
DIE SUID-AFRIKAANSE AKADEMIE VIR WETENSKAP EN KUNS
OPROEP OM REFERATE
JAARLIKSE ALGEMENE SIMPOSIUM
28 en 29 September 2023
Aangebied deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria)
Die SA Akademie se jaarlikse simposium vind op 28 en 29 September 2023 in ’n hibriede formaat plaas. U word vriendelik uitgenooi om ’n referaatvoorstel in te dien wat fokus op die breë simposiumtema. U is welkom om die uitnodiging ook aan belangstellende kollegas te stuur.
Tema: Volhoubare menslike welstand in Suid-Afrika
Die wêreld se bevolking het in November 2022 die agt miljard kerf verbygesteek. Die Verenigde Nasies (VN) het hierop ’n beroep gedoen op solidariteit in die bevordering van volhoubare ontwikkeling vir almal. Die VN is van mening dat deur die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te bereik, menseregte te respekteer en niemand agter te laat nie, ’n wêreld ingelui kan word waar almal potensieel kan floreer. Dit is ’n duidelike oproep op die mensdom om ons nie blind te staar teen die getalle nie, maar ons gedeelde verantwoordelikhede na te kom om mense en die planeet te beskerm. Daar behoort by die mees kwesbares begin te word.
Suid-Afrika het ook oor die afgelope dekades ’n geweldige bevolkingstoename ondervind, wat druk op verskeie samelewingsektore plaas. Die vraag is hoe Suid-Afrikaners ’n bydrae kan lewer om die welstand van ons mense volhoubaar te verbeter en die planeet te help beskerm?
Moontlike subtemas:
• Volhoubare menslike welvaart in Suid-Afrika tussen agt miljard voetspore in die wêreld.
• Die verband tussen bevolkingsgroei en volhoubare ontwikkeling.
• Vinnige bevolkingsgroei maak die uitwissing van armoede, die bekamping van honger en wanvoeding, en die verhoging van die dekking van gesondheid- en onderwysstelsels moeiliker.
• Goeie gesondheid, onderwys en geslagsgelykheid dra daartoe by dat die globale bevolkingsgroei verlangsaam.
• Komplekse skakels tussen bevolking, volhoubare ontwikkeling en klimaatsverandering.
• Die implikasies van Kunsmatige Intelligensie (KI) op die lewens van Suid-Afrikaners – positief en/of negatief.
• Tegniese vernuwing en die voortdurende uitdagings wat dit in ons lewenswêreld stel, byvoorbeeld genetiese manipulering.
• Die moontlike verband tussen KI en kubermisdaad.
• Hoe KI misdaadsindikate kan troef.
• Kan KI die algehele verval van infrastruktuur in die land stuit en ons op die pad na heropbou plaas?
• Wat is die stand van ons navorsing wat betref dreigende geopolitiese herstrukturering, natuurrampe, kunsmatige intelligensie, disinformasie, pandemies, swak landsbestuur, en so meer? Word daar genoeg navorsing gedoen?
Belangstellendes wat ’n referaat (maksimaal 20 minute) wil lewer, word hartlik uitgenooi om ’n voorlegging in te stuur wat aansluit by die oorkoepelende tema en verwante terreine.
Die voorlegging moet aan die volgende vereistes voldoen:
➢ ’n Opsomming van ongeveer 400 woorde.
➢ Volle name en van, titel, werk- en e-posadres en selfoonnommer.
➢ ’n Bondige CV (maksimum 200 woorde in prosastyl).
➢ ’n Hoëresolusiefoto van uself.
Referaatvoorstelle moet voor 6 Junie 2023 aan Linda Brink gestuur word by linda@akademie.co.za.
’n Keurkomitee sal finaal oor elke voorlegging besluit.
Terugvoer van die komitee oor of u referaat aanvaar is: 30 Junie.

