Op die Rand van die afgrond

  • 2

Dit is net menslik en ongedwonge dat ’n mens van tyd tot tyd moed en hoop verloor omdat een of meer dinge in die lewe gebeur waaroor jy glad nie beheer het nie.

Die lewering van die mediumtermynbegrotingsrede deur die minister van finansies Malusi Gigaba in Oktober het ekonomiese en finansiële skokgolwe deur die land gestuur en in dié proses was ek as ’n gewoonlik hoopvolle mens nie gespaar nie.

Ek as ’n student van die ekonomie was nogal geskok omdat ek nie volkome besef het dat die ekonomiese trajek waarop ons is ons moontlik oor die afgrond kan druk nie.

Volpunte aan Gigaba omdat hy die land in sy vertroue geneem het deur die volle ekonomiese prentjie te skilder. Nou wag ons net op aksie deur ’n werkbare plan te ontwikkel en te implementeer sodat ons weer in veilige ekonomiese waters kan vaar.

Ja, ek wat onwrikbaar glo in die nuwe Suid-Afrika en al sy mense kan soms ook ’n bietjie mismoedig word. Mismoedig omdat ek werklik bekommerd is oor die huidige ekonomiese toestand van ons land en oor wat die toekoms vir ons inhou.

Die mediumtermynbegrotingsrede word gelewer as ’n ekonomiese bestekopname om die kollektiewe rykdom van die nasie uiteen te sit. Wat duidelik is, is dat die ekonomiese groei laer is as die bevolkingsgroei. Dit beteken as ’n land word ons elke jaar armer.

Ons beweeg vinnig terug na die ekonomiese situasie soos dit in die 1980’s was toe ons ook elke jaar armer geword het as gevolg van apartheid wat ons van die res van die wêreld vervreem het. Was dit nie vir die politieke skikking van die laat 1980’s en vroeë 1990’s nie sou die sanksies jeens apartheid Suid-Afrika oor die ekonomiese afgrond gedruk het.

Die ANC het dus in werklikheid ’n bankrot boedel by die Nasionale Party in 1994 geërf. Fiskale dissipline was in ’n warboel en die begrotingstekort was 48% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP).

Fiskale konserwatisme deur die ANC-regering, veral die vennootskap tussen Thabo Mbeki, Trevor Manuel en Tito Mboweni, in die vroeë tot laat 2000’s het die ekonomie gemiddeld met 5% per jaar laat groei. Dit het ons skuldvlakke tot 23% van die BBP laat verminder.

Die begrotingsurplusse van dié ekonomiese bloeitydperk het ons goed voorberei en beskerm op die wêreld ekonomiese inploffing van 2008 wat gevolg het na die ineenstorting van die beleggingsfirma Lehman Brothers in Amerika.

Soos Suid-Afrika in die 2000’s ryker geword het, het die regering veral na 2008 beleggings in munisipale infrastruktuur verdubbel. Met ander woorde in ’n bodemlose put gegooi tot so mate dat ons skuldvlakke tot 52% van die BBP teruggespring het.

Vanjaar gaan ons R50 miljard minder belasting insamel. Dié situasie gaan oor die volgende paar jaar vererger wat beteken ons is in groot gevaar. Dit beteken ons begrotingstekort gaan in 2018 tot R51 miljard styg en die moontlikheid bestaan dat ons gaan sukkel om die begrotingstekort onder 60% van die BBP te hou.

Selfs in dié omstandighede moet ons nie hoop verloor nie. Ek het pas twee boeke, een deur Nelson Mandela en Mandla Langa (Dare not linger – the presidential years) en die ander deur die voormalige Britse Premier Gordon Brown (My life, our times) gelees waarin Madiba en Brown skryf oor hoe hoop met aksie hulle in hul onderskeie rolle as staatshoofde gehelp het om die ergste krisisse te oorkom.

Die ANC was nog altyd ’n progressiewe beweging en behoort soos alle progressiewe partye te bestaan om ’n boodskap van hoop te verkondig. Alle partye sonder ’n fondasie van hoop sal op korttermyn oorleef, maar op die lang duur ’n welverdiende dood sterf. Die ANC moet nou leiding neem en die ekonomiese gemors met ekonomiese hoop vervang.

  • 2

Kommentaar

  • Pieter Haasbroek

    Hoop? In die hande van die ANC, 'n mishoop, ja. Sedert die verkiesing in 1994 het die ANC-regering soveel foute gemaak in die bestuur van Suid-Afrika se ekonomomiese stelsel, dat dit agteruit gegaan het. Onomkeerbaar op 'n glybaan na 'n afgrond van wanhopige armoede en ellende. Jammer, dit kon so anders gewees het.

  • Beste Jason
    Sanksies en 'n dalende goudprys was seker van die belangrikste faktore wat die ekonomie gekniehalter het in die jare 80. Ironies genoeg het die apartheid-ekonomie by tye vinniger gegroei aswat tans die geval is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top