar op die trein help en self ook opklim.
“Hy lyk vir my na ’n deeglike mens, Ma.” Ek dra haar bagasie uit die gang in die kompartement in. “Hoe is Ma se tasse so veerlig?”
“Kyk vir jouself.”
Ek maak die tasse een vir een op ’n slaapbank oop.
Almal is dolleeg.
Ouma Gesie glimlag die soort glimlag waar die mond en oë sê: Jy weet mos?
’n Fluitjie blaas. Trillings trek deur die rytuie. ’n Gehyg en gesis en geblaas. Dan ’n doef-doef, doefdoefdoefdoef, sshhhhhh! Die vloer ruk my van balans af.
Metaal en hout kraak en kreun. Die trein beweeg.
“Ek hoop jy besef teen dié tyd jy gaan saam met my,” sê Ouma Gesie. Dis natuurlik hoekom sy verseg het dat Lee-Roy saam met ons op die trein klim.
Ysterwiele knars op metaalspore. Versnel.
Die wêreld vlieg verby.
Skielik is dit stikdonker.
Annie sê gereeld vir my ons tonnel het al lankal toegestort. Maar nou sluk ’n donker luislang my in en wurg my hartklop tot stilstand. Vir ’n tydlose tydperk kry ek geen woord of gedagte uit nie. Geen asemhaling nie.
Eensklaps breek die skemer en suurstof met ’n snak deur.
Ouma Gesie sit soos ’n grafsteen oorkant my.
Ek leun met ’n gelate sekerheid dat my era verby is by die treinvenster uit. Ons skommel oos, agter die môrester aan. Dat ek eers op my oudag beleef hoe sekuur die aand- en môrester dieselfde leidster is, op ’n vaste baan.
En dit was aand en dit was môre.
Kom en gaan. Kom en gaan.
Tikketik, tik. Tikketik, tik.
Tussenin leer en vergeet ons. Begin en eindig. Ontmoet en groet.
Die wind en roet laat my oë traan. “Wheels are made for rolling,” sing Lee Marvin. “Heaven is goodbye forever, it’s time for me to go.”
Die môrester glinster al helderder. Ons ry reg in die lig in.
Die gedruis van stemme maak vir Lee-Roy wakker. Wieletjies tjirp in die gang af.
Hy staan op en strompel deur toe.
Kyk uit.
Vreemde mans in wit klere stoot ’n trollie voordeur toe. Dit lyk of iemand toegezip in die sak op die trollie saam ry.
Uit. Hop-hop af met die trap.
Ouma Annie kom raap hom op. “Liewe Jesus het Oupa Hendrik kom haal.”
Hy woel hom los. “Ek verstaan nie. Het daai mans vir Oupa kom haal, of het liewe Jesus? Of was dit Ouma Gesie?”
Sy hou hom styf op haar heup vas. “Wat praat jy tog?”
“Ouma Gesie is ’n kief ouma. Sy het al die oorskiet-sop gedrink, maar sy het gegril. Sy soek meer spek in dit.”
“Lee-Roy!” Ouma Annie se valstande klap op mekaar.
Mamma tree by ’n kamer uit. “Ek het gewonder wie het die orige sop opgeëet.”
“Denise, jou kind het van Ouma Gesie gedroom,” sê Ouma Annie.
“Is nie.” Hy beur hom verder weg met sy hande. “Oupa Hendrik het vir Ouma Gesie op die stasie gaan haal, maar toe het sy eintlik vir hóm kom haal. Hulle is saam weg met die stoomtrein. Maar sy sê sy gaan weer kom.”
Hy klim van Ouma Annie se heup af en draf kombuis toe. Halfpad draai hy om. “Ouma Gesie het gesê julle moet vir my putu-pap maak. Wat is putu-pap?”
Hulle oë rek.
“Ouma Gesie sê julle moet die resep in die Kook en Geniet gebruik wat sy vir Ouma gegee het.”
Hulle monde sak oop. Nie een woord rol uit nie.
Maar op Ouma Annie se gesig staan die drie hoofletters geskryf wat Mamma baie kere op WhatsApp gebruik. WTF.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

