Oud-SêNet-webmeester publiseer: Sharon Jenkings gesels met Naomi Meyer

  • 0

Ruik jy die filmster?
Naomi Meyer
Tafelberg
ISBN-10: 0-624-04349-5
Sagteband
150 pp
R69,99

 

Ruik jy die Filmster? is jou debuut-jeugroman. Dit het die beoordelaars van die Sanlam-jeugverhaalkompetisie in 2005 laat regop sit omdat dit soveel potensiaal gehad het, en was aangewys as een van die mees belowende inskrywings vir die Sanlam-jeugverhaalkompetisie van 2005. Jy het nie gewen nie, maar hierdie jaar het Ruik jy die Filmster? op die rakke verskyn. Hoe het die hele proses vir jou uitgespeel - van inskrywing tot gepubliseerde jeugroman?

Ek dink die woord proses som dit reeds mooi op. Daar was ’n paar impulse wat aanleiding gegee het tot die neerpen van die verhaal (die eerste daarvan ’n meisie met ’n groot geboortevlek oor haar gesig buite ons woonstel se deur). Van die finale wegstuur van die oorspronklike manuskrip onthou ek letterlik net hoe seer my kop was in ’n poging om die sluitingsdatum te haal. En die dag toe Louise Steyn bel om my in te lig dat my manuskrip die Sanlamprys se kortlys gehaal het, het ek haar gevra of dit ’n Aprilgek-grap is. Daarna het die grootste werk aan die manuskrip eintlik inderwaarheid plaasgevind toe ek die hele storie onder die kundige leiding van Francois Smith by Tafelberg moes herbedink.

Wou jy altyd hierdie verhaal vertel het of was dit deur die kompetisie geïnspireer?

Die kompetisie het vir my ’n sperdatum gestel. Die einddoel (naamlik die wegstuur van die manuskrip op ’n vasgestelde datum) het my dus gedwing om chaotiese prikkels te tem, los drade te knoop en meer meedoënloos om te gaan met my “little darlings”.

Hoe het jy gevoel toe jou boek so goed gedoen het?

Ek was verbaas. En bly.

Wat dink jou gesin van jou sukses?

My eie gesin is op hierdie stadium my man en hy was bly (maar tien teen een ewe verbaas dat die boek uiteindelik verskyn het). In alle erns: my man se ondersteuning beteken deurlopend baie vir my. Wanneer ek skryf, spandeer ek snags en enige obskure ure tyd in die geselskap van my rekenaar. En verorber maar net sy lekker kos tussendeur! My wyer familie – my ouers en skoonouers – was ook almal opgewonde. Vir hulle was alles waarskynlik meer werklik as vir my, dalk ook omdat hulle in Suid-Afrika bly.

Jou ma, Maretha Maartens, is ’n bekroonde skrywer en jou oupa was ’n musikale genie – jy is nou ’n gepubliseerde skrywer en gee vioollesse in Ierland. Dink jy daar’s ’n skrywersgeen of ’n kreatiewe geen wat geërf word?

Hierdie voel vir my of mens die sogenaamde “nurture vs nature”-debat kan open. Ek dink werklik albei hierdie faktore speel ’n rol: sosialisering en opvoeding kan ’n mens baie sterk beïnvloed. Maar niemand kan gene ontken nie. Ook nie persoonlike karaktereienskappe nie. Boonop beleef ’n mens baie eksterne blootstelling. Niemand is ’n volledige bloudruk van ’n ander nie.

Wat ander kenmerke het jy van jou familie geërf?

Koppigheid! Emosionaliteit. Humor. ’n Liefde vir sjokolade.

Jou ma het baie geestelike boeke geskryf en sy vertel dat godsdiens ’n groot rol in julle familie gespeel het. Hoe het dit jou beïnvloed en hoe het dit verander toe jy ’n lewe begin het in Ierland?

Dit is waar: godsdiens het nog altyd ’n groot rol in my familie gespeel. My eie godsdiens- en Godsbeskouing ontwikkel, verander en groei elke dag van my lewe. Die feit dat ek op die oomblik in Ierland bly, beteken beslis dat ek my ankers in die lewe moes ondersoek en bedink.

Waarom het jy die jeug-genre gekies?

Want dit was daar! Ek het gesien dat die kompetisie se tema vir daardie jaar “musiek” is. En my eie betrokkenheid by die musiekwêreld (hetsy by ’n amateuragtige orkes of by die klasgee vir skril beginnervioolspelers) was ook ’n sneller tot die skep van die verhaal.

Dink jy dit is "jou" genre, of is jy nog besig om te eksperimenteer?

Nee, dit is beslis nie "my" genre nie. Ek het pret gehad by die skryf van die boek (en was baie bly, terwyl ek my in die hoofkarakter(s) se skoene moes indink, dat ek nooit weer vyftien jaar oud hoef te wees nie. Ek het geweldig baie om te leer en om mee te eksperimenteer as dit by skryf kom.

Wat was die heel eerste ding wat jy neergeskryf het toe jy die boek begin het?

Goeie vraag! Ek onthou nie presies watter dele van Carmen se storie eerste gekom het, of eens waar die oorspronklike verhaal afgeskop het (in Ierland of in Suid-Afrika) nie. Ek onthou die skryf van sekere tonele helder, soos waar Carmen noodgedwonge saam met haar ouers in die supermark is. En ek onthou die aand wat ek Philippa se dagboek begin skryf het. Ek onthou die rankplante se skadu’s teen die muur voor die Arthur Nathan-swembad en die kleur van die lig deur die vuil venster van Philippa se woonstel. Ek onthou die klank van die gruis waardeur Philippa se fiets gery het en die visie in haar geestesoog: Oscar Janse van Rensburg se wilde hare en die rooi van sy ore se are soos wat die son van agter af daardeur skyn. Groot dele – die meeste! – van hierdie oorspronklike dagboek verskyn glad nie in Ruik jy die Filmster? nie. Francois Smith het my aangemoedig om eers nog baie tyd saam met hierdie karakter te spandeer en dan weer háár dagboek spesifiek oor te skryf.

Hoekom het jy Carmen Janse van Rensburg gekies om oor te skryf, of het sy jou gekies?

Ek het eers haar stem gehoor en toe het ek die karakter leer ken. Carmen Janse van Rensburg het vir my ’n definitiewe klank gehad lank voordat sy gebore is. Ek het haar gaandeweg eers leer ken, so tussen al haar baie gepraat deur. Die twee het waarskynlik dus min of meer gelyktydig gebeur: ek het haar stem gehoor (dit was nie my eie stem nie, want ek praat nie soos Carmen nie) en toe het ek woorde in haar mond gelê. Of sy in myne. Want die enigste ding waarvan ek seker is, is dat ek beslis nie Carmen Janse van Rensburg is nie. Of was nie. Nee, dis andersom. Carmen was nooit ek nie. Ek was, elke slag as ek in haar vel inklim en deur haar oë kyk, inderdaad ’n rukkie lank sý.

Carmen verteenwoordig die “nuwe tiener”. Hoekom is dit belangrik dat ouers sowel as tieners hierdie boek lees?

Verteenwoordig sy ’n “nuwe tiener”? Hoe is dit anders as die “ou tiener”? My werk as vioolonderwyser hier het my respek geleer vir sogenaamde tieners, soos ook vir kinders – kortom, vir mense wie se emosies ’n mens maklik afmaak as minder legitiem as ’n mens se eie (want elkeen glo tog op ’n manier hy het die meeste insig en kennis binne sy eie ontwikkelingstadium en -fase van die lewe). Ek sou hoop dat sekere van die emosies en ervarings in die boek universeel is, hoewel dit, paradoksaal, radikaal van die een wat dit lees s’n kan verskil.

Het jy jou boek weer gelees noudat dit gepubliseer is?

Net baie, baie vinnig en oorsigtelik!

Jy woon al ’n paar jaar in Ierland. Voel jy jou Expat-status het ’n invloed op jou skryfwerk en spesifiek op jou taalgebruik? Skryf jy deesdae moeiliker in Afrikaans?

Nie regtig nie. Die baie Engels wat Carmen gebruik, is deel van Carmen se klank. My emosionele taal en die een waarin ek my steeds die beste uitdruk, is maar Afrikaans.

Het die internet enige invloed op jou Afrikaans? Hoe bly jy op hoogte van wat aangaan in die Afrikaanse letterkunde?

Ek lees LitNet! Ek het een slag vir Etienne van Heerden geskryf dat dit vir my verstommend is dat wanneer ek van ’n nuwe Suid-Afrikaanse skrywer bewus word en ek sy naam in LitNet se soekblokkie intik, daar altyd reeds materiaal oor hom op dié webwerf beskikbaar is.

En verder? Ek lees. Punt. Ek lees soveel en so wyd ek kan. Boeke. Koerante en resensies op die internet, of literêre bylaes van Britse of Ierse koerante hier. En of die internet ’n verdere rol speel in my op hoogte bly van literatuur? As ’n mens Amazon hierby inreken, absoluut!

Hoe vergelyk Suid-Afrikaanse literatuur met Ierse literatuur?

Ek dink nie dis moontlik om die twee te vergelyk nie. Suid-Afrikaanse literatuur is in my opinie veel meer divers en uiteenlopend. Hoewel ek daarmee nie sê dat die Ierse literatuur nie baie het om te bied nie. Inteendeel! En weens my onvermoë om Iers te praat, het ek slegs toegang tot die Engelse been van die Ierse literatuur.

Ek dink egter ’n belangrike verskil tussen Ierse en Suid-Afrikaanse literatuur is dat laasgenoemde geskryf word deur mense van multikulturele agtergronde, in baie verskillende tale – meer as slegs twee. In Ierland sal daar waarskynlik in die toekoms al hoe meer werke verskyn van mense wat nie noodwendig van Ierse afkoms is nie (en dan seker kwalifiseer as “multikultureel”). Maar die verskillende oë wat in Suid-Afrika kyk, die verskillende wêrelde en agtergronde waarteen beleef word, is dié van mense wat in Afrika gebore is en, hoewel hul universele menslike emosies beleef, dramaties van mekaar verskil.

LitNet-lesers sal jou onthou as ’n oud-Webvoet en van jou werk aan die Sanlam Aanlynskryfskole. Wat onthou van jou ervaring as SêNet-webmeester?

Ek onthou baie ure voor die rekenaar se flikkerende skerm. Ek onthou baie laat nagte en baie vroeë oggende. Ek onthou hope spelfoute en hope reaksies op spelfoute. Ek onthou baie vurige gemoedere en hewige en hete argumente. Ek onthou eras en tydperke en mense. Ek onthou die tyd toe daar 10 briewe per dag verskyn het. Ek onthou die tyd toe daar 110 briewe per dag verskyn het. Ek onthou rofweg ’n dosyn briewe wat my sodanig geïnspireer het dat ek hulle nou nog op die internet sal kan opspoor.

Hoekom het jy die Sanlam Aanlynskryfskool-projek gekies om so hard aan te werk vanuit Ierland? Het dit enige effek op jou eie skryfwerk gehad?

Ek vind die Sanlam-skryfskole uiters opwindend. En die manier waarop die proses geskied, nogal taamlik in voeling met hoe dit werklik is om ’n boek gepubliseer te kry, met wat agter die skerms gebeur. Ek het self baie van skryf hier geleer, nie die minste nie waarvan dat die herskryf net soveel, of méér, gewig dra as die aanvanklike voltooiing van die manuskrip.

Gaan Naomi Meyer ooit weer in Suid-Afrika kom woon?

Ja!

Ek weet nie of ek daaroor mag praat nie, maar julle gaan een van die dae ’n derde persoon in die Meyer-gesin verwelkom. Hoe het die nuwe lewe binne jou alreeds jou lewe verander, en wat is die belangrikste les wat jy vir jou kind wil leer?

Hoeveel tyd het jy? Om swanger te wees het my lewe verander. Hoe ek kyk, hoe ek beleef, hoe ek die toekoms sien. Dalk selfs hoe ek die verlede sien. Ek beskou myself hoegenaamd nie as die “oermoeder”-tipe nie. En dalk kan ek dit opsom deur te sê dis ’n oorweldigende ervaring. Op die tweede deel van jou vraag: ek dink my kind gaan mý eerder ’n paar lesse leer!

Ruik jy die Filmster? sal ’n goeie Kersgeskenk vir ’n tiener wees en ons moedig ons lesers aan om ’n eksemplaar te koop. Watter kersboodskap wil jy vir ons LitNet-lesers stuur?

’n Kersboodskap van vrede. En van liefde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top