
https://pixabay.com/illustrations/snow-white-fairy-tale-awakening-913740/
I
My niggie Katherien is ’n veteraanweduwee. Sy vat nie nonsens nie en steek haar sigarette met ’n Bic-braailighter aan. Katherien is ’n rype 55 jaar oud – en alreeds 20 jaar ’n weduvrou. Ongeveer ’n jaar gelede het sy weer liefde op die lyf geloop en getrou. En, as deel van die huwelikspakket, ’n stiefkind geërf. “Dis soos ’n totaal ander universum,” sal sy gereeld sug. Want dit is moeilik om te sê wie die minste voorbereid was op dié nuwe opset: Chanél-Marie, Karl se dogter, of my dierbare niggie. Van ouerskap weet Katherien nie veel nie. Sy het wel drie seuns uit ’n eerste huwelik, maar het nooit veel aandag aan hulle gegee nie. “Seuns is soos katte, hulle maak hulself groot,” sal sy droogweg vertel. Haar seuns was van kleins af onafhanklik, ’n eienskap wat hulle in staat gestel het om jare gelede reeds pad te gee uit Mzansi.
Elke tweede naweek is dit Karl se beurt om vir Chanél-Marie te kry. Dan raak hy stil; loop breëbors op en af in die huis en drink bier uit sy Crazy Store-Vadersdagbeker. Maar Chanél-Marie bring áltyd geskenkies saam, daardie heerlike, maar nuttelose kuriogoedjies uit snuffelwinkels wat die hart verbly. En Stiefma bak dan muffins, sommer met die mix wat jy by die supermark koop. Sy is erg verstrooid; vergeet soms om ’n bra aan te trek en sweef klepeltepel in haar uitgewaste T-hemp en denim deur die kombuis. By tye brand die baksel. Chanél-Marie sal kwetter dis héérlik, maar in haar agterkop somme maak hoeveel kalorieë sy moet verbrand om die muffinskade van haar heupe weg te hou.
Maar dit maak nie saak nie, almal probeer. Dít vertel my niggie my alles. En ja, sy sien uit na hulle volgende naweekbeurt.
“Halloooo!” Chanél-Marie wikkel by die deur in, pruilbekkie en self-self-selfiebewus, haar foon soos ’n skild voor haar. “My friends op Instagram moet ook sien waar ek is.”
Foto. Kiek. Nóg een.
“My stiefma is wheeiaard,” sê sy gereeld met ’n bubblegum-aksent. Die handsakkie wat teen haar heup skommel, is gestop met pille, lakseerverseker. Katherien moet die surplus toiletrolle vir die maand wegsteek, anders sien die kanonvoer hul alie. Bulimie is immers ’n geheimsiekte.
Die wilgerlatlyfie buig vooroor. Haar sjoebroekie lig ’n aks hoër en die rafels bedek die tweede boudwangetjie net-net. “En hoe gaan dit met my stiefmaaaa?!” Sy praat nie, sy sing. Haar stem point. Sy slaan haar arms om die verskrikte ouer vrou se nek: “Mwah!” Klapsoen.
Sy trippel weg.
Kom terug: tasse, vanity cases, Woolies-sakke met dieetkos. Sy dartel by die voordeur in met genoeg bagasie vir ’n filmster. Pak die plastieksakke op die kombuistafel uit. Sy eet nie van Katherien en Karl se kos nie. Nee, haar kos is gluten free, lactose free, sugar free, free, free, free.
Is daar enige voedingswaarde in sulke gesondheidskos? sal Stiefma wonder.
Die shrink sê Chanél-Marie moenie so worry oor haar gewig nie, sy’s beautiful. Sy’s immers ’n Instagram-influencer en haar following ken haar vir haar low carbs-kosse.
’n Paar uur later lyk die huis soos ’n oorlogsone. Klam handdoeke, argeloos oor die badrand gegooi; plasse water op die badkamerteëls, ’n deurmekaar bed en ’n spoor van koffiebekers.
Om ’n dogter te hê is vir Katherien ’n skriknuwe ervaring. Sy staar na haar stiefkind soos iets uit reality TV. Sweet sixteen en Derra se kroonprinses. Sy vertel opgewonde van haar iPhone 14 Pro Max en van Bertus, die nuwe boyfriend. Katherien is egter vasberade om die nuwe stiefma-stiefdogter-verhouding te maak werk. Sy sluit aan by ’n Facebook-ondersteunersblad vir stiefmoeders en leer van zoomers en van die spanning tussen Generasie X en Z. Opgewerkte moeders – stiefsusters in verdrukking – kommunikeer met mekaar in die skelettaal van akronieme. ’n Gesinsopset met verskeie variante van stief- en biorolspelers kan gekompliseerd raak. BM = Biological mom. SD = stepdaughter. SS = stepson. EOWE = every other weekend. FH = former husband. HCBM = high-conflict biological mom. B = bitch.
Elke aand skryf Chanél-Marie in haar dagboek. Dis persoonlike stuff en nie bedoel vir sharing nie. Haar dagboek het ’n sleutel en ’n slot, nes die outydse soort.
Liewe Dagboek
Dis weer ekke. Ek was toe die naweek by Paps en Tannie Katherien. Sy’s mos my stiefma. Awkward. Maar Paps is lief vir haar en dit maak my hart bly.
Ons het beurtkrag gehad van tien tot twaalf Saterdagaand. En raai wat? Katherien gaan staan daar in die tuin en begin om ’n sigaret te slowboat. Ja, Dagboek, ek jok nie! Sy vra toe vir my of ek ook ’n trek wil hê.
Ek sê toe ja, maar ek het my longe uitgehoes! Ons het vreeslik gegiggel, alles was hilariously funny. Daai gebrande muffins van haar was skielik die lekkerste munchies (jy weet mos, Dagboek, ek hoef nie uit te spel wat daai groen twak alles aan jou doen nie).
Toe die krag aangaan, het ek haar naels vir haar geverf. Sy was mal oor die kobaltblou gel-polish. Eintlik is my stiefma baie cool.
Dis al vir vandag, Dagboek. Ek skryf môre weer.
Groete
Ekke.
II.
..........
Stiefma’s het nie ’n kans nie. Wel, nie regtig nie. Die woord “stief” dra reeds ’n ingeboude vooroordeel. Dit is pejoratief. Volgens die HAT beteken “stief” in die eerste plek persone wat verwant is, nie deur bloedverwantskap nie, maar weens ’n later huwelik van die vader of die moeder. Die tweede betekenis dui op “onvriendelik; sleg; hardvogtig; suinig, onsimpatiek; ongunstig”. Om ’n stiefma te wees, kom met ’n default setting.
.............
Stiefma’s het nie ’n kans nie. Wel, nie regtig nie. Die woord “stief” dra reeds ’n ingeboude vooroordeel. Dit is pejoratief. Volgens die HAT beteken “stief” in die eerste plek persone wat verwant is, nie deur bloedverwantskap nie, maar weens ’n later huwelik van die vader of die moeder. Die tweede betekenis dui op “onvriendelik; sleg; hardvogtig; suinig, onsimpatiek; ongunstig”. Om ’n stiefma te wees, kom met ’n default setting.
Dit is tóg interessant dat in ons huidige zeitgeist, waarin wokeness hoogty vier en benadeelde of minderheidsgroepe verwoed om hulle regte veg, daar ’n paar gemarginaliseerde groepe is wat net doodeenvoudig swyg. En stiefma’s is een van hulle. Verál stiefma’s. Want as mens na die geskiedenis van stiefouers en -sibbe kyk, is die mees gedokumenteerde stiefverhouding dié tussen stiefma en -dogter.
Nou: Waar kom die “stief” in “stiefma” vandaan? Soos mens kan raai, spruit hierdie woord uit sprokies. In sprokiesterme verteenwoordig die stiefma ’n magdom bose eienskappe: jaloesie, bitterheid, haat, gulsigheid, uitgeslapenheid, narsisme en bonatuurlike magte. Die beskouing van die wrede stiefma is byvoorbeeld goed verteenwoordig in Aschenputtel (Aspoestertjie), Schneeweißchen (Sneeuwitjie) en Hänsel und Gretel (Hansie en Grietjie), soos opgeneem in die Grimm-broers se 1812-versameling, Grimms’ Fairy Tales. Alhoewel hierdie sprokies se spore reeds in antieke volkskuns sigbaar was en daar verskeie kultuur- en taalvariante van sprokies mog bestaan, dui die Grimm-broers as ’n goeie verwysingspunt vir die moderne sprokie. Die konsep van ’n hartelose stiefma word verder aangeblaas deur Hollywood-films. Trouens, die argetipe van die wrede stiefma het wêreldwyd reeds volksbesit geraak, en in fiksie en sepies word hierdie gehate en gevreesde antagonis by herhaling aan kykers en lesers opgedis.
Maar waarom, kan mens tereg vra, word ’n stiefma so negatief uitgebeeld?
..........
Daar ís goeie en dierbare stiefma’s. Maar volgens kenners verteenwoordig die stiefma die negatiewe eienskappe van vrouwees: Sy slaan munt uit die selfbejammerende fasette van die psige, en sy mishandel weerlose kinders. Want in wese is die stiefma onseker en ding sy met haar stiefkinders mee om haar man se guns vir reserwes soos liefde, mag en geld.
............
Daar ís goeie en dierbare stiefma’s. Maar volgens kenners verteenwoordig die stiefma die negatiewe eienskappe van vrouwees: Sy slaan munt uit die selfbejammerende fasette van die psige, en sy mishandel weerlose kinders. Want in wese is die stiefma onseker en ding sy met haar stiefkinders mee om haar man se guns vir reserwes soos liefde, mag en geld. Hierdie situasie word natuurlik geïntensiveer met die polêre spanning tussen stiefma en stiefdogter. Die wrede, argetipiese stiefma sal haar biologiese dogters voortrek en op die hande dra, ten koste van die stiefdogter(s). Die stiefma is ’n skadu-argetipe en ’n simbool van skeiding: Sy verteenwoordig ’n breuk in die psige, ’n figuurlike geestesfraktuur wat moeilik herintegreer kan word. Mens kan die stiefma Jungiaans bekyk, of die meer populêre beskouing van Eckhart Tolle as lens gebruik. Tolle beskryf die pynliggaam as die onsigbare emosionele pyn wat deur die verloop van ’n lewe kulmineer. Die pynliggaam is ’n produk van die ego: Dit onthou alle swaarkry en dit parasiteer op negatiewe emosies soos vrees, haat, mismoedigheid of die skep van konflik en drama. Hoe meer konflik mens jou pynliggaam gee, hoe meer wil dit daarvan hê. Wanneer die pynliggaam in beheer van jou lewe is, word jy óf ’n slagoffer óf ’n oortreder – jy sal pyn aan jouself of aan ander toedien. Die meeste mense se pynliggame bly dormant. Maar ’n stiefmoeder kom met bagasie saam: Sy is beskadig (damaged goods) wanneer sy ’n volgende huwelik betree. Sy is waarskynlik deur die pyn van ’n egskeiding of die dood van haar gade, en nou bevind sy haar in ’n ongemaklike of ambivalente verhouding met ’n ander man se kinders vir wie sy ma moet wees.
Google jy die woord “stiefma”, dan rys jou hare oor boektitels wat opkom. My wellustige stiefma. My stiefma was ’n sangoma. En lees jy verder, vang jou oog die talle berigte waarin die woord “moord” in die soekkombinasies met “stief-” voorkom. Hier het ons te doen met griefma’s. Daar is die koafhanklikheid in ’n gewelddadige gesinsopset, soos die moord op die sesjarige Arthur Labinjo-Hughes in Engeland in 2020. Die seuntjie is deur sy pa en stiefma vermoor – die doodsoorsaak was breinbeserings en soutvergiftiging.
Maar die stiefma was nie altyd die gerieflike weerligafleier vir die sondes van die bioma’s nie. In die oorspronklike Sneeuwitjie-verhaal, soos vervat in die Grimm-broers se 1812-versameling (geskryf vir volwasse lesers, nie kinders nie), was die bose koningin aanvanklik Sneeuwitjie se biologiese moeder. Op soortgelyke wyse was dit in vroeëre weergawes van Hansie en Grietjie hulle biologiese ma wat haar kinders in ’n bos gooi omdat sy hulle nie kan voed nie. Toe die Grimm-broers hierdie sprokies vir kinderlesers moes redigeer, is die wrede bioma’s uiteraard vervang met dié van bose stiefmoeders. Sneeuwitjie se kinderweergawe is in 1819 verander, terwyl Hansie en Grietjie se stiefma in die 1840-weergawe bygevoeg is. Die reinheid en waardigheid van die moeder(beeld) moet teen elke prys gepreserveer word – en dít is nie ’n vreemde beskouing nie. Dink byvoorbeeld aan patriotiese moederskap, of die heiligheid van die Maagd Maria, of die beeld van die hardwerkende, teer en selfopofferende moeder wat in die oë van die samelewing onbevlek moet bly. Die Grimm-broers wou waarskynlik nié dat kinders dink aan bioma’s as griefma’s nie, en hulle is vervang met stiefma’s, die sondebokke – vroue wat nie vertrou word nie, die vreemdelinge en die indringermoeders van ’n huishouding.
’n Volgende interessante gewaarwording: In talle sprokies is die bose stiefma’s die vroue met mag; die heldinne met die suiwer morele kompas is dié wat konformeer. Hulle daag nie die patriargie uit nie. Hulle word gered deur prinse. Hulle verteenwoordig die “damsel in distress”-beginsel. Die wrede stiefma’s, aan die ander kant van die kontinuum, laat dinge gebeur. Hulle verteenwoordig die patriargie se Ander. Onder “normale” omstandighede sou hulle as sterk, selfgeldende vroue bejeën kon word – en selfs as talentvol, as jy die bose koningin in Sneeuwitjie se optrede van nader beskou. Laat ek nou duiwelsadvokaat speel: Die gifkam en -appel ís vindingryk en die koningin se rollespel as smous en boervrou getuig van talent. Maar, as ’n vrou met mag nie konformeer met die vaderregtelike orde nie, word sy geklassifiseer as boos. Die ironie vandag is dat stiefma’s oor geen mag soos in sprokies beskik nie. Om stiefkinders groot te maak is gewis nie ’n maklike taak nie – en stiefma’s is kwesbaar as “tweederangse” of “vals” moeders. Die negatiewe stereotipering à la sprokies en ander literatuur loop ongelukkig hulle reputasie (voortydig) vooruit.
............
Die probleem met sprokies is egter dat dit simplisties is. Ons sal seker nooit die vreugde en verrukking vergeet toe ons as kind vir die eerste maal sprokies gehoor of gelees het nie: daardie duidelik omlynde helde en heldinne, helpers, towenaars, bose stiefma’s en hekse, ens.
.............
Die probleem met sprokies is egter dat dit simplisties is. Ons sal seker nooit die vreugde en verrukking vergeet toe ons as kind vir die eerste maal sprokies gehoor of gelees het nie: daardie duidelik omlynde helde en heldinne, helpers, towenaars, bose stiefma’s en hekse, ens. Sprokiesverhale resoneer met ons begeerte om mense in kategorieë te plaas (goed of sleg), maar sprokies wek nie empatie by die leser nie; nóg minder werp dit lig op die menslike toestand. Kinders identifiseer maklik met ’n dapper ridder of prins, die beeldskone prinses … maar nooit met die bose karakters nie. En ja, ons is bly wanneer Aspoestertjie se stiefsusters se oë uitgepik word, want uiteindelik kry hulle wat hulle verdien; die sprokie het voorwaar ’n gelukkige einde!
Ons leef egter nie in die eenvoudige, swart-en-wit milieu van sprokies nie, maar in ’n deurmekaar wêreld, bevolk met onvolmaakte mense. Ons moet begrip aanleer vir mekaar se tekortkominge. Verdraagsaamheid.


Kommentaar
Fantasties geskryf, Nini! Ons leef inderdaad in 'n deurmekaar wêreld waar verdraagsaamheid die enigste genade is.
Interessant… ek soek nog altyd na 'n beter beskrywing vir stiefma!