[Ont]Vlug is in die Paarl opgevoer: ’n besinning

  • 0

Die geheim van die Paarl is uit, vir jonk en oud en, die belangrikste, die gemeenskap. Die verhoogdrama [Ont]Vlug het die gehoor laat snak en by tye laat snik.

Met herkenbare temas uit hul omgewing bring Die geheim tussen ons-Paarldramagroep geloofwaardige tonele oor generasies van armoede, min geleenthede vir vooruitgang en ander sosiale kwessies – alles word deur hierdie bekwame jongmense uitgebeeld.

Tieners en jong volwassenes kan meer doen as net stories vertel op sosiale media en trends volg wat ons daagliks kan sien. [Ont]Vlug bring komedie en spanning. In een spesifieke toneel kan die rollende trane van die karakter Hope duidelik gesien en gevoel word.

Dialoog met slim woordspel sal jou die stuk nóg ’n keer wil laat hoor – ons almal is dalk nie so skerp om dit die eerste keer te snap nie. Die auntie wat almal se ma is, geweld teen vroue, en die tronk kom voor in van die sketse. Soms maak die omstandighede waarin jy grootword, jou ’n ander mens.

Omdat die dramagroep hul vertoning in hul tuisdorp doen, was die teater vol bespreek deur familie, vriende, bure en nuuskierige oë. Ja! Daardie nuuskierige oë wat deur die gordyne loer en wonder waarmee die jongmense besig is.

Om te veg vir oorlewing en ’n beter toekoms kan dalk nie gekry word op ’n eerbare manier nie? Hoop, dus. Is hoop verlore? Word dit beïnvloed deur die keuses wat ons maak? Soms word ons vasgepen deur bakens, soos dit ook deur die titel uitgebeeld word: [Ont]Vlug.

Hierdie groep akteurs breek daardie bakens af met ’n produksie wat verrassend en verfrissend is en hoop laat vir die kyker.

Die skrywer, Carin Saxon, en die regisseur, Casey Cupido, wys sowaar dat hierdie produksie reg is vir kunstefeeste en nog meer verhoë. Dis ’n geheim wat gedeel mag word.

[Ont]Vlug is op 6 en 7 November 2026 opgevoer by die Ou Meul Teater in die Paarl deur Die geheim tussen ons-Paarldramagroep.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top