#OnsisAshwin – of is ons?

  • 25

Ashwin Willemse (Foto: Youtube)

Toe Ashwin Willemse Saterdagaand sy mikrofoon afhaal en die ateljee verlaat gedurende ’n direkte uitsending van ’n SuperSport-program, het hy ’n gesprek ontketen wat nog lank gaan voortduur.

Ons weet nie wat agter die skerms gebeur het nie, en ek vermoed ons sal nooit regtig die volle verhaal hoor nie, maar dat dit intense reaksie uit alle oorde ontlok het, is onbetwisbaar. Dis ’n belangrike gesprek wat lankal moes plaasgevind het. Reg van die begin af was die kwotastelsel in rugby, en inderdaad in alle sportsoorte, kontroversieel.

Dit is problematies vir wit spelers, want ruimtes wat voorheen uitsluitlik hulle s’n was, moet nou met ander gedeel word. Dis problematies vir swart spelers (en hiermee bedoel ek bruin, swart, Asiaties ens), want dit maak nie saak hoe goed hulle is nie, daar word altyd aangeneem dat hulle nie op meriete daar is nie. Hulle moet die heeltyd hulle reg om ’n plek aan die tafel in te neem, verdedig en verduidelik. Die wit persoon se meriete en sy reg om aan die tafel te wees, word sonder meer aanvaar. Dis een van vele funksies van wit bevoorregting. Daar is sekere aannames wat gemaak word oor hoe bevoegdheid en uitnemendheid behoort te lyk. Sodra die persoon in ’n bepaalde pos nie aan daardie beeld voldoen nie, dan word regstellende aksie beweer.

In Willemse se geval het die spanning nou in sportverband ontplof, maar dit speel daagliks in soveel ander kontekste af. Hoe bekend is ons nie met die verskynsel van sg wit skole wat al hul wit leerders verloor die oomblik as dit oopgestel word vir ander rasse nie. Die rede wat gewoonlik aangevoer word, is dat akademiese standaarde agteruit gaan. Anders gestel: akademiese uitnemendheid het ’n wit gesig.

By die Woordfees in Maart hierdie jaar was daar ’n paneelbespreking waar die vraag gevra is: Verloor sommige (tradisioneel manlike) beroepe hul aansien wanneer vroue in daardie posisies aangestel word? Die vraag kon net sowel gestel word rondom swart persone wat in witboordjieberoepe aangestel word. Witboordjie spesifiek, want in my ondervinding het niemand nog ooit ’n swart persoon se plek agter ’n pik of graaf bevraagteken nie.

Veral in hierdie tye wanneer die ekonomiese skoen druk, verwag ek dat daar meer en meer vrae gevra sal word oor wie aan die tafel hoort, en of elke persoon aan die tafel verdien om daar te wees. Anders gestel: Is daar nog plek vir affirmative action? En, veel meer belangrik, is elke swart persoon wat in bestuursposisies aangestel word, ’n affirmative action-aanstelling, of kan ons nou maar begin aanvaar dat uitnemendheid ook ’n swart gesig kan hê? In ’n samelewing wat absoluut gelyk is, waar almal gelyke geleenthede het, waar almal van dieselfde beginpunt wegspring, is regstellende aksie onnodig.

Ons lewe nie in so ’n samelewing nie.

Ons lewe in ’n samelewing waar politieke mag geskuif het, maar ekonomiese mag nog grootliks nie. Ons lewe in ’n gefragmenteerde samelewing waar mense nog geoordeel word aan die kleur van hul vel en nie, om Martin Luther King jnr aan te haal, “the content of their character” nie. Ons lewe ongelukkig in ’n samelewing waar, as sekere deure nie deur middel van wetgewing en politieke druk oopforseer word nie, dit eenvoudig net geslote sal bly. Ons lewe in ’n samelewing waar voorheen bevoordeeldes met groot weerstand toelaat dat hul heiligdomme betree word, en dan agteroor sit en wag vir die nuweling om te faal.

Wanneer regstellende aksie nie met integriteit gepaard gaan nie, dan is dit eintlik maar net ’n proses waar ’n persoon in ’n strik gelei word om te faal. Niemand weet uit die staanspoor hoe om in ’n nuwe posisie op te tree nie. Dis waarom daar altyd ’n mentor is- selfs vir die wit persoon wat die nuwe posisie betree. Die mentorskap is meestal informeel. Iemand neem jou onder sy of haar vlerk en gee jou raad. In die meeste professionele posisies word hierdie mentorskap geformaliseer. Toe ek na vyf jaar universiteitstudie my loopbaan as prokureur begin, het ek nie dadelik alles geweet nie. Ek moes nog twee jaar as kandidaatprokureur deurbring onder mentorskap van ’n ervare prokureur. Mediese dokters doen hulle sg Zuma-jaar onder leiding van dokters wat meer ervaring het. So gaan dit met elke beroep. Sonder daardie mentorskap sou dit maar beroerd gaan.

Tog word daar verwag van ’n swart persoon wat in ’n bestuursposisie geplaas word om te weet wat om te doen sonder dat hulle leiding kry. Wanneer hulle dan swaar kry, word dit voor die deur gelê van inherente onbevoegdheid op grond van kleur.

Dis ’n onreg wat reggestel moet word. Dis ’n onreg wat waarskynlik nie onder die loep sou kom as Ashwin Willemse nie Saterdagaand besluit het hy loop uit die ateljee nie.

Die spin het alreeds begin. Volgens SuperSport was daar nie enige tekens van rassisme nie. Ons almal weet hoe subtiel dit kan wees. Fyn stekies wat afgemaak word as grappies, of jou eie oorsensitiwiteit. Fyn stekies wat jy aan die ontvangkant goed weet in ’n spesifieke sin bedoel word. Fyn stekies wat maak dat jy maar eerder van die tafel wegloop.

Miskien sien SuperSport nie die rassisme en die bedekte onderdrukking nie, maar Ashwin Willemse het nie sonder rede weggeloop nie. Ek ken hom nie. Ek hoef hom nie te ken om te wéét daar kom ’n punt waar opstaan en wegstap die enigste opsie word nie. Dis bitter selde die gevolg van een enkele insident. Saterdagaand was waarskynlik nou net die laaste strooi.

Ek staan met Ashwin Willemse.

  • 25

Kommentaar

  • Thomas Sowell, 'n swart Amerikaner, het geskryf hoe Affirmative Action eintlik swart mense benadeel het en hul van inisiatief en selfvertroue ontneem het. Dis insiggewend om sy boeke te lees. As boorling uit ‘n baie swak omgewing het hy uitgestyg. Volgens hom het die streng swart onderwysers in sy buurt gesorg dat hy goed Engels magtig was en taalkundig hoogs bevoegd.

    • Chris Marnewick SC

      Het die Minister regtig die volgende in haar persveklaring geskryf: "It is clear that Ashwin Willemse was referred as a quota player by his fellow panellists..."?

      As dit waar is, behoort Mallet en Botha die trekpas te kry. Eerstens is so 'n opmerking rassisties (soos 'n onlangse beslissing van die Konstitutionele Hof aandui t.o.v. 'n man wat na 'n medewerker as "swart man" verwys het) en tweedens sou die stelling in elk geval vals wees want Willemse het sy plek in die span op meriete verdien.

      As die Minister se stelling vals is, is sy die een wat die trekpas moet kry.

  • Dannelene noach

    Viva Ashwin, ek staan saam met jou. Ons is deur God geskape en nie nodig om vir 'n plek te pleit nie. Alles behoort aan God, so laat ons mekaar respekteer!

  • Ek stem. Dis nou lank genoeg dat al hierdie subtiele rassisme in mooi gewade voortgaan. Ek staan ook by Ashwin Willemse.

    • 'n Mens kan natuurlik rassisme op die onskuldigste plekke sien. As jy 'n hond wil slaan, kry jy maklik 'n stok. Ek dink Ashwin het 'n kans gevat. Ek staan by die waarheid.

  • ‘Tog word daar verwag van ’n swart persoon wat in ’n bestuursposisie geplaas word om te weet wat om te doen sonder dat hulle leiding kry. Wanneer hulle dan swaar kry, word dit voor die deur gelê van inherente onbevoegdheid op grond van kleur.’
    Voer jy aan dat hierdie gebruik deur die bank toegepas word?

  • Bettina, hoewel ek Ashwin se uitloop-opsie nie soos jy steun nie, stem ek saam met veral jou paragraaf oor mentorskap. Ashwin is 'n juweel in wording wanneer dit by wedstrydontleding kom. Dalk was Mallett soms bietjie van 'n ongevoelige mentor weens sy besondere reguit styl.

  • Ek stem grootliks met die inhoud van hierdie artikel saam. Meeste van ons weet ook dat Suid-Afrikaanse rugby soos 'n eksklusiewe "men's club" is waar nuwe lede slegs op aanbeveling van drie ander lede aanvaar kan word. Dis amper 'n soort van "laaste bastion" van 'n ou "Springbok über alles" bedeling. Die kwota-kaart word dus baie gou gespeel as 'n speler van kleur 'n bal mis vang, maar 'n wit speler was bloot "onder druk" as hy dieselfde sou doen. Die mentorskap waarvan gepraat word is net so van toepassing op die sportveld as in die werksplek.
    Maar, wat die werksplek aanbetref, veral waar dit die regering of semi-staatsinstansies aanbetref, was politieke aanstellings ongelukkig links en regs gemaak om die "kleurbalans" so gou as moontlik reg te kry. Daar was min of geen ruimte gelaat vir mentorskap nie. Waarom anders val regeringsstrukture plat en het dienslewering bloot 'n woord geword?
    Ons moet egter oppas om nie die "rassekaart" as 'n soort van "Joker" in die spel in te gooi as ons ander argumente platval nie.

  • Jeanne Kenned

    Dit is vir my baie moeilik om te verstaan hoe so baie so gemaklik "rassekaart" van melding maak. Hierdie melding verontwaardig die skrywer en dit bevestig dat daar nie ware empatie is nie. Baie dankie vir die skrywe Bettina, jy slaan die spyker so duidelik op die kop.

  • Volgens Supersport is daar geen teken van rassisme nie, wel meningsverskille.
    Die feit is dat Ashwin Willemse bo alle verdienstelike mense van kleur uitgesonder is om R61.4 miljoen se aandele te ontvang uit 'n sê maar Goldfields-regstelling.
    Hoe minder hier oor gesê word hoe beter.

    Dan beweer bronne na aan die voorval dat Willemse is nooit goed voorbereid vir die uitsendings nie.

    Dan gaan nuuskanale sover om Mallett en Willemse se prestasies te vergelyk, wat tog uit verskillende tydperke kom en is daar 'n gedurige verwyt is dat spelers van kleur die voorreg ontsê is.

    Nou vra ek myself af het die skielike rykdom nie na Willemse se kop gegaan nie en moet 'n mens nie eerder wag tot alle feite beskikbaar is voordat 'n mens soos die Minister van Sport die onmiddellike skorsing van Mallett en Botha eis nie of lang stukke oor dit plaas nie.

  • Aannames! Als aannames. Sy gee geen feite nie, maak breë aannames, en glo dat intelligente mense dan haar woord daarvoor moet neem. Nie omdat sy Ashwin se nie-bewese aannames ondersteun nie, maar omdat sy glo dat dit wat sy aanneem, en dan daaroor skryf, bewese waarheid word. Is dit ook wit bevoorregting om nie met ‘n ‘chip’ op die skouer te leef nie, of gaan sy argumenteer dat dit agv wit bevoorregting is dat witmense nie ‘chips’ op hul skouers het nie? Is ons kleine minderheid na 24 jaar dan steeds so ‘n groot bedreiging vir die geweldige meerderheid? Of is dit net in hul gedagtegang?

  • Hans Richardt

    Ek kyk lankal nie meer sport nie. Moeg vir politiek in sport en vir swak selfbeelde.
    Ek boikot alle sport, totdat daar politieke kwotas vir betalende toeskouers ingestel is.

  • Die afkeuring en rassistiese ondertoon van die artikel word beklemtoon wanneer die skrywer sonder omhaal sê dat " ... die wit persoon se meriete en sy reg om aan die tafel te wees, word sonder meer aanvaar" . Dis natuurlik haar eie perspektief. Praat sy van 30 jaar terug? Wat betref ervaring en kennis van rugby het Willemse nog veel te leer. Kom ons kyk na sy 'track' rekord. Miskien kan iemand hom mentor dat 'n volwasse persoon wat gegrief voel deur kollegas se optrede, ander interne kanale kan volg as om 'n spektakel te maak. Hierdie voorval wys weer ook Gwede Mantashe en die Sportminister se duidelike ingesteldheid. Nog voordat enige ondersoek gedoen is of bevinding gemaak is, kondig hulle luid aan dat daar rassisme teenoor Willemse was. Nou het SuperSport laat blyk daar was nie rassisme nie en die partye gesels nog lekker. Maar dit was seker nie wat die regering wou hoor nie. Dit was dan so 'n lekker sappige voorval.

  • Kom ons veronderstel ons almal was pers geskape. Dan was ek 'n gemiddelde perse met geen uitsonderlike talent of skoonheid nie. Super intelligente perses kan neerhalend teenoor minder intelligente perse wees. Ek vermoed hul kan gewoon nie verstaan dat 'n ander die probleem so maklik verstaan nie. So ook is daar beeldskone perses wat met meer wegkom en eerder die promosie kry as 'n minder mooi perse. Ek veralgemeen nou nie. Nie alle aantreklike, intelligente of ryk mense is snobisties/klassisties nie. Ongeag of ons een kleur kon wees, of verskillende vel skakerings het. Konflik sal daar altyd wees. Jy kry dan konflik, jaloesie, afguns in gesinsverband waar die broers en susters dieselfde ma en pa het, en dieselfde voorregte geniet. Ek dink baie mense gebruik hul velkleur as 'n verskoning. Omdat ek wit is, kry ek nie werk nie. Omdat ek nie wit is nie, is ander neerbuigend teenoor my. Ensovoorts. Dis 'n "never ending story".

  • Dalk moet Ashwin die kans gegee word om by die lessenaar te gaan sit en wyshede kwytraak terwyl Nick Mallett die kykweer-skerm manipuleer.

  • Chris Marnewick SC

    Destyds toe Mnr Zuma aangekla is van verkragting vra ek my klas van pupil-advokate wat hulle dink. Die verdeling was streng volgens ras. Wit reken hy is skuldig, swart andersom. Met Oscar se saak was dit ook so, maar andersom. Wit reken hy is onskuldig, swart dat hy skuldig was.

    In beide gevalle het ons toe nog nie die getuienis gehoor nie maar net die mediaberigte gesien. Soos nou weer, Niemand buite die studio weet nog wat gebeur het nie, maar elke Jan Rap en sy meisie het 'n opinie, met bewerings van rassisme wat links en regs versprei word. En binne daardie opinies en bewerings is 'n rassisme van sy eie verskuil.

    Sad, very sad.

  • Wie het die konsep en woord "kwotaspelers” ingebring? Definitief nie die algemene publiek nie en sekerlik ook nie oud- rugbyspelers nie - dit was die rugby-administrateurs en politici(?). Nou beweer baie, die huidige minister van sport, dat dit die woorde is wat Nick Mallett en Naas Botha teenoor Ashwin Willemse gebruik het. Absolute snert, daar is geen, maar geen bewys daarvoor nie. Die realiteit is dat die bespreking oor rugby altyd skerp is, soms emosioneel en verskillende sterk opinies gaan uitlok. As jy dit nie kan hanteer nie hoort jy nie op ''n program waar hierdie bespreek gaan word nie.

  • Bettina teen wie moet die meerderheid beskerm word? My genade, hier is omtrent niks meer witmense in die land oor nie, maar jy soek nog steeds kwota-beskermings? Onder eenjariges is blankes minder as een persent van die bevolking. So oor ’n paar jaar is ons weg ...

  • Corrie Bresler

    In my dae op die rugbyveld moes alle spelers by hulle klub gerigistreer wees en deur die klub by hulle onderskeie unies. Ek weet nie of dit steeds die geval is nie, maar indien wel, sal ek graag wil sien hoeveel gerigistreerde spelers van elke rasgroep daar is in die RSA, en die vlak, nl eerste liga, tweede liga,ens waarop hulle speel. Ek mag verkeerd wees, maar na my kennis is daar slegs een speler uit 'n tweedeliga-klub wat die hoogste sport bereik het. Daar moet onthou word, dat daar slegs sowat 400 provinsiale spelers in alle posisies in die land is, waarvan 195, indien beseringsvry, gereeld in die onderskeidelike beginspanne is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top