Op die spoor van die "profeet" TB Joshua

  • 4

Die afgelope week vra Dirk Rigter ’n baie geldige vraag op LitNet se SêNet-brieweblad: “Hoekom hoor ek niks, nie ’n enkele woord vanuit kerklike/Christelike geledere oor die reuse tragedie wat so twee weke gelede by TB Joshua, die groot ‘profeet’ se kerk afgespeel het nie? Slegs dawerende stilte daaroor dat honderde mense in kinderlike geloof gaan om geestelik versterk te word, en wat gebeur? Byna negentig dood en talle beseer.”

Die onlangse inploffing van die gastehuis van profeet TB Joshua se The Synagogue, Church of All Nations (SCOAN) het opnuut die aandag op dié Nigeriese “profeet” gevestig.

Rigter se vraag verdien aandag. Dit het my laat terugloop op die “profeet” se spoor ’n dekade of wat gelede toe Afrikaanse mense ook in groot getalle Lagos toe gestroom het om deur die “profeet” gesond gebid te word.

Terwyl sowat 80 Suid-Afrikaners, wat in dié treurspel omgekom het, se families in diepe rou en ellende gedompel is, staan die profeet eenvoudig terug en die kerke swyg.

Dié gebeure het die klem kom plaas op die manier waarop uitbuiting in die naam van godsdiens gepleeg word.

Wanneer mens deur die koerante van 2001 en daarna blaai, tref dit mens soos ’n voorhamer teen die kop hoe godsdiens dikwels misbruik word.

Kort na die draai van die eeu het Suid-Afrikaners in al hoe groter wordende getalle Lagos toe gestroom om daar deur die “profeet” gesond gebid te word. Na hulle terugkeer is daar geesdriftig getuig van die wonderlike genesing wat hulle daar ervaar het.

Mense het letterlik tougestaan om saam met Jannie Pelser en ander Lagos toe te gaan. Diegene wat nie die opgewondenheid oor die profeet gedeel het nie, is nogal skepties aangekyk.

Tot soveel as 30 000 mense het die tweeweeklikse diens in Joshua se SCOAN van die oggend vroeg tot die aand bygewoon.

“As die erediens só lank duur, kan dit net die Heilige Gees se werking wees,” het Jannie Pelser destyds aan Beeld gesê. Hy het gesê almal behoort te hoor van die wonderlike dinge wat plaasgevind het.

Op 16 Mei 2001 skryf Isak Burger van die Apostoliese Geloofsending in Beeld dat talle, en soms direk teenstrydige, standpunte oor TB Joshua die afgelope tyd uit kerklike geledere opgeklink het. Burger het aan die koerant gesê die skares het, net soos in die Nuwe Testament, daar saamgetrek omdat daar 'n “onweerlegbare openbaring van die bonatuurlike plaasgevind het”.

Dit lyk egter of die profeet nou sy hand oorspeel het. Die onweerlegbare openbaring van die bonatuurlike waarvan Isak Burger gepraat het, lyk al hoe meer na nóg ’n godsdiensfoefie waar weerlose mense skaamteloos uitgebuit word.

Die onlangse tragedie was nie die eerste waar mense wat na die profeet wou gaan luister, omgekom het nie.

Vier mense is ’n ruk gelede tydens ’n stormloop dood en meer as 30 beseer toe duisende mense na een van sy dienste in Ghana opgeruk het om van sy heilige water, wat normaalweg teen ‘n fooi verkoop word, gratis te ontvang.

Die Synagogue, Church of All Nations in Accra, wat sowat 15 000 mense kan huisves, kon nie die skare van 45 000 hanteer wat daarheen gestroom het om van die gratis heilige water in die hande te probeer kry nie.

Joshua, wat regoor Afrika bekendheid verwerf het as ’n charismatiese prediker en selfs presidente onder sy vriende tel, het self die gratis heilige water geadverteer.

Kritici beskuldig hom reeds geruime tyd toenemend van uitbuitery met sy sogenaamde heilige water en bufferplakkers wat volgens die verpakking daarvan help om mense se siele te red.

Onder die talle Suid-Afrikaners wat destyds Lagos toe is om deur die profeet gesond gebid te word was die gewese Springbok-flank, Ruben Kruger, en Wium Basson, wie se geloofsgenesing albei ’n tragiese einde gehad het. Kruger het ’n breingewas ontwikkel en na sy besoek aan Lagos was hy blykbaar "volkome" genees. Daarna het hy gereeld by kerke in Suid-Afrika oor sy genesing gaan praat. Op 23 Februarie 2005 sê Kruger aan Beeld: “Ek is volkome genees.”

Die storie van Ruben Kruger en ander se geloofsgenesing is ’n tragiese verhaal oor baie jare.

Op 15 Desember 2000 berig Neels Jackson soos volg onder die opskrif “Kruger en 3 ander getuig oor Radiokansel oor genesing”: “Ruben Kruger en drie ander Suid-Afrikaners het in Lagos in onderhoude met Radiokansel getuig hulle is oortuig daarvan dat hulle volkome genees gaan word, het 'n woordvoerder van dié stasie gesê.”

Jannie Pelser, wat destyds saam met die groep in Lagos was, het in ’n radio-onderhoud gesê Kruger is op bonatuurlike wyse aangeraak. Die Springboklosskakel Jaco van der Westhuyzen het gesê hy is terug Nigerië toe om te gaan getuig dat hy volkome genees is en om dankie te sê.

Op 22 April 2001 sterf Wium Basson – minder as twee weke ná sy terugkeer uit Lagos (waarheen hy is in die geloof dat God hom deur die profeet TB Joshua van sy siekte sal genees).

Wium se ma vertel later dat hulle besoek aan Lagos loutere hel was. Die wonderwerke in Lagos was oorweldigend en aanvanklik het sy dit self as 'n openbaring beskou, maar later het haar oë oopgegaan vir “vals profete”.

Op 23 Februarie 2005 berig Beeld soos volg oor Ruben Kruger se wondergenesing:
"Dit gaan regtig goed met my. Ek is volkome genees. Ek en Lize, my vrou, weet Zoë, ons lewendige tweejarige dogtertjie, en die nuwe babadogter wat eersdaags haar opwagting sal maak, is wonderwerke," het hy gesê.

Minder as drie jaar later, op 5 November 2007, berig Beeld onder die opskrif “Ruben in ’n nuwe stryd”: “Ruben Kruger, gewese Springbok-flank, het gister ’n noodoperasie van byna sewe uur ondergaan vir ’n ‘massiewe gewas’ op die brein.”

Sonder die operasie sou Kruger verlam gewees het.

“Ek is volkome genees,” het Kruger vroeër in ’n onderhoud gesê.

Maar nie te lank daarna nie kry hy weer erge hoofpyn en sy dokter bevestig sy ergste vermoede na ’n skandering: hy is nie genees nie.

“Dit is presies dieselfde gewas waarmee hy in 2000 gediagnoseer is. Die gewas se ‘gedrag’ het verander, dit is baie groter en meer aggressief. Dit het geweldig baie druk op die brein geplaas.”

Op 7 Januarie 2009 berig Die Burger: “Nog ’n gewas uit Ruben Kruger se brein gehaal.” ’n Kwaadaardige gewas is tydens dié operasie van vyf uur uit Kruger se brein verwyder. Dit was die tweede keer in sowat twee jaar dat so ’n gewas uit sy brein verwyder is.

“As iemand verlede week dié tyd vir my gesê het wat in die volgende week gaan gebeur, sou ek gedink het hulle maak ’n grap,” het Lize Kruger, sy vrou, na die operasie aan die koerant gesê.

Die dokter het gesê: “Ruben is eintlik baie gelukkig, want ons het nadat die eerste gewas uitgesny is, verwag dit sou herhaal.

“Daar is altyd ’n kans dat ’n derde gewas sal ontwikkel, maar ons is vol hoop dat die gevaar vir eers verby is.”

Lize Kruger het gesê sy glo dit is absoluut die genade van Bo wat hom gered het en “ons is baie dankbaar vir die oorweldigende ondersteuning van ons vriende en familie”.

Op 3 Februarie 2010 word Kruger begrawe.

’n Mens kan maar net wonder hoeveel mense nog moet omkom voordat “profete” soos Joshua, wat skatryk word uit ander se ellende, se eie kastele in duie stort. En hoop en bid hoofstroomkerke sal hulle profetiese stem ’n slag laat hoor en hulle lidmate teen hierdie wanpraktyke waarsku.

 

  • 4

Kommentaar

  • Jacques Pauw skryf in meer detail oor die troppie se besoek aan Nigerië in sy boek Dances with Devils (hoogs aan te beveel).

  • Ai toggie, ek kan maar net my kop in ongeloof (verskoon die pun) skud vir diegene wat enigsins glo dat genesing deur die gebede va poe...le soos Joshua kan geskied. Ek het in die vroeë 2000's vir 3 jaar aan en af in Nigerië gewerk en het meer as een keer gestaan en kyk hoe rye der rye Suid-Afriikaners soos skape uit die Lagos-lughawe uitgelei word na 'n veilige plek waar hulle stelselmatig van hul besittings beroof kan word. Ek het eintlik skaam gekry vir my landgenote want as ek rondom my kyk, het die plaaslike omstanders tussen hulle smalende uitlatings oor die petaljes gemaak. Selfs ou Ruben en 'n ou wat saam met my op 'n kontrak in Vredenburg gewerk het was in een van daai rye. Albei nou al ses voet onder. Ook iemand van my vrou se (destydse) kerk wat soontoe gegaan het sodat daar vir haar skeel-oog gebid kan word. Verbeel jou (reggeraai een oog kyk nog steeds hel toe en die ander hotel toe). Nietemin daar was 'n internasionale ondersoek daai tyd en die volgende feit is bekend gemaak: Uit die 10 rykste individue in Nigerie, is sewe van hulle eienaars van een of ander kerkgenootskap. Need I say more? 

  • Jean,   

     
    In verband met hierdie dawerende stilte uit kerkgeledere/Christengeledere 'n verdere opmerking of twee:  
     
    Die sg hoofstroomkerke, so lyk dit vir my, is te bang om iets te sê, want kritiek op die "wondergenesings" stel hulle bloot om nóg lidmate te verloor. Die konflik oor hoekom wondergenesings in bybelse tye plaasgevind het, terwyl dit  vandag nie meer gebeur nie, is juis een van die dilemmas waarmee die kerk te doen het, nl die letterlike interpretasie van die bybel en die verhale wat daarin voorkom. Die moderne wetenskap het die geloof as te ware ingehaal. En hoe dan nou? Dis hoekom gesprekke soos dié op Stellenbosch waaroor jy onlangs hier geskryf, so belangrik is.   
     
    Die charismatiese kerke, daarenteen, steur hulle in elk geval nie aan die wetenskap nie. Hulle is maar te bly om die weglopers uit die hoofstroom te ontvang. Dus kan hulle ook nie krities staan teenoor TB Joshua se geldmakery nie. Geldmaak is deel van hulle DNS. Kyk hoe lyk hul ouditoreums en in watter rykdom en weelde leef hul “geestelike leiers”   
     
    So 'n week gelede praat Freek Robinson op kykNET met Sakkie Spangenberg en Isak Burger oor die tragedie wat by Joshua se kerk gebeur het. Tot my stomme verbasing sê Isak Burger, sonder blik of bloos dat hy in besit is van talle gedokumenteerde gevalle van "wondergenesings" wat gebeur het. So pas het byna negentig mense hul lewe verloor agv godsdienstige naïewiteit, maar Burger hou vol met sy storie!  

    Ten slotte. Is dit nie interessant nie hoe van die kommentators op die Sê Net brieweblad vir jou en almal wat vraend en ondersoekend na die bybel kyk en hoe dit geïnterpreteer moet word in moderne (wetenskaplike) tye, behoorlik verketter en verkondig dat húlle waarheid die enigste waarheid is nie. Maar oor TB Joshua sê hulle niks nie, hulle swyg, want hulle weet nie wat om te sê nie. Om iets te sê gaan noodwendig hul eie “waarheid” onder verdenking bring. En wat dan? 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top