
Jason Lloyd (foto: verskaf)
Suid-Afrika en spesifiek die Afrika-unie (AU) se oproep by monde van sy voorsitter, president Cyril Ramaphosa, tot die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) vir verhoogde humanitêre hulp aan kwesbare samelewings soos Afrika weens die COVID-19-pandemie, is laat, maar is tog broodnodig.
Veral gegewe die verwoestende impak van COVID-19 op ontwikkelde en ontwikkelende ekonomieë wêreldwyd.
Dis nodig om te noem dat die humanitêre krisis, of voedselnood, in Afrika nie ’n nuwe verskynsel is nie. Dit het reeds lank voor die uitbreek van COVID-19 veral hier in Afrika verwoesting kom saai.
Die verslegtende geweldpleging in die noorde van Mosambiek deur militante wat vermoedelik bande met die terreurgroep Isis het, het onlangs die nuus gehaal. Dit het veroorsaak dat duisende mense honger ly, terwyl hulle uit hul huise en van plase vlug.
In Januarie het die media groot gewag gemaak daarvan en berig dat ’n groot humanitêre oorlog in Afrika en aan vele fronte woed.
Dit is nadat die Wêreldvoedselprogram (WFP) en die Internasionale Noodleningskomitee (IRC), waarvan die voormalige Britse minister van buitelandse sake, David Miliband, die president en uitvoerende hoof is, in afsonderlike verslae, wat onderskeidelik in November 2019 en Januarie 2020 uitgereik is, gewaarsku het dat veral Afrika deur ’n humanitêre krisis lamgelê kan word.
In sy staatsrede wat Ramaphosa op 13 Februarie in die parlement gelewer het, het hy geen melding daarvan gemaak nie. Ook nie in sy aanvaardingsrede toe hy op 9 Februarie in Addis Ababa in Ethiopië tot die voorsitterskap van die AU verkies is nie.
In die lig van die dreigende humanitêre krisis moet dit verwelkom word dat Suid-Afrika en die AU die oproep van Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die VN, vir ’n internasionale wapenstilstand en die verhoging van humanitêre hulp aan kwesbare samelewings ondersteun.
Ramaphosa het onlangs deelgeneem aan die virtuele beraad van die VN se veiligheidsraad oor internasionale regering na die wêreldwye COVID-19-pandemie.
Die voorsitter van die AU het, onder meer, gesê die bedreiging wat die huidige COVID-19-pandemie vir lewens, mense se lewensbestaan en maatskaplike stabiliteit inhou, kan beduidende gevolge vir internasionale vrede en stabiliteit inhou.
Volgens Ramaphosa kan toestande van onstabiliteit en konflik wêreldwyd vererger en dat die moontlikheid vir selfs nuwe vorme van maatskaplike onrus bestaan. Hy het benadruk dat belangrike aanwinste wat deur politieke prosesse vir internasionale vrede gemaak is, ook daardeur bedreig word.
Ramaphosa sê dit is daarom dat die internasionale gemeenskap verwagtinge het dat die Veiligheidsraad sal aanhou om ’n sleutelrol te speel om te verseker dat COVID-19 nie internasionale vrede en veiligheid ondermyn nie.
Hy het ook ’n beroep gedoen op alle partye wat by gewapende konflik betrokke is om aan ’n vreedsame oplossing te werk, terwyl hulle terselfdertyd aan die humanitêre behoeftes van hul bevolkings voldoen.
Die oproep vir die beëindiging van eensydige, bestraffende maatreëls, soos sanksies gedurende COVID-19, sodat dit die lande in staat kan stel om noodsaaklike voorraad en ondersteuning te kan bekom, word ook deur Suid-Afrika ondersteun.
Die WFP het in Januarie 46 lande uitgewys in sy jaarlikse ontleding van globale brandpunte waar hongersnood kop uitsteek en gesê sowat een miljard mense sal hulp nodig hê.
In Afrika suid van die Sahara raak dié krisis veral lande soos Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Suid-Soedan, die noorde van Senegal en Lesotho.
Namibië, Zambië, Angola, Haïti, Ethiopië, Kameroen, Libië en Nigerië word ook geraak.
Volgens David Beasley, uitvoerende hoof van die WFP, sit sy organisasie met die hande in die hare omdat hulle nie werklik weet hoe om die uitdaging aan te pak nie. Hy het benadruk dat die WFP hulp nodig het en dat hy hoop lande wat daartoe in staat is, sal gewillig wees om skenkings te maak.
Die WFP het minstens R141 miljard nodig om uitgehongerde mense in 80 lande oor die wêreld heen van voedsel te voorsien. Sowat 45 miljoen mense in Suider- Afrika, reken die WFP, benodig dringende voedselhulp.
In sy jaarlikse ontleding van globale brandpunte vir 2020 waar humanitêre krisisse dreig, het die IRC Afrikalande soos Nigerië, Suid-Soedan, Burkina Faso, Somalië en die Demokratiese Republiek van die Kongo uitgewys.
In ’n verklaring spreek die IRC hom soos volg oor die humanitêre krisis uit:
"Countries on the list disproportionately host populations in need of humanitarian assistance and are among the states least equipped to respond to new crises or sudden deterioration in crises. The top 10 (countries on the 2020 watchlist) produced nearly three quarters of the world’s refugees and over half of those in need, yet their appeals for humanitarian for 2019 were nearly 40% underfunded on average".
Ontleders het vroeër vrae gevra oor Ramaphosa, veral as AU-voorsitter, se stilswye oor die humanitêre krisis in Afrika in sy toesprake wat hy onderskeidelik op 9 en 13 Februarie, waarna hierbo verwys word, in Addis Ababa en Kaapstad gelewer het.
Dis seker nou veilig om te sê dat die verwoestende impak van COVID-19 regerings wêreldwyd gedwing het om nuut te dink oor die humanitêre krisis en om die impak daarvan te verlig sodat – soos Ramaphosa genoem het – die moontlikheid van nuwe vorme van maatskaplike onrus hokgeslaan kan word.


Kommentaar
Diep! dankie Jason. Ek is bly om te sien dat jou belangstelling nie by die Limpopo ophou nie! Afrika is in 'n gemors deur sy eie mense! Te veel chiefs en te min indians!