Ontwikkeling van ons inheemse tale is sentraal tot sosiale samehorigheid

  • 1

President Ramaphosa se toespraak by Sharpeville op Menseregtedag bevat heelwat waaroor taalmense gelukkig kan wees, hoewel dit mens in sekere opsigte ook met gemengde gevoelens - en met vrae - laat.

Om met die positiewe te begin: Die president se bevestiging dat taal en die status daarvan ʼn bron van trots en waardigheid vir mense kan wees, is belangrik, want hiersonder kan geen taal oorleef nie. Ook die goedkeurende verwysing na UNESCO se Internasionale Jaar van Inheemse Tale en sy klem op die ontwikkeling van kwesbare tale, soos Nama, dui op ʼn welkome sensitiwiteit teenoor taal. Die ATR steun self ʼn inisiatief ter bevordering van Nama – deur Afrikaans.

Voorts laat die president se verwysing na positiewe taalinisiatiewe van die KGT-kommissie en PanSAT mens onwillekeurig dink aan die toenemend gunstige klimaat vir die inheemse tale, meertaligheid en moedertaalonderrig wat in hierdie ruimtes en op voetsoolvlak posgevat het.

ʼn Voorbeeld van laasgenoemde is die Indigenous Languages Action Forum, ʼn NRO-netwerk wat einde Februarie geloods is met die doel om die ontwikkeling van ʼn ware meertalige bestel in SA te bevorder. Die netwerk fokus veral op die praktiese voorvereistes vir die groei van die inheemse tale, Afrikaans inkluis, in belangrike domeine soos die onderwys, die akademie, en die kriminele regsisteem. Dit gaan hier nie om ydele wensdenkery nie. Hierdie benadering is ʼn integrale deel van UNESCO se aksieplan vir die Internasionale Jaar van Inheemse Tale.

Ongelukkig bestaan daar ʼn gaping tussen hierdie doelgerigte taalentoesiasme en die president se toespraak. Sy verwysing na gelyke geleenthede tot onderwys, vaardigheidsontwikkeling en indiensneming - sonder om die sentrale rol van taal hierby te betrek - moet byvoorbeeld bevraagteken word. Hoekom word hier versuim om ʼn lansie vir die inheemse tale te breek? Menseregtedag is vanjaar immers gewy aan die inheemse tale as fundamentele bousteen van ʼn menseregtekultuur soos in ons Grondwet veranker.

Voorts is die simboliese gelykberegtiging van al die amptelike tale van die land belangrik, maar onvoldoende in die afwesigheid van duidelike ontwikkelingsdoelwitte in belangrike domeine soos onderwys en die regsisteem. Sonder sterk politieke ondersteuning vir ʼn pragmatiese en buigsame streeksgebaseerde benadering tot taal, sal ons by die ou model van “English as the common language” bly vassteek. Indien aangehou word om die agterstand van sommige tale te gebruik om ander tale af te trek, word die voortgesette erosie van al die inheemse tale verseker.

Tog bied die president se oproep aan Suid-Afrikaners om ware menseregte-aktiviste te word, ʼn geleentheid vir burgerlike organisasies om saam met die regering aan die skepping van ’n sterker menseregtekultuur te werk - een waarin die inheemse tale ʼn sentrale rol in die samehorigheid van ons samelewing speel. Die ATR en baie ander taalorganisasies is gereed om dit te doen.

Conrad Steenkamp (ATR-hoof) en Ria Olivier (ATR-projekbestuurder)
conrad@afrikaansetaalraad.co.za

  • 1

Kommentaar

  • Geagte skrywers - dit is so - maar ongelukkig is dit ooglopend dat belangstelling en entoesiasme (van die sprekers van swart tale) kortkom om die tale tot volwaardige en respekvolle wetenskapstale te ontwikkel en sodoende hoër funksies daaraan te verleen.
    Daar kan ook nie verwag word dat die ATR anderstalige mense se werk vir hul moet doen nie. Ons fokus moet op die uitbou, ontwikkeling en handhawing van ons taal Afrikaans wees. Die onus rus immers op die sprekers om self die wa deur die drif te trek, of hoe? Ek wens u dus sterkte toe met wat die ietwat bedenklike projek behels. Waarom volg hulle nie Afrikaans se voorbeeld nie? Ek dink die wilskrag, trots en energie is net nie daar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top