Geeneen van God se wette het in ongeldigheid verval, soos die selferkende gewoontesondaar beweer nie – en dié sondaar is nie die enigste wat só beweer, nie.
Die Sabbatswette beslis ook, nie. Sommige van die ander wette, soos byvoorbeeld reinheid en gesondheidswette soos die menstruasie reëling, was vir bepaalde redes ingestel in die antieke gemeenskap om nie net reinheid nie, maar ook gesondheidsrisikos te voorkom. Dit is nie ongeldige wette, nie. Mense wat vandag onhigiënies lewe, ly steeds die gevolge daarvan. Menstruele vloeistof, byvoorbeeld, verander baie vinnig buite die liggaam in ’n broeiplek vir allerlei skadelike bakterieë wat ernstige gesondheidsrisikos weens blootstelling kan veroorsaak, omdat dit, gesondheidsgewyse, in dieselfde klas ressorteer as ontlasting en urinering (Lees en voed julself op) en dus ’n besmettingsrisiko kan skep, waarvan hepatitis maar een is en gee ook aanleiding tot meer seksueel oordraagbare infeksies, soos chlamydia. Skadelike insekte sak ook daarop toe en so is daar al jong meisies in landelike gebiede dood vanweë ernstige besmetting (die wet is al vir die Israeliete in die woestyn voorgeskrywe) - God weet egter al hierdie dinge en alles meer daaromtrent, al van die begin af en het duisende jare gelede reeds die higiënereëls daaromtrent kort en kragtig neergelê. Daarbenewens is die menstruasie reëling ook ingestel om die integriteit van die vrou te beskerm – dit is die tyd van ’n maand waar meeste normale vroue hulle intieme privaatheid baie hoog aanslaan en is ook spiritueel van belang, omdat dit ’n tyd is waar die onbevrugte eiersel uitgeskei word uit die vroulike liggaam en manlike semen nie daarmee vermeng moet word, nie.
Dus, die man of vrou wat ’n pleidooi lewer vir seksuele aktiwiteit gedurende daardie tyd, doen ’n kru en walglike ding.
Só is daar ook, byvoorbeeld, landboukundige regulasies. Die Woord leer dat twee verskillende soorte saad nie in een bedding gesaai moet word, nie, of vreemde saad saam met ’n wingerd saai, nie (Levitikus 19:19; Deuteronomium 22:9). Enige landboukundige sal beaam dat soiets nie werkbaar is, nie. Dieselfde met suiwer natuurlik vesels, soos suiwer wol en suiwer linne, wat nie suksesvol vermeng kan word, nie.
Maar die gewoontesondaars verstaan uiteraard nie die Woord óf Wet van God, nie en dan borrel dit sommer net uit van snert daaromtrent.
As mens so na die sêgoed van die sondaar wat die snert geskrywe het, kyk, dan sien mens dat hulle eintlik hulself verlustig in hul sondigheid.
Dit is natuurlik nie hoe dit moet wees nie – ons moet van die sonde ontslae raak – en mens moet daarvan ontslae WIL raak. As mens van die sonde ontslae WIL raak, dán weet jy die HERE is in jou, met jou besig. Dit is immers waarna ons as ware gelowiges strewe. Ons WIL van die sonde ontslae raak – nie soos die dwase snert waarvoor die gewoontesondaars allerlei verskonings soek om dit te probeer regverdig, nie.
En dan is daar natuurlik nog ’n ander kwessie van die gewoontesondaars, soos die een wat die snert in die brief onder bespreking kwytraak. Hulle meet die geldigheid van Goddelike wette aan die mate waaraan die hedendaagse afvallige mens nog daaraan gehoor, gee. Kan jy jou sowat van dwaasheid indink.
Die waarheid – en dit is eintlik baie logies – is dat geeneen wat nie ’n wet gepromulgeer het nie, die mag, bevoegdheid of die reg het om só ’n wet ongeldig te ‘verklaar’, nie – slegs die oorspronklike wetgewer, kan dit doen. Hoeveel te meer nie só met die Goddelike wette, nie. God is die Wetgewer en HY Alleen is die Regter daaroor. Dit is eenvoudig ons as ware gelowiges se plig om dit só uit te wys.
En, God het geeneen van SY wette ongeldig verklaar, nie, maar inteendeel, die geldigheid daarvan bevestig deur die ewige Woord van die HERE – sien Mattheus 5:17-19 weer. Maar die dwaas sal homself graag wysmaak dat die Goddelike wette verval het – is die woord van dwase groter as die Woord van God, Wie die wette in die eerste plek ingestel het? Sekerlik nie.
Die dwaas se dwaasheid mislei hom egter nog verder, naamlik dat hy meen dat God nie meer dié oortredings straf nie en dáárin maak die sondige dwaas ’n baie lewensgevaarlike oordeelsfout – die feit is dat die straf slegs uitgestel is, maar beslis nié afgeskaf, nie. Die Woord waarsku ons daaroor – God verwag van elke mens om te oordeel tussen reg en verkeerd (Lukas 12:57) omdat die mens veral sedert die HERE se bediening op aarde, met die voorbeeld en bediening van die Woord, selfs in skrif, toegerus behoort te wees om die nodige oordeel (in teenstelling met veroordeel) aan die dag te lê. Dus, tot die Oordeelsdag (en dit sal veroordeling wees) van God aanbreek, het die mens, solank hy lewe, die geleentheid om afstand te doen van die sonde. Die Oordeel en die straf kom báie beslis, maar dit is slegs uitgestel om die afvallige mens ’n kans te gee (2 Petrus 3:9 g.m. Johannes 12:47-48) sodat dit deur opregte verootmoediging en die daaropvolgende genadegawe van vergiffenis van die HERE, gekanselleer kan word (1 Johannes 1:9). Die HERE waarsku ernstig daaroor – Lukas 6:46; Mattheus 7:21.
Dit is duidelik dat God juis gehoorsaamheid verg en wie is die nietige, onbenullige gewoontesondaars, om hulle só to probeer aanstel en aanmatig, om Gods Gebod in watter formaat ook al, te wil ongeldig verklaar? Watter vieslike verwaandheid! Dit is nie wat nederige sondaars doen, nie, want dié tree op soos ons sien in die Woord – juis in gehoorsaamheid en in verootmoediging en nederigheid voor God - sien weer Lukas 18:13-14.
Die Goddelike Spirituele wette herinner ons aan die sonde. Hulle is algar geldig. Dit is die maatstaf waarby die mens weet dat hy sondig, of nié sondig, nie. Diegene wie in die HERE Jesus Christus is, is dus nie meer onder die wet nie, want hulle is wedergebore uit die Heilige Gees (Johannes 1:12-14) en strewe daarna om heilig en soos die HERE Jesus Christus te wees, deur ywerig die sonde te bestry en af te lê, natuurlik alleenlik in die Krag van die HERE (Filippense 4:13) – sien weer Romeine 12:9; Kolossense 3:8-17; Hebreërs 12:1-4; Efesiërs 6:12–17; 3 Johannes 11.
Maar diegene wat maak soos die gewoontesondaars wat hom so in sy sonde verlustig dat hy sommer die Woord én Wet van God links en regs ‘ongeldig verklaar’, staan juis steeds onder die Wet en sal by die Wet staan of val – eerder laasgenoemde, want géén mens is in staat op sy eie krag en insig, sonder om wedergebore te wees in die Heilige Gees en in die Woord, die HERE Jesus Christus, om die Wet die hoof te bied, nie. Ons sien dit mos met die selfverklaarde laf sout en gewoontesondaars soos die Corneliusse en die ander wat agter hul skuilname skuil (maar egter agter of onder niks, vir God kan wegkruip, nie – Psalm 139:7-12). Dán sal die skok van hul lewe hul tref, by die Oordeel, wanneer hulle sal besef dat inderdaad, géén jota of tittel van die Wet afgeskaf is of vergaan het, nie (Mattheus 5:18-19), want hulle het geval by die Wet!
Daar was en is, natuurlik steeds ’n uitweg, slegs één uitweg solank die mens nog lewe, want die Oordeel het nog nie aangebreek, nie, danksy die Genade van die HERE – en dié uitweg is te vinde in die vermaning van die HERE in Johannes 3:16; 14:6 g.m. Prediker 12:13-14 en Mattheus 7:21.
Daar is géén ander manier om die sonde die hoof te bied, nie – slegs en alleen in die liefde met hart siel en verstand vir die enigste ware God, in God Drie-enig – deur en in die Krag van die HERE deur die Woord in die Heilige Gees.
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus,
Ek moedig jou heelhartig aan om meer oor die onderwerp te Google.
Soos menigmaal voorheen hier deel ek weer eens my beskeie mening dat die Mosaïese kultuur die wysste op aarde is.
Daarmee saam kan ek getuig dat ek gereeld die voorreg het om my Rabbi vriende in argument oor sake in die Tora te luister.
So weet ek byvoorbeeld dat dit geheel aanvaarbaar is om 'n agnost of selfs ateïs met 'n Joodse leefstyl te wees.
Dis juis waaroor die Judaïsme gaan; om God van bo tot onder te bevraag!
Enkele van die bekende Jode wat God so bevraag het is onder meer my held Carl Sagan.
Andere sluit in Karl Marx, Albert Einstein, Spinoza, Sigmund Freud, Emma Goldman, Woody Allen,... Israel se eerste minister Golda Meir en menige ander Jood.
My lysie hierbo demonstreer op sigself die oorweldigende persentasie Mosaïese presteerders in vergeleke hul minderheid op aarde.
Maar dan is daar ook die Himba...
Hoe ver dink jy gaan jy kom as jy 'n Himba vrou se borste met die Pentateug in die hand probeer kersten Kobus?
Wat weet jy van onse Mukuru?
Ja, als is ook nie Googlebaar nie...
Maar Kobus, die brug tussen my Joodse broers en susters en my Himba broes en susters is die liefde en genade van Jesus Christus onse HERE.
Met my Mosaïese broers en susters kan ek deel dat Jesus Christus onse HaShem is... wat gaan jy vir my Himba naastes vertel Kobus?
In 1 Korintiërs 7 leer Paulus ons; Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes. Is iemand as 'n besnedene geroep--hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep--hy moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God. Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is ('n Himba bly 'n Himba en 'n Jood bly 'n Jood).
En dan; gaan probeer jy vir 'n Boer vertel hoe om 'n Rooibok kousjer of halaal te jag Kobus.
Die kanse is goed dat as die Boer 'n ware Christengelowige soos jy is, jy gebloei van sy werf sal heengaan.
Hoe doen ek dit?
Wel, ek skiet die bok se rug (per ongeluk) af en bloei dan die dier die ewigheid in... so eenkeer per jaar ...
Ag, en so kan ons seker nog jare aangaan ou Kobus.
Die punt is dat jy nes ek maar min weet.
Mag Jesus Christus onse HERE ons almal vergewe.
Jou amigo in Adam,
Cornelius
WOW - Dit is baie interessant!
Dankie Kobus, ek geniet al jou kommentaar. Ekself het nog nooit vir my geloof hoef te geveg het nie, en waardeer jou redenasies en die gesprekke eintlik baie! Op 'n stadium het ek gedog jy mors net jou tyd, en gooi jou perels vir die varke. Maar gou het ek agtergekom dat hulle jou nie werklik verkeerd kon bewys nie. Die waarheid van die Woord is te duidelik.
Dankie vir al die leersame dinge. Dit het my liefde en geloof in Jesus Christus net DIEPER gevestig en my hart laat swel vir die grootheid van ons Skepper. So, al verkies die ongelowiges om NIE te luister, en rebels te bly, waardeer ek as Christen jou insette. Jou briewe is werd om te bere.
Mag jy van krag tot krag gaan.
Dankie ook aan LitNet
Trienie
Dankie, Trienie. Al wat ek kan sê, is dankie - dankie veral omdat jy die Krag van die Woord kan insien, beleef en beroem as deel van jou lewe - dankie dat jy jou lewe so ingeklee het dat jy so na aan die HERE kan leef, so in Hom kan leef en HY in jou, om terdeë te kan besef en beleef hoe Kragtig, kosbaar en Lewend SY Woord, is!
So ervaar ek dit ook by ons ander mede- gelowiges - Dolf, Henry, Aletta, Erika (waar is die twee, deesdae?) ens.
Mag die kosbare wense wat jy my toewens, en wat ek met vreugde aanvaar, vir jou ook op jou daaglikse pad ontmoet, want beter as om in die Krag van die HERE te gaan, elke dag, kan dit, nie.
Kobus de Klerk.