Oor Patrick J Petersen | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

  • 0

Dit is vir my ’n besonderse eer om hier op Cradock te wees en oor Patrick James Petersen te praat.[1] 

Vanjaar sou sy 72ste jaar gewees het. Hy sterf voortydig op Saterdag 7 Junie 1997 in ’n motorongeluk op die Paternoster-Vredenburg-pad. Die hoekoms en waaroms kan slegs spekulasie wees. Dit was ’n koue, reënerige nag op ’n bedrieglike grondpad. Sover ons weet, was hy alleen in die motor en niemand anders was in die ongeluk betrokke nie. Dit was ’n maand voor sy 46ste verjaardag. Die daaropvolgende Saterdag is hy onder blyke van baie groot belangstelling te ruste gelê.

Patrick was ’n aardse mens wat nie veel vattigheid aan pretensie gehad het nie, en geveinsdheid kon hy nie verdra nie. In sy laaste stukkie openbare kommentaar is hy uitgevra oor die gebruik van skeldtaal in ’n skildery tydens die 1997-KKNK. Hy antwoord soos volg: “Hoekom sal die Afrikaner hom skielik so hoog opgee oor die taalgebruik as amper elke derde woord wat hy gebruik tog ’n vloekwoord is? ... [M]ense moenie dink die profete het net heilige taal gebruik nie en hulle moenie die profete heiliger maak as wat hulle in die Ou Testament was nie. Boonop was die dissipels tog self vissers ... en as Weskus-mens weet ek watter taal vissermanne gebruik.”[2] Dit is hierdie soort uitspraak wat tekenend was van sy preke, sy openbare uitsprake en veral sy poësie.

Dit is meer as 26 jaar na sy dood en ek wil u herinner aan enkele besonderhede van sy lewensloop, sy verbondenheid aan politieke vryheid, sy gewilligheid om sy moue op te rol en ’n betekenisvolle rol te speel in die uitgee van poësie, en die tematiese en talige verskeidenheid van sy digterskap. Hierdie is slegs enkele aspekte gebaseer op ’n essay wat ek ingesluit het in die bundel Ons het [...] ver versit waarin Petersen se gedigte versamel is.[3]

I

Die kort opgaaf van sy lewensloop is bekend. Patrick Petersen is op 6 Julie 1951 op Wolseley gebore, die oudste van agt kinders van Pieter en Sarah. Hy begin sy skoolloopbaan by WF Loots Primêre Skool op die dorp. Na standerd 6 sit hy dit voort aan Hoërskool Bergrivier op Wellington, waar hy in 1969 matrikuleer. In 1975 voltooi hy sy teologiese studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Hy dien agtereenvolgens in verskeie NG Sending-gemeentes as leraar in Oudtshoorn, daarna Daniëlskuil en Lime Acres in Griekwaland-Wes en terug na Oudtshoorn. Sy laaste standplaas was Louwville, Vredenburg aan die Kaapse Weskus.

Hy was bekend as ’n ondernemende predikant en ’n anti-apartheid gemeenskapsaktivis. Van sy ouer gemeentelede onthou hom vandag nog as “’n baie netjiese, baie presiese mens” en “’n formidabele man met ’n aura wat hom omring het”.[4] Vir hulle het sy diep baritonstem gewig gedra. As pastor was hy “pligsgetrou” en “’n uitstekende prediker”. Hy self het prediking as een van sy sterk punte beskou. Van sy gemeentelede onthou dat “wanneer jy na ’n boodskap van hom geluister het, dan het jy dit onthou”. Sy eredienste was “lewendige” geleenthede en hulle onthou dat hy by tye “nat gesweet” van die kansel afgekom het.

Sy eerste gedigte verskyn in verskeie literêre, kerk- en onderwystydskrifte.[5] Hy publiseer drie digbundels en van sy gedigte is opgeneem in die versamelbundels Aankoms uit die skemer (1988), Optog (1990) en Ons kom van ver af (1995). Later sou sy werk ook in bekende Afrikaanse en Nederlandse bloemlesings opgeneem word. In 1995 behaal hy sy MTh-graad aan die UWK met onder meer ’n miniskripsie getiteld “Etiek van luister — ’n analise van swart Afrikaanse poësie in die jare sewentig en daarna”.

II

Die poësie van Patrick J Petersen moet mens teen die agtergrond van die 1970’s en 1980’s lees. Vir Afrikaanse skrywers wat destyds nie as “blankes” geklassifiseer was nie, was die dekades van 1960’s en 1970’s ’n tydvak van stilte. Na Lionel Sheldon (1927–1997) se debuut. Weeklaag van die wese, in 1960 was daar geen verdere debuut tot Julian de Wette se Die koning in die buiteland in 1977 nie. Die redes vir hierdie publikasiedroogte is nie duidelik nie, want soos die onlangse versameling van die nagelate gedigte van Victor Wessels (Testimony / Hoekom skryf ek Afrikaans?, 2022) aantoon, was daar ter plaatse letterkundige bedrywigheid en publikasie in tydskrifte.

Wat wel duidelik is, is dat die implementering van apartheid veral in onderwysgeledere verreikende gevolge gehad het. Vir tientalle onderwysers was die invoer van onder meer die Departement Kleurlingsake en “Kleurlingonderwys” deurslaggewend vir hulle keuses om landuit te wyk.[6] Onder diegene was daar Afrikaanse onderwysers soos die bekende PJ Philander en die dramaturg Paul Roubaix (skuilnaam van Isaac Pfaff) en jonger Afrikaanssprekendes wat hulle mettertyd in die buiteland bevind het, soos Archie Crail, Vernon February en Ian Wiltshire. Hoewel spekulatief, moet aangestip word dat die talle opgeleide Afrikaanssprekende onderwysers wat die land rondom die 1960’s en 1970’s verlaat het, ook ’n verlies vir die voortsetting van Afrikaanse letterkunde onder die niewit deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap meegebring het. Hierdie feit is belangrik, omdat dit uit hierdie sfeer is dat Afrikaanse skryfwerk voortgebring is.

Op makropolitieke terrein beleef die land toenemende spanning, die invoer van sensuur, die toenemende implementering van apartheidswetgewing en die totale strategie met duisende wit jongmans wat opgeroep word om volk en land te verdedig. In reaksie is daar verhoogde verset, selfs gewelddadige verset, daarteen. U ken die hoogtepunte van die tydvak: Sharpeville; die aanvalle van Poqo en uMkhonto we Sizwe, die verbanning van politieke partye; die verhore van talle aktiviste, onder meer Neville Alexander en sy geesgenote, Breyten Breytenbach en Saso; die dood van duisende in townships en in aanhouding in polisieselle, onder meer Imam Haron, Steve Biko en Neil Aggett, of die sluipmoorde in die buiteland soos dié op Dulcie September. En dan Soweto 1976 wat die keerpunt word vir die aftakeling van die ou bestel.

Die Nasionale Party se beleid lei onder meer tot die reservering en oprigting van aparte onderwysinstansies, waaronder UWK. Op swart kampusse, waaronder die UWK, het Black Consciousness, Swartbewustheid, die toonaangewende denkstroom onder studente geword. ’n Hele generasie het dié denke-oriëntasie as bevrydend beleef. Petersen sê dat hy van “’n skaam mens” in “’n ander mens” verander het. In sy woorde: “Deur Black Consciousness het ek van ’n skaam mens – teruggetrokke oor hare en velkleur – eenvoudig ’n ander mens geword.”[7] Die ontdekking van eiewaarde en die bewuste afwerp van minderwaardigheid het na sy werk as predikant en digter deurgesyfer: “Dit was ’n belangrike verskuiwing. Hierdie gevoelens kon ek ook deurgetrek het na my gedigte. Ek kon my swartwees en die politiek prominent in my gedigte laat staan.”[8]

Vir Petersen het sy digterskap ’n duidelike funksie: Swart Afrikaanse poësie is ’n “boodskapdraer van die mense”, want in Suid-Afrika is “niks” neutraal nie, daarom kan “niemand in Suid-Afrika [...] neutraal skryf nie”. Sy poësie sien hy as “’n krag van Afrika tot bevryding” en “in hierdie sin behoort die mag aan ons” – ’n letterlike omskrywing van die politieke slagspreuk “amandla ngawethu” (“die mag aan ons”).[9] Sy “werkgereedskap”, reken hy, “kom uit die geledere van die vegtende stem waar swart nie ’n duplikaat van wit is nie”.[10] Sy ingesteldheid tot vryheid en bevryding het ook die wyse waarop Afrikaans gebruik kon word, beïnvloed. Die ingesteldheid is deurlopend in sy oeuvre teenwoordig.

III

Hierdie aanhalings kom uit die voorwoord van amandla ngawethu wat onafhanklik enkele maande ná die eerste Swart Afrikaanse Skrywersimposium in September 1985 uitgegee is. Selfhandhawing, ’n grondbeginsel van Black Consciousness, lei daartoe dat Petersen later deelagtig word aan die oprigting van Prog-uitgewers op 5 Desember 1987 op St Helenabaai. Hy en sy mededigters, onder meer Eugene Beukes en Floris A Brown, het, in sy eie woorde, “[d]ie bundels ... met [ons] eie geld gedruk. Dit was ons beleggings, ons spaarboekies. Want ons het vas geglo in die saak. Ons wou swart Afrikaanse skryfwerk bevorder.”[11] Tydens die tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium in 1995 sê hy: “Dit is mos so dat die produksiekanale en almal wat in beheer is van die finansiële instellings wat aan die einde van die dag ’n manuskrip finansier, geneig is om wit Afrikaanse skrywers te bevoordeel.”[12]

Uiteindelik sou hy al sy werk, sowel as dié van verskeie ander digters, uitgee.[13] Naas amandla ngawethu publiseer hy Advent (1988) en Vergenoeg (1993). Hy publiseer ook die debuutbundel van Coenie J Hollenbach, Gister se gestaltes (1988), en die versamelbundels Aankoms uit die skemer (1988) en Ons kom van ver af (1995). Hy redigeer met Willie Adams (1951–2012) en Leonard Koza (1941–2010) die versamelbundel Optog (1990) wat Adams se uitgewery, Domestica, uitgee. Die eerste vlaag van swart Afrikaanse skryfwerk ná die publikasiestilte van die 1960’s moes dus hoofsaaklik staatmaak op selfpublikasie, wat waarskynlik die voortgesette ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde aan bande gelê het.

IV

Petersen moes hom dikwels verweer teen kritiek op die politieke laag in sy poësie – die poësie is “té direk”, “té prosaïes”. Hy het nie daarvan geskram nie. Op die agterplat van sy debuut stel hy dit so: “Die gedigte in hierdie bundel kan nuttig gebruik word deur die swart leser by protesoptogte, begrafnisse en vergaderings in die stryd teen apartheid.” Ons moet onthou dat Petersen destyds inskryf téén ’n perspektief waarin Afrikaans as “die taal van die verdrukker” beskou is. As Afrikaanse digter wou hy op die uitsluiting van die onderklasse fokus. In dié opsig was sy taal die taal van strydendes, die taal van verset en bevryding. Sy poësie, het hy volgehou, is “vir gewone mense – sodat mense hulle lewe kon herwaardeer en kon veg teen alle strukture wat hulle tot onmens wil maak”.[14]

In sy oeuvre is daar gedigte oor maatskaplike ondergesteldheid en sosiopolitieke bevryding, gedigte oor industriële werkers, vissers en plaasarbeiders, en die rol van vroue in die samelewing. Maar strydvaardigheid is nie die enigste invalshoek vir sy poësie nie. Sy poëtika is omvattender. Daar is ook intens persoonlike gedigte oor wroeginge met die liefde of private angste; dié oor worstelinge met die Kerk, die kerklike amp en die Opperwese; dié oor sport en spel; gedigte wat speels-humoristies aandoen; en dié waarin taal- en klankspel en eksperimentering voorop staan.

Toe Patrick J Petersen op daardie noodlottige wintersnag die lewe gelaat het, is sy poësie-oeuvre afgesluit. Watter paaie sy poësie in ’n latere leeftyd sou gevolg het, kan slegs geraai word. In die uitgawe van Groot verseboek wat deur André P Brink saamgestel is, word 17 van sy gedigte uit sy eerste drie bundels opgeneem. Dit is ’n klinkklare aanduiding dat Petersen na sy dood as ’n toonaangewende digter gereken word en inderdaad in die kanon opgeneem is.

Petersen was konstant by die ontwikkelinge en tendense van die dag betrokke, ook ten opsigte van debatte oor politieke uitsluiting en die versplintering van swart eenheid, waarvan daar reeds ritselinge in sy laaste gepubliseerde gedig, “ons kom van ver af” waarneembaar is. In die betreklik kort tyd wat hy as Afrikaanse digter en uitgewer aktief was, het hy ’n spoor nagelaat waarin die hunkering na politieke vryheid, die stryd teen verontmensliking, die ywer vir gelykberegtiging en poësie as ’n veelduidige ambag deurlopend nagespeur kan word.

Notas:

[1] ’n Voordrag aangebied tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée, Cradock, 22 September 2023. My hartlike dank aan die organiseerders vir die uitnodiging, met name Darryl David, Izak de Vries, Etienne van Heerden en Menán van Heerden.

[2] Korrespondent, “Daar is erger woorde as dié, sê leraar oor skilder.” Beeld, 4 April 1997, bl 3.

[3] Vergelyk “So onthou ons Patrick Petersen”, Hein Willemse, https://www.youtube.com/watch?v=Hi0dzdupG8w.

[4] Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, SBA stories. Weskus struggle stories. Ds Patrick Petersen. (Video-opname). GP: SBA, 2018.

[5] Melvin Whitebooi, “Só kan ‘gammat-taal’ weer blom”; Willem Fransman jr. “‘Sondagdigter’ en swart Afrikaanse skrywers,” Netwerk24, 8 Julie 2019. https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/n-sondagdigter-en-swart-afrikaanse-skrywers-20190705.

[6] Tienie du Preez, My “reluctant” journey from Benoni tot Canada: Extracts from “A long letter”. Cecil H Morden en Marilyn E Morden, Reiger Park – Home to many / ’n Tuiste. Wilderness: Abrile Doman, 2022, ble 167–8.

[7] Patrick Petersen en Hein Willemse, “Digter van ’n bevryde Afrikaans.” Karring, 2 (1991), bl 20.

[8] Petersen en Willemse, bl 20.

[9] Patrick J Petersen, amandla ngawethu, Genadendal: Morawiese Drukkery, 1985, inleiding. Kyk ook Patrick James Petersen, “Etiek van luister: ’n analise van swart Afrikaanse poësie in die jare sewentig en daarna”. MTh-miniskripsie. Universiteit van Wes-Kaapland, 1995, ble 13–14.

[10] Petersen, amandla ngawethu.

[11] Hans Ester, Land onder die Suidersterre. Opstellen, voordrachten, gesprekken en recensies over de Zuid-Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut, 1993, bl 283.

[12] Patrick J Petersen, “Die ongelyke magsverhoudinge in die Afrikaanse letterkunde”. In Hein Willemse ea, Die reis na Paternoster. Bellville: UWK, 1997, bl 37.

[13] Ester, bl 283.

[14] Petersen en Willemse, bl 20.

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Dagbreek Trust

Die Tuishuise en Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Amazwi

NB Uitgewers/NB Publishers

Penguin Random House

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top