#OnsKanSaam

  • 4

Ek ry nou die dag Pretoria toe van Johannesburg af en sien die volgende slagspreuk op die advertensiebord op Waterkloof Hoërskool se gronde: #OnsSalSelf. Dit het dadelik my aandag getrek. Wat is dit wat ons nou self sal doen en wie presies is ons?

Toe ek my foon uithaal om te Google waaroor hierdie slagspreuk gaan, kom ek heel eerste op hierdie liedjie af:

Die liedjie is geskryf en opgeneem vir die bekendstelling van Solidariteit se nuwe Werkherstelprogram.

Toe ek raaklees dat dit oor werkskepping gaan, was ek aanvanklik dankbaar. Met ’n 30,1% werkloosheidsyfer, met meer as helfte van Suid-Afrika se jongmense sonder werk en die impak van Covid-19 in ag genome, klink ’n werkherstelprogram na ’n baie goeie idee en iets om voor baie dankbaar te wees. Die aantal werknemers in Suid-Afrika het in die tweede kwartaal van 2020 met 2,2 miljoen afgeneem tot 14,1 miljoen in vergelyking met die eerste kwartaal van vanjaar, as gevolg van die Covid-19-inperking. Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) het gesê hierdie ongekende verandering was die grootste afname van kwartaal een tot kwartaal twee sedert die opname in 2008 begin het.

So word hierdie werkherstelprogram beskryf op Solidariteit se webtuiste:

In ’n tyd van nood het die staat weereens sy rug op ons gedraai, maar dit sal ons nie stuit nie! Ons gaan die geleentheid gebruik om mekaar te help en om self vir ons ’n toekoms te bou.

Die Werkherstelprogram is ’n unieke oplossing om ’n volhoubare toekoms te skep. Dit is op drie pilare toegespits, naamlik werk, welstand en opleiding. Neem eienaarskap van jou eie toekoms, want jy is waardig.

Kom wees deel van die oplossing. Skryf jou naam op en wees

VREESLOOS IN AFRIKAANS! 

Wanneer Dirk Hermann, die bestuurshoof by Solidariteit, op Maroela Media oor hierdie program skryf, praat hy oor die Afrikaner, oor ons geskiedenis, hoe ons al na onsself gekyk het en hoe ons weer sal. Dit blyk dat hierdie program uit hierdie sentiment gespruit het.

Die Afrikaanse kunstenaars wat aan die Ons Sal Self-liedjie deelgeneem het, sing:

Ons sal self
Maak soos ons gemaak het
Begin soos ons begin het
Oorwin het
Toe alles teen ons staan

Dit is vir my teleurstellend en hartseer om twee redes. Eerstens, toe die Afrikaner laas self oorwin het, het dit uiteindelik in apartheid, 46 jaar van onderdrukking en misdaad teen die mensdom ontaard. Tweedens, hierdie program blyk slegs vir wit Afrikaners te wees. Ek weet Solidariteit staan vir die “beskerming van minderhede”, maar daar is niks in die kommunikasie rondom hierdie program sover wat dit enigsins laat blyk of dit sal poog om enige ander minderheidgroep behalwe Afrikaners te bevoordeel nie. En dit maak net nie vir my sin nie. Sekerlik is ’n inklusiewe benadering tot werkskepping, wat alle Suid-Afrikaners insluit, die beter opsie? Moes ons nie teen dié tyd al uit die verlede geleer het en besef het deur net na onsself te wil omsien nooit gaan werk nie en slegs verdere verdeling in ons land sal bring nie? Ek glo #OnsKanSaam.

Toe ek verder begin lees oor hierdie Werkherstelprogram, lees ek dat dit bestaan uit ’n vyfjaarbegroting van R4,7 miljard. Sjoe, dis baie geld. Daar word byvoorbeeld beplan om ’n interaktiewe werkplatform te loods waar werkplasings, mentorskappe, internskappe, opleiding en dienste gefasiliteer gaan word. Die idee is dat hierdie platform ’n virtuele netwerk word waar mense mekaar kan help om werk te skep. Met mense bedoel ek Afrikaners. Ek lees op Afriforum se webtuiste dat “dié netwerk dit ten doel het om Afrikaners aan te moedig om mekaar se ondernemings te ondersteun”. Ek kan nie help om te wonder of daar nie eerder kan oorweeg word om met hierdie nuwe platform Suid-Afrikaners aan te moedig om mekaar se ondernemings te ondersteun en sodoende werke en welverdiende geleenthede te skep nie. #OnsKanSaam

Volgens ’n 2017-studie is 7,8% van wit Suid-Afrikaners werkloos, terwyl 40,9% van swart Suid-Arikaners, 30% van bruin Suid-Afrikaners en 19,8% van Indiër Suid-Afrikaners werkloos is. Wit Suid-Afrikaners maak slegs 9,2% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit, maar het by verre die laagste werkloosheidsyfer van alle rasgroepe. Tog duur die narratief voort, “kry jou graad en trek na ’n ander land toe, want hier is nie ’n toekoms vir jou nie, my kind” of “ons sal self”. Natuurlik wil ons nie ’n 7,8% werkloosheidsyfer hê nie, maar hoe kyk ons verby die 40,9% en kies eerder om net na onsself om te sien? Sekerlik is dit beter vir die welstand van ons land en haar mense om na die mees kwesbare lede van ons gemeenskap om te sien?

Daardie kind in Soweto met ’n droom in haar hart, wat hard werk op skool om te kan gaan swot, verdien die kans om die siklus van armoede te breek en haar drome te bewaarheid. Hoekom kan ons nie besef dat die regering nie net vir ons nie, maar soveel meer vir haar teleurgestel het nie? Hoekom kan ons nie besef dat dit ons plig is om saam te staan en as ons self wil ingryp, ook na mekaar (almal van ons in hierdie land) om te sien nie?

Wanneer ek op die ‘Wie is Ons’-blad van Solidariteit se webtuiste gaan loer, sien ek hul glo in ’n Christelike grondslag. Wanneer ek dink aan die jong kinders in ons townships, op die Kaapse Vlakte en elke mens wat nie in die Afrikanerboksie pas nie, maar ook die geleenthede wat hierdie Werkherstelprogram bied verdien, herinner dit my aan Matteus 25:40: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” #OnsKanSaam

Werkloosheid in Suid-Afrika is ’n probleem. Dis ’n krisis. Ons mense is desperaat. Almal van ons. Ons regering stel ons almal teleur en moet sekerlik beter doen. Maar ons moet ook. Ons kan nie so ’n program met soveel wonderlike geleenthede bekendstel en net na onsself omsien nie. Alle Suid-Afrikaners verdien beter.

#OnsKanSaam

  • 4

Kommentaar

  • Dankie, Lidia Rauch, vir hierdie belangrike betoog. Ek voel presies dieselfde oor die saak. #OnsKanSaam is sinvol. #OnsSalSelf is apartheid. Ek kan nie glo dat mense nie uit die geskiedenis leer nie. Uitsluiting, bevoorregting, selfsugtigheid. Ek skaam my vir die veldtog. Dankie, Lidia Rauch, vir hierdie belangrike betoog. Ek voel presies dieselfde oor die saak. #OnsKanSaam is sinvol. #OnsSalSelf is apartheid. Ek kan nie glo dat mense nie uit die geskiedenis leer nie. Uitsluiting, bevoorregting, selfsug. Ek skaam my vir die #OnsSalSelf-veldtog.

  • Gustaf Claassens

    Niks staan in u pad om 'n struktuur te vestig waar u iets vir ons Swart landgenote kan doen en en sodoende iets vir hulle beteken nie. Hopelik behoort dit u ook van u hartroerende skuldkompleks te verlos. U maak stellings terwyl daar letterlik duisende Afrikaanse mense is wat opheffingsprogramme vir hierdie landgenote hanteer. Die tyd, krag en energie wat hierin gaan, gaan heel duidelik by u verby. Gaan kyk gerus op TV joernaalprogramme (kanale 144 tot 147) en u sal verstom staan HOE ONS MENSE DIE KERS AAN ALBEI KANTE BRAND!! Ja, Lidia die Afrikaner doen die 'ONSSELF' ding terwyl hulle nie nalaat om ook ander te help waar hulle nie. Hierdie gesanik van mense wanneer die Afrikaner iets vir homself wil doen is daarom hopeloos afgesaag, vervelig en ongevraagd. Dis eintlik niks anders as soetsappige snert nie.

    Die vraag wat u gerus kan probeer beantwoord, is op wie moet ons Afrikaanses staat maak as ons iets gedoen wil hê? Daar is om en by 80 nuwe stukke apartheidswette op die Wetboek teen ons mense. Diskriminasie is aan die orde van dag en dit in u sogenaamde Nuwe Suid Afrika waar almal veronderstel was om gelyk te wees en gelyke kanse te hê. Ons taal word oral uitfaseer, ons verloor ons skole en universiteite, daar is BEE wetgewing wat hoogs opgeleide mense onder ons verhoed om vir werke aansoek te doen. Wanneer ons feeste wil hou word dit op ons afgedwing om almal buite volksgeledere te betrek. Vir geen spesifieke rede anders as om politici ter wille te wees nie. Ons woonbuurtes is vuil en stink en munisipaliteite aan wie belasting betaal word is afwesig in hulle verpligting om diens te lewe. Dan doen ons dit maar self.

    Mens sal graag die ander wil betrek maar hulle doen niks verniet nie. Ons land lyk na 'n ashoop veral in die Vrystaat en Gauteng. Jammer Lidia, dinge begin by onsself. In enige moderne demorasie is dit die uitgangspunt. Vier miljoen mense kan nie nog 55 miljoen mens help terwyl ons sukkel om self kop bo water te hou nie. Nie net moet ons ekonomies probeer oorleef nie, ons moet nou ons eie veiligheid bekyk want die trant waarteen ons boere en mense vermoor word, ken geen perke nie. Nog 'n taak waarin jou regering oordadig faal. Of moet 4 miljoen nou die taak ook oorneem en 55 miljoen beskerm!? Wees tog net vir 'n slag prakties en realisties en hou op kerm. En eerder as om vinger te wys, kry u vingers in die vars lug en doen iets. ENIGE IETS vir enige iemand. All bietjies help. En vir die rekord, ek is trots dat ons mense nie hulle trots verloor het nie en steeds bereid is om self dinge aan te pak. 'n Kultuur wat uiters vreemd is vir 'n klomp ander landgenote en gelei word dansende rooipette en stakendes met ANC vlae en T-hemde.

  • Henning Janse van Vuuren

    “Dit is vir my teleurstellend en hartseer ...”

    Emosie sonder grondige logika is holklinkende hokus-pokus, Lidia. 25 jaar later en RSA lê en vrot in ʼn dennehoutkis, gereed om die krematorium binnegedra te word. Adieu. Maar volhard gerus met jou naïwiteit, fantas, bon vivant, want jy is anders: rein van hart en goed in Morfeus se oë.

    “Nothing is lost if one has the courage to proclaim that all is lost and we must begin anew.” ‒ Hopscotch (1963), Julio Cortázar

    Afrikaner-etos, en ek is geen slaafse navolger van nasionalisme en soveel ander Afrikanergeite nie, is bewonderenswaardig. Staan hoflikheidshalwe opsy as jy nie wil help nie. ‘Charity begins at home’, klink dalk corny, kitsch en na ʼn cliché, maar vind dit in jou hart om nie die esprit de corps van die ywerige Afrikaner nogmaals te probeer kelder nie. Die toekoms is onseker, maar iewers is daar darem 'n man met 'n plan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top