Oor feite, versinsels, verskonings en aanvaardings – reaksie op dr Frits Gaum

  • 0

Met betrekking tot dr Frits Gaum se reaksie op my artikel oor vergifnis en versoening: hoewel ek weliswaar nie te kenne sou wil gee dat ek 'n monopolie op die bepaling van geskiedkundige feite het nie, wil ek tog die een en ander feitelike kwessies uitwys/aanstip, aangesien dr Gaum my so noukeurig en gedetailleerd op my "feitefoute" wys:

1. Of die "bysleep van die media" nou van die begin af "deel" van die storie was of nie, dit het dr Gaum sekerlik vrygestaan om die media op enige punt uit die Gaum-Hambidge-kwessie te laat, of hoe? Die media is nie alomteenwoordig nie. Deur sy verskoning in die openbaar aan te bied het dr Gaum die media betrokke gehou (bygesleep) regdeur die proses – eers in die boek wat in 2004 gepubliseer is en daarna in By. (Die vraag ontstaan natuurlik waarom die verskoning 'n tweede keer in die openbaar aangebied is. Ek spekuleer oor / interpreteer hierdie "tweede" aanbod verder hier onder.) Soos Morné Malan in sy antwoord op my aandui, "die openbare" is 'n term wat nie sonder meer die betrokkenheid van die pers (of 'n ander, konkrete derde) impliseer nie. "Openbare dade van onreg" kan "in die openbaar bely en vergewe word" sonder om die pers te betrek – "openbaar" is nie gelyk aan "die pers" nie. Aangaande hierdie aspek skryf Derrida in die essay onder bespreking as volg:

In principle, therefore, always in order to follow a vein of the Abrahamic tradition, forgiveness must engage two singularities: the guilty (the “perpetrator” as they say in South Africa) and the victim. As soon as a third party intervenes, one can again speak of amnesty, reconciliation, reparation, etc, but certainly not of pure forgiveness in the strict sense."[1]

2. Dr Gaum beskuldig my van geskiedkundige vervalsing/revisionisme[2] betreffende my stelling dat hy "Hambidge om verskoning [vra] eers toe dit aan die lig kom dat homoseksualiteit aan't eige huis is". Dr Gaum skryf: "Dis nie waar dat ek prof Hambidge om verskoning wou vra eers nadat dit bekend geword het daar is homoseksualiteit 'aan 't eige huis' nie, Doktor." Nou as dit nie waar is nie, dan verdraai ek mos die feite! Hoe het ek by bogenoemde gewraakte, "verdagmakende" stelling uitgekom? So:

  • Op 2 Desember 2006 skryf dr Gaum in 'n artikel in By getiteld "Jammer, Joan, en ander belydenisse":[3] "Ek het eers regtig ernstig oor homoseksualiteit begin dink en lees toe my seun Laurie my op 'n dag kom vertel het dat hy gay is … Maar op 'n dag het die gay-kwessie tot by my gekom. En toe is ek daarmee gekonfronteer op 'n manier wat my nie toegelaat het om langer net maar teoreties saam met ander daaroor te spekuleer nie. Ek moes self, met die praktyk daarvan in gedagte, daarmee stoei."
  • Op 4 September 2005 in 'n onderhoud op die M-Net-aktualiteitsprogram Carte Blanche[4] stel die aanbieder (Marion Edmunds) die volgende vraag aan Laurie Gaum: "Was your relationship with Douw a secret?" Laurie: "My family knew about it ..." (Vermoedelik sluit 'n redelike konstruksie van die term "my family" Laurie se vader, Frits, in.)
  • Carte Blanche berig verder dat Laurie Gaum en Douw Wessels vier jaar lank saamgewoon het in 'n gay-verhouding.[5]
  • Op 9 Oktober 2005 berig Marlene Malan in 'n artikel in Rapport: "Gaum en Wessels het die afgelope vier jaar 'n verhouding gehad ..."[6] (Dus het die verhouding sedert 2001 bestaan.)

As ons bostaande "feitelike" berigte (sommige uit die mond van dr Gaum self) saamlees, dan kan mens redelikerwys (of op 'n oorwig van redelike waarskynlikheid) aflei dat dr Gaum geweet het van die homoseksualiteit "aan 't eige huis" toe sy 2004-verskoning aan Hambidge in die boek Op pad met mense en God verskyn het. As ons hierdie afleiding weer saamlees met Gaum se eie 2006-bewering dat hy "eers regtig ernstig oor homoseksualiteit begin dink en lees het" nadat sy seun se homoseksualiteit aan hom gekommunikeer is (wat vermoedelik chronologies min of meer saamval met die bestaan van die homoseksuele verhouding), dan kan mens verder redelikerwys aflei dat sy apologie aan Hambidge (minstens ten dele) ingegee is deur hierdie ernstige dink en lees oor homoseksualiteit, wat weer ingegee is deur die homoseksualiteit aan 't eige huis. 'n Verdere redelike afleiding is dat die herhaling / meer "openbare" verskoning van 2 Desember 2006 (minstens ten dele) ingegee is deur die feit dat daar in die pers in die voorafgaande jaar ver en wyd berig is oor Laurie Gaum se homoseksualiteit (en sy gevolglike onderonsie met die kerk).

In haar aanvaarding van die 2006-"herhaling"-verskoning[7] kwalifiseer Hambidge haar aanvaarding as volg: "Nou aanvaar ek wel sy verskoning, maar as intellektueel wil ek klarigheid ontwille graag op 'n paar kwessies wys. Ter wille van ander mense. 1. Gaum moes van sy pouslike uitsprake afsien, omdat die wêreld verander het. Inmiddels het sy seun Laurie deur 'n openbare verguising gegaan. Ek kan nie juis sien dat iets werklik in die Kerk verander het nie." Hiermee gee Hambidge te kenne dat dit haar nie ontgaan dat die verskoning (weer) aan haar aangebied is in die breër konteks van die openbaarmaking van Laurie Gaum se homoseksualiteit nie. (Terloops, in haar kritiek teen die NG Kerk se besluit om Gaum te skors skryf Hambidge self oor hierdie kwessie in Die Burger van 31 Augustus 2005: "Gaum word simbolies verhoor en afgewys. Hy is die Azazel, die sondebok wat vir die kollektiewe gay-sonde geoffer word ... Hy was die onskuldige slagoffer van 'n vendetta en genadelose verhoor daarna."[8])

3. Dr Gaum wys my tereg en sê hy het prof Hambidge nêrens om verskoning gevra op voorwaarde dat sy hom moet vergewe, sy verskoning moet aanvaar, hom daarna moet groet, "of wat ook al nie". Ek het ook nie geskryf dat dr Gaum iewers geskryf het dat hy die verskoning op sekere voorwaardes aangebied het nie. My argument was dat dit uit sy gedrag (wat hy self beskryf) en uit sy skrywes afgelei kan word dat hy sekere verwagtinge aangaande die aanbod van sy verskoning gekoester het. Anders gestel, omdat hy sekere verwagtinge aangaande die effek van sy verskoning gehad het, sou daar gesê kon word dat hy die verskoning op sekere voorwaardes (wat hy as redelik beskou het) aangebied het. Ek haal dr Gaum aan: "Dit sal help as dr Barnard-Naudé sou kon aandui watter waarde/betekenis 'n mens aan die 'aanvaarding' van 'n verskoning moet heg ... op sy allerminste, sou ek dink, beteken dit tog dat 'n mens, as jy die ou wie se verskoning jy in die openbaar aanvaar het, daarna toevallig raakloop, en hy jou groet, jy hom ook sal groet?" Hierna beskryf dr Gaum hoe hy prof Hambidge verskeie kere in die openbaar raakgeloop en gegroet het, maar sy telkens "dwarsdeur" hom gekyk het. "Die vierde keer het ek haar toe maar met die hand gaan groet. Tot haar ontsteltenis." Dr Gaum is nie gelukkig met die effek wat sy verskoning – en die aanvaarding daarvan – gehad het nie. Uit sy gedrag teenoor Hambidge ná die verskoning en die aanvaarding blyk dit dat hy wou hê die aanvaarding van die verskoning moes vertaal as 'n normalisering van die verhouding tussen hom en Hambidge. In hierdie opsig is sy apologie niksseggend en leeg: dit word nie aangebied as 'n onvoorwaardelike gif nie – die aanvaarding moet die gewenste gevolge hê. Die vergifnis moet só lyk en nie só nie.

4. Dit is nie my plek of rol om dr Gaum "met die hulp van een of ander filosoof" te help met die betekenis van die aanvaarding van 'n verskoning nie. Ek stel ook nie belang nie. Hy moet maar self gaan lees. Dalk kan hy by Morné Malan begin. Ek neem kennis van die apologie waarmee dr Gaum se reaksie op my stuk open. Vir my is dit tegelykertyd veelseggend en niksseggend. Persoonlik word my proses van vergifnis nie wesenlik daardeur verander of beïnvloed nie. Nie omdat ek dink Gaum se jongste apologie is oneerlik of onvoorwaardelik nie, maar omdat ek die moontlikheid van die onmoontlike, suiwer vergifnis – wat onafhanklik staan van die apologie - ernstig opneem. Hieroor skryf Derrida: "A 'finalised' forgiveness is not forgiveness; it is only a political strategy or a psycho-therapeutic economy ... Forgiveness does not, it should never amount to a therapy of reconciliation."[9]

  • Jaco Barnard-Naudé doseer regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad.

[1] Jacques Derrida, "On Forgiveness" in On Cosmopolitanism and Forgiveness, reds Jacques Derrida, Mark Dooley en Michael Hughes ( New York: Routledge, 2001), 27-60, 42.

[2] " There is no single, eternal, and immutable 'truth' about past events and their meaning. The unending quest of historians for understanding the past – that is, 'revisionism – is what makes history vital and meaningful." Sien J McPherson, "Revisionist Historians", beskikbaar by http://www.historians.org/perspectives/issues/
2003/0309/0309pre1.cfm
.

[3] F Gaum, "Jammer, Joan, en ander belydenisse", Die Burger, By, 2 Desember 2006, 4.

[4] Beskikbaar by http://beta.mnet.co.za/carteblanche/
Article.aspx?Id=2881
.

[5] Ibid.

[6] M Malan, "Gaum en gay maat 'hét seks gehad’", Rapport, 9 Oktober 2005, 3.

[7] J Hambidge, "Ek aanvaar jou verskoning, maar", Die Burger, By, 9 Desember 2006, 5.

[8] J Hambidge, "Gaum is die kerk se Azazel", Die Burger, 31 Augustus 2005, 15.

[9] Jacques Derrida, "On Forgiveness," in On Cosmopolitanism and Forgiveness, reds Jacques Derrida, Mark Dooley en Michael Hughes ( New York: Routledge, 2001), 27-60, 41 en 50.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top