
Foto: Canva
Ontvoer
Klerksdorp, 13:43. As dit ’n klopjag was, het brigadier Buys nie geklop nie. En Roux Steyn loop skoon sedert hy in Julie verlede jaar parool toegestaan is. ’n Halfmaan breek die muur se reguit skaduweelyn. ’n Kop? In die tronk kon bandiete vroue myle ver ruik. Hoekom kruip sy weg?
Roux maak die deur weier oop, staan eenkant. Hy knyp Jansen se Die moord op Deveney Nel tussen sy vingers vas. Sê niks, stoot net die deur toe, maar sluit dit nie. Loop reguit kombuis toe. Buiten die sitkamerbank, is die vertrek kaal. Geen skilderye of foto’s teen die mure nie. Net soos in die tronk. Bo-op die yskas kraak ’n draagbare radio.
“‘Runaway train’? Mens is veronderstel om Soul Asylum kliphard te speel.” Buys hou ’n bottel wyn na Roux uit. Pinotage.
Roux haal twee koffiebekers uit die kas, gooi vir elkeen ’n stewige skeut in. Sit syne in die mikrogolfoond. 15 sekondes. “Ek dink NakedNun het my geblok.”
“Ek’t geweet jy’t al Pienaarsdorp se strippers op speed dial.” Buys ruik aan sy beker, vat ’n sluk. Tel sy pyp in gedagte op.
“Eendag loof sy die Here, die volgende dag is dit net boobs en boude waar jy kyk. Toe vra ek op haar Instagram post of NakedNun haar OnlyFans page se naam is.”
Buys proes. Wyn sproei oor die tafel. Hy vee dit met roller towel droog. “Jy’s nie meer ’n bendebaas in die tronk nie. Sit ’n wag voor jou bek voordat iemand jou speaker stukkend slaan.”
Roux scroll op sy selfoon, skuif dit oor die marmertafel. Tik met sy wysvinger op die skerm. In die True crime South Africa-potgooi gesels Nicole Engelbrecht met ’n forensiese sielkundige, Yael. “Hoekom staan sý buite my deur?”
Voordat Buys haar kan roep, gaan die voordeur oop. Yael groet met ’n kopknik. “Aventus for Her?”
Roux skud sy kop. “Ek kon bewaarders aan hulle loop uitken; hoe sal ek die vrou wat my parool teengestaan het, se voeteval vergeet?”
Sy pruim haar lippe. “’n Vrou is ontvoer.”
Roux sê niks. Druk sy duim teen die sagte kol net onder sy pols.
“Sy is nie die eerste een nie.”
Roux swyg. Hy druk harder.
Yael kyk vir Buys wat oor sy beker vir haar knik. Sy sug hardop asof sy haar laaste asem uitblaas. Daarna rits sy ’n swart lêer, met die SAPD se wapenskild op, oop. Die brief wat sy na Roux uithou, is in ’n Flip File. Twee woorde, vetletters. Sy leef. Net dit, niks anders nie.
Hy hou sy hand uit, sy gee vir hom die ander. Drie-en-twintig. Elke brief is ’n marteling. Sy het baie gebloei. Ek dink ek gaan pa word. Sweet sixteen vandag.
Yael kyk eers weer vir Buys. “Mejandra is in 2003 ontvoer.”
“’n Brief per jaar.”
Sy knik. “Altyd op die herdenking van haar ontvoering.”
Roux se duim gly van sy pols af ... vir ’n oomblik los ... toe terug. “Wie’s die tweede vrou?”
Yael en Buys staar vir mekaar, praat gelyktydig. Al wat Roux hoor, is: jou eks. Hy gryp na die tafel.
“Waar?”
Buys gee vir hom ’n selfoon. Die cover is pienk met goue engeltjies op. Sy eks, Cameron, s’n. Hy het dit op Takealot vir haar gekoop. R700 plus ’n screen protector. Die selfoon is skoongevee. In die Gallery is een foto. Cameron. Hy vergroot nie die foto nie. Sy lê onder ’n boom. Naak. Beweging aan die bene toon dat sy gespartel het. Roux druk op die drie kolletjies – sy duim bly lank teen die skerm hang voordat hy Details kies. Taken on: September 1, Tuesday 12:43. Hy hou die selfoon ’n oomblik stil. Toe druk hy op die blou Location-skakel. “Kom.”
Roux sit langs Buys wat bestuur. Yael sit in die middel op die agterste sitplek. “Cameron en Mejandra was besties; sy’t die briewe ontvang.” Stilte, dan: “Ons ... ek ... vermoed die perp het haar met die briewe gemartel.”
Die oorlewendessindroom. Hoekom ek? G’n wonder sy het haarself geskend nie. Maar nie pyn of drank, nog minder seks, doof skuld volkome uit nie.
Roux: “Mejandra is dood, nè?”
“Ja,” Yael, skaars hoorbaar. “Cameron is die enigste ding wat hom nou aan Mejandra connect.”
N14, duskant Greenfields 3 Kings Farm, 15:41. “Hoe het hy haar laat stop?” Yael staan met Cameron se selfoon in haar hande, min of meer waar Cameron afgeneem is. Forensies het die plek kaalgesuig.
Agter Roux is ’n treinbrug, voor hom slang die pad die skemer in. Weerskante strek mielielande oor die horison. Geen vrou sou hier stop nie. Niks dui op ’n ongeluk of pap wiel nie.
’n Vragmotor brul verby.
Buys loop straatop, hurk, steek sy pyp aan.
“Ek was verkeerd,” Yael kruis haar arms oor haar borste, “jy verdien parool.”
Roux vee sy oë oor die treinspoor-litteken wat uit haar bloes tot onder haar ken hardloop. “Ek was reg.”
Haar borrellag. “Wil ek weet?”
Buys skryf die kilometers in ’n sakboekie, asook die tyd. Hy hou by die spoedgrens, kruie lank agter ’n bakkie swaar gelaai onder groente. Dit is eers toe die bakkie swart rook uitspoeg, dat Buys hom verby steek.
Roux wurm sy palms in sy oë. Yael delf ’n pakkie kopseerpille uit haar handsak, gee dit en ’n bottel water vir hom. Hulle vingerpunte raak. Sy kyk weg.
By die sampioeneplaas druk Roux sy neus toe. “Ek’t nie geweet dogtertjies poep ook nie.”
Sy slaan hom speels op die skouer. “Sies! Dit was Buys.”
Buys skud sy kop. “Nope, hy ken my brand.”
Die vragmotor voor hulle gorrel, verminder spoed, gorrel, flikker na regs. Buys stop dood.
“Haar Peugeot het nie aircon in gehad nie,” Roux sluk. “So haar vensters sou oop wees.”
“Dit beteken hy’t haar agtervolg, vir die regte oomblik gewag.” Buys se stem is sag. “Ons weet hoekom en hoe – nou net wie.”
“Hierdie is té persoonlik,” Yael se vingers fladder voor sy oë. “Nie familie nie.”
Hy druk sy duim teen sy pols. “Iemand wat wag. Iemand wat glo hy het tyd.”
“’n Onderwyser het wel intieme kennis van kinders, maar hulle speel selde simbolies God. ’n Dominee, jeugleier of berader is my topkeuse.” Stilte, dan: “Briewe oor drie-en-twintig jaar,” sê sy sag. “Dis nie impuls nie. Dis ritueel. Hy glo hy het ’n ‘reg’ op die slagoffer.”
“Sy leef,” sê Roux, “dis selfregverdiging. Ek hou haar aan die lewe, dus is ek nie ’n monster nie.” Stilte, dan: “Wanneer hy kwaad is, gaan hy die reëls wat hom veilig gehou het, vergeet.”
Yael: “So, hoe maak ons hom kwaad?”
“Bandiete het ’n natuurlike aanleg daarvoor. Het jy haar nog nie vertel nie?” Buys kyk in die truspieëltjie. “Hierdie idioot het vir ons dominee gevra hoe hy op ’n bed kan slaap solank daar nog kinders op straat is.”
Yael proeslag. “Ek neem aan jy’s nie gedoop nie.”
“Skryf ’n vals profielverslag. Beskryf hom as impotent, laf en iemand wat nie regtig beheer het nie. O, en afhanklik is van fantasie.”
“Dit kan backfire,” sê Yael.
Roux knik. Die risiko is die moeite werd.
Hulle staan om Roux se kombuistafel, Yael tik die inligtingstuk op haar skootrekenaar. Sirkuleer dit “per ongeluk” deur ’n traumanetwerk. Daarna maak Buys vir hulle elkeen ’n bier oop. Roux en Yael deel ’n bank, Buys sit met sy rug teen die muur.
“Wat soek jy?” Yael loer oor Roux se skouer.
Hy hou sy selfoon so dat sy kan saamlees. Die familieberader. Hy was destyds haar Sondagskool-onderwyser.
“Cameron het baie van hom gepraat.” Sy stem daal toonloos. “Tien minute en ek weet waar hy haar aanhou.”
Yael skud haar kop. Bel ’n nommer en loop by die sitkamer uit. Vyf minute later sê sy via Zoom aan Nicole: “Hy hou haar lewendig, omdat hy bang is God sien hom soos hy werklik is.”
’n Uur later breek sosiale media die nuus. Cameron is ongedeerd gekry.
Drie maande later sit Yael oorkant Roux in Mugg & Bean. Sy skuif die Klerksdorp Record oor die tafel. Dit is oop op bladsy 3. Geliefde berader sterf in motorongeluk.
“Dis hoekom ek nie wou hê jy moes parool kry nie.”
Hy sê niks en sy bly sit. Sy duim skiet instinktief na sy pols.
Kinders hardloop deur die fontein, lag, skree.
Dan, sy: “My kennis sê ek moet wegbly – maar my hart vra of jy my gaan innooi vir koffie.”

