Oor stories

  • 5

Bettina Wyngaard

“Stories are the style and substance of life. They fashion and fill existence ... Storytelling is a trinitarian act that unites writer, text and reader in a collage of understanding.” Phyllis Trible

Die aanhaling deur Trible veronderstel dat stories geskrewe is. Natuurlik weet ons almal dis maar net een manier van stories vertel. Daar is die om-die-vuur-sit-en-stukke-sny-stories, daar is voordragte, daar is opvoerings, televisie, film, dans, sang. Waar ek wel heelhartig met Trible saamstem, is dat stories lewe gee. Dink maar hoeveel keer ’n fliek of ’n boek die manier hoedat ons na die lewe kyk, beïnvloed.

Stories en die woorde waarmee hulle aanmekaargesit is, fassineer my nog my hele lewe lank. Op een of ander manier was stories vertel nog altyd hoe ek my brood en botter verdien het. In litigasie moes ek my kliënte se stories, hul weergawes, met oortuiging aan die hof en die teenkant oordra. Partykeer was die storie ’n tranetrekker, soms ’n komedie (dink Dumb and Dumber, nie Logan Lucky nie); meesal ’n whodunnit met my kliënt as die antagonis van die verhaal; meer kere as wat ek wil onthou surrealistiese fantasie. Soms kon ek net in verwondering my hande saamslaan oor die onintelligente laagtes waartoe mense kan daal in ’n poging om die gevolge van hul dade te ontkom.

Ook wanneer ek skryf, ongeag of dit fiksie of niefiksie is, is daar die veronderstelling dat die ontvangers van die storie dit lewe gee deur die wyse waarop hulle dit interpreteer. As skeppers van stories vergeet ons soms dat ons maar een deeltjie van die geheel is. Die ontvanger en interpreteerder van die storie speel ’n veel groter rol.

Die mag van stories is dat hulle groepe gevange kan hou. Dink maar aan sepies. Klokslag elke aand skakel mense in om die karakters van hul gunstelingverhaal se wel en wee te volg.

Maak nie saak watter genre nie, mense hou daarvan om die storie van die underdog wat oorkom te hoor. Dis die storie wat ons land nou al ’n week gevange hou. Die Springbokke wat wen, Siya Kolisi se verhaal, die oorwinningstoer waar die beker vertoon word aan skares. Dis meer as net ’n rugbywedstryd wat gewen is. Dis die storie van ’n nasie wat keer op keer terugbaklei en opstaan wanneer almal verwag hulle moet bly lê. Dis die storie van Rocky Balboa, die storie van Sarah Connor (en nou Dani Ramos), die storie van Frodo Baggins. Dis die storie van onwillige helde wat iets groter as hulself sien en daarvoor veg.

Maar dis nie net die storie van fiktiewe karakters wat verwesenlik word nie. Dis die storie van Miriam Makeba, Dollar Brand, Jimmy Dludlu, die Ndlovu-jeugkoor, die storie van Nelson Mandela en Wayde van Niekerk en Cheslin Kolbe. Dis die storie van Diana Ferrus, Marlene le Roux, Ingrid Jones. Dis die storie van die stigter van VannieKaap.

Dis die storie van gewone mense wat buitengewone dinge doen, onder omstandighede waar logika sê sukses maak nie sin nie. Dis die storie van hoop waar wanhoop meer natuurlik sou wees. Dis die storie van opstaan waar bly lê die eerste keuse van baie sou wees.

Dis die storie van Suid-Afrika as ’n nasie. In hierdie week, die sestigste ? [nee – 30ste] herdenking van die val van die Berlynse muur, is dit die storie van Duitsland.

Dis die storie van die geveg vir die behoud van ’n nasie se siel.

Hoekom het die EFF se retoriek rondom die rugby-oorwinning so bitterlik sleg in hul gesigte ontplof? Want in hul diepste wese verstaan hulle nie die menslike gees nie. Hulle verstaan nie dat op sellulêre vlak ons aanmekaargesit is om te oorleef ten spyte van, nie as gevolg van nie. Ons is vegters, ons is survivors. Maar meer as dit, ons is oorwinnaars.

Ons wen deur kompromieë aan te gaan; ons wen deur spasie te maak vir dié wat anders as ons is; ons wen deur diversiteit te verwelkom. Dis hoe die natuur ook is. Opreggeteelde honde is siekliker en het swakhede wat brakke nie het nie. Hoekom? Die brakke behou die beste gedeeltes van al die rasse waaruit hulle saamgestel is. Dis basiese evolusie. Dis Oorlewing 101.

In politieke terme is dit ook hoekom ekstremiste nooit vir baie lank die botoon voer nie. Waar is die Wit Wolwe nou? Ondergronds, nie deel van hoofstroompolitiek nie. Tensy die EFF hulle narratief en hulle politieke agenda verander, is dit waartoe hulle op pad is. Vergetelheid. Mayflies.

Want wat hulle nie verstaan nie, is dat hulle ook besig is om ’n storie te vertel. Een van onverdraagsaamheid, uitsluiting, onderdrukking, onbuigbaarheid, ’n onwilligheid om te erken dat hulle foute maak en dit moet regstel.

Dis ’n storie waarvoor Suid-Afrikaners nie meer aptyt het nie. Die EFF is net te uit voeling met gewone mense om dit te besef.

Die storie waarvoor ons nasie nou uitkyk, is een van versoening, eenheid en verdraagsaamheid.

Hoe jammer dat ons dit wel op die sportgronde kan kry, maar nêrens in die politieke arena nie.

  • 5

Kommentaar

  • Daar was 'n foto op sosiale media van Richard Branson met 'n klomp blankes om hom wat 'n klomp mense redelik ontstig het. Op dieselfde manier sou dit goed gewees het as Bettina 'n witte of twee by haar lysie van storiemakers gevoeg het.

  • Avatar
    Anthony Wilson

    Dankie Betina; soos gewoonlik weer 'n saak om oor na te dink. Wat jy hier sê is NOU vir eers belangrik omdat die taal nou sy offisiële status verloor het en daar mense is wat moedswillig haar WIL sien doodgaan - wat NOOIT gaan gebeur nie omdat haar eskponente so GROOT en BELANRIK is. As jy net na die - soos jy die artikel noem - haar "STORIES" kyk weet jy dat dit daar vir altyd sal wees. Ons moet egter sorg en aanhou skryf sodat ons, die vorige benadeeldes, se stories ook aan die groot klok gehang kan word. Waar PROtagonis en ANTAgonis soos ONS lyk en optree. Vir wie die lewe op 'n ander manier sin en saak maak. Viva Afrikaan ... ALMAL S'N!!!

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Sport is lekker ontvlugting vir 'n rukkie. Dis al wat dit is. Dit is in die politici se belang om die mensdom te verdeel. Dit weet ons tog mos al baie eeue. Divide et impera. Bell Potinger et al.

  • Avatar
    Anthony Wilson

    Dit is so! Dit was wonderlik om vir, al was dit net 80-minute en beseringstyd, van Zuma, Die Guptas, Staatskaping, die ANC en korrupsie te vergeet. Daai inspuiting is nog steeds nie Uhuru of Nirvana nie - maar ons hoop en weet dat dié High gaan 'n rukkie hou!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top