Ons zeitgeist in ’n flits vasgevang

  • 0

Musiek beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Party ontvlug daardeur van die werklikheid, terwyl ander eggo’s – nie altyd aangename weerklanke nie – van die werklikheid daarin vind. (Walt Whitman praat van die “impossibility of statement” waaroor musiek beskik.) Daar is geen beter medium om die teenstrydigheid van die werklikheid en menswees – die tegelyke saambestaan van hopeloosheid en euforie – te kommunikeer nie.

Bittereinder is ’n groep wat sigself onderskei in die musikale samevloei van ontsnapping en besinning. Hulle jongste enkelsnit, “Donderwolk”, is onlangs bekendgestel, en dié stratus bliksem raak. Na die ligter toon van hulle laaste EP, wat soos ’n kragonderbreking voel in vergelyking met die res van hulle oeuvre, maak hierdie weerverskynsel dit duidelik dat daar tot die dood gedans én gedink word. Daar word steeds deur die woud gereis, waar besinning oor tyd, verganklikheid en die sin(loosheid) van die lewe betekenisvolle, balanserende skadu’s oor die opbeuring van hulle beats gooi. Dit is ’n melankoliese snit, en een waarmee die generasie wat in die 80’s gebore is, sal identifiseer.

Rondomtalie om en om, donker soos ’n donderwolk, alles is nog opgefok
[...] verraai ek net my eie volk? Hoor ek nog die stem van God?
[...]
Nog ’n jaar is ingekleur, nog ’n droom is uitgevee, nog iemand het opgegee

Daar word nie doekies omgedraai nie – die refrein weerklink: “Here God, vat my nou”. Ook is dit iets waarmee baie luisteraars sal kan identifiseer; mens hoef nie ’n depressielyer te wees om van die hedendaagse weltschmerz te wil ontkom nie. Die eksistensiële (tiener)angs wat Fokofpolisiekar in ons jonger dae verwoord het, dreig steeds, maar in toenemend ingewikkelde, skynbaar onoplosbare vorme soos mens ouer word. Onder andere ontnugtering deur die kerk (“skryf hierdie op Kersfees, dominee in die kerk preek, hoor jy hoe my hart breek?”), die gesigloosheid en materialisme van ons leefwêreld (“mense wat met geld speel, digitale selfbeeld, dít moet mos die hel wees”) en onopgeloste sosiale verwagtinge (“bons tot my nek breek, mans moet mos sterk wees, dinge wat ons wegsteek”) kom in “Donderwolk” aan die bod. Bepeinsing oor tyd en verganklikheid – iets waaroor Bittereinder kán skryf en nog op elke album doen – flits ook deur die snit.

whiskeybottel uitgedrink, ou dinge weer uitgevind: ek’s die vlees wat tyd verslind
[...]
Tyd is op vir boek skryf, flieks wat ek nog moes kyk, leemtes in ’n huldeblyk
[...]
Stemme in die woestyn, roep my deur my bloedlyn, kom Jaco, dis sulke tyd

“Donderwolk” se musiekvideo is een van daardie rares wat nie uitbeeld waaroor ’n liedjie gaan nie, maar wys wat dit ís. Die eentonigheid van ons alledaagse bestaan – ons almal leef só – word treffend uitgebeeld. Die tegniese versorging en redigering is puik gedoen, en Jaco se byna bomgeskokte afgematheid bly mens by.

Bittereinder se metatekstuele neigings vier hoogty met “Donderwolk”; die snit is wat dit beskryf: iets donker en dreigend wat nietemin lig en krag verskaf. Indien hierdie die standaard van die volgende album is, is Bittereinder se magnum opus op hande.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top