Oproep om referate: Inter-Breyten – Breytenbach in Konteks

  • 0

Oproep om referate: Inter-Breyten – Breytenbach in Konteks

Die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika (www.afrikaans.ugent.be) nooi met graagte voorleggings uit vir ’n tweedaagse konferensie oor Breytenbach in Konteks, wat op 2627 November 2026 in Gent sal plaasvind.

Met ’n meervoudige navorsingslens ondersoek die simposium die prismatiese aard van die kreatiewe en reflektiewe oeuvre van Breyten Breytenbach (1939-2024). ’n Kontekstuele benadering word gevolg om die kunstenaar-filosoof te verstaan in verhouding tot die kompleks van estetiese, ideologiese en filosofiese idees waarin sy stem weerklink. Verskeie verwysingsraamwerke sal onder die loep geneem word, soos pan-Afrikaanse denke, surrealistiese en ander modernistiese kulturele diskoerse, Afrikaans binne die Suid-Afrikaanse konteks, politieke weerstand teen apartheid, ensovoorts. Moontlike temas sluit in:

  • internasionale resepsie en verbintenisse
  • intertekstuele en intermediale verwysings
  • interpersoonlike netwerke
  • inter-Afrikaanse idees

Die simposium belig verskeie fasette van Breytenbach se openbare persona en verken verbintenisse met ander skrywers (bv. tekste, poëtika), filosowe, beeldende kunstenaars en politieke denkers. Aandag kan ook geskenk word aan die nageskiedenis of Nachleben van Breytenbach se statuur en werk. Dit sluit die vorming en bewaring van argiewe in wat verband hou met ’n produktiewe en multidissiplinêre kunstenaar soos Breytenbach. Sy werk sal bespreek word teen die agtergrond van die estetiese en politieke klimaat waarin hy vir dekades aktief was, met besondere belangstelling in (interkulturele) verbintenisse met ander linguistiese en intellektuele tradisies, asook sy posisionering binne debatte oor Afrikaans.

Breytenbach in Konteks bou voort op transnasionale en analitiese navorsing deur akademici wat die digter se literêre en visuele oeuvre, sy politieke-ideologiese, linguistiese en kultuurfilosofiese standpunte – soos pan-Afrikaanse denke, taal-politieke kwessies rakende Afrikaans en Zen-Boeddhistiese verwysingsraamwerke – asook sy transnasionale resepsie bestudeer het.

Samevattings van ongeveer 250 woorde (insluitend bibliografie) word teen 15 April 2026 verwag en moet per e-pos ingedien word by die volgende adres: inter.breyten@gmail.com. Die simposium sal beide fisies en aanlyn plaasvind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top