Op twee wiele oor die Himalaja

  • 1

’n Goeie omvattende en verduidelikende definisie van avontuur beskryf dit as ’n blootstellende gebeurtenis met ’n onseker gevolg of uitkoms. Nou ja, hier is ’n avontuur vir dié van julle wat kans sien, en dit bestaan uit drie dele: jy, ’n Royal Enfield Bullet-motorfiets en die Himalajagebergtes in Indië.

Vir so kort as vier maande van die jaar in die Indiese somer (rondom Junie–September) smelt van die sneeu en ys en die hoogste bergpasse in die wêreld raak rybaar vir groothartige avonturiers. Baie min mense kry ooit die geleentheid om so hoog bo seespieël op ’n motorfiets te ry waar daar so min suurstof is dat jy heel moontlik moet masker vat. En die Bullets bullet nou nie teen ongekende spoed nie. Eerste rat, tweede rat, terug eerste toe, bietjie tweede, want hulle snak ook maar na suurstof. Afdraand, wel ... dit kan ’n ander saak wees. Verder, as mens praat van “rybare paaie”, moet jy nou nie ’n nasionale deurpad verwag nie. Die hoogste rybare paaie in die wêreld is iets anders. Daar is stukke teer, ja, maar meestal is hulle nie droog nie. Bedek met so ’n slierterige nattigheid wat soms bedien word met ys, ja. Selfs al is dit somer. Heel hoog ry jy deur oopgekapte sneeupoorte. Dan kwyn die uitgekalfde teerpad skielik en jy ry in so ’n growwe klipbestrooide grondpad vol slaggate. Wat net so skielik oorgaan in ’n glibberige modderbaan. Daar is stukke op die passe wat letterlik net uitgekapte graniet is. Met honderde meter loodreg op aan die een kant en honderde meter loodreg af aan die ander kant. Met sulke skerp esse ... en skielik onverwagse groot lorries van voor af. Kies dan maar liewer die kant waar die krans loodreg opgaan. Aan die onderpunte van die passe wag gereeld ’n rivier vir jou. Sonder ’n brug. Daai Bullet moet dan maar deurskiet. En naby enige nedersetting deel jy die pad met troppe beeste, bokke, ape. En taxi’s en toeters. Dis Indië. Maar dis lekker. Avontuur is ’n blootstellende gebeurtenis met ’n onseker gevolg of uitkoms. Mos ...

Hierdie reis begin by Manali aan die voet van die Himalaja en die mikpunt is Leh in Ladakh, een van die mees verlate plekke op aarde. Die roete loop oor buitensporig hoë passe met die toppunt die Khardung-la-pas wat uittroon op 5 602 meter, ’n goeie 222 meter hoër as Everest se basiskamp. En wees verseker: 200+ meter op daardie hoogtes maak ’n mens nóg dorser vir suurstof.

Alles is weliswaar nie net vasbytavontuur nie. Daar is ongelooflike plekke om te sien. Kulture om te ervaar. ’n Deel van die roete is byvoorbeeld deel van die legendariese Silk Road waarlangs handelaars van Afrika, Arabië, Europa, Persië, Indië en China van voor Christus af handel gedryf het in sy en ander handelsware. Die reis doen ook ’n 1 000 jaar oue Boeddhisteklooster aan en op plekke gaan jy nomadestamme teëkom; menssku swerwers. Ander kere weer gaan dit voel of jy alleen op die aarde is. Jy en jou mede-Bullets ...

Hoekom juis Royal Enfields?
Die eerste Royal Enfield is in 1901 gebou deur die Enfield Cycle Company Ltd van Redditch, Worcestershire in Engeland. Hulle was verantwoordelik vir die ontwerp van die Royal Enfield Bullet, die mees langlewende motorfietsontwerp van alle tye. Die Enfield-maatskappy was ook betrokke by die maak van gewere, wat dalk die Bullet-naam en slagspreuk verklaar: “Made like a gun”.

Na die Tweede Wêreldoorlog was Indië baie bewus van die Bullet, omdat die Britse weermag dit daar gebruik het. So ook Britse koloniste. Daarom het die Enfield-maatskappy in 1949 Bullets aan die Indiërs begin verkoop. Ses jaar later het die Indiese regering 800 Bullets by die Britte bestel vir hul eie weer- en polisiemag. Dieselfde jaar (1955) het Enfield en Madras Motors bymekaargekom en Enfield India gestig. In 1967 het Enfield in Engeland hul hele motorfietsbelang aan Norton Villiers verkoop, maar Enfield India het onafhanklik gebly en steeds gegroei. Hulle het die handelsreg vir die naam Royal Enfield en Bullet gekry. Vandag nog maak hulle hierdie kultusfiets (omtrent nog net soos die eerste een wat daar aangekom het) waarmee pioniers die land deurkruis het. Oor berge en in dale.

En hier is jou kans om die Himalaja met Indië se klassieke Bullet aan te vat.

George Mallory was een van die heel eerste mense wat gepoog het om Berg Everest in die Himalajas te oorwin. In 1923 het ’n joernalis van die New York Times hom gevra hoekom hy dit wil doen. “Because it’s there ...” Die Himalaja se passe is daar. Die Royal Enfields is daar. Ry jy saam?

Wie, wat en wanneer
Dié avontuur gebeur 17–28 Augustus 2018 en daar is plek vir net 10 ryers. Dit word aangebied deur Streetschool in samewerking met Manali Adventure Tours, plaaslike gidse wat uiters ervare is, die plek goed ken en perfek toegerus is vir die omgewing.

Die toer sluit alles in: vlugte uit Johannesburg, akkommodasie, etes, ingangsgelde, meganiese ondersteuning met ’n rugsteunvoertuig, jou eie 350 Bullet en brandstof vir die 10 dae, asook reis- en mediese versekering. Dan is R56 000 baie billik.

Vir volledige besonderhede: www.streetschool.co.za of kontak Klasie Wessels: 082 5544 614 of klasie@streetschool.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top