
Foto: Canva
Op die modderpad, winter 1953
“Sussie, Basie, opstaantyd!” roep Ma en sit die slaapkamerlig aan. Ek skrik wakker en besef dis weer sulke tyd – terug hok toe. ’n Hol kol sit op my maag. Dit is maar die tweede week van die derde kwartaal en al die lekker van die vakansie leef nog vars in my geheue. Gisteraand het ek ’n lekker warm bad gevat, my afgedroog, eers my Elmar-onderbroek en frokkie aangetrek en my pajamas bo-oor. My lyf is nog warm van die slaap.
Ek en Sussie eet warm Maltabella-pap met plaasbotter, suiker en warm melk. Daarna eet ons van Pa Dries se heerlike boerewors en hoendereiers met dik snye warm, tuisgebakte bruinbrood. Ek drink ’n glas romerige melk, borsel tande, kyk na myself in die spieël, vryf oor my poenskop en gryp my bruin Globite-koffer. Sussie en ek groet Ma Alet en draf by die voordeur uit. Die koue slaan my asem weg. Laasnag het dit kwaai gereën. Pa sê dis ’n landswye winterreën wat oor die binneland versprei het.
Pa het reeds die bakkie uit die garage getrek. Die kragtige enjin luier. Gryswit dampe stoom par-par, par-par by die uitlaatpyp uit. Pa het gisteraand kettings oor die bande getrek. Hy doen dit net wanneer hy weet die grondpad Noupoort toe is baie nat en glad. Ons laai ons koffers agterop die bak. Ons asems stoom in wit wolkies voor ons monde. Sussie klim eerste in en gaan langs Pa sit. Sy is in standerd vyf; ek in Sub B. Al is ons dik aangetrek, bibber ons van die koue. Ma het vir ons voor die winter dik, grys woltruie en kouse gebrei. Ek het ’n grys langbroek aan en Sussie grys bobby socks onder haar groen romp. Pa het sy skaapvelleerbaadjie aan. Hy ry nooit in sulke nat weerstoestande sonder sy gumboots agterop die bak nie. Dis ingeval die bakkie vasval en hy moet uitklim om dit uit die modder te help kry. Sy stewels sal hy nie in modder verniel nie. ’n Skopgraaf en twee lang leerstroppe, binddraad en ’n draadtang lê ook op die bak.
Ons begin skaars ry. Pa sê: “Onthou die hande voor julle monde en haal ondertoe asem. Julle weet hoe ek sukkel om die pad te sien as die voorruit aanhoudend toewasem.”
Ons ken al die proses en gehoorsaam sonder om ’n woord te sê. Hier gebeur dit maar net weer: Die ruit wasem toe. Pa vee die ruit voor hom met ’n geel stoflap skoon. Sodra die ruit toewasem, herhaal Pa die proses. Hy lyk geïrriteerd.
Duskant Dwaalstasie swenk die grondpad na regs oor die treinspoor. Dit strek langs die spoor tot verby Wildfonteinstasie. Pa Dries wéét van nat pad ry. Wanneer ons gedeeltes van die pad nader waar die bruin water opdam, sit hy die bakkie in tweede rat en ry versigtig deur. Ry hy te vinnig deur die water, spat modderwater teen die voorruit tot Pa se ergernis. Die ruitveërs sukkel dan om die ruit skoon te vee.
Ek is die hekoopmaker, klein maar getrain. Daar’s die eerste ene ... Pa hou stil. Ek spring uit, draf hek toe, lig die draad wat in ’n sirkel gebuig is, oor die kop van die dik nieshoutpaal en stoot die hek oop. Pa ry deur en wag anderkant. Ek maak die hek toe en daar gaat ons. My hande voel soos twee ysblokke. Ek vryf dit vinnig teen mekaar. Blaas met my warm asem daarop. Stadig kom die lewe terug.
Nou begin die sports! ’n Lang stuk pad met diep, vars karspore wat daaroor gevleg lê, wag op ons. Pa Dries se kakebeenspiere bult en sy kneukels slaan wit deur soos hy konsentreer om die bakkie op die pad te hou. Hy draai die stuurwiel vinnig heen en weer waar die oppervlakte baie nat is. Dit help om die bakkie op die pad te hou.
Ewe skielik begin die bakkie se gat gevaarlik swaai. Ek sien al hoe sit ons vas en hoe moet ek my skoene en kouse uittrek en my broekspype oprol. As die bakkie eers in die slootjie aan die kant van die pad beland, is daar pêrre.
En daar gly die bakkie jou waarlik na links. Pa draai die stuurwiel dié kant toe en daai kant toe, maar puur verniet. Die bakkie kom tot stilstand in die slootjie aan die rand van die pad, nes ek gevrees het. Pa probeer trurat en dan eerste rat, maar die bakkie lê plat op sy maag. Die wiele verloor hulle greep en draai vergeefs in die rondte. Ek raak ontslae van my skoene en kouse, rol my broekspype op en spring uit. Ek vat vir Pa sy gumboots. Hy trek sy stewels uit en trek die goed aan. Pa haal die skopgraaf van die bak af en spit bossies uit. Ek tel klippe op. Ons sit die bossies en klippe voor en agter al vier bande, styf teenaan die bande. Domkrag? Nee, dit sal nie vasskop nie. Die modder is te diep met water deurweek.
Pa sit die bakkie in eerste rat en ry versigtig vorentoe. Nee, die klippe en bossies help niks. In trurat gebeur dieselfde.
Pa sug moedeloos. “Daar het julle dit nou. Ons sal die trekker moet gaan haal om die bakkie uit te sleep. Sien jy kans, Basie?” Ek knik.
“Maar, Pa,” protesteer Sussie. “Ons gaan laat wees vir skool!” Sy byt aan die punt van haar handskoen oor die middelvinger, bleek en tjoepstil.
“Aag toe nou, Sussie, die vassittery is hope pret. Ons sal wel loskom en Pa sal mos die sakie aan meneer Pretorius verduidelik. Ons gaan nie in die moeilikheid kom nie,” probeer ek haar paai. Maar sy sit net en byt haar handskoen.
“Dis mos ’n donkiekar wat daar aankom,” sê Pa terwyl hy bakhand sy oë teen die oggendson beskerm.
Die karretjie met ou Japie, die skaapskeerder op die wakis, kom stadig van voor af nader. “Hanou julle!” skree Japie en die twee donkies gaan staan. Een is grys en die ander een bruin. Albei het oogklappe aan.
“Ons moet nou plan maak om my bakkie uit te trek, ou Japie. Die kinders moet skool kry.”
“Hoe praat die Oubaas dan nou? Dink Baas dit sal help as ek saam met die Kleinbasie stoot?”
“Nee, laat jy die donkies terugdraai met die karretjie se gatkant na die voorkant van die bakkie toe, tot ek sê stop.” Japie kry die karretjie en donkies in posisie.
Pa kry die stel stroppe in die hande. Hy knoop dit styf aan albei kante van die voorbuffer oor die vooras vas. “Japie, nou moet jy jou donkies stadig laat loop tot die stroppe styf span.”
Japie knik. Wanneer die stroppe styf span, sê Pa: “Toe, trek.”
Japie: “Trek, julle, trek!” Ek lees die nommerplaat teen die agterkant van die waentjie, wit op swart: CBA 99, Hanover se registrasienommer.
Eers roer die bakkie skaars. Maar Japie se donkies beur vorentoe.
“Trek, julle maaifoedies!” beveel ou Japie en lê sweep in oor die donkies se rûe. Die esels beur vorentoe. Hulle sukkel om behoorlik vastrapplek te kry. Maar geleidelik verloor die modder sy greep op die eselpote en bakkie. So waar as padda manel dra, trek die donkies die bakkie terug tot in die middel van die pad.
“Dankie, ou Japie, dankie,” sê Sussie deur die oop venster.
“Ai, ou Japie, vandag het jy en jou donkies ons uitgetrek, net so goed soos my trekker. Dankie jong, baie dankie. As jy op my plaas kom, maak ’n draai, dan gee ek jou ’n sak meel en suiker; dit belowe ek jou.”
“Ek’s bly ek het julle kon help, Oubaas. En dankie vir die meel en suiker. Mooi ry.” Japie klap sy sweep en hulle ry na ons plaas se kant toe.
Pa sit sy gumboots op die bak en trek sy kouse en stewels aan. Die bakkie beweeg steeds gly-gly, maar Pa hou dit onder beheer.
Ons steek die laaste rantjie oor. Noupoort lê sowat drie myl verder onder die grys rook van die stoomlokomotiewe. Die treinrook ruik soos die stink, opgekookte kool wat ons saans in die koshuis te ete kry. My maag maak draaie. Ek sweer, eendag vrek ons nog op ’n streep van die vrotsige koshuiskool.
Ek is verlig toe Pa uit meneer Pretorius, die skoolhoof, se kantoor kom en vir my en Sussie gerusstel dat meneer verstaan waarom ons laat vir skool is. Pa laai ons by die koshuis af.


Kommentaar
Ai hoe laat jy my nou terugverlang na die goeie ou dae...