Die ATKV oor die Staatsteater in Pretoria en oor kunste in Suid-Afrika

  • 0

Staatsteater (foto: www.statetheatre.co.za)

Die Staatsteater in Pretoria is vir baie die heel bekendste teater in die land, en is vir jare deur talle kenners as die hartklop van die kunste beskou.

Dié imposante teaterkompleks, met sy talle foyers, ouditoriums, verhoë, repetisielokale en massiewe werk- en dekorruimtes, is gebou op die ou Markplein in Pretoria vir gebruik deur die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk). En soos dit ʼn teater met so ʼn glorieryke verlede betaam, was daar stoorkamers vol pragtige kostuums en interessante dekor en bykomstighede.

Personeellede van die Erfenisstigting het vroeër vanjaar ʼn welwillendheidsbesoek aan die Staatsteater gebring, en was diep onder die indruk van die ryk kulturele nalatenskap van ‘n vervloë era wat steeds daar gehuisves word, en van die harde werk deur enkele toegewyde personeellede. Dit het gelei tot ʼn spesiale uitstalling, gepas getitel Gloriedae: hoogtepunte uit die geskiedenis van die Staatsteater, wat tans in die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument te sien is. Die uitstalling sluit besonderse kostuums, kunstige juweliersware en bybehore in, en uittreksels uit operas en toneelstukke word vertoon.

Tydens die amptelike opening van die uitstalling op Donderdag 21 Julie het Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, in sy toespraak ‘n oorsig van die teater se geskiedenis gegee. Die teater is in Mei 1981 tydens ʼn luisterryke geleentheid geopen, en die eer om die heel eerste woorde op die nuwe, baie moderne verhoog te kon uiter, het die geliefde veteraanakteur Siegfried Mynhardt toegekom. Hy het ook verwys na die uiteenlopende verskeidenheid produksies wat deur die jare in die Staatsteater opgevoer is.

“Maar ongelukkig het die Witskrif oor die Kunste in 1996 bepaal dat teaters voortaan slegs ‘n klein begroting van die staat sou kry, net genoeg om te betaal vir instandhouding en ‘n klein operasionele personeelkorps. Daar sou voortaan geen meer begrotings wees vir enige produksies nie.”

Teen Junie 2000 is die Staatsteater weens finansiële probleme gesluit, en ‘n ondersoek na korrupsie is van stapel gestuur. Dis op 4 April 2001 onder ʼn nuwe direksie en bestuur heropen.

Gouws het gesê dit is hartseer dat staatsbefondsing keer dat alle Suid-Afrikaners nie in die kunste kan deel nie. “In Suid-Afrika het ons ʼn ryk en diverse kultuur wat nie genoeg benut word om nasiebou en sosiale kohesie te bevorder nie. In ons kunste, nes in die ryk kultuur van ons uiteenlopende tale en kulture, lê daar baie potensiaal opgesluit. Nie net om mekaar se stories en geskiedenis te leer verstaan nie, maar ook as dit kom by werkskepping en sosiale entrepreneurskap.” Gouws meen dit is hoog tyd dat Suid-Afrikaners politici oorreed om ons diversiteit te aanvaar en eenheid deur ʼn dinamiese, inklusiewe kunste- en kultuurbedryf te bevorder.

“As ons ons land se leuse van eenheid in diversiteit wil waar maak, moet Suid-Afrikaners mekaar se diversiteite aanvaar. Ons elkeen moet bereid wees om ander landgenote se geskiedenis, erfenis, taal en kultuur se stories te respekteer en daarna te luister.”

Gouws het die Erfenisstigting gelukgewens met die uitstalling. “Ek hoop dat hierdie uitstalling, wat ‘n blik gee op ʼn deel van ons nasionale erfenis, ons almal sal aanmoedig om meer betrokke te raak. Nie net by die geskiedenis en die stories van die verlede nie, maar ook by die reusepotensiaal wat opgesluit lê in ons toekoms en ook in ons jeug.”

***

Peet Venter, deesdae meer bekend as ’n krimiskrywer by LAPA, was een van die ingenieurs wat verantwoordelik was vir die bou van die Staatsteater. Hy het oor al die projekte gedurende ’n loopbaan van meer as 50 jaar die volgende gesê: “Die een wat my die naaste aan die hart lê, is die Staatsteater in Pretoria. Dis nie ’n gebou wat mense insluk en agt, of meer, ure se werk van hulle vereis nie. Dis ’n plek wat mense verwelkom, hulle gemaklik laat voel, en ’n paar uur se genot aan hulle verskaf, iets moois vir hulle gee; soos ’n elegante gasvrou.”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top