Onverwagte rykdom van Suid-Afrikaners

  • 1

Suid-Afrikaners besit netto bates (na skuld afgetrek is) van oor die R8 127 miljard, of in Amerikaanse terme so R8,1 triljoen. Dit beteken dat elke inwoner gemiddeld so R151 600 in netto bates besit. Dit is dubbel die bedrag in 1990 in reële terme! Dit terwyl ons in die afgelope agt jaar ons skuld tot inkomste afbring.

 Grafiek-Mike-S

Figuur 1. Netto bates en skuld tot besteebare inkomste (Bron: SARB)

Hierdie is waarskynlik die besbewaarde geheim van ons as land, maar mens moet ook versigtig wees, omdat gemiddeldes dinge soms kan skeeftrek. Die heel armes het waarskynlik min bates en die rykes het seker honderd keer meer as die gemiddeld.

Maar soms is welvaart meer versprei as wat ons dink, want 77,7% van die land se huishoudings bly in formele huise en nog sowat 8% in tradisionele huise (in sommige gevalle nes formele huise). Informele huise maak minder as 14% uit van Suid-Afrika se blyplekke.

Altesaam 66,4% van Suid-Afrikaanse huishoudings besit hulle wonings ten volle of gedeeltelik (betaal nog hulle huis af). Sowat 30% van die swart bevolking besit ’n tweede eiendom (wat nie altyd reg gewaardeer is nie, omdat daar nie waardevrae daaroor gevra word nie).

Dan is daar sowat 12% van huishoudings wat in eiendomme bly wat deur die gemeenskap besit word. Alhoewel die huishouding die voordeel van die huis het en waarskynlik nie daarvoor betaal nie, kan hulle nie op die eiendomsreg aanspraak maak nie.Net sowat een uit elke vyf Suid-Afrikaanse gesinne huur hul blyplek.

Die meeste Suid-Afrikaners bly dus in hulle eie huis en sowat agt uit tien van hulle het ’n televisie, en dieselfde geld vir ’n elektriese stoof. Sewe uit tien huishoudings het ’n yskas en drie uit tien het ’n motor, en dieselfde is waar van wasmasjiene.

Die regering bestee meer as 11% van sy begroting aan behuising en gemeenskapsbates en -dienste. Dit verteenwoordig sowat 3,5% van die land se BBP, terwyl sosiale betalings sowat 4,7% van BBP uitmaak.

Die behuisingbegroting bedra die laaste twee dekades die meeste van al die regeringsdepartemente en dit klim steeds!

Ons bestee die afgelope twee dekades al hoe meer aan behuising, en dit is interessant om te sien hoe hierdie besteding ook daartoe bygedra het dat die gemiddelde huishouding van 4,9 mense per huishouding tot sowat 3,5 mense gedaal het. Soos wat mense huise op die waglyste bekom, trek hulle uit hulle ou huise uit na hulle nuwe huise toe.

Daarby het 90% van huishoudings in die land elektriese krag en 70% het lopende water op hulle erf. Byna almal in die land het nou ’n telefoon en drie uit tien het toegang tot die internet!

Maar dit is nie die grootste deel van ons rykdom nie. Die grootste enkele deel is finansiële bates, waarvan pensioene die grootste is, naamlik byna R4 triljoen. Dan kom geld wat ons belê behalwe pensioene, en dan eers die geld in die bank.

Daar is net oor die 15 miljoen pensioenrekeninge en sowat ’n halfmiljoen “friendly societies” saam met 2 miljoen eenheidtrusts en sowat 25 miljoen bankrekeninge. Hierdie syfer sluit bemagtigingmense en -groepe uit, asook direkte aandeelbeleggings, wat minstens ’n paar ekstra miljoen mense sou verteenwoordig.

Dit in ’n bevolking van sowat 35 miljoen volwassenes sê vir mens dat hierdie land sy bates redelik versprei het.

Ek verstaan goed hierdie is nie mense nie, maar rekeninge, en sommige mense het twee of drie. Dit is egter duidelik dat die agtste grootste pensioenbates in die wêreld behoort aan baie mense wat oor 15 miljoen huishoudings versprei is. Onthou ook dat byna 23 miljoen verskillende mense (amptelik) krediet het (mense volgens ID-nommers en nie net rekeninge nie). Dit wil sê hulle behoort ook ’n inkomstete hê. In die Desember-kwartaal het byna 16 miljoen mense navrae oor moontlike krediet gedoen, saam met byna 400 miljoen ander finansiële navrae. (Dit is nie ’n fout nie en daar is inderdaad baie navrae!)

Mens moet natuurlik geld verdien en soms bates hê of koop met die geld wat jy leen.


Jong enkelouers wat tog welvaart het – die ongewone wat werklikheid is

Hierdie syfers is regtig baie goed vir ’n land met ’n tipiese gemiddelde ouderdom van sowat 23 jaar. Op 23 jaar dink ek nie die meeste mense in enige ander land het al hulle eie huis nie. Dit is beslis nie die algemene syfers van ’n arm of van ’n baie jong land nie. Sommige Europese lande het tipiese gemiddelde ouderdomme van 47 jaar en teen dié tyd sal jy gewoonlik baie van jou huis afbetaal hê en baie meer gespaar hê. (Selfs die oudste bevolkingsgroep (ouderdomsgewys) in Suid-Afrika – die blankes – het ’n tipiese gemiddelde ouderdom van 38 jaar, wat sowat tien jaar jonger is as van die oudste Europese lande – ten spyte daarvan dat baie jong blankes en ander minderhede landuit is.)

Reken daarmee saam dat sowat die helfte van ons huishoudings enkelouerhuishoudings is; terwyl sowat 3% van huishoudings glad geen ouers het nie en sowat 12% van alle kinders by hulle oumas en oupas bly.

Dit is alles deel van ’n land wat van die skeefste inkomsteverdelings in die wêreld het.

Wat gaan dan hier aan dat ons bates redelik versprei is en van die hoogste ter wêreld is en Thomas Piketty waarskynlik die kapitaal van Suid-Afrikaners nie sou kon beskryf nie? Ons het veel meer as die Franse en selfs meer as die Duitsers en die meeste outydse kapitalistiese lande.

Dit alles is inligting wat vanaf amptelik bronne soos Statistiek Suid-Afrika en die FSB en NKR kom. Dit word ook gestaaf deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank asook meer oopkop akademici. Die feit dat hierdie bates soveel is in ’n jong land, laat my dink dat daar meer goeie dinge in die land is as die mense wat alles “weet” van dit wat in die land verkeerd is.

Steven Friedman het nou die dag vir my gesê dat baie mense oor hulle inkomste lieg en dit as minder uitmaak. Die bates en kredietverskaffingsyfers ontbloot die leuen. Daar is baie meer geld in die ekonomie en daar is baie meer rykdom as wat soms voorgegee word.


Groot bates het ander beleid nodig

En dit is juis wat ek wil sê. Ons ekonomie sal beter af wees as ons beleid hierdie feit in ag neem. Soos hoe ons bates kan gebruik om die ekonomie te help groei.

Kom ons kyk liewer vooruit na ’n beter toekoms en wees minder bitter en swartgallig. Daar is nie veel lande wat die bates het wat Suid-Afrikaners het nie. Dit beteken nie ons is perfek of dat daar is nie arm mense is nie. Dit beteken wel dat ons beter gevaar het as wat soms algemeen aangeneem word en dat ons meer op ons rykdom en bates moet fokus, soos hoe meer huise van hande kan verwissel en hoe ons meer geld uit huise en maatskappye kan maak.

Die groter prentjie se storie sê as maatskappye meer dinge makliker kan doen en daar minder aandag aan swart bemagtiging en armoede bestee word, dit baie meer mense sal ophef en ryker maak as wat tans gedink word.

Die bewyse stroom al hoe meer in en dit is dat daar ’n groot gros mense is wat uit kapitaalverhogings sal baat – selfs meer as wat tans amptelik werk. Die armoedespel word gespeel sodat die mense net meer bates kan kry deur beleide soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, maar as die beleid daaroor gaan om bategroei aan te moedig, sal dit Suid-Afrika baie meer baat!

Die ironie is dat met 70% van die omset van die grootste maatskappye van die JSE wat vanaf buite Suid-Afrika kom, vrye en oop grense meer Suid-Afrikaners sal help as die meeste ander lande ter wêreld, maar ons regering se slagspreuke en denkwyse is so diep na agter gefokus dat dit glad nie dinge vir die baie eienaars van kapitaal beter maak nie.

Dis jammer, want dit is juis hierdie beleid wat verhoed dat rykdom vir baie geskep kan word.

Baie mag dalk nie saamstem nie, maar die bewyse is daar. Die feite op die  tafel moet net ’n behoorlike kans gegun word om die gevestigde wanpersepsies verkeerd te bewys.

  • Mike Schüssler is hoofekonoom van Economists.co.za.
  • 1

Kommentaar

  • Elke keer wat ek iemand se bitter galbrakery oor die 'toestand' van die land lees, verwonder ek my aan die feit dat ek so heerlik leef en oral om my suksesstories hoor. Elke huis en gehuggie in ons geweste spog met 'n hopie sand en stene en iets word aangebou. Dit lyk vir my na vooruitgang. Dankie tog vir bevestiging van ingeligte ekonome, Mike!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top