Oor berge en dale deur Jackie Grobler: ’n lesersindruk

  • 0

Oor berge en dale: Op reis met ’n monumentjagter
Jackie Grobler
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427826

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Baie mense besef nie die krag van erfenishulpbronne, waaronder ook monumente, nie.

Volgens die aanhef van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (25 van 1999) is ons erfenis “uniek en kosbaar en kan nie hernu word nie. Dit help ons om ons kulturele identiteit te definieer en vorm dus die grondslag van ons geestelike welsyn … Dit voed op, dit verdiep ons begrip van die samelewing en moedig ons aan om empatie te toon vir die ervarings van andere.” En monumente vertel ’n ekstra laag fassinerende verhale. Monumente is anders as gewone erfenishulpbronne in die sin dat hulle getuig van latere generasies se interpretasies van die gebeure, en dit gee ook ’n aanduiding van wat hulle as herdenkenswaardig geag het.

Oor berge en dale is nie ’n omvattende inventaris van Suid-Afrika se monumente nie. Die doel van hierdie boek is lekkerlees. Die boek dokumenteer die reise van die skrywer deur Suid-Afrika, op soek na enige monumente, insluitend grafte. Dan word die spesifieke monument kortliks in historiese konteks geplaas: Wat het daar gebeur? Wie was betrokke?

Die boek is in nege hoofstukke opgedeel in ooreenstemming met Suid-Afrika se nege provinsies, wat verder tematies opgedeel is. Dit is ligte leesstof oor ’n ernstige onderwerp. Die verlede is altyd ’n politieke mynveld, en die onderwerp van monumente is natuurlik ook ’n uiters sensitiewe een. Die skrywer hou die narratief egter ongekompliseerd, sonder ingewikkelde argumente. Daar is geen voetnote en bronverwysings nie, en die teks word deurgaans voorsien van swart-wit foto's van die plekke wat besoek is.

Wat in die besonder verfrissend is, is dat daar geensins net op een kultuurgroep se monumente gefokus word nie. Grobler is ’n akademikus met ’n wye kennis en belangstelling, wat die bewaring van alle groepe se erfenis bepleit. Op bl 196 spreek hy kritiek uit teen die African National Congress (ANC) wat voorkeur gee aan hulle eie leiers se monumente. Maar op sy reise besoek hy ook baie monumente van die ANC. Benewens die algemene verwaarlosing van erfenishulpbronne is daar ook die kommerwekkende saak van vandalisme van monumente, nie uitsluitlik van monumente wat koloniale figure en gebeure herdenk nie, maar ook van “struggle”-monumente wat beskadig word (189).

Die opsetlike vernietiging van erfenishulbronne is so oud soos die mensdom self. Die eerste wetgewing om erfenishulpbronne te probeer beskerm is in Frankryk ontwikkel, nadat die burgery die Franse koninklikes se erfenis na afloop van die Franse Revolusie vernietig het.1

Op bl 192 skryf Grobler oor die Duncan Village Massacre Memorial in Oos-Londen, waar tientalle anti-apartheid oproeriges in 1985 gesterf het toe die polisie op hulle geskiet het. Iets wat minder bekend is, en ook nie in hierdie boek genoem word nie, is die drama wat rondom hierdie monument afgespeel het nadat inwoners van die gebied ontevrede was daarmee. Die monument beeld ’n Zoeloekryger uit, wat volgens sommige van die inwoners van die gebied nie verband hou met die gebeure van 1985 nie. Dit het ook daartoe gelei dat hierdie monument gevandaliseer is.2

Hier en daar sou ’n voetnoot my dalk gehelp het, soos op bl 112 waar Grobler skryf dat Nelson Mandela (1918–2013) nie teenwoordig was by die Volkskongres in Kliptown waar die Vryheidsmanifes in 1955 aanvaar is nie. Dit is nie vir my heeltemal duidelik nie, want in die outobiografie Lang pad na Vryheid word daar geskryf dat Mandela wel daardie dag teenwoordig was in die skare mense, maar weens ’n inperkingsbevel nie deelgeneem het nie.3 Alles in ag genome is hierdie egter ’n boek wat ek kan aanbeveel. Daar is baie wat mens kan wys word deur te stop en monumente te bestudeer, en dit is hoog tyd dat ons meer erns maak met ons monumente.

Eindnotas

1 Department of Arts and Culture. s a. Review of Heritage Legislation, http://www.dac.gov.za/sites/default/files/Review%20of%20Heritage%20Legislation%20Report.pdf (4/5/2016 afgelaai).

2 Minkley, G en P Mnnyaka. 2015. Seeing beyond the official and the vernacular: The Duncan Village Massacre and the politics of heritage in South Africa. In DR Peterson, K Gauva and C. Rassool (reds), The politics of heritage in Africa, economies, histories and infrastructures, New York. In verband met die voorstelling van historiese figure/gebeure in monumente, sien ook N Mthukwane, s a, “Kimberley’s Sol Plaatje statue at the heart of new wrangle”, https://www.news24.com/SouthAfrica/News/kimberleys-sol-plaatje-statue-at-the-heart-of-new-wrangle-20171003 (04/02/2018 afgelaai).

3 Mandela, Nelson. 2001. Lang pad na Vryheid, Vivlia Publishers and Booksellers (Edms) Bpk, Kaapstad, bl 134.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top