Oppikoppi Sweet/Thing is witwarm

  • 0

Die koue weer kruip onder almal se klere in en saam met die koue kom ook opgewondenheid, want die koue voorspel dat Oppikoppi om die draai is.

Vanjaar se Oppikoppi, getiteld Sweet/Thing, belowe om een van die grootste Oppikoppi’s nog te wees. Van 9 tot 11 Augustus gaan die Oppikoppi-gronde witwarm wees met musiek en die bewegende lywe van ywerige feesgangers.

Daar is twee groot veranderinge wat hierdie jaar die Oppikoppi-feesgronde betref. Eerstens gaan daar meer verhoë wees. Sewe om presies te wees. Sommige van die bestaandes word rondgeskuif of afgebreek om plek te maak vir die nuwes en as mens kyk na vanjaar se line-up is mens glad nie verbaas dat dit nodig is om twee nuwe verhoë te bou nie.

Tweedens is dit ook bekend gemaak dat dié musiekfees hierdie jaar nie net 18 000 mense gaan kan akkommodeer vir ’n naweek van goeie musiek en joligheid nie, maar 20 000. Kaartjies vir Oppikoppi het die afgelope twee jaar uitverkoop en dus is dit glad nie verbasend dat die aantal kaartjies vermeerder is met 2 000 nie. Ten spyte hiervan sal dit tog raadsaam wees vir diegene wat Oppikoppi Sweet/Thing wil bywoon, om so gou moontlik kaartjies te koop, want as mens kyk na die line-up kan mens seker wees dat die kaartjies beslis weer gaan uitverkoop.

Vanjaar se line-up is, om dit eenvoudig te stel, moerse. In die verlede het Oppikoppi gespog met twee internasionale optredes per jaar. Hierdie jaar het Hilltop Live en die Oppikoppi-organiseerders hulself oortref met vier groot internasionale optredes.

En dan is daar natuurlik ook die fantastiese plaaslike bands wat definitief nie te versmaaie is nie.

Bullet for My Valentine, die melodiese metal band uit Wallis, is die headliner by dié jaar se fees. Met ’n groot internasionale gevolg is hierdie groep seker een van die grootste crowd-pullers vir 2012 se Koppi. Met songs soos “Tears Don’t Fall”, “Four Words (To Choke Upon)” en “All These Things I Hate” gaan Bullet For My Valentine die Oppikoppi crowd aan die mosh hê. Die band se eerste album, The Poison,het in 2005 nommer 128 gehaal op die VSA se Billboard Top 200, en hulle het al by verskeie ander groot musiekfeeste opgetree, insluitend Download en die Vans Warped Tour.

Die band Eagles of Death Metal is begin deur Josh Homme (van Queens of the Stone Age-faam) en Jesse Hughes. Die groep is bekend vir hulle unieke klank, wat Homme só beskryf: “Bluegrass slide guitar mixed with stripper drum beats and Canned Heat vocals”. Hughes is ook bekend vir sy verhoogpersoonlikheid en sy lewendige interaksie met die gehoor by optredes. As hulle album Death By Sexy enigsins as maatstaf kan dien, is Eagles of Death Metal dié internasionale band om nie mis te loop nie by hierdie jaar se Koppi.

Enter Shikari se naam laat dit dalk klink asof hulle afkomstig is uit die Midde-Ooste, maar eintlik is hulle ’n Britse groep. Hulle is bekend vir hulle rock/metalcore klank met ’n goeie bietjie electro/dubstep daarby – beslis ’n interessante kombinasie wat sal sorg vir ’n intense live optrede. As jy nog nooit van hierdie band gehoor het nie, moet jou nie bekommer nie, want jy is nie alleen nie. Moet net nie laat die feit dat jy nie juis weet wie hulle is nie, jou weghou van hulle optrede nie. Jy gaan dit nie wil misloop nie.

Seether was vroeër jare bekend as die groep Saron Gas aan gehore in Suid-Afrika. Dit was voordat hulle hul goedjies gepak het en in Amerika groot sukses gaan behaal het. Vandag is die lede van Seether ook nie meer heeltemal dieselfde as toe die groep nog bekend gestaan het as Saron Gas nie. Dale Stewart en Shaun Morgan is die enigste twee van die oorspronklike lede wat nog oor is. Hoewel Seether in wese ’n Suid-Afrikaanse band is, spandeer hulle deesdae die meeste van hulle tyd in die VSA en dus val hulle ook onder die internasionale groepe wat Oppikoppi vanjaar gaan aandurf. Hieroor het baie Suid-Afrikaners gemengde gevoelens, maar of jy van Seether hou of nie, een ding is seker: hulle bly een van die beste rock bands wat tot op hede deur Suid-Afrika opgelewer is, en dit sal ’n skande wees om hulle hierdie jaar by Koppi mis te loop.

Die local bands (en ’n paar kleiner internasionale acts waarvoor mens op die uitkyk moet wees) wat dit meer as die moeite werd maak om Oppikoppi vanjaar by te woon, sluit in Shadowclub, Bittereinder, Fokofpolisiekar, Jack Parow, Haezer, Thieve, Jeremy Loops, PHFat, aKing, The Black Cat Bones, Albert Frost, KONGOS en Flash Republic.

Vir al die aankondigings en om uit te vind van watter bands ek dalk vergeet het, loer gerus na Oppikoppi op Facebook.

Nog goeie nuus is dat daar vanjaar ’n klein winkel in die kampterrein gaan wees vir die nodige goedjies wat jy dalk tuis vergeet het. Vir dié wat nie kans sien om tussen die plebs te bly in Mordor of District 9 nie (maw die kampeerterrein) is die Kreef Hotel ook weer daar. Warm storte is nie al wat jy in die Kreef kry nie. Daar is ook elke oggend ’n buffetontbyt, skoon toilette en 24 uur sekuriteit. Belangstellendes in die Kreef se 0.5-ster-akkommodasie kan die Oppikoppi Facebook page besoek en daar op die Kreef Hotel-tab klik vir meer inligting.

Kaartjies kan deur TicketBreak gekoop word teen R750 per persoon, of jy kan R50 spaar deur jou kaartjie deur die Oppikoppi Facebook page te koop. Aangesien Oppikoppi ’n welbekende jaarlikse pelgrimstog vir Suid-Afrikaanse musiekaanhangers is en die geld dus knap kan raak, is die goedkoopste manier om ’n kaartjie in die hande te kry deur Standard Bank, waar ’n kaartjie jou net R600 uit die sak sal jaag. Wees egter flink, want die kaartjies is reeds beskikbaar!

So kry jou wet wipes, tent en slaapsak gereed. Oppikoppi Sweet/Thing is die grootste alternatiewe musiekfees in Suid-Afrika, en met ’n line-up soos vanjaar s’n gaan jy dit nie wil mis nie. Ek sal die ou onder ’n lagie rooi stof reg voor die stage wees. Waar gaan jy wees?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top