Mens staan verstom dat daar steeds diegene is wat sekere "wette" uit die Ou Testament ondersteun, terwyl hulle self talle ander van die "wette" ignoreer. Spesifiek wat betref homoseksualiteit.
Waar dit in die Nuwe Testament herhaal word, is dit nie bevestiging nie, maar eerder ’n aanhaling uit dieselfde ou tekste en moet dieselfde waarde daaraan geheg word as aan die voorskrifte oor ’n vrou wat menstrueer, en talle ander. Soos ook dat daar nie op die Sabbatdag gewerk mag word nie, en dies meer.
Mense wat hierdie ou reëls van die Israeliete aanhang is nie vry nie, want hulle het nie die liefde wat Jesus ons gebring het nie.
Groete,
Sondaar II


Kommentaar
Hoe reg is jy net nie, dit is wonderlik om te weet dat Jesus Christus ons vrygekoop het van die wet. Vandag is die wet vir my net 'n rigtingwyser na vryheid, om my te WAARSKU waarin gevare le. En ja, Jesus se liefde is so volmaak teenoor ons, dat ek en jy nie meer WIL sondig en Hom so teleurstel nie. Daarvoor is Sy liefde vir die mens te groot.
Dit is soos 'n bruid (gelowige) wat van haar bruidegom (Jesus) 'n vlekkelose trourok ontvang en besluit sy wil nie meer in die varkhok daarmee gaan speel nie. Sy wil haarself rein voor Hom bewaar, en dit beteken om haarself/homself te onthou van dit wat verkeerd is. Hierdie liefdessaak word nou 'n KEUSE vanuit die hart, en nie meer dwangwette op klippe, redenasies of voorskrifte nie.
Hierdie vryheid is so groot, dat die christen homself nie meer "sondaar" wil noem nie. Die naam pas net nie! Waarom sal die bruid haarself "hoer" wil noem?
Word dus 'n vrygespeekte van wette in jouself, Sondaar twee (ekself kry eintllik swaar om jou so te noem, want ek weet hoe kosbaar jy eintlik geskape is.) Gee jouself vandag die mooiste geskenk ooit, dit word genoem "oorbegin." Gee jouself 'n pragnaam wat by jou pas, iets soos "Wetvrygekoopte" Ek sien in jou skrywe jou soeke en dors na liefde en vryheid - anders sou jy nie daaroor geskryf het nie.
Ek het ook nie 'n probleem met jou homoseksualiteit nie. Dit is maar net die wortel van iets veel groters. Jou hele wese roep na liefde - en jy is reg; Jesus wil jou liefde gee. En natuurlik kan enige een kom "net soos hy is" - maar ek en jy weet ook dat daar 'n pad is wat reg "lyk", maar net na eie verderf en dood lei.
Watvan ons verander jou naam van vandag af na "Jesus se geliefde" en stroop jou van die donker mantel van "Sondaar twee."
Iemand wat omgee ...
Trienie
Beste Sondaar Twee,
Dit herinner ook aan die aandrang toe ware gelowiges Titus se voorhuid wou verwyder.
Ek deel Petrus se antwoord daarop uit Handelinge 15; En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.
In 1 Korintiërs 7 leer Paulus ons; Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes. Is iemand as 'n besnedene geroep--hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep--hy moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God. Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.
Dan is daar wonderlike gesigte aan Petrus en Cornelius soos opgeteken in Handelinge 10: En daar was in Caesarea 'n man met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. Hy het duidelik in 'n gesig omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word... En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar 'n verrukking van sinne oor hom gekom: hy sien die hemel geopen en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheilig of onreins geëet nie. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon... En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?... En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan... En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep... Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar 'n mens. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het; en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het. En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, en meteens staan daar 'n man voor my in 'n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, 'n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is. En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus--Hy is die Here van almal.
Soos daar geskrywe staan: Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie (Efesiërs 2:8-9).
Mag Jesus Christus onse HERE self die Tuinier in 'n ieder se hart wees wat hier lees.
Namaste!
Cornelius
Sondaar Twee,
Ek staan verstom dat daar nog steeds sogenaamde “christene” en ander (soos jy blykbaar) is wat dink dat daar geen verbintenis tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament is nie - in die geval, wat homoseksualiteit spesifiek aanbetref. Ook het ek al agtergekom dat daar ook "christene" en ander is wat dink dat die Wet (10 gebooie soos opgeteken in die Ou Testament) deur die koms van die Here Jesus Christus, verval het of nie meer van toepassing is nie. Kom ek stel dit gou reg – Jesus Christus het nie die Wet (10 gebooie) kom vervang nie, maar het dít júís betekenis kom gee. Vele profesieë in die Ou Testament dui op en spreek van die koms van Jesus Christus (Jesaja, Job, ens.) en die Nuwe Testament is die vervulling van God se versoeningsplan in en deur Sy Enigste Seun Jesus Christus ons Here en Saligmaker. Soos ek ook al tevore aangedui het is die ware christelike geloof gebasseer op die Waarheid – die hele Woord van God (die Bybel) - en is Christus die fondament daarvan - kyk veral na Joh. 3:16-18 en ook 1 Joh. 4:7-21.
Verder is jou opmerking: “Waar dit (homoseksualiteit) in die Nuwe Testament herhaal word, is dit nie ‘n bevestiging nie, maar eerder ‘n aanhaling uit dieselfde ou tekse (uit die Ou Testament) en moet dieselfde waarde daaraan geheg word as aan die voorskrifte….” . Jy besig om dwaalleer en leuens te verkondig en voordat Cornelius, Jaco en hul trawante weer aandui dat dit ons ware gelowige christene (Kobus, Henry, ekself, ens) is wat gedurigdeur homoseksualiteit uitsonder en ophaal, wil ek net sê: Nee-nee, Sondaar 2 het die onderwerp (homoseksualiteit) opgehaal en uitgesonder – Ek spreek dit net aan in die konteks waarop dit opgehaal is! Daarom moet alle sondes (volgens die Woord van God aangedui) ook dan op dieselfde basis gesien word.
Nou, wat homoseksualiteit aanbetref word dit duidelik in die Nuwe Testament in, onder andere, Rom. 1:18-32 aangedui as onnatuurlik en sonde voor God en in 1 Tim 1:3-11 word die beoefening van homoseksualiteit (saam met nog ander sondes) spesifiek genoem as “in stryd met die gesonde leer – die evangelie van die heerlikheid van God”. Indien daar twyfel by jou bestaan oor die Enigste Ware Evangelie lees gerus weer Joh. 3:16-18, Gal 1:6-10, 1 Joh 4: 7-21 (om ‘n paar tekse te noem). Jy kan natuurlik ook Kobus, Henry en ander ware gelowige christene se Woord verwysings lees in enige van hulle vorige skrywes vir verdere duidelikheid oor die enigste ware evangelie - die evangelie van Jesus Christus ons Here!
Nêrens in Rom. 1 of 1 Tim. 1 (soos hiebo aangedui) is daar enigsins ‘n aanhaling (soos jy valslik beweer) van enige wettiese leerstellings in Levitikus en/of die Ou Testament - spesifiek ten opsigte van homoseksualiteit - nie, maar is dit wél ‘n Nuwe Testamentiese bevestiging van die sonde van die beoefening van homoseksualiteit (soos alreeds in die Ou Testament aangedui is)!. Jy probeer jouself en homoseksualiteit regverdig deur die Woord van God te probeer afwater en verdraai om jou selfregverdigende wan-interpritasies te maak pas – en dit dan met “liefde” toe te smeer. Daardeur bring jy die oordeel oor jouself en word God se genadeversoening in en deur Sy Seun, Jesus Chriustus ons Here, totaal misbruik! Deur dít te doen lewe jy in ontkenning van jou eie sondes, is die waarheid nie in jou nie en misbruik jy die vergiffenis in Christus as dekmantel om juis aan te hou sondig – dít tewyl Jesus Christus (wie se liefde jy so aanhang) duidelik TEEN sonde is en ook telkemale aandui dat daar van die sonde afgesien moet word.
Ja-ja, niemand van ons is sonder sondes nie en ons redding is nie uit onsself nie maar deur God se Genade alleen! Ons is vry ín Christus (indien ons God se versoening wat Hy bewerkstellig het in en deur Sy enigste Seun, Jesus Christus aanvaar en bely), maar ons durf nie ons vryheid misbruik om aan te hou sondig nie! Dit is op ons pad van heiligmaking dat die Heilige Gees ons bystaan en ons optel wanneer ons struikel – maar ons in nou ín Christus en ons lê ons sondes af en groei só nader-en-nader aan Christus. Jy sien, iemand wat ín Christus is, is ‘n nuwe mens en die “ou” mens is afgelê en verby en daarom sien ons júís áf van die sondes wat ons so maklik verstrik en laat struikel.
Vrede vir jou.
Dolf
Ek dink nie jy het Sondaar 2 se brief mooi gelees, nie, Trienie, want die aanhef van jou brief bevestig 'n standpunt wat hy verkondig wat direk strydig met die Eie Woorde van die HERE Jesus, ons Vrymaker.
Jou verduideliking en raad agterna is egter in die kol, terwyl jou aanvangsopmerking ongelukkig die indruk by mense laat, wat nog nie die pad geloop het wat jy geloop het en die bevryding ontvang het, wat jy ontvang het, nie, dat die Goddelike wette sommer weglaatbaar of ignoreerbaar is en dit is mos strydig met wat die HERE leer (Mattheus 5:17-19 -veral die waarskuwing in 19) - terwyl hulle, juis omdat hulle nog nie keuse gemaak het om die pad met die HERE Jesus geloop het, nie, juis nog onder die doodsangel van die Wet is totdat hulle hul oorgee aan die HERE se bevrydende lyding en leiding waarvan jy self ook getuig.
As gelowiges die Goddelike Wet afmaak asof dit kaf is, sal daardie gelowiges teenoor die HERE verantwoording moet doen juis daaroor - sien weer vers 19 se waarskuwing. Die Wet is inderdaad heilig, regverdig en goed - sien Romeine 7:12. Daar word steeds van ons almal verwag om God se Wet, Gebooie, na te kom - sien Prediker 12:13-14 wat uitdruklik bevestig word in 1 Johannes 2:3-7 (sien veral 7) en 1 Johannes 5:2, gelees met Mattheus 6:17-19. Daarom moet gelowiges in hul omgang met ongelowiges baie versigtig wees om laasgenoemde nie te mislei nie, want dit is juis dikwels wat sulke ongelowiges juis wil hê sodat hulle kan leef soos hul lekkerkry en dan te kan sê, ons ken die of daai gelowiges en daardie gelowiges sê ook so.
Hierdie Sondaar 2 is ook een van hulle, en hulle probeer Jesus se Liefde (wat heel eerstens gerig is op gehoorsaamheid aan SY Vader - Johannes 5:30; 8:28-29, 42) misbruik as 'n lat om diegene wie hulle teregwys en onderrig, mee te probeer bykom deur dit as liefdeloosheid uit te maak - vir hulle is hierdie 'liefde' die aanvaarding van die sonde en 'n gesnoerde mond van 'n gelowige. Waarom word sommige gelowiges so maklik deur kansvatter geflous?
Die HERE het die Wet dus juis nie ongeldig verklaar nie, maar juis bevestig en vir ons begin leer juis hoe ons in SY Krag, 'n lewe in genade kan leef sonder om die bepalings van die wet doelbewus of nalatig te oortree, en wanneer dit wel gebeur, is daar die stelsel van vergiffenis wat die opregtes van hart, vryspreek (1 Johannes 1:9), terwyl ons ywer om heilig te lewe (Johannes 17:19). Die wat nie by Christus die HERE is, nie, is steeds onder die wet en sal onder die wet se doodstraf sterf, maar diegene wie in die HERE Jesus Christus is, is nie meer onder die doodstraf van die Wet nie, maar in die verlossende Krag en genade van Christus en sal lewe.
Maar, die verlossing van Christus gaan nie om verlossing van die Wet nie, want die Wet is steeds goed en heilig en staan vir altyd as deel van Gods Woord en orde, maar die verlossing gaan oor die verlossing van die sonde deur opregte belydenis en daarop volgende vergiffenis, sodat die Wet sy doodsangel vir diegene wie in Christus is, verloor, juis omdat diegene in Christus streef na heilige lewe (1 Petrus 1:15-16).
Dus, hoeveel mense wat die Wet so kwistig met die tong bykom, gelowiges en ongelowiges, besef dit??
Jesus Self het nooit die Wet oortree nie, en HY verwag van ons om in SY Krag, soos HY te word - Levitikus 20:7; 1 Petrus 1:15-16.
Maar ek is seker jy weet al hierdie dinge reeds.
Groete,
Kobus de Klerk
Cornelius,
Dit is interessant dat jy jou skrywe begin met “Dit herinner ook aan die aandrang toe ware gelowiges Titus se voorhuid wou verwyder”. Dit is ook baie subtiel van jou om dit so te stel, terwyl Handelinge 15:1 tog duidelik die volgende sê: “Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie”. Dit is tog duidelik hieruit dat dit nie die ware gelowiges was wat Titus se voorhuid wou verwyder nie, maar mense van Judea wat die ware gelowiges anders wou oortuig!
As ek dit nie mis het nie was díé mense van Judea bekend as die Judea-iste (verskoon spelling)– Hulle het nou wel saamgestem met die ware gelowiges dat Jesus Christus die Seun van God is, maar het dít ook bygevoeg dat net Christus alleen nie genoeg was nie. Nee-nee, hulle was van die opinie dat Christus plus besnydenis al manier was hoe redding verkry kon word. Jy sien, hulle (die Judea-iste) het gereken Jesus Christus (wel dit is die implikasie) se Kruisdood en Opstanding was wel ‘n “amper volmaakte” offer maar dat slegs Geloof in Hom (Christus) nie 100% tot jou redding kan bydra nie, jy as mens moet net gou-gou nog besny word – dit wil sê, jy, as mens, moet ook iets doen om jou redding te verdien. Dit was amper ‘n geval van 90% Christus en 10% jy as mens en dit maak dan 100% redding! Dit is basies soos enige mens wat wel Christus Jesus as Verlosser en Saligmaker bely maar plus nog iets (dit herinner nogal aan jou Moslem, Boedha, Hindoe, ens. gemengede godsdienste oortuigings en liefde!). So, jy as mens kan dinge doen om by te dra tot jou redding – jy kan basies jou eie redding verdien! Wat ‘n armsalige dwaalleer en mistasting!
En dít is wat ware gelowige christene skei van enige ander godsdiens – ons wéét dat ons slegs uit God se Genade deur Jesus Christus ons Here se verdienste aan die kruis en Sy opstanding gered is en dat ons geen bydrae tot ons redding gelewer het nie! Deur slegs Geloof in Christus is ons gered deur God se Genade versoening wat Hy deur Sy enigste Seun bewerkstellig het. Lees gerus Joh: 3:16 – 18 en ook 1 Joh. 4. Ander godsdienste, wat jy ook erken en aanhang soos Hindoes, Boedhiste, Moslems, ens. glo jy kan jou redding self verdien deur byvoorbeeld goeie werke, en dies meer en boon-op aanvaar hulle nie Jesus Christus as die enigste Weg, Waarheid en Lewe nie! Jy sien hulle is nie ware gelowiges nie want hulle erken nie die enigste Seun van God, Jesus Christus ons Here nie! Hoekom dink jy het Paulus so drifting in Gal. 1 met die Galasiërs gepraat toe hulle van die enigste ware evangelie afgedwaal het?! Omdat hulle met sulke twak soos die Judea-iste vorendag gekom het – en dít tewyl daar net Een ware evangelie is – die evangelie van Jesus Christus ons Here soos vervat in die Waarheid – die Woord van God (die Bybel). Dít en net dít is die enigste Waarheid en niks anders nie!
Hou op om onskuldige mense te velei deur mistasting, subtiele sinspeling en verdraaiing van die Woord van God!
Beste Trienie,
In een van die verstandigste sinnebeelde wat ek nog op die werf gelees het, deel jy die volgende met Sondaar II; Dit is soos 'n bruid (gelowige) wat van haar bruidegom (Jesus) 'n vlekkelose trourok ontvang en besluit sy wil nie meer in die varkhok daarmee gaan speel nie. Sy wil haarself rein voor Hom bewaar, en dit beteken om haarself/homself te onthou van dit wat verkeerd is. Hierdie liefdessaak word nou 'n KEUSE vanuit die hart, en nie meer dwangwette op klippe, redenasies of voorskrifte nie. Hierdie vryheid is so groot, dat die Christen homself nie meer "sondaar" wil noem nie. Die naam pas net nie! Waarom sal die bruid haarself "hoer" wil noem?
Trienie, pas 'n mens dit in ons algemene bestaan dan is dit soos 'n hoer wat 'n opregte minnaar gevind het maar die res in die buurt herinner sonder ophou haar aan wat in die verlede gebeur het.
Hulle stel allerlei eise om kamstig haar nuwe reinheid waardig te wees en waar sy faal noem hulle haar 'n skynheilig hoer.
Nou ja, om presies hierdie rede het ek lank gelede reeds afstand gedoen van die titels Christen, ware gelowige,... of wat ookal Kobus de Klerk en sy nes vereis.
Net soos die bruid innig in die arms van haar bruidegom altyd 'n hoer in die aansien van die jaloerses sal wees, net so het ek die nom de plume Sondaar tussen Kobus de Klerk en sy gevolg op my geneem.
Ek is 'n sieldaat; waar ek verloor, wen Jesus Christus onse HERE ...
Al is ek nie homoseksueel nie, het ek ook stryd met 'n hele paar dorings in die vleess ..
Ja, al is ek 'n hoer (sondaar) wat Satan en sy agente betref het ek vrede daarmee want in die oë van ons Verlosser is ek rein en kosbaar.
Trienie, dankie vir jou deelsaamheid op die werf.
Sondaar (ook bekend as Cornelius Henn)
Cornelius,
Jy skryf o.a. hierbo: "Trienie, pas 'n mens dit in ons algemene bestaan dan is dit soos 'n hoer wat 'n opregte minnaar gevind het maar die res in die buurt herinner sonder ophou haar aan wat in die verlede gebeur het". Jy bedoel amper soos jy wat Kobus heeltyd herinner aan sy skraping van die rol, wat ver in die verlede gebeur het!?
Jy sien, Cornelius, jy raak gedurigdeur valshede oor Kobus, Henry, myself en ander ware gelowige christene kwyt om jouself te verontskuldig en jou "all roads lead to Rome" godsdiens ideologie te regverdig. Daarmee tesame draai jy 'n blinde oog vir jou "broers" wanneer jy hulle (soos ons almal wat sondaars is) sien struikel in sonde (soos duidelik in die Woord van God aangedui word) en dan praat jy nog hulle sonde goed en moedig hulle ook aan om daarin te volhard.
Jy skryf ook: "Nou ja, om presies hierdie rede het ek lank gelede reeds afstand gedoen van die titels Christen, ware gelowige,... of wat ookal Kobus de Klerk en sy nes vereis". Ek is dankbaar dat jy van die titels (soos jy dit noem) afgesien het, want ware gelowige christene glo en bely God se Woord dat God uit Genade, versoening met homself bewerkstellig het, vir alle sondaars, in en deur Sy enigste Seun Jesus Christus ons Here en dat Hy (Jesus) die Enigste Weg en Waarheid en Lewe is waardeur Niemand tot die Vader (God) nader behalwe deur Hom (Jesus Christus) nie! Lees gerus WEER Joh 3:16-18 en 1 Joh. 4. DIt is NIE ek of Kobus of Henry wat dit uit ons duime suig nie - Nee-nee dit is GOD wat dit duidelik in Sy Woord uitspel en ons glo en bely dit as die enigste ware evangelie. Ek weet jy (selferkend so) bely nie Christus so nie, maar verkies om Hom (Christus) te vermeng in 'n "megelmoes-kardoes" godsdiens wat Hindoe, Moslem, Boedha, en dies meer insluit en so verwater jy Sy (Christus) se verdienste en redding vir alle sondaars deur Hom (Christus) gelyk te stel (lasterlik so) aan Boedha beelde en Hindoe afgode, en dies meer!
Verder, as ons geloof in Christus (die Waarheid) ons dan etiketeer met "titels" as christene, ware gelowiges en dies meer, in jou (en ander agnostici) se boeke - dan is dit nou maar so! Jy sien, ons (ware gelowige christene), is IN Christus want dit is alleen deur Sy (Christus) se verdienste (wat God aanvaar het as volmaakte offer vir alle sondaars) aan die Kruis en Sy Opstanding, dat ons vrygespreek is en ons misbruik nie ons vryheid om te sondig en ook ander aan te moedig om in sonde te volhard en 'n "Jesus sal vergewe" agter hulle aan te skree nie. Nee-nee, ons wys in liefde, sagmoedigheid en nederigheid ander sondaars (ja ons is ook sondaars) tereg en herinner hulle (of wys hulle daarheen) aan die liefde en vergiffenis wat daar in Christus is en moedig hulle aan om af te sien van hul sondes - net soos Christus ons geleer het in die Woord. Daarmee tesame is ons ook oop om aangespreek te word in liefde, sagmoedigheid en nederigheid wanneer ons ook sondig - dienooreenkomstig die Woord van God - die Waarheid!
Dolf