“Obituaries are about lives, not death,” skryf Ian Brunskill, huldeblykredakteur van The Times in Brittanje, in die inleiding van die huldeblykversameling Great lives – a century in obituaries, wat hy in 2005 vir Times Books saamgestel het.
Dit sou moontlik by die lees daarvan as ietwat misleidend (verwarrend, onakkuraat) kon voorkom, hierdie stelling deur Brunskill dat huldeblyke in die eerste instansie oor lewens handel eerder as oor doodgaan. Maar dit sou slegs kortstondig die geval wees, want hoewel dit ’n sterfte is wat die geleentheid skep vir ’n huldeblyk om as’t ware in die lewe geroep te word, handel die huldeblyk in ’n mindere mate oor die feit dat iemand dood is en grotendeels oor die gang van die persoon se lewe. Overgeset synde, die huldeblyk is nie ’n doodsberig nie; die dood van iemand baan gewoon die weg vir ’n bestekopname oor die betrokkene se lewe.
Praat ons hier van enige lewe of spesifiekes – en hoe kies jy? Brunskill se inleiding skets voorts – dalk in antwoord op die vraag; en in duidelike(r) terme – die agtergrond tot die idee vir sy boek, naamlik dat dit ’n keur bevat van die huldeblyke wat sedert die koerant se ontstaan in 1785 oor “noemenswaardige sterftes” (my beklemtoning) geplaas is.
Die gebruik van “sterftes” hier wil-wil die vroeëre oomblik van verwarring homself laat herhaal, maar hopelik is dié kwessie nou bygelê. Wat egter opval, is die kwalifikasie wat die besluitneming oor huldeblyke vir The Times rig: Dit moet ’n “noemenswaardige” sterfte wees. Waaruit ’n mens kan aflei dat nie enige sterfte die huldeblykredakteur sal beweeg om ’n huldeblyk van ’n skrywer te versoek nie, maar vir seker in die geval waar die sterfte dié is van iemand wie se lewe as noemenswaardig beskou kon word.
“Noemenswaardig” word nie gedefinieer nie. Die huldeblyke in die boek sluit egter dié in van mense wat deur ander as goeie mense beskou word weens die prysenswaardige dinge wat hulle gedoen het (nuwe uitvindsels, gemeenskapswerk; hulle was dalk vredemakers, top akteurs), sowel as van mense wat as gure karakters geag word oor die wandade wat hulle gepleeg het (korrupsie, moord, oorlog).
’n Afleiding wat dan seker gemaak kan word, is dat dit die aard (noemensw-aard-igheid) van iemand se lewe is wat sal bepaal of sodanige persoon se dood as “noemenswaardig” beskou sal word, wat aan ’n afgestorwene ’n huldeblyk sal besorg. Dit sou tog geheel onmoontlik wees om huldeblyke oor alle sterftes te skryf – ’skuus, oor alle lewens. En as ek dit reg verstaan, beteken dit dat daar nie ’n waardeoordeel gevel word oor die wyse waarop die betrokke individu se lewe gelei is nie, maar wel dat die besluit oor ’n huldeblyk uiteindelik deur die persoon se openbare profiel beïnvloed sal word. Soos in die voorgaande paragraaf genoem: ongeag of die persoon wat gesterf het, se lewe as voorbeeldig of verwerplik deur die samelewing geag word.
Dié aanname word deur die agterbladteks bevestig: “An obituary gives an instant assessment of a life.” Dit sê nie ’n lewe wat op ’n goeie of slegte wyse geleef is nie. Net ’n lewe – of ’n “noemenswaardige” lewe, liewer. The Times het dit oor ’n tydperk van meer as 100 jaar gedoen, “providing the most respected and perceptive verdicts on the lives of the great and the good”. Ook (my eie toevoeging om bostaande argument te steun) “the ugly”.
*
Hier in Suid-Afrika het huldeblyke, soos in die res van die wêreld, ook hul oorsprong by eenvoudige aankondigings oor sterfgevalle: “Dit spyt die familie van mnr/mev Só of Só om die hartseer nuus met u te deel dat Só of Só ons vandag/gister in die vroeë oggendure / gedurende die dag/nag ontval het. Ons sal hom as ’n oupa/pa/broer/eggenoot / vir haar as ’n ouma/ma/suster/eggenote geweldig mis. Rus in vrede, Só of Só.”
Dit sou doodgewone, “onbekende” mense in die gemeenskap kon wees, sodat vriende, kollegas en familie daaroor ingelig kan word. Dit sou ook bekende mense kon wees wat ’n openbare rol in onder meer die sakebedryf, akademie, kultuur of politiek gespeel het. Of dit sou iemand kon wees wat in lewe die nuus gehaal het oor ’n besonderse prestasie – Gerrie Coetzee as die wêreld se eerste swaargewigbokskampioen uit Afrika – of ’n heldedaad, soos ’n brandweerman wat ’n kat en dié se eienaar van ’n hoë verdieping in ’n brandende woonstelgebou gered het.
Oor die jare het die aptyt vir huldeblyke skynbaar begin afneem, moontlik weens die inkorting in verskillende opsigte in nuuskantore. Dit word meestal aan “juniorisering” toegeskryf, dsw die uittrede van senior, ervare joernaliste en die aanstelling van junior, onervare plaasvervangers. Maar alles wentel uiteindelik rondom die ekonomie: Minder advertensies beteken minder spasie vir artikels, en as jy dan ’n keuse moet maak tussen die sogenaamde harde nuus van die dag (politiek, ongelukke, die rand se waarde) en lekkerlees-artikels (“features”), dan sal laasgenoemde byna altyd in die slag bly.
Dit is waar aanlyn publikasies soos LitNet ’n onvervangbare rol vertolk – in die eerste plek omdat daar omtrent nie ’n ruimtebeperking op so ’n platform bestaan nie. Jy kan soveel woorde skryf, duisende daarvan, soos wat die gees jou lei. Andersyds omdat meer as een skrywer gevra kan word, soos wat LitNet ook dikwels doen, om oor dieselfde afgestorwene ’n huldeblyk te skryf sodat lesers (of gebruikers) die voordeel van verskillende perspektiewe oor ’n “noemenswaardige” lewe kan hê.
Gedurende die skryf van ’n huldeblyk word die skrywer wat daarmee toevertrou is, voor ’n aantal uitdagings gestel. Jy moet besluit watter balans jy gaan handhaaf tussen die goeie en die slegte wat die persoon se lewe gekenmerk het. Gee jy jou eie indrukke of slegs dié van ander wat die persoon geken het? Word jou skryfstyl of oordeel oor wat om in te sluit en wat om weg te laat beïnvloed deur jou bekommernis of ongeërgdheid oor wat die lesers of – straks belangriker – die familie se reaksie daarop sal wees? Uiteindelik hang dit van die skrywer af, en omdat daar geen ombudsman vir die skryf van huldeblyke bestaan nie, sal ons seker nooit weet watter besluite alles deur die skrywer geneem is of moes word met die skryf van enige spesifieke huldeblyk nie.
Wat ’n mens wel met sekerheid kan sê, is dat ons plaaslik in twee Sondagkoerante – Rapport en die Sunday Times – twee vooraanstaande huldeblykskrywers het in die vorm van Herman Lategan en Chris Barron. Hulle is ongetwyfeld twee gesoute skrywers en weet daarom hoe om slaggate te vermy, hoe om nie doekies om te draai oor dit wat ten hemele roep om gesê te word nie, maar ook hoe om die onderwerp (en die lesers) te respekteer.
En terwyl internasionale koerante soos The New York Times in Amerika en The Guardian in Brittanje ook deurentyd van die beste (mees roerende, mees prikkelende) huldeblyke publiseer, is dit die sakeblad The Economist wat loshande voor loop wat die styl en inhoud van hul huldeblyke betref.
“The obituaries that appear in The Economist are remarkable because of the unpredictable selection of people to be written about, the surprising lives they lead – but also for the style in which the obituary is written,” word die publikasie se benadering beskryf in die bemarking van The Economist Book of Obituaries. “The selection for this book ranges far and wide, including Jean Bedel Bokassa and Pope Jean Paul II, Pamela Harriman and Harry Oppenheimer, Akio Morita and JK Galbraith, Jean Baudrillard and Syd Barrett, Estée Lauder and Hunter Thomson, Bip (the legendary mime artist Marcel Marceau) and even Alex the African Grey (Science's best-known parrot).”
Alex die African Grey-papegaai is lank nie meer die uitsondering op die huldeblykreël nie. In hierdie era van sosiale media word die dood van troeteldiere ook daagliks met die aanlyn gemeenskap gedeel – die dood én die lewe van die dier: “Onse Wagter het ons vanoggend verlaat,” is die strekking van só ’n huldeblyk gewoonlik. “Onse kind wat twaalf jaar deel van ons gesin en ons lewe was. Ons gaan jou mis.”
*
Hierdie gemis is die goue draad wat deur die dood meegebring word. ’n Paar boeke in my versameling, wat eintlik ook as huldeblyke in boekvorm beskou kan word, bevestig dit: In Paula (1994) wou Isabel Allende die gebeure opteken waarvan haar dogter onbewus was nadat sy in ’n koma verval het, maar die eindproduk was ’n Allende-familiememoir waarin ook haar dogter se lewe opgeteken is. In The year of magical thinking (2007) vertel Joan Didion die verhaal van haar man, John, se skielike dood in 2003, enkele dae nadat hul dogter, Quintana, ernstig siek in die hospitaal opgeneem is (en sowat twee maande later ook dood is). In Kontakion for you departed (1969) skryf Alan Paton oor die afsterwe van sy vrou, Dorrie, twee jaar tevore; en in die meer onlangse Sedert die dood ons skei, deel Beryl Botman teenoor haar lesers én haar ontslape man, H Russel Botman, eerste bruin rektor van die Universiteit Stellenbosch, die uitwerking van sy dood op haar en hoe sy dit hanteer.
Net hierdie week ontdek ek ook die 2021-boek A farewell to Gabo and Mercedes: A son’s memoir oor die skrywer en Nobelpryswenner Gabriel García Márquez se laaste dae en lewe, asook dié van sy vrou, Mercedes Barcha, deur hul seun, Rodrigo Garcia. Dit is eweneens ’n huldeblyk aan sy beroemde ouers, ’n poging om die vakuum wat hul afwesigheid meebring, te vul; en die wyse waarop Garcia dit doen, “enthralled and moved me,” skryf Salman Rushdie oor die boek, en hy glo dit sal dieselfde uitwerking op enigiemand anders hê “who has ever entered the glorious literary world of Gabriel García Márquez”.
*
Die groot gemis vind natuurlik neerslag in beide mondelinge en geskrewe huldeblyke, soos goed geïllustreer deur die onlangse, onverwagse heengaan van Ainsley Moos, onder meer Universiteit Stellenbosch-raadsvoorsitter en hoof van korporatiewe skakeling by African Rainbow Capital. Familie het dit by roudienste verwoord, kollegas en vriende in sosialemediaplasings en skrywers, soos die uwe, in huldeblyke vir publikasies, aanlyn en in gedrukte vorm.
Dit is juis die besef dat ek in die onlangse verlede oor ’n tydperk van sowat ’n anderhalf maand minstens drie huldeblyke moes skryf (dié oor Moos, een oor die rugby-ikoon Dougie Dyers en een oor die musieklegende Jerry Watt van die gewilde groep The Rockets) wat my oor die skryf van huldeblyke aan die dink gekry het.
Ook, bygesê, oor wie eendag in die verte of dalk heelwat gouer as wat ’n mens sou kon dink, die skrywer van huldeblyke se huldeblyk oor dié se lewe eerder as se sterfte (soos Brunskill dit stel) sal lewer of skryf.

