Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse: ’n onderhoud met Herman Lategan

  • 9

Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse
Herman Lategan
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776091607

Skrywers oor hul nuwe boeke. Herman Lategan gesels met Naomi Meyer oor Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse.

Herman, baie geluk met Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse. Aan elke woord binne-in die boek, en op die boek se omslag (voor- en agterblad), kleef jou vingerafdrukke. Jy het ’n eiesoortige en unieke stem; wil jy iets vertel oor die drie verskillende woorde waaruit die titel bestaan? Waarom juis hierdie drie woorde kies?

Baie dankie vir die geleentheid om met jou te praat. Ek is ’n groot aanhanger van LitNet, al maak Crito my by tye moerig. Maar dit is goed so, want ek hou van ’n titseltjie kwaad raak, en dit is waar die woord opstokers inpas.

Mense wat moeilikheid maak, aanstokers is, ’n bietjie gatskop, het my nog altyd gefassineer. Dit kom uit my kinderdae waar ek gedurig met die verkeerde groep gemeng het.

Hulle was opwindend, ons het die wêreld metafories aan die brand gesteek. Die woord opstokers pas dus in, omdat dit iets van myself sê, ek oor van hulle geskryf het, en ek aangetrokke voel tot daardie genre of tipe mens.

Fopdossers is vir my ’n pragtige woord, ek dink dit is baie mooier as drag queens. Toe ek met my ma in Kloofstraat en Seepunt as kind gewoon het, het sy sulke vriende gehad. Weer eens was ek heeltemal geboei deur hulle. Lady Peterson, wat eintlik ’n boerseun was, maak ook sy verskyning in die boek.

Herman Lategan se ma (foto verskaf)

Hy het ongelooflike vertonings gelewer, onder meer as Marlene Dietrich en Sophia Loren. Ons wonings, eers in losieshuise, daarna in klein woonstelle in Seepunt, was altyd vol hippies, fopdossers, enkelma-ouers, skrywers, akteurs, ontheemdes en baie van die bruin huishulpe in die omgewing. Almal het saam gepaartie en gestry (oor die politiek, want my ma was links).

Tweegatjakkelse verwys na die hubris en skynheiligheid van die Nasionale Party (die ANC is maar persies dieselfde vandag), die NG Kerk, ou omies met grys skoene en mense wat ander verkleineer oor klasgrense heen. Wat my ook ontstig is mense wat kla as iemand vloek, maar dan as hulle by die huis langs die braaivleisvuur klets is hulle rassiste, homofobe, en betaal hulle die huishulp karig. Dit maak my siek. Sulke saggies-poep-mense who can’t call a spade a spade.

Herman Lategan (foto verskaf)

Ek het al genoem elke frase klink asof dit deur jou geskryf is (dit is, ek weet!). So ook die subtitel: Stories oor woorde, mense en aanhou beweeg en geraas maak. Weer wil ek jou oor al drie komponente vra. Sê asseblief vir my iets oor jou betrokkenheid by woorde, by mense ("die ontheemdes, die buitestaanders en die aweregse belhamels"), en oor daardie Jan Rabie-aanhaling.

Ja, ek is bly jy noem die Jan Rabie-aanhaling, want dit is soort van ’n leuse vir my. “Aanhou beweeg en geraas maak!” ’n Vriendin van my, Jacolette Kloppers, gebruik dit ook gereeld, so dit sit in my kop vas.

Die stories oor woorde is juis waaroor die rubriek "Woorde wat wip" (die tweeweeklikse rubriek in Rapport) gaan. In hierdie een is daar meer aksent op ou en ongewone woorde. In Binnekring van spookasems was daar baie outobiografiese essays. Ook in Opstokers, maar soos ek genoem het, woorde wat lesers aan my gestuur het, en ander woorde wat ek self opgespoor het.

Afrikaans het ’n groot skatkis van lieflike woorde. Dit is vir my opwindend. Mense? Wat is woorde sonder mense? En wat is mense sonder woorde? Net die groot swart niet. Die donkerte waarvoor ek so bang is.

Ek het vir ’n maand as sesjarige nie gepraat nie. My ma kon nie finansieel na my kyk nie en ek was vir ’n jaar in die Durbanville-kinderhuis. Die eerste maand was ek verlam deur verdriet. Ek onthou daardie gevoel van stom wees. Ek onthou goed hoe dit gevoel het en ek het geweet: Eendag as ek weer praat, sal ek nooit weer sonder woorde wees nie. Ek sal die donkerte met woorde besweer. En ek het weer begin praat toe ek ’n hond sien wat welpies gekry het. Hulle was besig om aan haar tepels te suig. Ek het aan die teef en die kleintjies gevat en gesê: “Mamma.”

Herman Lategan (foto: Philip de Vos)

Die hele boek bestaan uit woorde waarrondom jy stories bou. Kan jy jou losmaak van die woorde wat jy gekies het vir die Rapport-rubrieke? Ook: hoe is die woorde gekies waaroor jy jou rubrieke skryf?

Ek kan myself soms losmaak van die woorde wat ek gekies het, maar ek verkies dat hulle tematies verbind is met die res van die rubriek. Ek bly dus by daardie metode. Iemand het eenkeer vir my gesê dit lyk asof die woord nie by die rubriek pas nie. Toe wil ek antwoord: “Dit is omdat jy net op die oppervlak gelees het.”

Ek kies die woorde op verskillende maniere. Soms hoor ek ’n mooi woord, of ek lees hom raak, ander kere kry ek eers die storie in my, dan moet ek ’n woord gaan soek. Ek hou nogal daarvan, om ’n woord te gaan uitsnuffel wat by ’n rubriek pas.

Byvoorbeeld: Daar is ’n statige ou Italiaanse vrou, amper 80, wat my toonnaels knip. Ek gaan na haar want ek het gehoor sy kry swaar, en ek het my rug seergemaak. Sy woon in ’n ouetehuis, en vra net R130. Nou sit ek by haar een keer ’n maand, my voete in warm water en sy begin gesels oor die ou dae in Seepunt. Haar bedjie eenkant, mooi opgemaak. Italiaanse musiek speel.

Sy is soos ’n ensiklopedie. Ek het agtergekom daar is iets weerloos aan haar. Toe vra ek haar oor ’n foto teen die muur van ’n mooi man. Toe vertel sy vir my haar seun van 25 is dood, onthoof in ’n motorongeluk.

Nou ek het ’n been wat erg beskadig is in ’n motorongeluk. Ek laat niemand daaraan vat nie. Sy vryf daaroor terwyl sy die storie vertel en dit is die eerste keer in 15 jaar dat ek enigiemand toelaat om oor die merke te vryf.

Nou vertel my dit is nou nie ’n rubriek nie? Dit is ’n vinjet uit die lewe. Nou moet ek hom skryf, ek moet ’n woord soek wat by haar gaan pas. By die vroutjie, alleen in Seepunt, wat metafories oor haar dooie seun se seerkry been streel.

Herman Lategan op sy agste verjaardag (foto verskaf)

Oor die stormagtige huwelik met Afrikaans. Ek wil iets byvoeg by jou heerlike definisie: uitbundig, wild. Maar wat van "soms byt mens ook maar net vas"? Daar is tye wat dit nie anders kan nie. Dan is dit ’n anker. En ook: ander mense verstaan nie wat het jou besiel om met die taal te trou nie, maar nou's die koeël deur die kerk en eintlik wil jy dit nie anders hê nie. Ek gaan ophou praat oor die taal, oor na jou en jou langtermynverhouding (hoe dikwels was jy al ontrou of het jy al minstens oorweeg om weg te loop)?

Man, sommige van die sprekers is wat my vervreem het, nie die taal nie. Ek was nog altyd baie lief vir die taal, ek is sterk beïnvloed as kind deur verkeie mense: plaaswerkers, my ma, Babs Laker, Sheila Cussons, en ander.

In my twintigs was ek so moerig vir die Natte en die weermag en die kerk, ek het besluit om in Engels te werk. Dit is wat ek toe gedoen het. Vir 20 jaar. Toe op ’n dag skryf ek iets oor die digter Casper Schmidt wat in New York gebly het. Ek het hom goed geken en vir ’n jaar daar gebly. Ek kon dit net in Afrikaans skryf. Toe ek dit doen toe begin ek nog en nog en nog . . . en daar gat ek toe.

Toe besef ek ek kan nie kwaad vir ’n taal wees nie, wel sommige sprekers. Van daar die stormagtige huwelik, want soms as ek die kommentare op Netwerk24 lees, dan dink ek, nee! Wyk Satan, met daai taal wil ek niks, niks, niks te make hê nie.

Maar dan maak ons weer vrede, nes ’n paartjie wat hou van baklei en dan die seks daarna.

Wat was die eerste Afrikaanse woord of storie wat jou geraak het? Het jy grootgeword met ’n gunstelingboek? Wanneer het jy begin lees?

Die eerste storie was ’n gedig van Eugène Marais (sien onder). Dit het my verniel. Ek het met baie Engelse en Afrikaanse boeke grootgeword, te veel om op te noem. My ma het baie gelees, stories vertel, en later toe ek by my pa gewoon het, dieselfde ding. Altyd boeke en koerante. Iets wat ’n invloed gehad het, was die 1933 vertaling van die Afrikaanse Bybel. Ek is nie gelowig nie, maar dit is van die mooiste taal. My ma was dramaties, sy het hardop en poëties daaruit gelees. Ek dink het op drie die alfabet begin verstaan en op vier eenvoudige kinderboeke begin lees.

Die Towenares

Wat word van die meisie wat altyd alleen bly?
Sy wag nie meer vir die kom van die jagters nie;
sy maak nie meer die vuur van swart-doringhout nie.
Die wind waai verby haar ore;
sy hoor nie meer die danslied nie;
die stem van die storie-verteller is dood.
G’neen roep haar van ver nie
om mooi woorde te praat.
Sy hoor net die stem van die wind alleen,
en die wind treur altyd
omdat hy alleen is.

Skryfwerk deur Herman Lategan (verskaf)

Wanneer het jy begin skryf? Kan jy jou eerste skryfsel onthou?

Ek was in Standerd 1, Laerskool Jan van Riebeeck, toe skryf ek ’n toneelstuk oor ’n Kersfees waar almal aan’t baklei raak en baie dramaties met psalmgesange en baie trane weer vrede maak en toe ’n heerlike Krismis het. Ek moes toe al geweet het dat drama queen my voorland is.

Athan Glover, Graham Sonnenberg en Herman Lategan (foto: Philip de Vos)

Vertel my van die mense aan wie jy die boek opdra, veral die een. As jy wil.

Athan Glover was een van my beste vriende, ons het saam ’n woonstel gedeel. Dis onkonvensioneel, maar ek en my partner van 20 jaar, Graham, en hy en sy nuwe een, Athan, het almal saam gewoon. Dit klink vreemd, maar ons gay mense het ons eie manier van dinge doen.

Ons het almal goed oor die weggekom, daar is en was genoeg plek vir ons almal, en dit het goed uitgewerk, want ons was soos ’n familie. Athan het vir my en Graham elke liewe aand gekook, dan het ons saam gesit en praat oor die dag. Hy was ’n sjef.

Hulle het geen idee wat in die Afrikaanse wêreld aangaan nie, so dit was verfrissend. So het ons vir ’n lang ruk saamgewoon. Ek en Graham is gou een oggend uit, toe ons terugkom probeer ons Athan in hul bed wakker maak, toe is hy dood. Op 43.

Dit was asof ’n broer dood is, ek is ’n enigste kind, albei ouers is dood. Om iemand wat soos ’n bloedbroer so dood te sien, die mond oop, die oë oop. Wit in die gesig. Hy was nog warm.

Ek het aan sy borselkop gestreel en hard geween. Ek het hom nooit vertel dat hy soos my broer is/was nie. Ek het baie spyt daaroor. Natuurlik het ons ook baklei, maar die Vrydagaand voor sy dood was vredeliewend en hy het ’n lieflike pasta gekook.

Toe hulle hom kom haal en in ’n swart sak sit, toe knak iets in my finaal. Dit was ’n warm dag, die son was skerp. Toe hy deur die tuin gedra word, het die katte agterna gekom. Hulle laai hom in die stoet, en ek en Graham het in die teerpad gestaan, in die hitte, mekaar vasgehou en hard en lank gehuil. Ons huil nou nog, dit was ses maande terug.

Sonja Loots was instrumenteel met die onstaan van "Woorde wat wip". Sy en Pieter Malan, haar man, het gesien hoe ek op ’n slag met Afrikaanse woorde op Facebook gespeel het, en toe kom die idee vir die rubriek.

Amanda Botha het ek op 16 leer ken nadat ek ’n fan brief vir Sheila Cussons geskryf het. Sy het toe gereël dat ek met Sheila koffie drink by ’n koffiewinkel. So in my skooluniform.

Sheila Cussons en Herman Lategan (foto verskaf)

Van toe af het ek en Amanda (en Sheila, nou saliger) goeie vriende geword en ek is nou 54, so nou kan jy self uitwerk hoe lank dit aangaan. Amanda is ook ’n mentor en was direk betrokke by die geboorte van Binnekring van spookasems.

Wat ek wil byvoeg oor Amanda. Die manier waarop sy heeltemal onbaatsugtig na Sheila Cussons gekyk het sal my altyd bybly. Sheila was as gevolg van haar beenprostesis afhanklik van vervoer, inkopies en allerlei.

Dan en wan sou Sheila van ’n taxi gebruik maak, soos die een van Berghof wat Elsa Joubert vervoer, maar dit was soms duur. As ek maar sien dan ry Amanda en Sheila verby my in die straat op pad iewers, of in Stuttafords sien ek hulle is doening, of hier en daar.

Sheila was eintlik maar ’n kluisenaar en loop was moeilik, maar daar was uiteraard tye wanneer sy moes uitgaan. Amanda was die een wat haar gehelp het.

As Sheila ’n bipolêre terugslag gekry het, wie het haar na Schoenstatt (Katolieke-oord in Constantia) geneem? Amanda was die een wat haar steunpilaar was.

Wium van Zyl se naam moet ook genoem word, ek onthou ons het haar saam eenkeer help trek. Amanda Botha se totale onselfsugtige ondersteuning van Sheila Cussons is in my hart en brein ingeprent.

Graham Sonnenberg was my lewensmaat vir 20 jaar, en ons woon steeds saam. Ek het hom ontmoet toe ek 22 was, hy was 26. Hy is my steunpilaar vir oor die 30 jaar. ’n Prokureur met ’n sagte hart, wat sy geld weggee (daarom is ons arm!). Sonder hom sou my lewe waarskynlik baie anders uitgedraai het. 

’n Jonger Herman Lategan (foto verskaf)

Hoekom is mens ’n vryskutjoernalis? Hoekom is JY een? Wat besiel mens om dit te doen, die (gebrek aan) geld ten spyt?

Ja dis erg, die min geld. Daar is dae wat ek al gedink het ek moet op Groenpunt se hoofweg gaan hoer. Virginia is nou amper 75 en sy doen dit nog ná al die jare, ek het al oor haar geskryf. Sy vra R50 vir ’n blow job in die somer, R35 in die winter. Maar ek dink vir ’n man is ek nou te oud om so iets aan te pak, want ek sou meer geld kon maak as met joernalistiek.

Ek is gefire by my laaste voltydse job by e.tv waar ek geskryf het, omdat ek my baas eendag wou vermoor. Ek sou dit natuurlik nie doen nie, maar ek het vir die ou gesê: “I want to kill you!”

Toe kom die sekuriteitsmense en vat my daar uit. Hulle sê toe jy kan jou werk terugkry maar jy moet deur ’n dissiplinêre tugverhoor gaan. I said: “You must be joking, keep your job!”

Daardie eindelose kantoorpolitiek, vergaderings, bosberade, te banaal vir woorde. Ek kan ook nie in ’n span werk nie, want ek het nie filters nie. Ek sal sommer enigiets sê wat in my kop inkom. En dan is almal kamma geskok, nee dankie. Wyk!

Ek funksioneer beter op my eie, al is ek arm. Maak nie saak nie. 

Verder wil ek net noem ek het geen behoefte aan ’n tipe openbare beeld, roem, of literêre status van enige aard nie. Solank ek geld het vir boeke, rolprente, kuier, reis, dak oor my kop en wyn, is ek fynpikkewyn.

Ek voel, soos my pa altyd gesê het (en wat nou heeltemal un-pc is), minder as die “bont hond se kont” oor wat mense van my dink.

Ek is Hermiena Lategan, ’n kômmin moffie wat te veel bollie praat, so what, en de moer met die res.

Herman Lategan se ma, Ivan Spence en Herman, heel regs (foto verskaf)

Wat is die sin van die lewe? En die sin van Afrikaans?

Nee, daar is geen sin in die lewe nie. Miskien kan ons deur taal sin probaar maak, maar ai, wat ’n totale misoes is die mensdom nie. Dis darem maar ’n jammerte, so ’n ou grappige eksperiment wat heeltemal surrealisties ontaard het in ’n daaglikse nagmerrie van armoede, siekte, dood. Optimiste lieg en maak my mal, moenie met bogstories kom dat dit alles jollie is nie. Bollie man. Kyk net wat aangaan!

Verder is dit ondemokraties, die hele idee van geboorte. Is daardie kind vooraf gekonsulteer? Uiteraard nie.  Nee, jy pop net eendag in hierdie horror of a world sonder ’n waarskuwing. Dis hoekom die kinders so skree as hulle gebore word.

Hulle sê: “Nee! Nee! Wat het julle aan my gedoen?”

As ’n mens kon gaan sit en aan die kind verduidelik wat voorlê, sal baie min van hulle instem om op die aardbol te kom agteruit gaan. Want dit is wat dit is. Agteruitgang. Verrotting. Die stank van die dodehuis waar die yskaste ophou werk het. Bah!

Herman Lategan saam met skoolvriende (foto verskaf)

  • 9

Kommentaar

  • Wat 'n fees om hierdie te kon lees en waardeer. Herman het 'n eiesoortige unieke manier van 'n ding sê en sy siening van die lewe so Herman Lategan – ook eiesoortig en uniek. Ek is mal oor hom.

  • Piet Verdriet

    As en wanneer Herman eendag spierwit, oopbek en grootoog stil word, sal ek ook huil; die Here maak mos nie meer daai modelle nie.

  • Daar is net een Herman. En al loop sy bek hom soms vooruit, is sy hart sag. Slim, is hy. En uniek. Briljante skrywer.

  • Dit was nou regtigwaar 'n "moet lees"-onderhoud!! Het dit so geniet om te lees. Ek lees gereeld sy skrywes en waardeer sy unieke skryfstyl. Ek sien daarna uit om sy boek te lees. Dankie Herman Lategan, vir jou menswees.

  • Jeannette van Heerden

    Ek het Binnekring van Spookasems geniet! Jou skryfstyl is so lekker los en lees so lekker! Jou nuwe boek is nog nie in ons biblioteek nie. Kan jy dit glo? Ek woon in Hermanus. Ek hoop om jou eendag in Seepunt raak te loop, want my oudste seun woon daar en ek en my man besoek hulle gereeld. Ons is baie geheg aan ons kinders en daai kleinkinders!

  • Marie Bredenkamp

    Ek moet die boek kry! Vandat ek die eerste keer jou skryf oor woorde raakgelees het, is ek "bekeerd"!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top