Oomblikke wat jou tot stilstand bring

  • 0

Kenners skryf graag Gil Scott-Heron het onbedoeld ’n voorloper van rap en hip-hop geword toe hy op 22 sy debuut met die album Pieces of a Man gemaak het. Dit was 1972 en die eerste snit, "The revolution will not be televised", was een van die era se onvergeetlikste politieke stellings.

Gil het homself ’n digter genoem – sy held was Langston Hughes – en het ook een roman agter sy naam gehad. Sy goeie vriend Brian Jackson, ’n veelsydige musikant, was die perfekte skryfmaat en vervaardiger om hom sy plek en stem in musiek te help vind.

Dié plek het nie regtig veel met rap in gemeen gehad nie – dalk net in die sin dat “spoken word performer”, soos baie biografieë hom noem, nogal na ’n vroeë naam vir “rapper” klink. Maar sy styl was te vloeibaar om dit een etiket te gee en oor die jare het hy die jazz- en die R&B-trefferlyste gehaal.

Van 1982 tot 1994 het Gil niks opgeneem nie, hoewel hy getoer het. Na een album – Spirits, met ’n stem wat skielik onthutsend diep en grof was – het persoonlike probleme hom weer oorweldig en was hy stil tot 2010. Die album wat toe gekom het, was sy laaste.

Op 7 Februarie 2020 is twee nuwe weergawes daarvan uitgereik. Die eerste is I’m New Here (10th anniversary edition), in ’n beperkte oplaag met bonussnitte.

Die oorspronklike album het ’n klomp dinge gewys. Gil was lank stil, maar sy woorde het nog gevloei en sy idees was vars. Hy kon ander mense se musiek sing, soos die blues-legende Robert Johnson se “Me and the devil”, en dit sy eie maak. Sy visie as ’n kunstenaar was nog net so skerp – die album was kort, maar die liedjies en temas het perfek saamgehang.

Daar was ook nuwe dinge. Hy het nog nooit so persoonlik geraak soos met “On coming from a broken home”, die vers in twee dele waarmee die album begin en afsluit nie. Dit vertel van sy kinderjare en die vroue wat hom grootgemaak het en loop op dié slot uit:

My life has been guided by women
But because of them – I am a man.

Sy nuwe vennoot was die platebaas en vervaardiger Richard Russell. Hy het party snitte ingekleur met weerklankende trip-hop-ritmes en klankeffekte, afgewissel met onverwagte idees soos ’n “loop" van ’n stukkie Kanye West. En dan is daar skielik ’n stil akoestiese kitaar vir die titelsnit met sy onvergeetlike refrein:

No matter how far wrong gone
You can always turn around.

Daar was skaars ’n jaar van Gil se lewe oor en hy praat in “Running" met groot kalmte oor wat voorlê: 

And because you're going to see me run soon
And because you're going to know why I'm running then
You'll know then
Because I'm not going to tell you now.

Dis ook “Your soul and mine” se tema:

So if you see the vulture coming
Flying circles in your mind
Remember there is no escaping
For he will follow close behind
Only promise me a battle
For your soul, and mine.

Daar is soveel oomblikke wat jou tot stilstand bring – en dan is daar meer op I’m New Here (10th anniversary expanded edition) wat op 7 Februarie 2020 presies ’n jaar na die oorspronklike uitgereik is.

Bonussnitte maak nie altyd ’n album se heruitreiking beter nie, maar die tien ekstras by dié een is die moeite werd. Die bestes is "Handsome Johnny”, ’n klassieke anti-oorloglied deur Richie Havens en die akteur Louis Gossett Jr, waarop Gil nader as ooit aan Tom Waits klink.

’n Onuitgereikte snit, "Henry IV” praat oor die Vigs-epidemie (Gil was HIV-positief). ’n Paar minute later gesels hy met ’n grinnik oor waar jazz se naam vandaan kom.

Op dieselfde dag dié maand is Were New Again: A Reimagining bekendgestel. Die inspirasie was ’n hermengde opname van die album in 2011 deur Jamie xx. Die nuwe een is op versoek van Richard Russell gedoen deur Makaya McCraven, ’n gerekende tromspeler en komponis uit Chicago wat in jazz begin het, maar nou ’n “klankwetenskaplike" genoem word.

Jy verwag iets avontuurliks van iemand met so ’n etiket, daarom is dit effens teleurstellend dat Makaya al die emosie versag, die lirieke verwater deur dit op te sny en die stem soveel sagter te meng dat dit soms so terloops soos die “vocal samples” in lounge-musiek begin klink.

Vir puriste is die oorspronklike album die een om te hou, maar Im New Here (10th Anniversary Edition) se ekstras maak dit die moeite werd. Makaya se weergawe … wel, dis dalk ’n goeie beginplek vir nuwe ore.

Kyk na die oorspronklike video van I’m New Here: 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top