...
Die meeste werksplekke vra vrae oor ’n misdaadrekord. In hierdie werksmark, waar daar ’n ooraanbod aan werkers is, word ’n misdaadrekord baie maklik ’n rede om ’n kandidaat af te keur. Is dit dan enigsins ’n verrassing dat soveel gevonnisdes terugkeer na ’n lewe van misdaad wanneer hulle integrasie in die samelewing moeilik is?
...
“Ek hou van Kain omdat ek gereeld mense ontmoet wat ook met ’n Kainsmerk rondloop: #enkelma #dwelmverslaafde #dronkgat #vetsak #egbreker ... die lys is lank. My gebed is dat jy uit my verhaal krag sal put om die klippe waarmee jy gestenig is te gebruik om ’n altaar te bou. Onthou, jy is nie wat mense van jou sê nie. Jy is nie jou verlede nie. Jy is ’n kind van God.”
Hierdie is Stefaans Coetzee se Facebook-plasing waarmee hy die Woordfees-gesprek waaraan ek en hy in Oktober deelneem, adverteer. Bomplanter. Dis die Kainsmerk waarmee hy rondloop, en waarmee sy gesprek ook geadverteer word. Die bekende boekresensent Jonathan Amid het tereg beswaar gemaak teen dié etiket, want soos Coetzee self ook sê, hy is nie sy verlede nie.
Maar wat gebeur as daar geld te make is uit ’n Kainsmerk? Of as dit gebruik word om jou van geleenthede te ontneem?
Niemand het hulle gesteur aan Amid se beswaar en sy versoek dat die woord bomplanter uit die beskrywing weggeneem moet word nie. Wie ook al die Woordfees se Facebook-blad hanteer, het ongeërg gesê dis wat die uitgewer gebruik, en in elk geval het Stefaans geen beswaar gemaak nie. Anders gestel, “Shut up, Jonathan Amid, bly in jou eie laan.”
Ek weet nie of Coetzee genader was om finale goedkeuring te gee oor die beskrywing van sy event nie. Tipies sou dit nie gebeur nie. Ek weet voorts ook nie of hy die Kainsmerk maar aanvaar as deel van die prys wat hy moet betaal as boetedoening nie. Dis beslis ’n vraag wat ek tydens die gesprek sal vra.
Die vraag waarmee ek sit, en waarop Amid sy vinger geplaas het, is dit: Hoe regverdig is die etikette wat ons soms om mense se nekke hang? Hoe lank en hoe swaar moet mense dra voordat hulle loskom van die etiket? Kom hulle ooit los, of word dit deel van hul identiteit, ten goede of ten slegte?
Vir mense wat aan ’n kriminele oortreding skuldig bevind is, is dit ’n swaard wat nog lank oor hulle hang, saam met “tronkvoël”. Dis ’n etiket wat hulle geleenthede ontneem.
Die gevierde skrywer Ivor Swartz het byvoorbeeld ’n ruk gelede op Facebook vertel dat hy ’n geleentheid om oorsee aan ’n kongres of iets te gaan deelneem, van die hand moes wys. Mense met ’n kriminele rekord kry nie paspoorte nie, maak nie saak of jy gerehabiliteer is nie, maak nie saak of jy jou vonnis uitgedien het nie. Al wat saak maak, is daai blokkie waar jy moet aandui of jy al aan enige misdaad skuldig bevind is.
Dis ’n blokkie wat ek nog elke keer op elke visumaansoek en elke paspoorthernuwing ingevul het sonder om eens te dink oor die verreikende gevolge vir iemand wat nie, soos ek, “nee” kan aftik nie. Na Ivor se plasing is ek baie meer bewus van die maniere waarop mense aannames maak gegrond op beperkte en beperkende inligting.
Baie persone wat uit gevangenisse ontslaan word, sukkel om aan te pas in die gemeenskap. Van ’n erg geregimenteerde lewe, wat soms oor jare strek, waar elke besluit vir hulle geneem was, moet hulle nou aanpas in ’n samelewing waar hulle moet sink of swem.
Die meeste werksplekke vra vrae oor ’n misdaadrekord. In hierdie werksmark, waar daar ’n ooraanbod aan werkers is, word ’n misdaadrekord baie maklik ’n rede om ’n kandidaat af te keur. Is dit dan enigsins ’n verrassing dat soveel gevonnisdes terugkeer na ’n lewe van misdaad wanneer hulle integrasie in die samelewing moeilik is? Is ons verbaas wanneer mense rapporteer dat hulle met erge depressie sukkel?
Dis so maklik om klippe op te tel en te gooi. Sommiges, soos Coetzee en Swartz, gebruik daai klippe om altare te bou. Maar wat van die ander, dié wat knak onder die gewig van die klippe waarmee hulle gegooi word, saam met die gewig van hul skuldgevoelens?
En wat van dié wat, soms met die beste bedoeling in die wêreld, daai etiket gebruik vir winsbejag? Natuurlik hoop ons vir volgepakte sale by boekgesprekke. Natuurlik hoop ons dat boeke van die rakke sal vlieg. Maar wanneer die koste bereken word, is daar ’n lyn-item vir Kainsmerke?
Word daar ’n oordeel gevel oor die regverdigheid daarvan om ’n persoon vir die res van sy lewe te brandmerk weens een lewensingrypende daad, een lewensingrypende besluit?
Ek het nie op die Facebook-plasing gereageer nie, bloot omdat enige bespreking op sosiale media noodwendig aan nuanse ontbreek. Ek meen egter dat Amid heeltemal korrek is om sy ongemak te verwoord.
Ons is almal ons broer se hoeder, en net omdat ’n persoon nie direk betrokke is nie, beteken dit nie hulle ongemak kan afgemaak word nie.
***
Stefaans Coetzee en Bettina Wyngaard gesels op Woensdag 11 Oktober 2023 om 09:30 by die Toyota US Woordfees.



Kommentaar
Interessante artikel! Dink ook nie dit is gepas om mense wat hulle vonnisse uitgedien het nog langer as 'misdadiger', 'moordenaar', 'bomplanter', 'bendelid', ensovoorts te ettiketeer nie. Miskien word dit so gedoen vir bemarkingsdoeleindes, maar dan kan dit tog sekerlik meer smaakvol gedoen word, dalk iets soos 'gerehabiliteerde misdadiger', of so iets.
Maar die verlede verdwyn nooit heeltemal nie; 15-jarige seuns is onlangs gestraf weens die onregverdighede van apartheid omdat hulle afrigter en bestuur nie by die reëls van die kompetisie gehou het nie en te min swart spelers gekies was vir die span se rugbywedstryd.
In ons wêreld word mense voortdurend gestraf vir onregte van die verlede, terwyl onregte van die hede heeltemal oorgesien word. Die Zondo-ondersoek na staatskaping is die klassieke voorbeeld daarvan.