Oor berge en dale, op reis met 'n monumentjagter: ’n onderhoud met Jackie Grobler

  • 2

Oor berge en dale
Jackie Grobler
Jonathan Ball-uitgewers
ISBN: 9781868427826

Skrywers oor hul nuwe boeke. Jackie Grobler het rondom Erfenisdag 2017 met Naomi Meyer gesels oor Oor berge en dale, op reis met 'n monumentjagter.

Hallo Jackie, geluk met die verskyning van Oor berge en dale, op reis met ’n  monumentjagter. Het jy beplan om die boek te skryf, of het jy monumente gejag en toe spruit die skryf van die boek half natuurlik daaruit voort?

Beslis nie, maar die gedagte het mettertyd by my opgekom. Ek het eers gedink aan ’n baie formele boek oor die monumente. Daarbenewens het ek telkens vir vriende, kollegas en dies meer vertel van avonture terwyl ek en my vrou spesifieke monumente probeer opspoor het. Van hierdie persone het by my aanbeveel dat ek dit moet neerskryf want dit is “lekker stories”. Op ’n dag het ek met die uitgewer Jonathan Ball oor ’n ander boek sit en gesels en sonder enige bybedoelings aan hom vertel van my belewenisse met die opspoor van monumente. Sy onmiddellike reaksie was dat ek asseblief vir hom ’n boek met hierdie stories in moet skryf. Dit was die finale aanleiding tot die boek.

Wat beskou jy as ’n monument vir doeleindes van hierdie boek?

Die subtitel van die boek is beslis effe misleidend. Dit moes eerder “herinneringsplek aan die verlede” gewees het. As dit die maatstaf is, beteken dit dat monumente vir my veel meer as net formele herdenkingstrukture, soos die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, insluit. Dit omvat ook gedenkterreine, historiese geboue, gedenkplate, gedenkstandbeelde, slagvelde, begraafplase en grafstene.  

Ons leef in ’n diverse land met ’n komplekse geskiedenis. Dit was vir my lekker om in jou boek te lees van die Anglo-Zoeloe-oorlog en gedenktekens wat hiermee saamhang. Hoe het jy bepaal watter monumente om te betrek?

Ek het my doelbewus daarop toegespits om gedenkplekke van al Suid-Afrika se uiteenlopende gemeenskappe in te sluit. Die uitgewer het my gevra om die boek in Afrikaans te skryf. Ek het so by myself gedink dat ek dan seker net monumente moet insluit wat vir die Afrikaanssprekende gemeenskap van belang sal wees. Dit het my nie bevredig nie. Te midde van al ons rondryery het ek en my vrou op ’n groot aantal besonderse, soms onverwagte monumente afgekom wat ek dan sou moes weglaat. My oplossing, wat later, terwyl ek aan die skryf was, my passie geword het, was dat ek die boek moes benut om Afrikaanse lesers in te lig oor die skat van wonderlike monumente wat daar al in ons land opgerig is om gebeure en persone wat tot die “ander” Suid-Afrikaanse gemeenskappe behoort, te gedenk. Dit klink sekerlik arrogant, maar ek glo die boek moet by wyse van spreke ’n opvoedingsrol vervul. Ongelukkig kon ek nie naastenby vir al die monumente wat ek wou invoeg, plek kry nie, want die uitgewer het ’n beperking op die omvang van die boek geplaas.

Wat van die monumente wat eenvoudig nie langs die pad aangedui word nie? En terloops: is dit algemeen dat besienswaardighede nie aangetoon word nie? Ek weet byvoorbeeld Tolkien is in Bloemfontein gebore, maar daar is nie eens meer ’n bordjie op die gebou se muur om dit aan te toon nie.

By verre die meeste van die monumente wat ons op ons reise besoek het, word nie met bordjies aangedui nie. In die meeste gevalle was ons van die bestaan van die monumente bewus en het ons daarna gaan soek. In ander, telkens meer opwindende gevalle, het ons absoluut toevallig afgekom op monumente waarvan ons nie bewus was nie, al het ek altyd voordat ons ’n “monumentale reis” aangepak het, indringend navorsing gedoen. Ek skryf in die boek oor party van hierdie monumente, soos die gedenkplaat vir Jan Smuts in Moordenaarspoort en die sogenaamde Volksmoordmonument buite Graaff-Reinet. Aan die ander kant was daar gevalle waar ons nie van monumente geweet het nie, maar deur bordjies langs die pad van hulle bestaan bewus gemaak is, soos die graf van Aia Jana buite Greytown.

Jackie Grobler staan hier voor die ou Laingsnek-spoorwegtonnel in KwaZulu-Natal, tussen Newcastle en Volksrust.

Is jou boek (ook) ’n reisgids?

Ongetwyfeld. Ek het my daarop toegespits om in die teks vir lesers aan te dui waar hulle na die monumente wat vermeld word, kan gaan soek. Agter in die boek word 18 bladsye afgestaan aan ’n lys van die meer as 400 monumente/gedenkplekke wat in die boek gemeld word, met hulle adresse, sowel as in die meeste gevalle die GPS-koördinate van hulle ligging.

Erfenisdag vind hierdie maand plaas. Kom ons praat gou oor wie se monumente is wie s’n. Of is dit ’n verkeerde beskouing? Anders gestel: dink jy mense redeneer nog so? En wat van jou boek en die klem wat hier gelê word?

Die Rhodes Must Fall-veldtog van minder as twee jaar gelede en die onlangse negatiewe reaksie op Helen Zille se onnadenkende uitspraak oor kolonialisme het by my die indruk geskep dat daar talle Suid-Afrikaners is wat geen ooghare vir nalatenskappe van die vervloë era van wit oorheersing oor Suider Afrika het nie. Terselfdertyd het ek, soos ek ook in die boek geskryf het, soms tydens my reise die indruk gekry dat 'n groot aantal Suid-Afrikaners nie juis waarde aan monumente heg nie. Alles is egter nie net negatief nie. Allermins. Ek het al telkens groepe skoliere en ook universiteitstudente uit die hele spektrum van ons Suid-Afrikaanse gemeenskappe op toere na herdenkingsplekke geneem en kry deurgaans die indruk dat hulle deur die bank, wanneer hulle weet waaroor ’n monument of gedenkplek gaan, bereid is om daarmee te assosieer en dit hulle eie te maak. In hierdie boek het ek sover as moontlik weg beweeg van ’n “ons versus hulle”-mentaliteit, want ek glo gedenkplekke is inherent aan alle Suid-Afrikaners se gedeelde verlede.    

Wat was vir jou met die navorsing van hierdie boek van die mees interessante ontdekkings wat monumente betref?

Ons het sommer ’n klomp interessante monumente en herinneringsplekke raakgeloop – indien ’n mens daarmee bedoel monumente wat ’n besondere indruk gemaak het. Ek het in die boek vertel van ons verbasing oor die gedenkplaat vir Aia Jana in Pietermaritzburg; die Stoelmonument vlak buite Middelburg in die Oos-Kaap waar Lötter en Wolfaart tydens die Anglo-Boereoorlog deur ’n Britse vuurpeleton doodgeskiet is; die monument langs Khumalostraat in Thokoza in Gauteng met sy duisende name op van die slagoffers van die geweld tussen die ANC en Inkatha in die aanloop tot die nuwe Suid-Afrika; en die unieke standbeeld by Howick in KwaZulu-Natal van Nelson Mandela wat van ver af soos ’n klomp verroeste ysterpale lyk, maar hom van ’n spesifieke punt af perfek uitbeeld. Ons is bevoorreg om talle interessante monumente in hierdie wye, droewe land van ons te hê. 

Jackie en Elize Grobler in die Montagupas bokant George

En langs die pad, wat was vir jou die mees interessante ontdekkings (niemonumente – natuur, eetplekke, ander dinge wat dalk nie eens in die boek genoem word nie)?

Dit was ’n fantastiese voorreg vir ons om tydens ons “monumentejag” die hele Suid-Afrika plat te ry en te loop. Ek het hier en daar in die boek geskryf oor die besonderse plekke wat ons in die proses gesien het, waaronder die steil bergreeks met sy klowe en waterval waaroor Louis Tregardt en sy metgeselle in 1837–38 met hulle ossewaens getrek het; die ongeskonde en bykans verlate heuwels en vlaktes van die Roggeveld- en die Nuweveldberge waardeur die ou koetspad tussen Sutherland en Fraserburg kronkel en waar Boer en Brit mekaar in 1899–1902 die stryd aangesê het; die groen weivelde in die gelyktes tussen die kranse van die Stormberge in die Oos-Kaap, waar ons een oggend op ’n swerm mahemme afgekom het; die dosyne uitgestrekte landelike nedersettings, waarvan sommige, soos Bochum in Limpopo, inderdaad eerder stede is en waarvan ons as Gautengse stadsjapies geensins bewus was nie. Vanselsprekend was daar vir ons in die proses talle wonderlike belewenisse waarvoor daar nie in die boek ruimte was nie, soos die lang wandelpad tussen die boomtoppe in die Mapungubwe Nasionale Park op die oewer van die Limpoporivier en die vars kreef wat ons in die kampeerterrein by Strandfontein gaargemaak en genuttig het.   

Is daar wat monumente betref “toeristelokvalle”, as dit uitgelig kan word – monumente wat hoog aangeskryf word, maar dalk dan teleurstel, om watter rede ook al?

Ons is wel by enkele geleenthede onkant gevang, en daarvan het ek hier en daar in die boek geskryf, maar werklike toeristelokvalle het ek nie raakgeloop nie. In die eertydse Transkei het ons naby die dorp Ludeke na die Oliver Tambo-geboortemonument gaan soek. Die nuutgeboude grondpad daarheen was ontstellend sleg en by die gedenkterrein self was daar talle strukture – alles net ’n paar jaar tevore opgerig – maar alles erg verwaarloos en deur onkruid oorgroei. By die hoog geroemde Mandela-museum by Qunu, óók in die eertydse Transkei, het ons net tyd gemors, want daar was werklik niks besonders om te sien nie. By die Schoemansdal-museum in Limpopo kon ons, ten spyte van herhaalde pogings, nie inkom nie. Toe verneem ons dit het kort voor ons besoek afgebrand en daar is buiten grafstene niks meer te sien nie. Pelgrimsrus was vir ons  ’n hartseer katastrofe. Al hierdie gevalle was eerder teleurstellings as lokvalle.

Vertel asseblief nog van jou agtergrond en waarom monumente, in die wydste sin van die woord, jou interesseer.

Ek het van kleins af ’n belangstelling in die verlede – moontlik omdat ek grootgeword het in ’n huis waar daar baie oor geskiedenis gepraat is en die boekrakke vol geskiedenisboeke was. As volwassene was ek my hele loopbaan lank as historikus werksaam, 40 jaar daarvan by die Universiteit van Pretoria. Tydens oorsese reise, waarvan ek die voorreg gehad het om ’n aantal te onderneem, het ek en my vrou graag plekke besoek wat met bekende figure soos Mozart, Napoleon en Shakespeare in verband gestaan het. Van ongeveer die jaar 2000 af het ons dit ook doelbewus in Suid-Afrika begin doen. My belangstelling het spoedig uitgebrei na alle monumente en gedenkplekke – oor prekoloniale Suid-Afrika, oor die VOC-tydperk, oor ons slawegeskiedenis (daar was twee slavinne uit Indië in die geledere van my ouma oor-oorgrootjies), oor die Groot Trek, oor die geskiedenis van die Zoeloes en ander inheemse gemeenskappe, oor die oorloë tussen Boer en Brit waarby bykans alle Suid-Afrikaners betrokke geraak het, oor die Wêreldoorloë en die Ossewatrek van 1938, oor ons struggle-geskiedenis – letterlik alle historiese monumente en gedenkplekke het vir my bekoring.   

Die belang van monumente – wat gedenk word, wat onthou word ... en behoort dit steeds te gebeur?

Monumente help ons om nie te vergeet nie. ’n Mens sonder ’n geheue is nie ’n mens nie. ’n Nasie sonder ’n geheue is nie ’n nasie nie, maar bloot ’n warboel van menslike wesens.

Noem jou top vyf monumente in die land, as jy kan.

As ek monumente kan beskou as gedenkplekke, sal my lysie die volgende insluit:

  • die Kompanjiestuin in Kaapstad
  • die Magersfontein-slagveld in die Noord-Kaap
  • die terrein van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein
  • die Bloedrivier-slagveldterrein met daarby ingeslote die Ncome-Museum in KwaZulu-Natal
  • die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria.

Jy skryf glad nie oor Bloedrivier in die boek nie. Is daar nog baie ander gedenkplekke waaroor jy nie geskryf het nie? Kan ons ’n opvolgboek verwag?

Daar is inderdaad nog baie. Ek moes kies, want een boek kan nie alles insluit nie. Daar is byvoorbeeld ook niks in hierdie boek oor die aangrypende vroeë geskiedenis van die Zoeloes, waaronder Shaka, van wie daar heelwat gedenkplekke is, nie. Daar is geen gedenkplekke van Engelstalige, swart of bruin skrywers in die boek nie. Geen Wêreldoorloë-gedenkplekke nie, niks oor Mahatma Gandhi nie. As ek ’n uitgewer kan kry, sal daar beslis ’n opvolgboek wees – mits hierdie een verkoop, natuurlik.

  • 2

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Hierdie klink na goeie boek om te lees en te ry mee, as jy tyd het. Ek het jare laas net gery.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top