Minder as water
Morné Malan
ISBN: 9781776359882
Uitgewer: Penguin
Die atmosfeer is nie geskik om te lees nie. Vroulief hoes so erg, haar liggaam trek krom. Ons een kat, Mila, is op hitte en skree my duskant mal. Ek het die ouer twee seuns met die dood gedreig om nie ’n woord verder te rep nie. David koeksister oor my, kyk na trekkers op my selfoon, en my gunstelingkat, Peper, lê my been dood. Niks wat ek nou lees gaan ek werklik geniet nie. Ek kan net sowel na kat-reels op Instagram kyk. Of na daai snaakse reels wat Vroulief altyd vir my DM.
Maar vier boeke skree om gelees te word – resensies wag.
Ek los die twee Engelse boeke vir my vlugte heen en weer na die Woordfees. Ek sien nie nóú kans vir “ware misdaad” nie! Joha van Dyk se Kanniedood of Morné Malan? Ek’t nog nooit in my lewe van laasgenoemde skrywer gehoor nie en voel of ek kan dood. Dit is ook nie of Malan se voorblad mens intrek nie. Die huis wat in die water wegsink, weerspieël eerder my gemoed as om my dag op te kikker.
Terwyl hy van sy eie spoke vlug en die Bitterwaters van die sondvloed probeer red, is dit sy onverwagse vriendskap met die dominee se vrou, Miriam, wat die krake in Cheslin se damwal blootlê. Want water is vergifnis, glo sy ...
Dit is dié sinopsis op die agterblad wat my besluit om die onbekende Malan aan te pak.
Omstandighede mag nie ’n resensent beïnvloed nie, maar enige leser weet dit speel tog ’n rol. Om die waarheid te sê, ek het destyds nie van Jaco Wolmarans se debuutspanningsroman, Bos, gehou nie, omdat ek deur ’n slegte persoonlike tyd gegaan het, hoogs depressief. Later het ek sy boek Ivoor so geniet dat ek sy vorige twee boeke gaan koop het. En hierdie keer het ek Bos so geniet ek kon nie glo ek’t hom eens op ’n tyd afgeskryf nie.
Ek moes hierdie agtergrond skets, want dit beïnvloed my gevoel oor Malan se boek.
Nou my resensie.
“Om ’n spanningslyn vir 400 bladsye snaarstyf om die leser se nek getrek te hou,” skryf die krimiskrywer Piet Steyn in Die Afrikaanse skryfgids, “werk nie.” Hy beveel aan dat ’n karakter geskep word om die spanning te breek.
In Tou maak Piet Steyn gebruik van die myner Kris Frieslich en sy gesin. Die internasionaal bekroonde misdaadskrywer Mike Nicol se Fish Pescado en Vicki Kahn-reeks bevat ’n stewige dosis humor, maar dit is veral die prettige bergie, Janet, op wie ek my hart verloor het. As mens Erla-Mari Diedericks se Die bewonderaar lees, raak jy dadelik morsdoodverlief op dr Ann.
Tog, almal bykarakters.
Malan se tragikomedie Minder as water volg die teendeel. Die denkbeeldige Noord-Kaapse dorpie Bitterwater moet ontruim word om plek te maak vir ’n groot dam, en dis konstabel Cheslin Fielies, verbonde aan die Viooldrif-grenspos, se werk om seker te maak dat die inwoners betyds verwyder word.
Die spanningslyn word opgedeel in ses dele, naamlik: ’n Jaar en een dag, Nege maande, Agt maande en twee weke, Sewe weke, Agt dae en Een uur en sewentien minute. Vir my het dominee Lodewyk se obsessie met Openbaring se Oordeelsdag en die naderende tyd van verwydering die spanningslyn nog verder styf getrek.
Die verhaal word grotendeels uit Cheslin se oogpunt vertel en hy’s skreeusnaaks. Sy sêgoed is outentiek. Cheslin laat my baie aan Deon Meyer se adjudantoffisier Vaughn Cupido dink, maar anders as laasgenoemde is hy vrek bang vir ’n vuurwapen.
Die ander karakters is almal ’n boek werd.
Bitterwater word bekendgestel met dominee Lodewyk – poedelnakend – wat die dorp op hol jaag nadat hy opgewen is deur die vuur van Openbaring. Die beeldspraak van Moses se tien gebooie tot Johannes die Doper in die woestyn is briljant ingeweef om die komiese toneel in te kleur.
Toe sy halfblinde vrou, Miriam, vir hom “Psalm van die hert” begin sing om hom te kalmeer, verdoof die storms rondom my. Dit voel of ek in die boek soos Petrus van ouds op water kan loop. Hierdie boek is die perfekte teenmiddel om die swarthond wat nader kruip, weg te jaag.
Alhoewel die boek my laat lag, dwing die skrywer my om saam met Cheslin my demone te konfronteer. Ons vlug maklik, vergewe swaar. Minder as water ondersoek die tema sonder om dit na ’n Sondagpreek te laat voel.
Mense wat PP Fourie se wraakroman, Ons skulde, geniet het, kan saam met Malan uit ’n ander hoek na vergifnis en vlug kyk. En sommer ’n bietjie lag.
En ek het gelieg: Morné Malan is nie onbekend nie. Hy het reeds drie boeke agter sy naam, naamlik Wildekus, Suiderkruis en Sonbesie.