Film-oorvertellings en -reboots: flops of fabulous?

  • 0

Ek vermoed dat die meeste fliekgangers 'n redelik ingewikkelde verhouding met Hollywood het – wie dit nou ook al mag insluit. Aan die een kant gesels almal in die kantoor lekker saam oor wat in die nuutste grootskermsuperheldspektakel gebeur het. Aan die ander kant kla ons oor onoorspronklikheid, voorspelbaarheid en oormatige rekenaareffekte (in die ou dae was dinge mos beter). Die nuutste, luidste klagte kom natuurlik saam met Disney se besluit om die beste van hul handgetekende animasieprente nou as fotorealistiese flieks oor te maak.

Hoewel hulle in die 1990's al soortgelyke projekte aangedurf het met 'n weergawe van The Jungle Book en twee 101 Dalmations-flieks, het die hedendaagse poging eers met Tim Burton se Alice In Wonderland spoed gekry en met Cinderella en The Jungle Book onderskeidelik in 2015 en 2016 op volle vaart gekom. Vanjaar het ons al 'n spoggerige nuwe Dumbo en Aladdin gehad en nou ook The Lion King.


Daar kan definitief gesê word dat hierdie nuwe flieks 'n siellose, immorele oefening is wat spesifiek ontwerp is om springmielies aan onkundige fliekgangers te verkoop wat nie besef dat hulle nou 'n premium volprysfliekkaartjie moet koop om eintlik 'n dekades-oue fliek te kyk nie. ’n Mens kan seker ook probeer om die goeie kant in te sien – dat dit 'n goeie idee is om ou stories af te stof en vir jonger kykers aan te bied op 'n manier wat hulle Snapchat-aandagspan in ag neem. Óf dat moderne fliekmaaktegnologie en rekenaargrafika kontemporêre kunstenaars toelaat om stories te vertel op maniere waarby Walt Disney se wildste drome nie kon kom nie.

Maar waarom dan ou stories afstof wanneer nuwe stemme seer sekerlik eietydse stories het om te vertel? Word ons nou gebombardeer met 'n nuwe Lion King eerder as om iemand wat met die oorspronklike fliek in 1994 grootgeword het, se persoonlike storie te hoor?

Die boekhouers by Walt Disney Company ('n 95 jaar oue multimediakonglomoraat met amper $60 biljoen jaarlikse inkomste en 201 000 werknemers, onthou) sal sekerlik vir jou sê dat bestaande intellektuele eiendom 'n kortpad na groter wins is. ’n Mens kan seker nie met groot getalle stry nie (veral nie dié met 'n dollar-teken vooraan nie).

Volgens Boxofficemojo.com is slegs drie uit vanjaar se toptwintig loketverdieners (The Wandering Earth, Us, en Rocketman) nie deel van 'n bestaande media-franchise nie. Maar daar is al boekdele oor hierdie fenomeen geskryf, so ek gaan nie my asem daarop mors nie.

Hierdie reboot- en remake-kultuur is seker die ergste van die artistiek bankrotte geldgierigheid agter massamedia. Maar is die eindelose gemelk van suksesvolle eiendom met opvolge en spin-offs veel beter? Is daar meer "siel" in 'n nuwe episode van Star Wars, The Avengers, of Men in Black as in die opkomende "vars blik" op Charlie's Angels? Is die idee van kunstige integriteit ewe absurd in die The Shining-opvolg Doctor Sleep as in Pet Sematary wat vroeër vanjaar met 'n paar klein veranderinkies oorgemaak is?

Die vervaardigers van die Terminator-reeks probeer nou al sedert 2003 om 'n opvolg te maak wat naastenby teen Terminator 2: Judgement Day se sukses kan opweeg en gaan later vanjaar vir die vyfde keer (as jy die televisiereeks The Sarah Conner Chronicles tel) 'n nuwe aanslag probeer. Dis skrikwekkend om te dink hoeveel tyd, geld, moeite en kreatiwiteit beter aangewend kon wees as Hollywood se skrywers en kunstenaars op oorspronklike projekte gekonsentreer het. 

Tog is selfs verlede jaar se Mission Impossible: Fallout – as sesde episode in 'n aksiereeks, ongetwyfeld die toonbeeld van franchise-fliekmakery – ten spyte van Tom Cruise in die hoofrol en sy geraamde produksiebegroting van $178 miljoen 'n meesterlike voorbeeld van effektiewe vermaak. Want asemsnak-aksietonele en drama wat jou emosies en springmielies ewe veel meevoer is ook mos kuns, of hoe?

Gelukkig is Hollywood nie ons enige bron vir fliekvermaak nie. Soos dit 'n goeie Afrikaner betaam, maak ons mos ons eie plan. Daarom kan ons in die volgende jaar uitsien na goeie, oorspronklike, Afrikaanse flieks in ons teaters – soos Ander Mens (gegrond op Zirk van der Merwe se roman), Fiela se Kind (uiteindelik 'n nuwe weergawe van Katinka Heyns se 1988-fliek, wat daai tyd al 'n verwerking van Dalene Mathee se roman was), Racheltjie de Beer (die volksheldin wie se verhaal ons al baie generasies lank oorvertel), Poppie Nongena (Elsa Joubert se boek) en Toorbos (ja, nóg 'n Dalene Matthee-roman). Daar is nog nie veel inligting oor volgende jaar se Vergeet my nie beskikbaar nie – so ons kan maar optimisties wees dat hierdie nie bloot 'n oorvertelling van Elmo de Witt se 1976-musiekprent met dieselfde titel is nie.


As mens só daarna kyk, skets dit dalk 'n droewige prentjie van ons onmiddelike plaaslike fliekvooruitsigte. Nie eens die vindingryke Afrikaanse flieklandskap kan die vloek van Hollywood se obsessie met remakes vryspring nie.

Tog het ons in die laaste paar jaar 'n wonderlike klomp Afrikaanse flieks gekry. Kanarie, Wonderlus, Skemerson en Die Stropers was almal oorspronklike en persoonlike flieks wat nuwe dinge in Afrikaans probeer het en egte plaaslike stories vertel het sonder om in clichés of genre-formules te verval. En ten spyte van hul onderskeidelike oorsprong as jeugroman en Tsjechof-toneelstuk, is die onlangse Meerkat Maantuig en Die Seemeeu uitstekende flieks wat oorloop van oorspronklikheid.


Daarvolgens kan ’n mens mos sê dat daar eintlik niks fout is met 'n fliek wat uit 'n boek verwerk is nie. Maar tog het ons 'n probleem met flieks wat verwerkings van ander flieks is? Vanjaar se opeenhoping van oorvertelling-flieks is dalk net toeval – maar wat as dit 'n aanduiding van 'n nuwe tendens is? Ek's seker 'n moderne fliekverwerking van Die Swart Kat, Mina Moo, Liewe Heksie, of Mannemarak sal 'n hele paar nostalgiese kaartjies verkoop sonder om onomkeerbare aanstoot aan ou aanhangers te gee.

Ons gaan nie gou ontslae raak van die reboot-tendens nie, maar ek dink ons kan leer om daarmee saam te leef. Dalk is 'n nuwe The Lion King onnodig en ongevraagd. Maar geld dit nie eintlik vir alle flieks nie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top