Oos, wes, tuis bes – maar wat as jy huisloos is?

  • 4

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Eers is die Parade toegemaak. Daarna het die munisipale polisie in Kaapstad in alle erns begin toesak op mense wat in die parke, tuine, op die strande en in die stegies slaap. Seepunt, Groenpunt, die middestad, die trappe van St George’s Katedraal, Groentemarkplein – geen steen is onaangeroer gelaat in die ontsmettingsproses nie.

Ek gebruik die woord ontsmetting nie ligtelik nie. Die manier waarop die munisipale owerhede optree deur armoede en die ontheemdheid van huisloos wees te kriminaliseer, grens aan die feitlik fanatiese skoonmaak waaraan die meeste van ons tydens die pandemie gewoond geraak het. Juis hierdie week het hulle weer ’n uitsettingsbevel gekry teen ’n groep wat hulle as ongewens beskou.

Elke keer net voor die winter versterk hulle hul pogings om die strate skoon te maak. Die doel is natuurlik nie om mense in veilige behuising te kry nie, maar eerder om die probleem te verskuif na elders, weg van die toeriste en die rykes.

Hierdie week, met die snerpend koue weer en die storm-waarskuwings wat uitgereik is, kom hierdie optrede selfs meer onsensitief voor.

........

Huis is onder die beste omstandighede ’n gelaaide woord. Elkeen van ons het herinneringe van ’n plek waar ons veilig en geborge voel, gewoonlik omring deur familie en vriende. Maar huis is baie keer juis die plek wat vir baie mense die setel van hul grootste gevaar is; die plek waar hulle misbruik, verneder en van waardigheid ontneem is.

.........

Huis is onder die beste omstandighede ’n gelaaide woord. Elkeen van ons het herinneringe van ’n plek waar ons veilig en geborge voel, gewoonlik omring deur familie en vriende. Maar huis is baie keer juis die plek wat vir baie mense die setel van hul grootste gevaar is; die plek waar hulle misbruik, verneder en van waardigheid ontneem is.

Vir die meeste van ons beteken huis een of ander fisiese struktuur, ongeag of dit uit stene, hout of sink bestaan. Maar al meer word ons bewus gemaak van mense wat nie die voorreg het om na ’n fisiese struktuur te kom aan die einde van ’n lang dag nie.

Die onlangse brande in Kaapstad het juis weer die aandag gevestig op die groot getal mense wat hul toevlug tot die brûe, strate, bosse en natuurlik die berg neem vir beskutting. En hoe meer die owerhede druk toepas om mense uit die stadskern te verwyder, hoe meer word mense geforseer om in die natuur te woon.

Die film Nomadland, wat onlangs Oscar-geskiedenis gemaak het, vertel juis die verhaal van ’n ander tipe huisloosheid, hierdie slag van mense wat in voertuie van plek tot plek trek in ’n tipiese nomadiese bestaan. Die Suid-Afrikaanse konteks is egter anders. Hier trek herbergloses hul wêreldse besittings in trollies of in plastieksakke, nie meer luukse motorwoonwa nie.

Ons stede, en ongelukkig is Kaapstad nie alleen in hul optrede nie, doen hul bes om sogenoemde bergies of boemelaars te ontmoedig om in stadskerns te slaap. Argitektuur word aangepas om mense te ontmoedig om te draal. Openbare spasies het óf geen sitplek nie, óf sitplekke is so ongemaklik dat dit onmoontlik is om vir lang periodes jou sit te kry. Die hoekies van geboue, wat natuurlike beskutting bied, word baie keer met skerppunt metaalstukkies bedek sodat niemand daar kan slaap nie. Daar is verskeie maniere waarop argitektuur as wapen ingespan word om herbergloses te verwilder.

Die meeste van ons probeer om ons oë weg te draai van die realiteite van armoede en herbergloosheid. Ons maak of ons nie die persone wat in hul verslete klere met kartonplakkate by verkeersligte staan en bedel raaksien nie. Ons draai ons ruite op. Ons sluit ons deure. Ons kyk na die ander kant van die straat. Soms gooi ons haastig ’n paar muntstukke in hul Styrofoam-koppies. Dan maak ons dat ons wegkom, verlig dat die interaksie op ’n einde is.

Maar ons, soos die owerhede, vergeet iets baie belangrik.

Ons as samelewing is interafhanklik van mekaar. My welstand hang af van my buurman se welstand.

Ons word hieraan herinner elke keer wanneer ’n nuwe vlaag van die pandemie ons oorval, en elke keer wanneer ’n nuwe variant kop uitsteek. Hoekom het die VSA nou besluit om hul steun te gee aan ’n veldtog om die entstowwe van patentreg vry te stel? Want hulle besef, veral nou met die uitbreking in Indië, dat niemand gevrywaar is van die gevolge totdat almal gevrywaar is nie. Om een land se bevolking in te ent en kudde-immuniteit te verkry, is betekenisloos as daar nie oral kudde-immuniteit is nie. Nuwe variante kan ontstaan wat die inentingsproses ongedaan maak.

Net so, het ons nou weer geleer, met herbergloosheid.

Nie net is baie meer mense in armoede ingeforseer deur die pandemie nie, baie meer mense is uit hul huise en op straat gedwing, wetgewing ten spyt.

Wat het met die brande gebeur? Huise het afgebrand. Strukture is vernietig. Inligting is verlore, sommige daarvan onherwinbaar. Groot dele van die stad moes hul huise en kantore vir dae ontruim. Paaie was gesluit. Die koste verbonde daaraan om die vure te blus, is astronomies: helikopters, vliegtuie, brandweerwaens, water, personeel wat ingespan is.

Dit laat my met die vraag: Hoe sou dit anders uitgespeel het as ons as samelewing nie armoede gekriminaliseer het nie? Sou die uitkomste anders wees as ons tyd en geld daaraan bestee het om mense wat op straat is, in gewaarborgde, veilige beskutting te plaas eerder as om van hulle misdadigers te maak? Indien ons mense se waardigheid beskerm het, sou dit nie nodig wees dat hulle in die bosse en teen berghange moes bly nie.

Dit laat my wonder of enigeen al ’n koste-analise gedoen het van die verskillende benaderings. Die koste van hofprosesse en die personeel verbonde daaraan om enige bevele uit te voer, die verliese wat gely word wanneer beeldpoetsery onvermydelik misluk, teenoor die koste daarvan om mense te rehabiliteer en hulle op hul voete te help kom.

Die laaste opsie is uiteindelik veel goedkoper, maar dis nie die natuurlike keuse nie.

Juis daarom moet ons die leiers wat ons verkies daaraan herinner dat menswaardigheid vir ons belangrik is.

  • 4

Kommentaar

  • Plak-in-n-boek

    Die Tshwane Metro kan gerus 'n paar lesse gaan leer by Kaapstad. In Pretoria en Centurion word daar op elke twee hoek permanent geplak, elke dag vuurgemaak en die sypaadjies word so bemors, dit lyk soos varkhokke. En Tshwane Metro doen al vir jare en jare niks daaraan nie. Die grootste sondaars is buitelanders. Die Metro verroer nie 'n vinger nie en laat gods water oor gods akker loop. Die huidige burgermeester is net so ruggraatloos soos sy voorgangers. Daar is munisipale regulasies teen onwettige plakkery, rommelstrooi en handeldryf, maar dit word geïgnoreer. Die Stad Kaapstad pas maar net sy regulasies toe. As daar behuising verskaf word, is dit absoluut die plaaslike regering se verantwoordelikheid om die regulasies af te dwing. Die land is in so 'n gemors omdat wette, reëls en regulasies van grondvlak af op geïgnoreer word. Mens kan nie van 'n metrogebied een groot plakkerskamp laat word nie.

  • Barbara Koster

    Ek is 'n 'huislose' onderwyseres (62j) wat tans gelukkig is om 'n tydelike betrekking en koshuisverblyf te hê. My ouderdom sal my binnekort op straat laat beland. Die grootste vrees is om 'n gratis slaapplekkie te kan kry vir die nag. Spanning oorheers, maar GOD se versorging van Sy Kinders, bied altyddeur 'n uitweg. Ek benodig 'n borg vir verblyf in 'n goedkoop Aftree-oord of uuetehuis - ASSEBLIEF!

  • Hans Richardt

    As 'n witman as pensioenaris laekostebehuising huur, is jy sekerlik ook huisloos.
    Die idee van 'n "familiehuis" raak nou iets van verlede, elke mens bly waar hy kan bekostig om te bly.

  • Barbara Koster

    "Huisloos" maak my bitter bang, want ek is tans 62-jaar oud en sal op 65-j my diens moet beëindig. Ek was op die nippertjie om 'n lewe in die strate van S.A. te moes begin, toe GOD aan my 'n werk en blyplek gegee het. Ek het 21-jaar in S.A. skoolgehou en 9-jaar in die VAE (UAE). Terug in S.A. waar ek NIKS meer gehad het nie, was ek in totale afhanklikheid van GOD. HY sorg steeds op 'n intense wyse, vir my. Ek is innig dankbaar, tog is die "bang" vir 'n moontlike toekoms op straat, nog daar. Ek BID voortdurend, dat GOD aan my 'n uitweg sal bied; dat iemand na vore sal tree om vir my te betaal vir 'n plekkie in 'n ouetehuis. Dit is nie maklik om verneder te voel; sonder kos te wees en koud te moet gaan slaap nie. Wanneer die nag se donker nader sluip en jy nie weet WAAR jy sal kan gaan slaap nie, maak dit 'n mens bykans doodsbenoud voel. Jy kyk rond, maar TEVERGEEFS!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top