Op die spoor van Barend van Niekerk

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

’n Onlangse toevoeging tot sy handtekeningversameling het tot ’n interessante ontdekking gelei, vertel Gustaf Pienaar.


Wyle DF Malan was al erg bejaard toe hy op 16 April 1956 in sy eie handskrif op ’n brief van ’n Oos-Londense skoolseun geantwoord het. Die brief, gerig aan ene Barend van Niekerk van die Hoërskool Grens, is in reaksie op ’n versoek dat Malan ’n eksemplaar van die Britse joernalis Eric Robins se boek This man Malan vir hom sal teken. Hy is nie besonder gretig om aan die versoek te voldoen nie, skryf die oudpremier, want (so het hy uit perskommentaar verneem) die boek is eintlik maar “sensasioneel en propagandisties van aard”. Hy stuur dus die boek terug, en bedank die jongeling vir die “vriendelike gedagtes” in sy brief. Gelukkig het die boek – nogal mét Van Niekerk se naam voorin – saam met die brief vir my versameling behoue gebly.

Malan se taksering van die boek is eufemisties: dit is in werklikheid erg krities oor die Malan-regering se apartheidspolitiek waaraan indertyd met toenemende ywer wetlike gestalte gegee is.

As regspraktisyn het die naam Barend van Niekerk dadelik vir my bekend geklink. Daar was mos ’n rebelse regsprofessor met dié naam wat in die 1970’s tereggestaan het op aanklagte van minagting van die hof, het ek onthou. Is dit moontlik dat dit hý was wat in sy jeugjare so vriendelik vir Malan geskryf het?

Die Hoërskool Grens in Oos-Londen sou ’n goeie beginpunt wees, het ek besluit. Ja, kom die antwoord spoedig terug; volgens ’n skooljaarboek van 1955 wás daar ’n Barend van Niekerk daar op skool. Trouens, in daardie jaar was hy een van die skool se topredenaars wat ’n prys gewen het in die Rotariërs se plaaslike redenaarskompetisie. Die skool stuur vir my ’n afdruk van ’n bladsy uit die betrokke jaarboek. En daar, op ’n erg formele foto van die Debatsvereniging, kyk die bestuur vir die kamera. Barend van Niekerk, met sy krulhare, staan links agter; hy was toe in graad 11 (destyds standerd 9).

Vervolgens wend ek my na die Alumnivereniging van die Universiteit Stellenbosch, want ek het iewers gelees dat Van Niekerk na skool daar in die regte gaan studeer het. Van hulle kry ek ’n bevestiging van my vermoede: die Barend van Niekerk wat vir DF Malan geskryf het en die latere regsgeleerde is een en dieselfde persoon. Wat meer is, vertel die Stellenbossers, sy lewensloop word beskryf in vol 5 van die gerekende RGN-publikasie Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Nadat Van Niekerk dáárvolgens in 1959 – Malan se sterfjaar – ’n BA-graad verwerf het, is hy Duitsland toe vir nagraadse studie. Daarna het hy in 1962 die LLB-graad aan Maties verwerf, alvorens ’n doktorsgraad in 1965 deur die Universiteit van Straatsburg aan hom toegeken is op grond van ’n proefskrif (met ’n onherhaalbare Franse titel) wat in sy vereenvoudigde vorm neerkom op ’n studie van “Anglo-Amerikaanse ambivalensie in die geskiedenis van Pan-Afrikanisme”. Erg esoteries, as jy my sou vra ...

Terug in Suid-Afrika het Van Niekerk agtereenvolgens in die regte gedoseer aan die Universiteite van Zoeloeland, die Witwatersrand en, oplaas, Natal. Hy was ’n vurige en inspirerende dosent, spreker en skrywer wat hom dikwels in skerp taal oor ’n verskeidenheid onderwerpe uitgelaat het. Die NP-regering van BJ Vorster moes dit gereeld ontgeld: Van Niekerk was veral besorg oor die destydse veiligheidswetgewing en die lot van oortreders en verdagtes, maar het hom ook bemoei met dinge soos lugbesoedeling en die onderdrukking van die vryheid van spraak. In skrille kontras daarmee het hy hom met net soveel geesdrif suksesvol beywer vir die behoud van die historiese Durbanse stasiegebou. Dit het daartoe gelei dat Jock Leyden, die bekende Natalse spotprentkunstenaar, Van Niekerk met ’n treffende karikatuurskets – krulhare en al – vereer het.

Van Niekerk se stroomop ingesteldheid het hom onder sy vriende die titel “rebel with a cause” verwerf, maar dit het hom ook minstens drie keer in die hof laat beland – vyf keer as ’n mens sy appèlsake bytel.

Daar was deur die loop van 1971 in Pietermaritzburg ’n opsienbare verhoor van ’n aantal aktiviste wat onder die berugte Wet op Terrorisme vervolg is. Van Niekerk het op 9 November 1971 ’n massavergadering in die Durbanse stadsaal toegespreek waartydens hy woes teen die onmenslikheid van die betrokke wet en die wyse waarop verdagtes in eensame aanhouding opgesluit is, te velde getrek het. Hy het nie in soveel woorde na die Pietermaritzburg-verhoor verwys nie, maar ’n regstreekse beroep op regters in die algemeen gedoen om alle getuienis wat deur aangehoudenes ingevolge die Terrorismewet gelewer word, net eenvoudig te ignoreer – ongeag die meriete daarvan. Daar kan min twyfel wees dat Van Niekerk te ver gegaan het: hy is weens minagting van die hof en dwarsboming van die gereg aangekla, skuldig bevind en betreklik lig gevonnis. In ’n oortuigende uitspraak deur appèlregter Wessels is sy daaropvolgende appèl van die hand gewys.

Van Niekerk was gedurende die laaste derde van sy kort lewe ’n verbete teenstander van die doodstraf. In die November 1969-uitgawe van die South African Law Journal het hy ’n artikel onder die opskrif “Hanged by the neck until you are dead gepubliseer”. Die aanloop was ’n stel vrae oor die toepassing van die doodstraf wat hy aan 443 advokate en regters gestel het. Uit die slegs 158 antwoorde wat hy ontvang het, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die meerderheid van mening was dat die doodstraf in Suid-Afrika met verskillende maatstawwe op blankes en nieblankes toegepas word én dat daardie onderskeid bewustelik en opsetlik was. Dit was ’n besonder kras opmerking teenoor die regbank en Van Niekerk is weens minagting van die hof aangekla.

In sy uitspraak van 10 Junie 1970 – dis ook al 35 jaar gelede – beklemtoon regter Claassen dat ons howe nie bo kritiek verhewe is nie. Kritiek mag egter nie onbehoorlike motiewe aan regsprekende amptenare toedig nie; dít sou gesonde regspleging skaad. Die regter het ná 'n versigtige oorweging van die getuienis beslis dat die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat Van Niekerk in sy artikel die nodige opset gehad het om ons regters te minag of die regspleging in die algemeen onder verdenking te plaas nie. Hy was gelukkig: grotendeels danksy ’n tydige apologie het regter Claassen hom oplaas onskuldig bevind, maar – het die regter in sy uitspraak bygevoeg – Van Niekerk was in die lewering van sy getuienis “spraaksamig, geneig het om hoogdrawend te wees en ietwat dwaas”.

Dwaas of te nie: die doodstraf het hom só gewalg dat hy volgens ’n berig in die Sunday Times van 15 April 1973 – mét opgawe van redes – verklaar het: “The execution of Makinatha must fill all South Africans with shame.” Die agtergrond was dat ’n blanke, Kenneth George Wilson, en ’n veel jonger swart man, Zacharia Makinatha, skuldig bevind is aan die moord op ene George Maricanos. Albei is ter dood veroordeel. Wilson se appèl het misluk; Makinatha het nie die fondse gehad om te appelleer nie. Daarna is vertoë tot die uitvoerende raad – die hoogste uitvoerende liggaam onder die Grondwet van 1961 – namens albei terdoodveroordeeldes gerig. Die blanke is begenadig, maar Makinatha is gedurende die week van 9 April 1973 tereggestel. Die destydse minister van justisie, PC Pelser, het ’n lasteraksie teen die uitgewers van die koerant (SAAN) en Van Niekerk ingestel. Albei het eksepsie (beswaar) teen Pelser se besonderhede van vordering ingestel en aangevoer dat ’n lid van die uitvoerende raad nie belaster kán word nie. Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het die eksepsie verwerp. Toe Van Niekerk en SAAN se daaropvolgende appèl in 1975 in Bloemfontein ook verwerp is, was Pelser – ironies genoeg – reeds oorlede. Of sy boedel ooit daarna met die eis voortgegaan het, weet ek nie.

Barend (sy pa se naam) Van Dyk (sy ma se van) Van Niekerk is skielik (en eensaam) op 21 Junie 1981 op die jeugdige ouderdom van 42 in ’n Boliviaanse vakansiedorp, Copacabana, oorlede. Dit het die owerheid ’n paar dae geneem om hom te identifiseer en sy vrou en twee dogtertjies, tuis in Suid-Afrika, van sy dood te verwittig. Sy passievolle veldtog teen menseregteskendings en, veral, die doodstraf het in vervulling gegaan met die tussentydse Suid-Afrikaanse Grondwet van 1994 en die konstitusionele hof se uitspraak in S v Makwanyane op 6 Junie 1995, waardeur die doodstraf as onbestaanbaar met die handves van menseregte – en dus ongrondwetlik – verklaar is.

Ek dra nie kennis dat ’n straatnaam iewers na Barend Van Niekerk vernoem is nie, maar is die tyd dáárvoor nie ryp nie?

Bibliografie
Kahn, E: Law, Life & Laughter – legal anecdotes and portraits (Johannesburg: Juta & Kie, 1991)
Robins, E: This man Malan (Den Haag: A Sijthoff, 1952)
Spiller, PR: Van Niekerk, Barend Van Dyk, Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Vol 5 (Pretoria: RGN, 1987)
S v Van Niekerk 1970(3) SA 655 (T)
S v Van Niekerk 1972(3) SA 711 (AD)
SAAN and Another v Estate Pelser 1975(4) SA 797 (AD)
S v Makwanyane and Another (1995) ZACC 3

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top