Ontmoet Maria du Toit, bekroonde klarinetspeler

  • 0

Foto: Helette du Toit

Google “Maria du Toit” en maak die eerste beste skakel oop om te sien watter gesogte klarinetspeler hierdie kunstenaar is. Naomi Meyer het na haar gaan luister toe sy onlangs solis was saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes, onder leiding van dirigent Arjan Tien, agterna gesien hoe Rhoda Kadalie saam met talle ander toustaan om haar handtekening te kry ... en toe besluit om haar ’n paar vrae te vra.

Was daar één dag wat jy onthou as die dag wat jy besef het jy moet klarinet speel?

Ek onthou dat ek een middag huis toe gestap het van die skool af – ek was in die destydse standerd ses – en net uit die bloute besluit het dat ek nog ’n instrument wil speel (ek het van kleins af klavier gespeel), en ek het net gewéét dit moet die klarinet wees!

Foto: Helette du Toit

Hoeveel ure se oefen beteken dit vir jou per dag?

Op hoërskool het ek nog nie baie hard geoefen nie, maar op universiteit het ek dit al ernstiger begin opneem. Teen my finale jaar het ek maklik agt ure per dag geoefen, en dit sluit lesse, orkesoefeninge en ensemble-repetisies uit! Ek het egter gevind dat vandat ek professioneel as klarinettis werk, dit nie nodig is om soveel ure per dag te oefen nie, want die basis is tydens my studies gelê. Ook maar goed so, want daar is in elk geval nie meer tyd om agt ure ’n dag te oefen as mens voltyds werk en twee kinders grootmaak nie!

Wie is jou musiekhelde in die wêreld - hulle kan enige instrument speel of enige ander rol in ’n orkes - en hoekom?

Daar is so baie musikante na wie ek opkyk en wie ek respekteer. In die orkes werk ons dikwels met soliste wat my geweldig inspireer en aanspoor. Dis moeilik om helde uit te sonder in die musiekwêreld; ek dink dis meer ‘n geval van wedersydse respek onder musikante, en om by mekaar te probeer leer.

Foto: Helette du Toit

Sal jy ’n kind aanraai om haar hart te volg en ’n musiekinstrument as beroep te kies? Hierby ingesluit: Is daar geld in musiek – kan mens hiervan leef?

As iemand werklik talentvol is en ’n passie het vir musiek, sal ek hulle beslis aanraai om ’n loopbaan in musiek te volg. Daar is min dinge wat so bevredigend is as om te werk in ’n beroep wat jou op alle vlakke vervul, uitdaag en stimuleer. ’n Mens kan beslis oorleef van ’n musiekloopbaan, maar dit verg ongetwyfeld uiters harde werk, ongereelde ure en baie opofferinge.

Jou kinders is ook reeds kranig betrokke in die musiekwêreld. Vertel asseblief vir my nog van hulle en hoe jy dit reggekry het om hulle op so ’n jong ouderdom hierin te laat belangstel?

Ivan is sewe en speel fagot, Sofia is vyf en speel klarinet. Ek is baie gelukkig dat hulle albei vreeslik lief is vir musiek, en ek het hulle laat begin instrumente speel omdat ek glo daardie dissipline is onskatbaar waardevol vir enige kind se ontwikkeling, of hy nou eendag ’n musiekloopbaan gaan volg of nie. Tog plaas ek geen druk op hulle nie, want op hierdie leeftyd dink ek dis die belangrikste dat hulle dit geniet en sien as pret eerder as plig.

Foto: Helette du Toit

Daar is rose op jou arm ... Is hier ’n storie om te vertel?

Al my tatoeëermerke (sewe) het ’n storie aan verbonde. Hulle gee meestal uiting aan die pad wat ek geloop het saam met my oorlede man tydens sy jare van siekte, en die nuwe lewe en hoop wat ek daarna gevind het.

Die tegniek wat jou soos ’n langasem laat lyk wat nooit opkom vir asem nie ... wat is “circular breathing” en hoe op aarde kry jy dit reg? Nog nooit gedink jy gaan flou word hiervan nie?

“Circular breathing” is bloot ’n tegniek waar ’n mens lug in jou wange versamel, en dit dan uitforseer met jou wangspiere terwyl jy deur jou neus inasem. Dit het wel ’n tydjie gevat om baas te raak, maar ek vind dit baie nuttig wanneer ek langer frases ononderbroke wil speel.

Ek hoor jou tweede CD is pas uitgereik. Waarna kan luisteraars hier uitsien en waar is dit beskikbaar?

My nuwe CD, Luminous Shade, is ’n versameling van uiteenlopende style van regoor die wêreld. Ek speel saam met die bekroonde pianis Nina Schumann, en die CD is wêreldwyd beskikbaar in musiekwinkels wat in klassieke musiek spesialiseer.

Luister hoe Maria klarinet speel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top