Ons was al hier

  • 0

Fotobron: Canva

Toe my 12-jarige neef siek geword het, kon ons hom nie besoek nie. Die naaste wat ons aan hom kon kom, was om deur die deur van die isolasiekamer waar hy gelê het, na hom te kyk. Die dokters en verpleegsters het almal maskers gedra, en volle hazmat-pakke. Op die deur van sy kamer was daar borde wat gewaarsku het dat hy hoogs aansteeklik is, dat volle beskermende drag gedra moes word. My neef het eensaam, alleen en bang gesterf.

Wat ek beskryf is nie 2020 en COVID-19 nie. Dit was 1988. Hy het MIV/VIGS gehad, opgedoen deur ’n besmette bloedoortapping.

Niemand het regtig verstaan hoe MIV/VIGS gewerk het nie. Net gay mans en prostitute was veronderstel om dit te kry. Toe begin kinders en straight vroue dit kry.

Elke keer wanneer ek sien hoedat mediese personeel met volle beskermingsdrag COVID-pasiënte behandel, dink ek aan my neef. Natuurlik moet die personeel hulleself beskerm. Totdat ons beter verstaan hoe die virus werk, is dit beter om aan die veilige kant te bly. Maar ek wonder hoe vervreemdend dit vir die pasiënt moet voel om nie ’n gesig te kan sien nie. Ek wonder hoekom daar in meer as 30 jaar nie beter maniere gevind is om mediese personeel te beskerm sonder om die pasiënt te vervreem nie.

Dis ook seker geen verrassing dat die oorgrote meerderheid van mediese kenners deur wie die presedent van raad bedien word, ’n agtergrond in MIV of tuberkulose het nie. Ons is gelukkig. Ons was al hier, al was dit nie op presies dieselfde manier nie.

Die tagtigerjare was vir ons land ’n stewige leerkurwe, een wat ons vandag op vele gebiede kan toepas.

Kinders wat vir maande nie kan skoolgaan nie? In 1985, die jaar toe ek in standerd agt was, het die destydse regering ’n noodtoestand afgekondig. Skole, universiteite en kolleges was vir die grootste deel van die jaar gesluit. Bruin en swart skole, universiteite en kolleges. Die tradisioneel wit opvoedingsinstellings het aangegaan asof niks verkeerd was nie. Ons moes op ons eie deur ons skoolwerk kom, of druip. Die regering het nie gehelp nie. Hoekom sou hulle? ’n Ongeletterde swart bevolking was dan juis waarvoor hulle gemik het.

Anders as nou was daar geen sosiale media, geen Zoom-video, geen WhatsApp, niks. Om die waarheid te sê, die meeste mense het nie telefone gehad nie. Ons wat in die dorp gebly het kon nog die risiko waag om gou na die onderwyser se huis te hardloop as jy ’n probleem gehad het. Risiko, want as die polisie of soldate jou op straat gevang het, was jy aangerand of in hegtenis geneem. Geen vrae gevra nie. Maak nie saak of jy maar net jou huiswerk wou doen en niks van politiek af geweet het nie.

My broer was toe op Bellville Onderwyskollege. Hy vertel hoedat hy en vier van sy vriende eendag dorp toe moes gaan om kos te koop. Hulle moes in twee groepe loop, ver uit mekaar, want vyf mense bymekaar was ’n onwettige byeenkoms. Geen vrae gevra nie. As hulle gevang is, het die polisie met sambokke onder hulle ingespring. Geen vrae gevra nie, geen verduideliking vir hoekom hulle op straat was nie. Walking while black was ’n strafbare misdaad.

Ons is nie nou in ’n noodtoestand nie. Die polisie aanvaar nie outomaties dat sekere mense die vyand is en vernietig moet word nie. Ons kinders kan nou deur die gebruik van tegnologie veilig in hul huise navrae beantwoord kry.

Die een area waar ons nog ’n hopelose gebrek het, is voedselsekuriteit. In die tagtigs was mense ook soms afgesny van voedsel. Dit was egter nie naastenby op die skaal wat ons dit nou sien nie.

Of dalk is dit net dat ons nou ’n vrye pers in ’n demokratiese bestel het.

Die president en sy raadgewers moes voorsien het dat mense aan hongersnood sou lei. Dat daar honger is, is onnodig. Dat kospakkies op grond van politieke affiliasie of kleur uitgedeel word, soos wat ons al meer en meer sien, is siekmakend. Dat ’n pandemie net gesien word as nog ’n geleentheid om politieke punte te score, of om ou wrokke te vergeld, laat iets binne my bietjie vir bietjie doodgaan.

Dit hoef nie so te wees nie. Daar hoef nie mense rond te val om kos in die hande te kry nie.

Die infrastruktuur is alreeds daar om mense te help. Hoekom was SASSA nie dadelik as essensiële werkers verklaar, met die taak om kospakkies te versprei nie? Hulle het ’n landswye databasis van almal wat geldelike hulp van die regering kry. Hoekom moet daai mense weer aansoek doen om hulp met kos? Hoekom kon daar nie aanvaar word dat daai mense outomaties kwalifiseer vir kos nie?

Hoekom was sommige kategorieë munisipale werkers nie as essensiële werkers geklassifiseer nie? In elke munisipale kantoor is daar persone wat met deernisgevalle werk. Dis mense wat onder ’n sekere bedrag per maand verdien, en wat daarom hulp met hul munisipale rekeninge en dienste kry. Die databasis bestaan reeds en word elke jaar in Januarie bygewerk. Hoekom moet daai kategorie mense weer aansoek doen vir kospakkies? Hoekom kan hulle nie outomaties kwalifiseer en daar vir hulle voorsien word nie? Al wie dan oorbly, is die mense wat direk as gevolg van die lockdown nie kan werk en ’n inkomste verdien nie. Dis mos ’n baie meer hanteerbare groep as om die wiel van voor te ontwerp, of hoe? En as elke werkgewer ’n lys name van werkers stuur, hoeveel ondersoek is dan meer nodig?

Ons kan nie in omstandighede waar mense nou hulp nodig het, met burokratiese rompslomp opgehou word nie. Elke dag wat vorms in triplikaat ingevul moet word en na tien verskillende mense gestuur word, is ’n dag meer wat mense honger ly. Dis ’n dag nader aan anargie. Veral as daar nie vertroue onder mense bestaan dat hulle regverdig en gelyk met almal anders hanteer gaan word nie.

Mense is desperaat. Honger maak hulle desperaat. Vrees vir siekte en dood maak hulle desperaat.

Alreeds kan ek in ons klein dorpie ’n toename in inbrake sien. Die afgelope week het my alarm oor twee nagte sewe keer afgegaan. Ek het eers gedink daar is fout met die sensor, tot ek dit laat toets het. Daar is nie fout nie. Iemand of iemande het sewe keer in die nag toegang tot my erf probeer kry. Rondom om my hoor ek snags ’n kakofonie van alarms wat afgaan en honde wat blaf.

Mense is desperaat. Solank as wat daar nie in mense se basiese behoeftes voorsien word nie, sal dit aanhou gebeur.

Ons was al hier. Laas keer het dit geëindig met pitched battles van die polisie teen die mense. Ons het nou die geleentheid om dinge anders te doen, sodat die uitkomste anders kan wees.

Ons het nou die geleentheid om saam te werk eerder as teen mekaar.

#StaySafe #StayHome

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top