Oud-SêNet-webmeester Madri Victor gesels oor manuskripontwikkeling

  • 1

Hallo Madri, dankie vir die kans om te gesels. Sommige van ons lesers sal jou onthou as Madri Victor, voorheen SêNet-webmeester. Wanneer was jy betrokke by LitNet en wat is jou blywende indrukke van SêNet?

Sjoe, dit voel soos ’n leeftyd gelede. Ek was in 2006 webmeester van SêNet, en as ek nou terugdink, waarskynlik nie ’n baie goeie een nie. Ek het die “mooi” briewe bo geplaas, terwyl ’n mens eintlik dié wat debat ontlok, eerste wil lees. Maar die SêNetters het my vergewe en baie geliefd laat voel. SêNet funksioneer soos ’n gemeenskap; die klomp was doerie tyd so goed as ’n kuberfamilie. En soos dit gaan met familie, stry en baklei dit vir ’n vale. Waag dit egter net om as buitestander iemand te kom aanvat. Boetie, dan sien jy waar die lojaliteit lê.

Wat was vir jou lekker van die werk en wat was vir jou uitdagend?

Die uitdaging was om elke dag meer as honderd briewe te proeflees en betyds geplaas te kry! Die eerste uitgawe moes voor twaalfuur gelaai word, die tweede uitgawe voor sewe-uur die aand. Ek het my verbeel die SêNetters sit en wag in spanning vir elke uitgawe; die antwoord op ’n brief kon immers in die volgende uitgawe wees. Jy moes geduldig vir die webmeester wag om alles op te laai. Vandag kan jy sommer in ’n kits op ’n brief antwoord. Maar dit was lekker tye, daardie. As Webvoet het ek probeer om neutraal te bly, maar ek het by tye goed warm onder die kraag geraak vir van die briewe of ’n debat wat uitrek. (Wie kan die stryery oor wat nou eintlik beter is, Toyota Land Cruiser of Land Rover, vergeet?) En natuurlik ook lekker saam gelag. Geen webmeester kan onbetrokke bly nie; ’n mens voel later deel van die kuberfamilie. Laat ek maar bieg: vir my was Bobbejaan en Katvrou se briewe die lekkerste. Kobus de Klerk se briewe het ek elke keer met ’n sinkende hart oopgemaak. Ek onthou ook vir Namib en Swys, Miss Naatie, Sopbeen, Sonia Cabano, Varkspek. Ek wonder dikwels wat van almal geword het.

Jy is manuskripontwikkelaar, soos jou webwerf verklap: www.madrivictor.co.za. Glo jy almal kan skryf, of ontwikkel jy net bestaande manuskripte met potensiaal? (Terloops, hoe wéét jy ’n manuskrip het potensiaal?)

Talent speel sekerlik ’n rol. Net soos almal wat fietsry nie ewe talentvol is of die Epic wil doen nie. Dit beteken egter nie daardie ouens mag nie ook vir die pret ry en al die fietsry-parafernalia koop nie. Mense skryf om verskillende redes – sommige wil publiseer, ander skryf die familieverhaal vir Oupa se tagtigste verjaardag. Soms kry ek ’n manuskrip wat wys dat die aspirantskrywer nog baie het om te leer en dalk nie soveel talent het nie. Ander kere is die verhaallyn sterk, die karakters interessant en goed ontwikkel en die styl vars – só ’n manuskrip weet ek het die potensiaal om gepubliseer te word indien die skrywer bereid is om te herskryf. Ek het sover nog nooit ’n skrywer weggewys nie. As iemand die tyd en harde werk ingesit het om ’n manuskrip te voltooi, en bereid is om boonop te betaal vir kritiek en leiding, skryf ek met liefde ’n verslag.

Wat is vir jou die belangrikste: intrige of karakter?

Albei is natuurlik belangrik. Maar ’n karakter wat jou as skrywer fassineer, kan ’n lekker beginpunt vir ’n plot wees. In my skryfkursus skryf deelnemers in die eerste maand die rowwe weergawe van hulle verhaal. Niemand sien daardie weergawe nie, so dit mag maar erg deurmekaar en “sleg” wees. Daarna fokus ons elke maand op ’n ander aspek van die verhaal. Ek begin by karakterontwikkeling; ’n interessante karakter dryf dikwels ’n verhaal. Wanneer deelnemers aan hulle hoofkarakters begin skaaf en ontwikkel, lei dit meestal tot heel nuwe draaie in die plot. Wat lekker is van daardie eerste, rowwe skryf, is dat dit instinktief is. Daar is nie tyd vir dink of bang wees nie. Dit wys deelnemers dat skrywers ’n natuurlike instink het. Deelnemers begin byna altyd hulle verhaal met ’n idee vir ’n karakter wat húlle interesseer, daarna volg die uitwerk van ’n plot. Die kursus skerp daardie instinkte op. Ek wys jou byvoorbeeld hoe om jou karakters beter te ontwikkel, wat jy kan gebruik om die karakter vir jou leser lewend te maak. Later in die kursus praat ons ook oor wat plot nou eintlik is en waarom ’n stewige plot belangrik is.

Met betrekking tot jou skryfkursus sien ek jy skryf dat mense wat wil inskryf, vir jou kursus nie eens ’n idee saam hoef te bring nie. Glo jy die bereidheid om te skryf kan deurslaggewend wees? Maar wat dan van talent?

Waarvoor moet bereidheid om te skryf deurslaggewend wees? Vir publikasie? Soos ek vroeër gesê het: vir baie mense is skryf ’n stokperdjie; dit verskaf hulle plesier en genoegdoening en publikasie is nie noodwendig hoog op hulle prioriteitslys nie. Skryf is harde werk, toegegee. Maar dit behoort sekerlik ook lekker te wees, of hoe? Die doel van my skryfkursus is om die basiese beginsels van ’n goeie roman vir aspirantskrywers te leer. Die kursus is prakties. In werkswinkel een doen deelnemers byvoorbeeld ’n paar oefeninge om idees vir ’n verhaal te genereer. Ek wys jou waar jy vir ’n storie-idee kan soek en wat jy kan doen as jy aan sogenaamde “writer’s block” ly. Alhoewel deelnemers hard werk, is dit ook prettig. Natuurlik is daar deelnemers wat meer talentvol as ander is. Maar almal wat die kursus doen, hoe talentvol ook al, is daar om te leer en deel te neem, en sit dus in dieselfde bootjie. Die fokus van die kursus is nie publikasie nie; dit wil deelnemers die fondament van ’n goeie verhaal leer om hulle sodoende beter skrywers te maak.

Jou van het ook al ’n rukkie gelede verander, en deesdae is daar ook ’n ekstra toevoeging tot jou gesin. Hoe het haar teenwoordigheid jou lewe beïnvloed?

Wat ’n aanpassing is ’n baba nie! Alles in jou lewe verander – jou lyf, jou verhoudings, jou prioriteite, die tyd wat jy aan werk kan spandeer. Amelie is in Oktober 2012 gebore. Toe ons uit die hospitaal kom, het ek nog drie verslae gehad om af te handel voor ek “amptelik” met kraamverlof was. Ek was so naïef (“dom” is waarskynlik ’n beter woord); ek het gedink ’n mens kan werk terwyl die baba slaap. Moenie dink nie! Skielik sit jy heeldag met ’n piepklein mensie teen jou lyf, wie se hele bestaan om jou draai. Om die kopskuif te maak van heeldag werk na heeldag op die bank met ’n babatjie sit, was moeilik. Maar na die eerste maand het dit al lekkerder en makliker geword. Ek werk nou net drie dae in die week, wanneer my oppasser inkom. Die ander twee dae kuier ek en Amelie, of sit op die mat en speel, praat in babataal en lag vir ons hond se manewales. Ek beplan my werk beter en dink mooi voordat ek ja sê vir boekbekendstellings of optredes. In die bedryf staan ek steeds as Madri Victor bekend, soos my webwerf en Facebook-blad wys. Dit help om daardie deel van my identiteit apart te hou, te beskerm, as ’t ware.

As jy één brokkie raad aan voornemende skrywers kon gee, wat sou dit wees?

Lees, lees, lees. En skryf elke dag (al is dit ’n dagboekinskrywing of ’n paragraaf oor die eekhoring op jou gras); hoe meer ’n mens oefen, hoe beter raak jy.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top