Oorgeklankte Turkse TV-reekse verower die wêreld

  • 41

Lang mans met broeiende donker oë of kykers wat so skandalig blou is dat dit eintlik onwettig behoort te wees. Vreeslose helde in die stil sterk tradisie wat hul lywe voortdurend kanonvoer hou en skone heldinne in onbekostigbare ontwerpersklere wat op sulke hemelhoë hakke rondtrippel dat mens skoon hoogtevrees kry. Daar is familiedramas, moord, verraad, rugstekery, afluistery en menige verborge agenda. Jy kan net mooi niemand in ’n Turkse televisiedrama vertrou nie. Niemand nie. Selfs die held het dikwels moord in sy hart.

Van voorspelbaarheid is daar geen sprake nie. Talle episodes eindig met ’n sogenaamde cliffhanger. Daar word om elke hoek en draai gekonkel, gemanipuleer en met koppe gesmokkel. Wraak is ’n edel motief. Daar word eintlik van jou verwag om wraak te neem. Dis jou plig.

En dan is daar die immer ontwykende en plofbare romanse tussen die hoofkarakters wie se liefde oënskynlik gedoem is. En die skurk se gevaarlike obsessiewe liefde.

Turkse dramas behoort ’n sielkundige se paradys te wees. Sowat van narsiste, sosiopate en moordlustiges sien ’n mens selde, wat dit alles besonder sappig maak. Daar is darem ook eerbare karakters. Dan speel alles boonop teen die eksotiese agtergrond van ’n hemelblou see en weelderige interieurs af.

Dis geen wonder dat Turkse telenovas, dramas en sepies nou wêreldwyd oorgeklank en vertaal word nie. Daar word beweer dat die Turkse TV-reekse gewilder as Skandinawiese noir, groter as Britse dramas is, en selfs met swaargewig- Amerikaanse sepies meeding. Turkye word inderdaad vinnig ’n globale televisiesupermag met hul reekse wat die wêreld oorrompel het. In 2011 kon die Turkse reekse reeds in meer as 40 lande besigtig word. En in Suid-Afrika is dit eweneens gewild.

Moet dus nooit getroue aanhangers in die tydgleuf bel dat ’n Turkse drama in Afrikaans uitgesaai word nie. Jy mag dalk net ’n vyand word. Terloops, party van die akteurs praat met ’n Gauteng-aksent en ander met ’n Kaapse aksent. Maar almal praat lekker Afrikaans.

Maar wat presies is dit wat kykers net soos destyds in die sewentigs die geval met die Amerikaanse TV-reeks Dallas was, so boei dat hulle nie ’n enkele episode wil misloop nie?

Een van die redes is dat hierdie reekse ’n onweerstaanbare kombinasie van maatskaplike knelpunte en sterk kulturele beginsels aanspreek, so word aangevoer.

Hierdie reekse het geruime tyd gelede reeds die Latyns-Amerikaanse mark verower nadat dit in Spaans oorgeklank is. Die rede is glo dat die sogenaamde telenovelas, wat so gewild in Spaanssprekende lande is, dieselfde resep volg en morele standaarde as die Turkse dramas het.

Ons het meer by Marli Schulze, inhoudspesialis by e tv, en Sulette Thompson (veral bekend vir haar rol as Suzy in die TV-reeks Agter elke man) wat ’n oorklankingsregisseur by gewilde Turkse reekse soos Bittersoet is, gaan kers opsteek oor hoe hierdie reekse kykers se verbeelding aangryp oor hoe die oorklankingsproses werk.

In die begindae van televisie was daar talle oorgeklankte reekse wat verdwyn en toe herleef het. Wat is die rede hiervoor?

M: In die begindae van televisie was daar meer geld vir oorklanking en baie meer Afrikaans op die kassie. Afrikaans het afgeskaal toe Afrikaanse TV hoofsaaklik na betaalkanale verskuif het waar meer geld in die vervaardiging van oorspronklike reekse ingeploeg is. Die “nuwe” Afrikaanse oorklanking het ontstaan om ’n “ander” Afrikaanssprekende TV-kyker te lok. Ongeveer 53% van gesinne wat Afrikaans as huistaal gebruik, is bruin en baie van hulle is slegs op SABC vir Afrikaanse televisie aangewese. Dit is hierdie mark wat e tv teiken. Dit het toe goed uitgewerk, met die bykomende bonus van ’n baie groter, wyer verskeidenheid van kykers wat ook deur die trefkrag van die Turks-Afrikaanse reekse vasgevang word.

S: Afrikaans is destyds ’n bietjie eenkant gestoot, maar die aanvraag vir Afrikaans-vervaardigde reekse het intussen opgevlam. Produksies word al duurder. Ek dink baie mense het Afrikaans onderskat – mense het ’n behoefte om in hul eie taal stories te hoor en te kyk.

Hoe werk die keuse van die Turkse dramareekse/sepies? Ek neem aan dat dit baie goedkoper is as om ’n splinternuwe reeks te vervaardig? 

M: Die gewildheid van Turkse TV-reekse het die afgelope 10 jaar wêreldwyd sterk toegeneem. Vandag is die Turke naas Hollywood die tweede grootste vervaardiger en uitvoerder van televisiereekse. e tv belê graag in die oorklanking van die reekse in Afrikaans omdat die Turkse reekse op ’n sosiokulturele vlak nou by Afrikaanssprekendes se sentiment en leefwêreld aansluit. Hierdie spesifieke Turks-Afrikaanse kombinasie is gelaai met elemente wat die stories so aangrypend maak terwyl dit terselfdertyd ook baie herkenbaar vir kykers voel. Om reekse oor te klank is inderdaad goedkoper as om dit van nuuts af te vervaardig.

Hoe vind die keuringsproses plaas as die reekse aangekoop word? 

M: Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel. Die reekse moet redelik nuut wees en as dit in Turkye gewild is en ook internasionaal goed verkoop het, dan skuif dit na die bopunt van die aankooplys. Ons gehoor se voorkeure word ook in ag geneem – historiese reekse is byvoorbeeld nie baie gewild nie en dus word dit vermy. Oor die afgelope sowat 18 maande het kykers ook hul gunstelingakteurs geïdentifiseer, wat met die aankoopkeuses in ag geneem word. Die reeks moet oor genoeg episodes beskik om oor ’n hele paar maande te kan uitspeel. En kom ons wees maar eerlik: Die waarde van al die mooi Turkse mans moet nou ook nie onderskat word nie. 

Hoe gewild is hierdie reekse ten opsigte van kykersgetalle en watter soort terugvoer kry julle?

M: Ons kan tereg sê dat dit ons stoutste verwagtinge oortref het. Vanaf die eerste episode van Gebroke harte kon ons sien dat daar belangstelling in en waardering vir die reeks was en sedertdien het daar net meer reekse bygekom – elk met ’n groot aantal geesdriftige kykers. Daar het ook spontaan ’n magdom sosiale mediagroepe rondom die reekse ontstaan waar kykers bespiegel, prys, kla of skok en waardering oor die gebeure in die reekse uitspreek. Die reaksie is oorweldigend positief. En hoewel die reekse in Afrikaans oorgeklank is, is die grootste verrassing dat die aantal nie-Afrikaanssprekendes ’n groter persentasie van die algehele kykertal beslaan – wat doodgewoon beteken dat die stories se gewildheid verder as taal alleen strek.

S: Die stories raak toenemend gewilder en kykergetalle vemeerder ook. Ons kry baie komplimente – net vandag het iemand opgemerk dat dit lyk asof die karakters regtig Afrikaans praat.

Baie mense kan nie meer DStv bekostig nie en skaf Open View aan wat goeie programme soos die Turkse reekse uitsaai. Is dit dalk een van die redes waarom soveel mense deesdae daarna kyk? 

M: Alhoewel die reekse nooit op DStv-kykers gemik was nie, het die gewildheid daarvan onder ’n breë spektrum van demografiese profiele van kykers toegeneem. Tans geniet kykers van verskillende rasse en inkomstegroepe die reekse. Die e-Extra-kanaal is op beide DStv en Open View beskikbaar en e tv self is natuurlik, soos die geval met die SABC-kanale is, oral beskikbaar. Die feit dat dit so wyd beskikbaar is, dra natuurlik tot die gewildheid by. Maar dit is veral die kombinasie, die vermenging van Turkse dramas wat om familie en waardes wentel, gemeng met ons harts- of gevoelstaal, Afrikaans. Dít is hierdie spesifieke kombinasie wat hierdie reekse soveel skopkrag gee.

S: Dit kan beslis een van die redes wees hoekom mense dalk begin kyk. Mense is ook uitgehonger vir Afrikaans. Maar dan “vang” die storie jou. Mense gesels onder mekaar oor die reekse en gevolglik is daar al meer kykers.

Hoekom dink julle is die reekse so suksesvol en hoe verskil dit van Suid-Afrikaanse reekse? Mense het al genoem dat daar soveel intriges, aksie, opwinding en onvoorspelbaarheid is dat jy nie een enkele episode kan misloop nie.

M: Die Turkse reekse beskik oor al die nodige bestanddele van telenovelas, naamlik mooi mense, baie drama, opwinding en onverwagse wendings, maar met dié reekse is daar ook soveel meer! Die produksies is van hoogstaande gehalte en dit lyk dikwels asof dit vir ’n rolprent geskiet is. Die karakters is vol en ryk ingekleur, terwyl die tragies-komiese aspekte van hul lewens met deernis en empatie geteken word. Dan is daar inderdaad volop intrige, aksie en onverwagse wendings ook. Nog iets wat die reekse so gewild maak, is dat daar nie uitermate geweld, seks of kru taalgebruik is nie. Ek dink die gewildheid daarvan kan ook toegeskryf word aan ’n kombinasie van dit wat aan ons bekend is, soos Moslemtradisies en bekende name soos Zeynep, Salih en Azra, en dit wat ook eksoties anders aan die Turke is. Hulle wat beide Oosters en Westers is, ’n “gemengde” ras wat aangrypende stories teen die agtergrond van ’n eksotiese Istanbul of die ongerepte natuurskoon speel. Daar was byvoorbeeld talle werklik asemrowende natuurtonele in Die vreemdeling.

Nog ’n raakpunt tussen die Turkse stories en Afrikaanssprekendes – en ek sê dit tong-in-die-kies – is ’n geïmpliseerde soort konserwatisme of “preutsheid” bolangs, terwyl die wulpse passie maar alte dikwels net so onder die oppervlak lê en smeul … Daardie stoute konkoksie van dualiteit is iets waarmee ek dink Afrikaanssprekendes van alle rasse en kulture hul kan vereenselwig. Afrikaners bly maar in murg en been plesierig.

S: Die reekse is regtig baie mooi geskiet, daar is ongelooflik mooi tonele vanuit ’n kamera-, teks en akteur se “oog” gesien, die storielyn het baie intriges, die karakters is so vol menswees en die Afrikaans bring dit tot in ons harte. Dis boeiend, aangesien ’n mens tot aan die einde nie weet wat gaan gebeur nie. In elke episode gebeur daar iets wat jou laat twyfel oor wie nou eintlik die skurk is. Die akteurs is vreeslik aantreklik en hulle spel is uitstekend. Al ons vroue verdrink in Kemal se oë, en mej Turkye (Asu) en die ander vroue laat die mans nogal twee keer kyk.

Bradley Olivier as Zehir (foto: verskaf)

Wil julle dalk uitbrei oor die werkskeppingsgeleenthede wat dit onder meer vir ons akteurs bied? Ons weet almal dis bitter moeilike tye vir al die skeppende beroepe.

M: Nie net akteurs nie, maar stemkunstenaars ook. Dan is daar nog ander medewerkers ook betrokke in die proses om Afrikaans in die monde van die Turke te lê. Daar is onder meer “timers” wat die Engelse sinne by die akteurs op skerm plaas, klankingenieurs wat die stemme opneem, vertalers van Turks na Engels en van Engels na Afrikaans en terug na Engels vir subtitels. Daar is ook oorklankingsregisseurs wat die stemme dirigeer asook subtitelskeppers, wat ’n kuns en tegniek op sy eie is, en dan gespesialiseerde administrateurs.

Soveel nuwe vaardighede wat geskep of fyner geslyp geraak het en wat nou gebruik kan word om ’n inkomste te verkry. Dit beteken doodgewoon dat daar nou heelwat geleenthede vir werk en kundigheid in die bedryf geskep is. En dit vanuit en vir ’n Afrikaanse bron! Dis lekker soos wat net “local” lekker kan wees. Daar is na raming ongeveer 350 tydelike en permanente werksgeleenthede wat verskeie vaardighede vereis. Maar die lekkerste van alles is dat mense nie net werk uit hierdie klein nuwe bedryf kry nie, maar ook soveel pret en plesier gedurende die hele proses beleef. Dit is wonderlik om te sien met hoeveel geesdrif en genot stemkunstenaars en die ander ’n rol vertolk om aan die skeppingsproses in Afrikaans uit Turks deelneem. Dis ’n heerlike proses om te beleef. Mens kan dit maar ’n seëning noem.

S: In die ou dae was oorklanking die meeste van ons akteurs se brood en botter. Dit verskaf nie net werk aan akteurs nie, maar dis ook ’n uitdaging om op ’n ander manier skeppend te wees en ’n tegniek aan te leer wat nie net uit die lug val nie, maar daartoe kan bydra om jou ’n nóg beter akteur te maak. Stemwerk is ’n medium wat op ’n ander wyse skeppend is. Nie alle briljante akteurs is goeie stemkunstenaars nie. Stemwerk is iets waarvoor mens ’n passie moet hê – dis tog ook toneelspel, maar net met jou stem, sonder om jou liggaam te gebruik. En dan moet jy in ’n rol klim waarin reeds ’n liggaam en ’n karakter geskep is. As akteurs in hierdie beroep is net vir geld en roem, maar nie weens die passie wat in hulle brand nie, dan raak ek geweldig gefrustreerd.

Renate Stuurman as Zehra (foto: verskaf)

Hoe kies mens die stemme om by die karakters te pas? Daar word seker heelwat oudisies gedoen? 

M: e tv sal saam met die oorklankingsfasiliteit ’n paar riglyne daarstel. Daar sal onder meer gepraat word oor watter variante van Afrikaans deur watter karakter of gesin gepraat moet word en watter stemkunstenaars rolle in welke reeks kry. Die belangrike kuns en vaardigheid van rolverdeling vir Turkse sepies lê egter by ’n oorklankingsghoeroe soos Sulette – by onder meer haar talent en skeppingsenergie, haar passie vir stemwerk en ’n waardering vir almal wat in die studio staan en “dub”. Hoor gerus wat sy sê.

S: Die belangrikste vir my as ek ’n stem by die karakter probeer kies, is om na die akteur op die skerm se gesig en veral die mond en kakebeenstruktuur te kyk en dan probeer ek iemand kry wat min of meer dieselfde struktuur het. Die karakter se persoonlikheid, sy “ritme” moet ook in gedagte gehou word. Ek maak ook baie op my instink staat. Dis moeilik om oor alle karakters ’n besluit te neem en dis dan wanneer oudisies gedoen word. Dis baie belangrik om seker te maak dat jou stem en karakter saamwerk. Elke karakter en stem moet as ’nAfrikaanssprekende mens oortuig.

Is die oorklanking ’n moeilike storie omdat dit met die bewegings moet koördineer? 

S: Dis ’n tegniek waar die vertalers, die regisseur en die akteurs almal moet saamwerk. Dis baie belangrik dat die akteur se stem die beweging van die karakter vasvang, anders werk dit nie en lyk dit onnatuurlik. Dit vereis harde werk en konsentrasie van almal. As ’n karakter byvoorbeeld sy hand op ’n tafel klap om ’n woord te benadruk, moet mens seker maak dat die Afrikaanse woord die regte een is wat terselfdertyd op die klap van die hand val. Soms moet mens die Afrikaanse woorde in die ateljee omruil om dit reg te kry, wat heelwat konsentrasie van die akteur verg.

Justin Strydom as Emir (foto: verskaf)

Hoe lank neem dit om ’n episode oor te klank, en is daar ’n streng begroting daarvoor? 

S: Ons werk nie per episode nie; die stemkunstenaar word vir drie uur op ’n slag bespreek. Sou dit langer wees, raak dit moeilik omdat dit baie konsentrasie verg en die akteur moeg word. Ons doen soveel episodes as moontlik in hierdie tydperk. Alles hang maar af van hoeveel lyne die karakter het. Ons probeer om so hard as moontlik te werk. Ek glo daaraan om elke uur ’n breek te neem en vars lug in te asem om ons batterye te herlaai. Daar is ’n streng begroting, dus probeer ons om nie onnodig tyd te mors nie.

Watter bekendes se stemme word gebruik?

M: Zeynep se verwikkelde karakter word sterk deur Ingrid Vraagom weergegee. Nihan word puik deur Zetske van Pletzen vertolk en Renske Jacobs skep Mercan in ’n nuwe sterk vrouekarakter wat later inkom.

S: Richard van der Westhuizen is die speurder Hakan in Bittersoet. Hy is ’n ervare stemkunstenaar en al is hy baie ouer as die karakter, is sy eienskappe baie dieselfde as dié van Hakan en kan hy hom in die karakter se skoene plaas. Ayan word deur Kevin Smith vertolk. Hy is een van my gunstelingkarakters en Kevin se warmte is nommerpas in Ayan se mond.

Justin Strydom glip ook seepglad in Emir se lyf in. Zehir word deur Bradley Olivier “gestem” en kruip so as karakter en stemkunstenaar in mens se hart in. Kemal se donker oë word deur Duncan Johnson ingekleur. Paul Luckhoff het die karakter Baran aangepak en afgerond. Anton Dekker is Mehmet en Gert van Niekerk is Galip.

Charlie Bouguenon as Grcan (foto: verskaf)

Is daar enigiets interessant wat julle dalk nog wil byvoeg? 

M: Sowat 70 persent van die kykers wat hierdie reekse op e tv volg, is swart en die provinsie waarin dit die tweede gewildste is, is KwaZulu-Natal. Die meeste van e-Extra se kykers is bruin, gevolg deur wit en dan Sothosprekende kykers. Die geesdrif waarmee almal hierdie taalprojek omarm, verbly die hart. Daar is sonnige stories uit alle oorde. Sulette het byvoorbeeld na ’n weeshuis uitgereik en van die kinders in groeptonele gebruik, wat blykbaar vir hulle ’n heuglike en stimulerende ervaring was. So ja, dit sê dit gaan goed met die Afrikaanse Turkse stories op alle gebiede.

S: Daar is baie ervare akteurs wat vroeër in die oorklankingsateljees gefloreer het en ek is dankbaar dat hulle bereid is om selfs vir my kleiner karakters te kom inval. Dit bied my dan die geleentheid om ook jonger akteurs in te kry en te begin oplei terwyl hulle die ervare akteurs kan dophou.

Kan ons nog Turkse reeks in die toekoms verwag?

M: O ja beslis! Daar kom nog talle reekse, almal propvol sprokies van onberispelike helde en lieflike vroue, ’n nare stief- of skoonma, ’n wraaksugtige eks of ander soort heks, paddas, kabouters en monsters van mense. Waar ’n opregtheid van gees en suiwer hart alles is. Wat die Turkse stories diepte gee, is die feit dat die meeste karakters beide skadu en lig deur die loop van ’n menigte episodes vertolk. Hulle verander alliansies, kom tot ander insigte en verander van rigting en motivering deur veranderende lewensomstandighede. Ja, daar is ’n magdom kleurryke karakters en intriges wat jou na jou asem laat snak. Solank as wat kykers dit geniet om na die stories te kyk, sal hulle oorgeklank en herskep word. En solank as wat die skeppers met krag en genot skep, sal daar werk wees.

S: Dis beslis die plan. Die Turke is verantwoordelik vir produksies waarop hulle kan trots wees en dit is wonderlik om Afrikaans in die akteurs se monde te kan sit. Ek dink dit werk uitstekend.

Aan Sulette: Jy is ’n aktrise vir wie baie mense onthou. Hoe het jy by oorklanking betrokke geraak? 

Ek was nog altyd baie lief vir stemwerk. In my jonger dae was oorklanking- en radiowerk meer volop. Ek het elke geleentheid aangegryp om met my stem te kon werk.

As jy toneelspeel, is daar grimering en klere om met jou karakter te help, maar met stemwerk moet jou stem die nuanses kan vasvang. Dit het die laaste klompie jare verdwyn, hoewel daar soms hier en daar sprokieskarakters was om oor te klank. Ek is verlede jaar gevra of ek die karakter Ben 10 sal doen en daarna het Stef Albertyn van Overklank my vir die Turkse reekse genader. Nou sit ek heeldag in die ateljee en werk met fantastiese mense, ’n wonderlike klankman en “magic” Afrikaans.

Ek het ook nog my maatskappy waar ek die sakekant en rekeninge behartig, maar ek werk saans nadat my man gaan slaap het en soggens vroeg voor ons begin opneem daaraan. Ek het nou ’n assistent aangestel sodat ek meer aandag aan die oorklanking kan skenk en my vennoot gouer oor sake rakende die maatskappy ingelig kan word.

Oorklankingsregie hou my nogal besig. Ek doen ook gereeld navorsing oor die reekse en akteurs, sowel as voorbereiding vir die volgende dag. Ek is ouskool en doen nog baie papierwerk om dinge vir myself te organiseer. Ek doen ook radiowerk en speel in Leon van Nierop se Hartebrekers. Toneelspeel gaan egter vir eers eenkant bly lê, want ek geniet elke oomblik van die lewe saam met Bittersoet.

’n Nuwe Turkse aksiereeks, Vierspel vuurspel, gaan vanaf 6 April om 21h00 op e-Extra te sien wees. Dit is die eerste Afrikaans-Turkse aksiereek wat e tv gaan uitsaai.

Bykomende bronne: The cxulturetrip.com/asia/turkey/film, www.mexicanist.com › turkish-series 

  • 41

Kommentaar

  • Ek is absoluut mal oor die Turkse sepies. Ek kan nie wag dat dit tyd moet word vir die sepies nie. Die beste sepies ooit. Baie dankie

  • Ek is ook absoluut mal oor die Turkse sepies. “Gebroke harte” is die beste. “Doodsondes” is net so ’n mooi reeks. Gee ons asseblief meer sulke sepies.

  • Ek is ook gaande oor al die Turkse sepies dat ek navorsing gedoen het en moontlike toekomstige reekse wat my baie beïndruk het is dalk "Heartbeat" en "Ambassador's daughter". Gaan voort met die goeie nuus!

  • Uitstekende oorklanking. Ons hou Afrikaans hoog. Die storie is briljant maar ons stemakteurs is tops!

  • Avatar
    Christa-Mari Bentham

    Ons geniet die sepies baie, tans is ons mal oor "Doodsondes"! Kan julle dalk vir ons ook wys wie die Afrikaanse stemme agter die gesigte is?

  • Mal oor Gebroke Harte op Via. Op watter DStv-kanaal kan Vierspel vuurspel gesien word? Groot asseblief.

  • Ek kan nie wag dat Doodsondes en Bittersoet in die aande moet begin nie. Ek hou net niks van Emir in Bittersoet nie. Sien uit na Vierspel/Vuurspel. Gebroke harte en die vreemdeling was net sulke goeie stories. Baie beter as ons sin

  • Kan nie wag vir seisoen 2 van gebroke harte wat op Via uitgesaai word nie, ek is mal oor die vreemdeling wat tans op e-eksra uitgesaai word. Die turkse reekse is net die beste. Doodsondes is net so 'n mooi reeks!

  • Ek het oor die jare nooit enige sepies gekyk nie, maar ek is gaande oor die Turkse sepies, ek mis dit vir niks. Puik werk!

  • Ek kan nie wag dat dit tyd moet word vir die sepies nie. Ek mis dit vir niks nie. Ek is versot op dit. Baie dankie

  • Ek wil graag weet of hulle dalk in die toekoms " Forbidden Love" gaan oorklank en uitsaai. Ek is absoluut mal oor Kivanc (Die vreemdeling) en sal lief om meer van hom te sien.

  • Sover is die verhale UITSTEKEND BRILJANT gekies en die oorklankings maak 40% van die sukses!
    Hierdie Turkse oorklank films lok verseker meer mense na e-tv extra. Dit sluit my en my pa in wat NOOIT e-tv extra gekyk het nie.

  • As ek van die eerste tot voor die laaste episode moet wonder wie is die moordenaar, is die ou regtig ’n skurk en die storie met my kop smokkel, noem ek dit @UIT-DIE-BOEK-UIT! Die oorklankings is baie goed.
    Veral as dit in Afrikaans is, formele Afrikaans. En Cape Afrikaans gemeng, by gesê, want dis realisties.

  • Ek moet sê julle is fantasies: "Bittersoet", "Gebroke harte", "Doodsondes", "Die vreemdeling" en "Vuurspel vierspel". Ek geniet dit. Baie dankie, julle ek wag nounet vir deur dik en dun ... Baie uitstekende werk.

  • Ek het n paar maande gelede eers hierdie turkse reekse begin kyk. Ek wens ek kan bittersoet en Die wiel draai ook nog kyk. Bittersoet was al te ver in sy episodes toe ek Doodsondes begin kyk het. Ek sien ook hulle adverteer op e-extra dat Gebroke harte seisoen 3 op die 20ste Julie begin. Ek kyk nou eers seisoen 2 wat 8:45 vm uitgesaai word. Mal oor Die vreemdeling, Doodsondes, Vierspel Vuurspel, Gebroke harte en nou ook die nuwe Deur dik en dun. Mis hulle vir niks. Uitstekende reekse. Is verslaaf daaraan

  • Sjoe ja, jy het baie gemis. “Bittersoet” en “Gebroke harte” was vanaf seisoen 1 die beste gewees! Veral “Gebroke harte” seisoen een waar een van die belangrikste karakters oorlede is en waaroor baie van die storielyn gaan. Kan nie wag vir “Gebroke harte” nie.

  • Ek is gaande oor die Turkse sepies “Fatmagul” was my gunsteling. “Doodsondes” is net so goed, ek wag inspanning vir seisoen 4 van “Doodsondes”.

  • Baie dankie vir die puik oorgeklankte Turkse reekse. Ek is nie een oomblik spyt dat ek DSTV gegroet het nie!
    Ek was nooit juis n TV verslaafde nie, maar my Turkse stories mis ek vir niks nie. Die kinders weet al ek wil nie gepla word as ek in Turkye kuier nie! 🤭

  • Ek het kennis gemaak met die Turkse stories toe ek “Vreemdeling” begin kyk het. Dit sal altyd my nommer 1 wees. “Bittersoet” die 2de seisoen begin kyk. Ook mooi. “Vierspel vuurspel” is nou my gunsteling. Hulle kan maar vir ons nog baie meer Turkse stories wys. Storielyne baie mooi.

  • Ek wens “Vuurspel/vierspel” kom nooit tot ’n einde nie, ek wat nooit na ’n oorgeklankte reeks gekyk het nie. Ek is ’n verslaafde, lanklaas so ’n uitstekende drama beleef.

  • Ek is versot op vierspel/vuurspel, beter as enige afrikaanse drama, asb moenie ophou om ons turkse dramas te gee nie

  • Ek stem volkome saam met Deidre. Al die Turkse dramas is uit die boonste rakke. Ek kan nie wag dat dit tyd word dat ek kan kyk nie. Moet dit asb nie wegvat nie.

  • Ek stem saam Isabel. Is gaande oor die turkse reekse. Ek sien daar het nou n nuwe een begin, Elif wat net na 6 uitgesaai word.Deur dik en dun is net so n mooi verhaal. Is ook absoluut mal oor vierspel/vuurspel, n lekker spannende verhaal.

  • Ja ek kan nie wag in die aande dat dit moet begin nie. Sit selfoon af dat niemand my kan steur nie. Ek sien hulle sê Bittersoet 3 gaan ook kom.

  • Gebroke harte en Bittersoet is my gunsteling. Ek persoonlik leer baie lesse daaruit. Die vreemdeling was ook goed. Ek volg nou Elife...

  • Ja jy is reg. Ek leer net so baie daaruit. Hulle praat van Bittersoet 3 maar ek weet of daar een kan wees nie. Al twee die hoofkarakters is uit. Ek mis my turkse sepies vir niks in die lewe nie.

  • Elif is al klaar so 'n mooi vehaal en Vrydag was maar episode 5. Dit is nou my nuwe gunsteling. Die Turkse reekse word net mooier en mooier.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top