Onthou my deur Helena Hugo: ’n lesersindruk

  • 0

Onthou my
Helena Hugo
NB-Uitgewers
ASIN ‏:‎ B08HR2R436

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Onthou my is die opvolg van Papierblomme wat in 2019 verskyn het. Papierblomme vertel die verhaal van Janine, wat op ’n jong ouderdom haar ouers aan die dood afstaan en deur haar grootouers op ’n klein dorpie op die Suid-Afrikaanse weskus grootgemaak word. Die dood van haar ouers het ’n bepalende invloed op Janine se ontwikkeling, en dan veral ook op haar spiritualiteit, wat oorgaan in ’n soort apatie teenoor God. Die hoofmotief in Papierblomme is dan ook die Christelike spirituele ontwaking van Janine, soos wat sy met die uitdagings van die lewe worstel. Afgesien van die dood van haar ouers beleef Janine egter grootliks ’n gelukkige kinderlewe en is haar pad in die lewe oënskynlik reeds gekarteer, met die voortuitsig van onderwysstudie aan die Universiteit Stellenbosch en ’n daaropvolgende loopbaan. Maar toe kruis haar pad met dié van ene Greg Walker, ’n jong onderwyser by haar skool. Janine raak uiteindelik swanger met Greg se kind en trek saam met hom na Londen. Daar maak sy vriende met mense uit Afrika, wat die hunkering na haar vaderland in haar wakkermaak. Uiteindelik verbrokkel haar huwelik, maar sy bekeer in die proses tot die Baptisme (ietwat in konflik met haar oupa en ouma en die familie se Gereformeerde agtergrond).

In Onthou my is Janine nou weer vierkantig terug in Suid-Afrika. Al wat sy oor het van haar huwelik met Greg, is twee dogters, aansienlike trauma en ook ’n berg litigasie wat vir haar lê en wag. O ja, en dan is daar ook nog ’n derde kind op pad, maar van wie haar familie en die gemeenskap natuurlik nog niks weet nie. Hier aan die weskus, waar die voetspore van Janine se jeug le, probeer sy nou om die stukke van haar lewe weer op te tel om sodoende ’n sinvolle prentjie daarvan te probeer maak. Maar dit sukkel. Dinge is natuurlik nie alles maanskyn en rose nie. Die gemeenskap is konserwatief en veroordelend, en ou vriendskappe is ook op die rotse. Die lewe is egter darem ook nie alles net teëspoed nie en soos die storie ontvou, word Janine stadig maar seker weer in die gemeenskap aanvaar. Sy beleef die soet sowel as die suur van die lewe, en dit is die storie waarop die leser getrakteer word.

Soos te verwagte is die boek heel keurig geskryf. Die storielyn is nie een wat buitengewoon baie spanning skep nie, maar dit is dalk juis om daardie einste rede heel oortuigend. Te midde van haar gebroke huwelik en haar verhoudinge wat dikwels ontspoor, is Janine se grootouers vir haar ’n vaste fondament waarop sy kan reken, maar soos die storie voortsleep, begin selfs hierdie fondament onder haar wegkalwe. Die jare het aangestap en die ouderdom is besig om haar oupa en ouma in te haal. Die lot van oupa Koen en ouma Leen vorm gevolglik ’n belangrike motief in die verhaal, en daarmee saam ook Janine se verhouding met Bennie Kowalski, haar eertydse skoolliefde, met wie sy na al die jare ’n verhouding hervat. Behalwe haar verhouding met Bennie speel die Kowalski-familie ook ’n belangrike rol in haar lewe en hulle sorg ook vir haar deur vir haar werk te verskaf in hulle besigheid. Greg maak natuurlik ook sy uiteindelike langverwagte (ietwat voorspelbare) opwagting in Suid-Afrika, waar hy ’n spoor van leuens en ontwrigting agter hom laat, maar wat hom uiteindelik inhaal.

Onthou my is geen vuurwerkvertoning nie en is eintlik nie regtig ’n boek wat heeltyd my aandag kon behou nie. Die verhaal is tot ’n mate voorspelbaar, maar dit het dalk juis as gevolg daarvan ’n sekere oortuigingskrag. Wat veral opvallend is, is hoe die boek daarin slaag om iets van die kultuur van die kleindorpie vas te vang – ’n kultuur wat stadig maar seker aan die verbygaan is soos wat die karakter van baie dorpies verander en die wêreld al meer geglobaliseer raak. Veral die manier waarop die gemeenskap se godsdienstige tradisies uitgebeeld word, is besonder oortuigend. Die kans dat ’n mens gruwelik teleurgestel sal word deur ’n skrywer soos Helena Hugo, is so te sê nul en vir diegene wat reeds ou aanhangers van haar skryfwerk is, sal Onthou my waarskynlik bevredig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top