Die Oos-Kaapse ANC is nie net verdeeld oor wie dié organisasie se volgende president moet wees nie – dié eens magtige ANC-provinsie se ledetal is ook besig om te daal.
Gooi dié twee skokkende feite in een emmer en jy kry die uitslag tot die groot skok van baie Suid-Afrikaners: Jacob Zuma, wat van ’n ongeletterde veewagter gevorder het tot “eerste burger” van Suid-Afrika, is besig om sy posisie binne die ANC te konsolideer.
As die tendens voortduur, sal Zuma na alle waarskynlikheid in Mangaung tot ’n tweede termyn as ANC-president verkies word en dus as president van die land aanbly.
Te maklik gesê as gedoen.
Die wortel van die probleem met die afname in ledetal is glo tweeledig. Eerstens het lomp organisatoriese vermoëns van die partymasjinerie sy tol geëis. Ledelyste is glo verouderd en organiseerders werf nie meer nuwe lede nie.
Die tweede probleem is die apatie, veral onder jongmense, teenoor die politiek of om by ’n politieke party betrokke te raak of daarby aan te sluit. Vanweë die binnegevegte en verskillende faksies in die ANC lyk dit asof die organisasie minder aantreklik word, veral vir jongmense.
Die binnegevegte en verskillende faksies het nou die psige van die ANC binnegedring en dreig om die organisasie in die Oos-Kaap lam te lê. Die eertydse sterkste ANC-provinsie gaan nou net 676 afgevaardigdes na die party se nasionale kongres in Mangaung stuur. Dit is 230 afgevaardigdes minder as die 906 wat in 2007 Polokwane toe is.
Ironies genoeg is die grootste streek, OR Tambo, wat in 2007 in Polokwane instrumenteel was om Zuma tot ANC-president te verkies, erg verdeeld en gaan ook die meeste afgevaardigdes (138) na Mangaung stuur. Die populistiese Zuma en die pragmatiese Kgalema Motlanthe het die voorheen Zuma-gesinde streek se eenheid versteur.
Die onlangse verkiesing van Thandekile Sabisa tot streekvoorsitter het Zuma ’n geweldige knou toe gedien. Sabisa is baie invloedryk in dié streek en word allerweë as ’n Zuma-teenstander beskou.
Die twee metro’s, Nelson Mandela (51 afgevaardigdes) en Buffalo-stad (47), is nou wel Zuma-gesind, maar is ook erg verdeeld. In die Baai baklei die huidige burgemeester, Zanoxole Wayile, en die ANC-streekvoorsitter, Nceba Faku, soos kat en hond. Pogings van Luthuli-huis om die strydende faksies onder leiding van Wayile en Faku bymekaar te bring het alreeds gefaal.
’n Probeerslag van die provinsiale uitvoerende komitee om in te gryp het ook gefaal, omdat konsensus oor Zuma en Motlanthe ook nie in dié struktuur gevind kan word nie.
Om alles te verger het die provinsiale ANC-jeugliga, soos verwag, hul steun agter Motlanthe ingegooi. Tenoor hulle staan die ANC-vroueliga, wat hul liefde vir die man van Nkandla in die openbaar verkondig het. Die Veteraanliga, wat op nasionale vlak Zuma-gesind is, gaan na alle waarskynlikheid Zuma steun.
Die politiek binne die Oos-Kaapse ANC is vloeibaar en dit kan nog vir interessante politieke gevegte in die aanloop tot Mangaung sorg. Die skokkende waarheid is egter dat die Oos-Kaapse ANC nie meer die bakermat van die organisasie is nie.

