Ontnugterde kiesers en ’n Duitse heimat: die AfD-skoksege in Sakse-Anhalt

  • 0

Die radikaal regsnasionale Alternative für Deutschland (AfD) het op 6 September 2026 in die deelstaat (Bundesland) Sakse-Anhalt ’n oorwinning behaal wat skokgolwe deur die Duitse en EU-politiek gestuur het. Die AfD het met 43,8 persent van die stemme 39 van die 83 setels in die deelstaat se parlement (Landtag) verower. Die Christen-Demokratiese Unie (CDU) van Angela Merkel en Friedrich Merz, wat 24 jaar reeds die deelstaat se koalisieregerings oorheers het, se stemme het tot 17,2 persent gedaal. 

Die AfD val selfs onder ander regsnasionale partye in Europa op weens etlike politici se uitgesproke volksnasionalisme. Soms sluit dit ’n aandrang op die remigrasie van onwettige of selfs ander nie-Westerse migrante in. In die Duitse politieke orde na die Tweede Wêreldoorlog bly sulke politieke standpunte ’n groot taboe. Daarby is daar al jare lank pogings om die AfD in Duitsland te verbied weens beweerde antigrondwetlike denke in sommige afdelings. 

Die Duitse konteks is wel meervoudig. Die Oos-Duitse deelstate, waaronder Sakse-Anhalt, vorm ’n eiesoortige historiese ruimte, ’n geografiese streek en ’n plaaslike leefwêreld. Die AfD kry reeds jare daar besondere steun. ’n Mens kan nie die Oos-Duitse politiek vandag verstaan sonder om die erfenis van die sentralistiese en sosialistiese politieke orde van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) (1949–1990) en die proses van hereniging met die Wes-Duitse Federale Republiek te begryp nie. Daarna bespreek hierdie ontleding die kiesers wat die AfD laat wen het, en wat die skoksege vir die politiek in Duitsland en Europa beteken.

Heimat tussen die ruïnes

In 1994 het ek tydens ’n Europese reis ook in Oos-Duitsland ’n draai gemaak. Naby die universiteitsstad Halle in Sakse-Anhalt was die DDR nog plek-plek sigbaar in die siellose argitektuur van fabrieke en woonstelblokke. Niemand het destyds in gesprekke die DDR-diktatuur probeer regverdig nie, al was dit onder andere ’n wêreldleier in sekere wetenskapsinstrumente, mikro-elektronika en farmaseutiese en chemiese produkte. 

Van die mense in Halle met wie ek gesels het, het wel gevoel dat dele van hul vroeëre lewens ná 1990 verlore gegaan het. Daaronder was hulle sosiale status en erkenning van hulle kwalifikasies en ervaring. Hulle het die hereniging beskou as ’n Wes-Duitse magsoorname, wat teen hulle sin en met min begrip vir hulle omstandighede voorgeskryf het hoe hulle moet leef. 

Dieselfde mense het met ’n opvallende warmte oor hulle heimat gesels. Die landskap was vir my dikwels onopvallend, maar hulle was gevoelvol oor die oop landerye, die oewers van die Saalerivier, of die klein bos aan die rand van die dorp. Terwyl ek gewonder het oor natuurbesoedeling, was hulle positief oor die fabrieke waar hulle ouers gewerk het en hoe mense saamgestaan het in die ou mynboulandskap. Wat vir my dikwels lelike argitektuur was, was vir inwoners soms die woonstel en binnehof waar hul kinders gespeel het en die bure jare lank in lief en leed gedeel het. 

Die Oos-Duitse ervaring ná 1990 was nie net ’n verandering van regering of politieke stelsel nie, maar die ontwrigtende transformasie van ’n hele leefwêreld. Sowat 94 persent van Oos-Duitse ondernemings is opgekoop deur Wes-Duitse rolspelers wat meer mag en kapitaal as die Oos-Duitsers gehad het, en dikwels daarna plaaslike fabrieke of mededingende winkeltakke gesluit het. Rofweg vier uit elke vyf werkendes het hul werk verloor of moes van werk verander. Baie jongmense het die streek verlaat. Talle skole, spoorverbindings en ander plaaslike instellings het verdwyn. 

Daar was onsekerheid by baie of hulle simboliese en fisiese heimat herkenbaar sou voortbestaan. Sou hulle nog ’n volwaardige gemeenskap vorm? Waarom was die groot sake wat hulle leefomgewing raak, hoofsaaklik in die hande van Berlyn en ander Wes-Duitse rolspelers? Sou hulle lewensverhale in die nuwe verenigde Duitsland ’n plek kry? 

Oos-Duitse identiteitspolitiek

Vandeesweek het ek ná die verkiesingsuitslae teruggedink aan destyds se reisindrukke. Danksy groot Wes-Duitse hulp kon baie Oos-Duitse dorpspleine uiteindelik mooi opgeknap en nuwe infrastruktuur gevestig word. Dit kon egter nie in Oos-Duitse harte en gemoedere noodwendig die verlies aan mense, beroepe, ondernemings en alledaagse gemeenskapslewe vergoed nie. 

Steffen Mau, Thomas Lux en Julian Heide se navorsing het bevind dat die negatiewe herinneringe van die 1990’s deur families en sosiale netwerke oorgedra is aan baie mense wat nie die DDR self beleef het nie. Baie Oos-Duitsers glo steeds dat op nasionale vlak opeenvolgende regerings in Berlyn nie die lewenswerklikhede van Oos-Duitse streke reg verstaan of aanspreek nie, en dat hulle struktureel benadeel word. 

By 65 persent van Oos-Duitse jongmense speel Oos-Duitse identiteit dan ook ’n rol. Die Oos-Duitse identiteit bly dikwels in die agtergrond, totdat omstandighede soos ’n negatiewe uitbeelding mense beweeg om te sê: “Maar dit is my plek en identiteit.” Die identiteit oorvleuel soms met antimigrasiesentimente, maar nie noodwendig nie.

Volgens navorsing van Forsa in September 2025 dink net 35 persent van alle Duitsers dat die Oos-Duitsers en Wes-Duitsers sedert 1990 tot een volk gegroei het. Terwyl 61 persent van die respondente landwyd dink dat hulle verskille belangriker is as hulle gemeenskaplikhede, dink 75 persent in Oos-Duitsland so. 

Dit vorm egter ook ’n onderdeel van ’n wyer skeptisisme onder jong Oos-Duitsers oor politieke instellings en die hoofstroommedia. Die Duitsland-kenner Dirk Rochtus kom in sy pas verskene boek Van links naar rechts: het oosten van Duitsland op de dool tot die gevolgtrekking dat daar ’n spesifiek Oos-Duitse tradisie van opstandigheid bestaan. Dit het in 1989 tot uitdrukking gekom met die val van die Berlynse Muur, maar ook in sosiale protes, afstand jeens amptelike ideologieë, wantroue teenoor owerhede, en verkiesingsuitslae. 

Rochtus noem dat baie Oos-Duitsers na 1990 gestem het vir die Party van Demokratiese Sosialisme (PDS), die opvolger van die Sosialistiese Eenheidsparty (SED) wat die DDR oorheers het. Later het baie van hulle vir Die Linke gestem, en deesdae stem baie vir die AfD. Die basisgevoel by sulke kiesers was en is volgens hom een van teenstand teen die elites wat vir Oos-Duitsers wil voorskryf hoe om te leef sonder om hulle leefwerklikhede te verstaan. Volgens hom is daar nog ’n soektog in Oos-Duitsland hoe om Oos-Duitse historiese ervarings, eiesoortige belange en identiteit institusioneel binne die Bondsrepubliek te laat geld.

Die AfD se skoksege

Sakse-Anhalt het ’n moeilike transformasie ná 1990 beleef. Sakse-Anhalt se geografie onderskei dit ook van byvoorbeeld Leipzig, Dresden, Berlyn of sommige dele van Thüringen. Die deelstaat kombineer, afgesien van groot stedelike groeisentrums soos Halle en Magdeburg, ook relatief baie klein dorpe, landelike gebiede, voormalige nywerheidsgebiede en krimpende munisipaliteite. 

Soos reeds genoem, was die CDU van Angela Merkel en Friedrich Merz vir 24 jaar die dominante party in Sakse-Anhalt se regeringskoalisies. In die vorige vyf verkiesings het dit meestal meer as 30 persent van die stemme gekry. Die steun vir demokrasie self bly relatief sterk onder Oos-Duitsers, maar volgens ’n studie van die Deutschland-Monitor is meer as 52 persent ontevrede met hoe dit in die praktyk funksioneer. Met ander woorde, kiesers glo in demokrasie, maar vertrou nie die politici wat dit tans bestuur nie.

Merz het in 2025 die CDU se nasionale leier en Bondskanselier geword met groot beloftes oor ekonomiese hervormings en ’n streng migrasiebeleid. Hy het wel ná die nasionale verkiesing in 2025 geweier om met die AfD as tweede grootste party ’n koalisie te vorm. Dit vorm deel van die meeste Duitse partye se taktiek van ’n brandmuur of skeidsmuur om die AfD uit openbare poste te hou. Die weiering het egter meegebring dat Merz verplig was om met die Sosiaal-Demokrate ’n koalisie te vorm. Hy kon tot dusver nie juis groot hervormings deurvoer nie, terwyl baie AfD-kiesers besorg is oor hulle sosio-ekonomiese toekoms.

Volgens Rochtus het ’n deel van die Oos-Duitsers die liberale migrasiebeleid van Bondskanselier Angela Merkel sedert 2015 beskou as ’n nuwe vorm van benadeling. Volgens dié beskouing moes hulle in 1990 die prys van hereniging betaal, wat eintlik ’n uitbreiding van die Wes-Duitse model sonder inagneming van hul streeksbelange en identiteit was. Met die migrantebeleid is hulle probleme weer na die agtergrond geskuif. 

Merz het al etlike sterk verklarings oor ’n strenger migrasiepolitiek gemaak. Hy was ook een van die ondersteuners van ’n onlangse verklaring van 22 Europese regerings vir strenger beleid teen onwettige migrasie. Sy nakoming van beloftes op hierdie en ander beleidsterreine word egter as te min of te swak beskou. Volgens opnames by die stembusse Sondag het 88 persent van die ondervraagdes gedink die AfD sou nie so goed gevaar het as Merz beter regeer het nie. 

In die deelstaatverkiesing nou het meer as dubbel soveel kiesers as wat die CDU gesteun het, die AfD gesteun. Die AfD het 43,8 persent van die stemme getrek, die CDU net 17,2 persent, terwyl die SPD 9,3 persent, Die Linke 8,6 persent, die Groenes 8,9 persent en die BSW 5 persent behaal het. Die stempersentasie was ’n hoë 77,8 persent.

Ontnugterde kiesers 

Die strategie van linksgesinde partye en media om regsnasionale partye te beveg deur hulle as fasciste te stigmatiseer het hier misluk. Die AfD in Sakse-Anhalt het daarin geslaag om met ’n mediageniese en oënskynlik gemoedelike leier, Ulrich Siegmund, en ’n positiewe toekomsboodskap, “Alles is moontlik”, ook die steun van tien duisende nuwe kiesers te verseker. Baie Oos-Duitse kiesers het voorheen ander partyopsies gekies, maar is ontnugter met daardie partye se rekord. Hulle het in baie gevalle die AfD nou ’n kans gegee om te toon dat dit beter kan presteer as die ander partye. 

Die meeste mense in die ouderdomsgroep 35–59 jaar het vir die AfD gestem, wat dui op sy langertermynpotensiaal. Die AfD het 30 persent van die stemme gekry onder graduandi en 37 persent onder mense wat ekonomies goed vaar. Ironies genoeg het die verenigings wat groot Duitse bedrywe verteenwoordig, teen ’n AfD-oorwinning gewaarsku, maar 51 persent van die ondernemers in die deelstaat het vir die AfD gestem. 

Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die AfD in die deelstaat sal regeer nie. Die meeste partye volg ’n strategie van ’n skeidsmuur teen enige koalisievorming met die AfD. Die skeidsmuur het egter nie tot dusver die AfD se vordering gekeer nie, ook nie in die res van Duitsland waar dit deesdae in die peilings dikwels die grootste party vorm nie. 

Die skeidsmuur versterk die indruk van groot groepe kiesers dat die sentrumpartye nie hulle boodskap ernstig opneem nie. Dit mag wyser wees om eerder duidelike grenslyne te stel in enige koalisie- of ad hoc-samewerking met die AfD. Dit is die standpunt van sommige politici buite die AfD, soos die Sosiaal-Demokraat Markus Bauer, maar tot dusver sonder wye aanvaarding.

Volgens Chatham House was daar ’n belangrike verskuiwing in hierdie verkiesing: In 2021 het 9 persent van kiesers vertrou dat die AfD probleme kon oplos, en het ’n groot deel van die AfD se steun van proteskiesers gekom. In Julie 2026 het 36 persent van die kiesers die AfD die meeste vertrou om die deelstaat se probleme op te los. Dit moet nog blyk of die vertroue geregverdig is. Tot dusver het AfD-politici meestal nie ervaring met regeringsverantwoordelikheid nie, en interne pogings om die party se verteenwoordigers te professionaliseer is in hul kinderskoene.

Europese Unie

Die AfD se sege het skokgolwe onder politici in die geboue van die Europese Kommissie en Europese Parlement in Brussel veroorsaak. Die uitslag het beteken dat dit al hoe moeiliker mag word om die skeidsmuur teen die AfD te handhaaf en deelname aan regerings op verskillende vlakke te keer. 

Dit kon in die teorie belangrike gevolge vir die EU inhou, want Duitsland is Europa se grootste ekonomiese mag, en saam met Frankryk die invloedrykste lidstaat in Europese instellings.

Grafika: © Chickenonline (geplaas op 15 Februarie 2016, Pixabay.com)

Terwyl Europese lande steun verskaf in Oekraïne in sy stryd teen Rusland, beklemtoon die Oos-Duitse AfD ook die belang van dialoog en beter bande met Rusland vir Europese stabiliteit. Daarby vrees heelwat Europese politici ’n domino-effek, dat sulke sukses in Duitsland ook ’n voorteken is van ’n moontlike oorwinning vir Marine le Pen en haar Rassemblement National in 2027 se Franse presidentsverkiesing. 

Dit is wel opvallend dat Le Pen of die Italiaanse premier Giorgia Meloni geen gelukwense aan die AfD gestuur het nie. Ter wille van hulle posisionering as aanvaarbare partye vir wye groepe kiesers behou hulle steeds ’n afstand tussen hul partye en die AfD, wat hulle as te radikaal beskou. 

Vir Europese politici is Sakse-Anhalt se verkiesingsuitslag uiteindelik ’n verre gebeurtenis, maar een wat opnuut hul vele uitdagings belig. Indien hulle nie groot groepe kiesers se sorge en belange ernstig opneem nie, sal die soektog voortduur na verteenwoordigers wat wel ’n plaaslike of nasionale leefwêreld in beskerming neem. Die verkiesingsuitslag is veral ’n bewys dat só ’n keurproses voortgaan en die samestelling van politieke elites in Europa plek-plek verander.

Heinrich Matthee is direkteur van die Stichting Pionier Instituut in Nederland en beklee die ereleerstoel in Veiligheidstudies by Akademia.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top