Beste Mellet
Ons ken mekaar nie persoonlik nie. Ek het in 2023 met jou en ander paneellede van die Langenhoven-gedenklesing ’n onderhoud vir LitNet gevoer, en ek was ongelooflik beïndruk met hoeveel jy al in jou lewe vermag het. Ek hoop die onderhoud wat geplaas is, het dit ook weerspieël.
Ek het ook al by geleentheid met jou verskil, soos toe ek deel van ’n groep skrywers was wat ’n skrywe onderteken het om ons mening oor wie resensies mag skryf, te stel. Elke interaksie wat ek nog met jou gehad het, was hoflik. Ek hoop dat jy hierdie skrywe ook in daardie lig sal sien.
Heel eerste wil ek dit duidelik maak dat ek nie hierdie brief skryf vir Mellet die ingenieur of Mellet die dekaan of Mellet die digter of Mellet die doktorale student nie. Ek skryf dit vir Mellet die mens.
Ek het die hele petalje op Facebook van ’n afstand dopgehou. Die tipe moddergevegte wat daar baklei is, bly ek eerder van weg. Maar nou is die gevegte weg van sosiale media en dis in die koerante, in die polisiekantore en dalk binnekort in die howe. Hoe ironies dat die stoeiers eintlik almal optree uit liefde vir Afrikaans – ironies, want Afrikaanse letterkunde byt in die stof terwyl julle baklei.
Crito is bygesleep, beïnvloeders is in die hare gevlieg, mense is oor en weer beledig terwyl daar aanhitsers van die kantlyn vure stook. Vir wat? Ek kyk na die losgemaal en ek wonder waaroor dit eintlik gaan. Dit kan mos nie net wees oor wie resensies skryf, of wie resensente beoordeel nie? Of kan dit?
Dus wil ek ’n paar gedagtes met jou deel.
As jy jou uitgee vir toffie, gaan mense aan jou kou.
Enige persoon wat ’n opinie in die openbaar uitspreek, kan verwag dat mense gaan reageer daarop, en nie almal gaan met jou saamstem nie. As jy dus die besluit neem om jou opinie te gee, moet jy ’n dikker vel kry. Natuurlik wil ons elkeen hê mense moet met ons saamstem, maar die realiteit is dat mense hul eie opinies het. En dis goed so. Partykeer raak hulle lelik in die manier hoedat hulle met jou verskil, maar jy het altyd die keuse om nie op hulle vlak te reageer nie. Iemand het onlangs ’n sêding uit sy familie gedeel: “Opinies is soos holle. Elke ou het een. Dis niks spesiaal nie en en jy stap elke dag verby dosyne sonder dat jy dit besef.”
Glo my, ek praat uit ondervinding wanneer ek sê jy wen nooit gevegte op sosiale media nie en jy gaan teleurgestel word as jy bedagsame interaksie verwag.
En ja, ’n resensie is ook ’n opinie, selfs dié wat ondersteun word binne ’n akademiese raamwerk. Twee persone gaan dieselfde teks lees en beoordeel en kan tot verskillende gevolgtrekkings kom oor die gehalte en impak van die werk. Dit beteken nie een opinie is meer of minder geldig as ’n ander een nie. Dis ook waar oor ander aspekte van die lewe. Die kuns is om te aanvaar dat wanneer jou mening die wêreld ingestuur word, dit ’n lewe van sy eie kry. Laat dit gaan. Om in die kommentaarseksie te baklei met mense, doen jou waardigheid oneer aan.
Rabindranath Tagore het gesê: “A mind all logic is like a knife all blade. It makes the hand bleed that uses it.” Om nou maar ’n voorbeeld te noem: Rapport berig dat jy by LitNet aangedring het dat Crito se oordeel oor ’n resensie van jou waar hy/sy ’n punt van 2/10 toeken, verwyder moet word. Ek aanvaar ’n punt van 2/10 moet seker ’n bitter pil wees vir iemand wat op hul intellektuele vermoëns staatmaak.
Terloops, ek dink LitNet se redakteur was korrek om te weier, en Crito het ’n fout gemaak om dit tóg daarna te laat verwyder. Niemand is verhewe bo kritiek nie, en om aan te dring dat materiaal verwyder word, kom neer op inbreukmaking op die vryheid van spraak en denke van ’n ander.
As dit toegelaat word, beteken dit dan dat skrywers in die vervolg negatiewe resensies kan laat verwyder? Dit maak tog nie sin nie. As jy bereid is om kritiek te lewer op iemand anders se werk, moet jy bereid wees om toe te laat dat jou werk gekritiseer word.
En wat het dit jou in die sak gebring? Hoeveel mense dink jy lees Crito se rubriek op LitNet? Aansienlik minder as wat dit nou in Rapport gelees het, kan ek waarborg. Die emosioneel intelligente reaksie sou wees om die verslag net te los en dit sou binne dae weer vergete wees. Nou is dit aan die groot klok gehang, en dit gaan nie weg nie. Ek is bereid om groot geld te verwed dat indien die kriminele en/of siviele sake wat jy aanhangig gemaak het, ooit voor die hof kom, die ander party se prokureur sal hamer op daai 2/10 om jou van balans te bring. Dan word dit in ’n hofrekord ingelees en word daar weer daaroor berig.
My advies, waarvoor jy natuurlik nie gevra het nie? Trek die sake terug, ignoreer die gespot wat dalk vir ’n dag of twee gaan volg, en gaan aan met jou lewe. Binne dae is die hele debakel iets van die verlede. Hou aan baklei en jy gee die hele saak suurstof en hou die vlamme aan die brand. Dis nou wat Julius Malema sou noem ’n own goal score.
Akademiese afstand
Jy is ’n gesoute akademikus, dus behoort jy hiermee vertroud te wees. As jy wil hê jou akademiese insette moet met respek hanteer word, kan jy nie in die modder rondbaklei nie. Jy kan nie litigeer wanneer jy in jou eer gekrenk voel nie. Ek was al bevoorreg om gedagtes te ruil met akademiese reuse binne die letterkunde, en ek kan jou waarborg dat nie een van hulle hulleself sou blootstel soos wat jy hier gedoen het nie. Omdat hulle afstand behou, en nie hulle persoonlike wasgoed op sosiale media was nie, kan hulle aandring op respek en gesag binne hulle gebied. Ek is bevrees jy is besig om dit te verloor, en dis ’n jammerte, want ek glo jy het heelwat om die letterkunde te bied.
Wat jy uitstuur kom terug na jou toe.
Meryl Streep het in 2016 in ’n toespraak gesê: “Disrespect invites disrespect.” Dis een ding om ’n kontroversiële mening te gee, dis iets anders om op te tree op ’n wyse wat gebrek aan respek teenoor ander toon. Om te verwys na mense as “gepeupel” ens, maak die deur oop vir mense om ook met gebrek aan respek teenoor jou op te tree. Jy kan nie op een manier optree, maar steeds verwag dat mense jou moet respekteer nie. Dit werk eenvoudig net nie so nie.
Ek wil afsluit deur die hoop uit te spreek dat jy ten minste sal nadink oor hierdie skrywe. Ek hoop verder dat jy jou sal afvra hoe letterkunde in al sy vorme deur die huidige vetes en moddergevegte gedien word.

